Wie se gebede word verhoor?
JEHOVAH is die God wat gebede verhoor. Trouens, sy Woord, die Bybel, noem hom die “Hoorder van die gebed” (Psalm 65:3). Hy is bereid om gebede te verhoor. Maar wie se gebede verhoor hy werklik?
God verhoor die gebede van individue wat hom behaag. Hulle toon die eerbiedige gesindheid van die psalmis wat gesê het: “Soos ’n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God! My siel dors na God, na die lewende God” (Psalm 42: 2, 3). Maar watter bewys is daar dat Jehovah die gebede van sy ware aanbidders verhoor?
Bewys dat God gebede verhoor
Die Bybel bevat ’n breedvoerige verslag wat bewys dat Jehovah die gebede van sy getroue knegte verhoor. Toe koning Josafat van Juda byvoorbeeld om verlossing gebid het, het God sy gebed verhoor en aan hom die oorwinning besorg deur sy vyande mekaar te laat vernietig (2 Kronieke 20:1-26). Toe koning Hiskia eweneens voor ’n gedugte leërmag te staan gekom het, het hy nederig tot God om hulp gebid. Hiskia het die verlossing van Jehovah aanskou toe ’n engel in een nag 185 000 Assiriërs om die lewe gebring het.—Jesaja 37:14-20, 36-38.
Waarom het God daardie gebede verhoor? In albei gevalle was die konings se pleidooi dat dit Jehovah se naam in ’n slegte lig sou stel indien hulle die geveg sou verloor (2 Kronieke 20:6-9; Jesaja 37:17-20). Hulle was begaan oor sy reputasie. “Die einddoel van gebed”, sê The International Standard Bible Encyclopedia, “is nie bloot die welsyn van die smeker nie, maar die eer van God se naam.” Getroue knegte van Jehovah kan derhalwe seker wees dat hy hulle “om sy Naam ontwil” sal help. Die verslag wat bewys dat gebede soos hierdie verhoor is, gee aan God se volk die vertroue dat hy hulle gebede hoor.—Psalm 91:14, 15; 106:8; Spreuke 18:10.
Al is Jehovah se naam by ’n situasie betrokke, besluit God nietemin of hy sekere gebede sal verhoor of nie. Hy het dalk geldige redes waarom hy sekere gebede nie verhoor nie. As ons voel dat ons gebede nie verhoor word nie, is dit goed om oor die rede daarvoor na te dink.
Waarom sommige gebede nie verhoor word nie
“Ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie”, het Jehovah eenmaal vir die Israeliete gesê. Hy het op die rede gewys deur voorts te sê: “Julle hande is vol bloed” (Jesaja 1:15). Hoe kon enigiemand Jehovah se wet ignoreer en nogtans deur hom aangehoor word? ’n Bybelspreuk gee ’n duidelike antwoord deur te sê: “Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ’n gruwel.”—Spreuke 28:9.
Die Bybel gee nog ’n rede waarom gebede nie verhoor word nie wanneer dit sê: “Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring” (Jakobus 4:3). Nee, Jehovah sal nie gebede verhoor om verkeerde begeertes te bevredig nie. Ons moet ook in gedagte hou dat God hom nie as ’t ware deur mense laat voorskryf nie. Hy is die Een wat besluit hoe hy ons gebede sal verhoor.
Gebede wat gewis verhoor sal word, is dié wat uit ’n rein hart, met die regte beweegrede en op God se aangewese manier—deur Jesus Christus—tot hom gerig word (Johannes 14:6, 14). Maar selfs diegene wie se gebed aan hierdie vereistes voldoen, het al soms die gevoel gekry dat hulle gebede nie verhoor word nie. Waarom sou God sommige van die gebede van sy knegte nie onmiddellik verhoor nie?
Jehovah weet wanneer dit die beste tyd is om gebede te verhoor. Hoewel ’n seun dalk vir ’n fiets vra, sal sy pa moontlik nie vir hom een koop voordat die kind oud genoeg is om veilig daarop te kan ry nie. Dieselfde kan geld vir sommige van die gebede van diegene wat God liefhet. Aangesien hy weet wat vir hulle die beste is, gee hy hulle op die regte tyd wat hulle nodig het.
Nogtans ontvang Jehovah se knegte moