Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 9/15 bl. 14-19
  • “Kom my te hulp waar ek in geloof te kort skiet!”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Kom my te hulp waar ek in geloof te kort skiet!”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bid dat jou geloof jou nie begewe nie
  • Gaan toetse wat voorlê met geloof tegemoet
  • Geloof wat ons gesond maak
  • “Gered, deur die geloof”
  • Beoefen geloof in Jehovah se beloftes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • “Gee ons meer geloof”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Beoefen geloof wat op die waarheid gegrond is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Stel jy werklik geloof in die goeie nuus?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 9/15 bl. 14-19

“Kom my te hulp waar ek in geloof te kort skiet!”

“Die vader van die jong kind . . . het gesê: ‘Ek het geloof! Kom my te hulp waar ek in geloof te kort skiet!’”—MARKUS 9:24, NW.

1. Wat het een vader laat uitroep: “Kom my te hulp waar ek in geloof te kort skiet”?

DIE vader van ’n seun wat deur ’n demon besete was, het voor Jesus Christus gestaan. Hoe graag wou daardie man tog nie hê dat sy kind genees moet word nie! Jesus se dissipels het nie genoeg geloof gehad om die demon uit te dryf nie, maar die vader het uitgeroep: “Ek het geloof! Kom my te hulp waar ek in geloof te kort skiet!” Jesus het die demon toe deur middel van godgegewe krag uitgedryf, wat ongetwyfeld die geloof van die seun se vader versterk het.—Markus 9:14-29, vgl. NW.

2. In watter twee opsigte skaam Christene hulle nie wat geloof betref nie?

2 Soos daardie seun se hoopvolle vader is ’n lojale kneg van Jehovah nie skaam om te sê: “Ek het geloof!” nie. Spotters loën dalk die krag van God, die waaragtigheid van sy Woord en selfs sy bestaan. Maar ware Christene erken geredelik dat hulle geloof in Jehovah God het. Tog smeek hierdie selfde mense dalk, wanneer hulle privaat in gebed met hulle hemelse Vader praat: “Kom my te hulp waar ek in geloof te kort skiet!” Hulle doen dit ook sonder om hulle te skaam, want hulle weet dat selfs die apostels van Jesus Christus gesmeek het: “Gee ons meer geloof.”—Lukas 17:5.

3. Waarop dui die manier waarop Johannes die woord “geloof” in sy Evangelie gebruik, en waarom was dit gepas?

3 Die Christelike Griekse Geskrifte het veral baie te sê oor geloof. Trouens, die Evangelie van Johannes gebruik verskillende Griekse woorde wat met “geloof” verband hou oor die 40 persent meer as die ander drie Evangelies tesame. Johannes het beklemtoon dat dit nie voldoende is om geloof te hê nie; dit is uiters belangrik dat ons dit beoefen. Hy het in 98 G.J. geskryf oor die afvalligheid wat Christene wat swak in die geloof was deur sy giftige leringe wou verstrik (Handelinge 20:28-30; 2 Petrus 2:1-3; 1 Johannes 2:18, 19). Dit was dus lewensbelangrik dat hulle geloof beoefen, dat hulle hulle geloof bewys deur dade van godvrugtige toegewydheid. Moeilike tye het vir hulle voorgelê.

4. Waarom is niks onmoontlik vir diegene wat geloof het nie?

4 Geloof stel Christene in staat om enige probleme die hoof te bied. Jesus het vir sy dissipels gesê dat niks vir hulle onmoontlik sou wees as hulle “geloof het soos ’n mosterdsaad” nie (Mattheüs 17:20). So het hy die krag van geloof, ’n vrug van die heilige gees, beklemtoon. Jesus het dus benadruk wat God se gees, of werkende krag, nie mense nie, kan doen. Diegene wat hulle daardeur laat lei, maak nie berge van molshoopagtige struikelblokke en probleme nie. As hulle die wysheid toepas wat God se gees hulle gee, help dit hulle om sake in die regte perspektief te hou. Selfs ernstige probleme lyk klein wanneer dit aan die uithouvermoë van geloof onderwerp word.—Mattheüs 21:21, 22; Markus 11:22-24; Lukas 17:5, 6.

Bid dat jou geloof jou nie begewe nie

5-7. (a) Watter waarskuwing oor geloof het Jesus gegee toe hy die Gedenkmaal ingestel het? (b) Hoe het Petrus se geloof hom in staat gestel om sy broers te versterk?

5 In 33 G.J. het Jesus die Pasga vir die laaste keer saam met sy dissipels gevier. Toe, nadat Judas Iskariot die vertrek verlaat het, het hy die Gedenkmaal ingestel en gesê: “Net soos my Vader ’n koninkryk aan My bemaak het, so bemaak Ek ’n koninkryk aan julle . . . Simon, Simon! Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.”—Lukas 22:28-32, NAV.

6 Jesus het gebid dat Simon Petrus se geloof hom nie moet begewe nie. Hoewel Petrus met groot selfvertroue gespog het dat hy Jesus nooit sou verloën nie, het hy dit kort daarna drie keer gedoen (Lukas 22:33, 34, 54-62). Trouens, toe die Herder met die dood geslaan is, soos voorspel is, is die skape verstrooi (Sagaria 13:7; Markus 14:27). Maar toe Petrus herstel het van die vrees waardeur hy verstrik is, het hy sy geestelike broers versterk. Hy het die kwessie van ’n plaasvervanger vir ontroue Judas Iskariot aangeroer. Petrus het op Pinkster 33 G.J. as die apostels se woordvoerder opgetree en die eerste van “die sleutels” gebruik wat Jesus hom gegee het en sodoende die weg geopen vir Jode om lede van die Koninkryk te word (Mattheüs 16:19; Handelinge 1:15–2:41). Satan het vurig begeer om die apostels soos koring te sif, maar God het toegesien dat hulle geloof hulle nie begewe nie.

7 Stel jou voor hoe Petrus moes gevoel het toe hy Jesus hoor sê het: “Ek het vir jou gebid, dat jou geloof jou nie begewe nie.” Dink net! Sy Heer en Meester het gebid dat Petrus se geloof nie te kort moet skiet nie. En dit het hom nie begewe nie. Trouens, op Pinksterdag het Petrus en ander die eerste mense geword wat met heilige gees gesalf is om God se geestelike kinders te wees en toekomstige mede-erfgename saam met Christus in hemelse glorie te word. Omdat die heilige gees toe meer as ooit tevore op hulle ingewerk het, kon hulle sy vrug, waaronder geloof, soos nooit tevore nie openbaar. Wat ’n wonderlike antwoord op hulle smeekbede: “Gee ons meer geloof”!—Lukas 17:5; Galasiërs 3:2, 22-26; 5:22, 23, NW.

Gaan toetse wat voorlê met geloof tegemoet

8. Watter tydige waarskuwing het die organisasie ons gegee aangaande die vervulling van 1 Thessalonicense 5:3?

8 Ons sal binnekort, ter vervulling van Bybelprofesie, die uitroep “Vrede en veiligheid” hoor (1 Thessalonicense 5:3). Kan dit ons geloof toets? Ja, want ons loop die gevaar om onverhoeds betrap te word deur die skynbare sukses wat die nasies dalk behaal om vrede te bewerkstellig. Maar ons sal nie die gesindheid van sulke vredesverklaarders hê as ons in gedagte hou dat Jehovah God geen instellings van hierdie wêreld gebruik om daardie doelwit te bereik nie. Hy het sy eie manier waarop hy vrede gaan bring, en dit is slegs deur sy Koninkryk onder Jesus Christus. Enige sukses wat die nasies dalk behaal om vrede te bewerkstellig, sal derhalwe van korte duur en slegs ’n skynvrede wees. Om ons te help om in hierdie verband op ons hoede te wees, sal “die getroue en verstandige dienskneg” aanhou om tydige waarskuwings te gee sodat Jehovah se knegte nie onverhoeds betrap sal word deur die komende aanmatigende uitroep van “Vrede en veiligheid” deur die nasies van hierdie ou stelsel van dinge nie.—Mattheüs 24:45-47.

9. Waarom sal die vernietiging van Babilon die Grote moed en geloof van ons verg?

9 Die uitroep “Vrede en veiligheid” sal die teken wees vir “skielike verderf” wat oor Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, gaan kom (Openbaring 17:1-6; 18:4, 5). Dit sal ook Christene se geloof op die proef stel. Sal Jehovah se Getuies vas in die geloof staan wanneer valse godsdiens in duie stort? Natuurlik sal hulle. Hierdie gebeurtenis, wat onverwags en onverstaanbaar vir die meeste mense sal wees, sal nie deur die mens se toedoen geskied nie. Mense moet weet dat dit in werklikheid Jehovah se oordeel is om sy naam te heilig wat al so lank deur valse godsdiens gesmaad word. Maar hoe kan mense weet tensy iemand hulle daarvan vertel? En van wie anders as Jehovah se Getuies kan daar verwag word om dit te doen?—Vergelyk Esegiël 35:14, 15; Romeine 10:13-15.

10. Hoe sal Gog se aanval op Jehovah se volk ook ’n toets van geloof wees?

10 Gesalfde Getuies van Jehovah en hulle metgeselle met ’n aardse hoop het die nodige moed om ander te vertel van die dreigende voltrekking van Jehovah se oordeel aan Babilon die Grote en die res van Satan se stelsel van dinge (2 Korinthiërs 4:4). In sy rol as Gog van Magog, wat op sy huidige verlaagde posisie dui, sal Satan sy aardse magte aanvoer vir ’n hewige aanval op God se volk. Geloof in goddelike beskermingskrag ten behoewe van Jehovah se Getuies sal getoets word. Maar ons kan geloof hê dat Jehovah sy volk sal verlos, soos sy Woord voorspel het.—Esegiël 38:16; 39:18-23.

11, 12. (a) Waardeur is die redding van Noag en sy gesin gedurende die Vloed verseker? (b) Waaroor sal ons ons nie gedurende die groot verdrukking hoef te bekommer nie?

11 Vandag weet ons nie presies hoe Jehovah sy volk gedurende die “groot verdrukking” sal beskerm nie, maar dit is geen rede om te twyfel dat hy dit wel sal doen nie (Mattheüs 24:21, 22). Dit situasie van God se hedendaagse knegte sal wees soos dié waarin Noag en sy gesin hulle gedurende die Vloed bevind het. Toe hulle binne-in die ark toegesluit was, met die malende waters van vernietiging om hulle, was hulle waarskynlik verskrik deur hierdie demonstrasie van goddelike mag en moes hulle vurig gebid het. Daar is geen aanduiding in die Skrif dat hulle bekommerd was en dat hulle hulle afgevra het nie: ‘Is die ark werklik sterk genoeg om behoue te bly teen die aanslae van die vernietigende kragte? Het ons genoeg kos totdat die Vloed verby is? Sal ons agterna kan aanpas by die veranderde omstandighede op die aarde?’ Daaropvolgende gebeurtenisse het getoon dat sulke bekommernisse ongegrond sou gewees het.

12 Om hulle redding te verseker, moes Noag en sy gesin geloof beoefen. Dit het beteken dat hulle instruksies en die leiding van God se heilige gees moes volg. Gedurende die groot verdrukking sal dit net so noodsaaklik wees dat ons die leiding van die heilige gees volg en Jehovah se instruksies deur sy organisasie gehoorsaam. Dan sal ons geen rede tot kommer hê en vra nie: ‘Hoe sal ons geestelike en materiële behoeftes bevredig word? Watter reëlings sal getref word vir bejaardes of vir diegene wat spesiale mediese sorg of behandeling nodig het? Hoe sal Jehovah dit vir ons moontlik maak om tot in die nuwe wêreld behoue te bly?’ Met sterk geloof sal al Jehovah se lojale knegte alles in sy bekwame hande oorlaat.—Vergelyk Mattheüs 6:25-33.

13. Waarom sal ons geloof soos dié van Abraham nodig hê wanneer die groot verdrukking begin?

13 Wanneer die groot verdrukking eers aangebreek het, sal ons geloof in God ongetwyfeld baie versterk word. Ons sal op stuk van sake sien dat Jehovah die dinge uitvoer wat hy gesê het hy sal doen. Ons sal sy voltrekking van oordeel met ons eie oë sien! Maar sal ons persoonlik genoeg geloof hê om te glo dat God sy volk sal bewaar terwyl hy die goddeloses vernietig? Sal ons soos Abraham wees, wat geglo het dat ‘die regter van die hele aarde reg sal laat geskied’ en nie die regverdiges saam met die goddeloses sal vernietig nie?—Genesis 18:23, 25, NAV.

14. Watter vrae moet ons aanspoor om ons geloof te ondersoek en ons daarop toe te lê om dit te versterk?

14 Hoe belangrik is dit tog dat ons nou ons geloof opbou! Kom ons laat toe dat God se gees ons tot “heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid” aanspoor, aangesien die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge so naby is (2 Petrus 3:11-14, vgl. NW). Dan sal ons nie gedurende die groot verdrukking gekwel word deur verontrustende gedagtes nie, soos: ‘Verdien ek dit om deur Jehovah beskerm te word? Kon ek meer in sy diens gedoen het? Het ek my werklik hard genoeg daarop toegelê om my met “die nuwe persoonlikheid” te beklee? Is ek die soort mens wat Jehovah in die nuwe wêreld wil hê?’ Ons moet ons geloof deur sulke nugtere vrae ondersoek en ons daarop toelê om dit nóú te versterk!—Kolossense 3:8-10, NW.

Geloof wat ons gesond maak

15. Wat het Jesus soms gesê vir diegene wat hy genees het, maar waarom steun dit nie hedendaagse geloofsgenesing nie?

15 Jesus het nie sy werke om mense te genees beperk tot mense wat geloof het nie (Johannes 5:5-9, 13). Sy werk steun dus nie die onskriftuurlike leerstelling oor geloofsgenesing nie. Jesus het weliswaar soms vir diegene wat hy genees het, gesê: “Jou geloof het jou gesond gemaak” (Mattheüs 9:22, NW; Markus 5:34, NW; 10:52, NW; Lukas 8:48, NW; 17:19, NW; 18:42, NW). Maar toe hy dit gesê het, het hy eenvoudig die aandag op ’n vanselfsprekende waarheid gevestig: As daardie siek mense nie in Jesus se geneesvermoë geloof gehad het nie, sou hulle in die eerste plek nie na hom toe gekom het vir genesing nie.

16. Watter genesingsprogram rig Jesus vandag?

16 Vandag rig Jesus Christus ’n program van geestelike genesing, en meer as 4 000 000 mense het hulle in ’n posisie geplaas waar hulle daarby baat vind. As Jehovah se Getuies geniet hulle geestelike gesondheid ondanks enige liggaamlike kwale wat hulle dalk het. Gesalfde Christene onder hulle het ’n hemelse hoop, en hulle ‘let op ewige dinge wat onsigbaar is’ (2 Korinthiërs 4:16-18; 5:6, 7). En Christene met ’n aardse hoop sien uit na die wonderlike dade van liggaamlike genesing wat in God se nuwe wêreld sal plaasvind.

17, 18. Watter voorsiening van Jehovah word in Openbaring 22:1, 2 beskryf, en hoe is geloof nodig sodat ons daarby baat kan vind?

17 Die apostel Johannes het van God se voorsienings vir die ewige lewe gepraat in Openbaring 22:1, 2: “Hy het my getoon ’n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam. In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies.” Die “water van die lewe” is onder andere God se Woord van waarheid en alle ander voorsienings van Jehovah om gehoorsame mense van sonde en die dood te bevry en hulle die ewige lewe te gee op grond van Jesus se losprysoffer (Efesiërs 5:26; 1 Johannes 2:1, 2). Terwyl hulle op die aarde is, drink Jesus se 144 000 gesalfde volgelinge van God se voorsienings vir die lewe deur Christus en word hulle “groot bome van regverdigheid” genoem (Jesaja 61:1-3, vgl. NW; Openbaring 14:1-5). Hulle het op die aarde geestelik baie vrug gedra. As verresenes in die hemel sal hulle gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy help om die losprysvoorsienings aan te wend “tot genesing van die nasies” se sondes en die dood.

18 Hoe sterker ons geloof in hierdie voorsienings van God is, hoe meer sal ons bereid wees om die leiding van sy gees te volg om hulle te benut. Liggaamlike volmaaktheid sal klaarblyklik kom wanneer iemand geloof in Christus beoefen en geestelik vordering maak. Hoewel ’n mens wonderdadig van groot kwale genees sal wees, sal hy steeds nader aan volmaaktheid gebring word namate hy die regte dinge beoefen. Hy sal gereeld gebruik maak van God se voorsienings vir genesing deur middel van Christus se offerande. Ons liggaamlike genesing en vervolmaking sal dus van geloof afhang.

“Gered, deur die geloof”

19. Waarom is dit noodsaaklik om vas te staan in die geloof?

19 Hoe noodsaaklik is dit tog dat Jehovah se knegte vas staan in die geloof totdat die dagbreek van God se nuwe wêreld die duisternis van die huidige goddelose wêreld vir ewig verdryf! Mense “wat geen geloof het” nie, sal “in die poel wat brand met vuur en swawel”, die tweede dood, gewerp word. Dit sal op sy laatste ná die laaste toets aan die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy plaasvind (Openbaring 20:6-10; 21:8, vgl. NW). Hoe geseënd is diegene tog wat aanhou om geloof te beoefen en wat behoue bly om ’n eindelose toekoms te geniet!

20. Hoe sal 1 Korinthiërs 13:13 spesiale betekenis aanneem aan die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy?

20 Dan sal hierdie woorde van Paulus in 1 Korinthiërs 13:13 spesiale betekenis aanneem: “Nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.” Ons sal nie meer geloof moet beoefen dat die profetiese belofte in Genesis 3:15 ’n werklikheid sal word of moet hoop dat dit vervul sal word nie. Dit sal reeds gebeur het. As handhawers van onkreukbaarheid sal ons aanhou om op Jehovah te vertrou, geloof in hom en sy Seun te stel en hulle lief te hê as diegene wat die vervulling van hierdie profesie moontlik gemaak het. Daarbenewens sal innige liefde en hartgrondige dankbaarheid oor ons redding ons tot in alle ewigheid in onverbreeklike toegewydheid aan God bind.—1 Petrus 1:8, 9.

21. Wat moet ons vandag doen sodat ons “deur middel van geloof gered” kan word?

21 Jehovah het deur sy sigbare organisasie wonderlike voorsienings gemaak om ons geloof te versterk. Benut hulle almal ten volle. Woon die vergaderinge van God se volk gereeld by en neem daaraan deel (Hebreërs 10:24, 25). Bestudeer sy Woord en Christelike publikasies ywerig. Bid tot Jehovah om sy heilige gees (Lukas 11:13). Volg die geloof na van diegene wat nederig die leiding in die gemeente neem (Hebreërs 13:7). Weerstaan wêreldse versoekinge (Mattheüs 6:9, 13). Ja, en maak jou persoonlike verhouding met Jehovah op elke moontlike manier hegter. Hou bowenal aan om geloof te beoefen. Dan kan jy onder diegene wees wat Jehovah behaag en wat gered sal word, want Paulus het gesê: “Deur . . . onverdiende goedhartigheid is julle deur middel van geloof gered; en dit het julle nie aan julleself te danke nie, dit is God se gawe.”—Efesiërs 2:8, NW.

Wat is jou antwoorde?

◻ Watter toetse van geloof lê reg voor ons?

◻ In watter twee opsigte kan ons geloof ons gesond maak?

◻ Hoe lank moet ons volgens 1 Petrus 1:9 aanhou om geloof te beoefen?

◻ Watter voorsienings het ons om ons geloof te versterk?

[Prent op bladsy 15]

Is jy, soos die vader wie se seun Jesus genees het, bewus van ’n persoonlike behoefte aan meer geloof?

[Prent op bladsy 17]

Geloof soos dié van Noag en sy gesin sal nodig wees om die “groot verdrukking” te oorlewe

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel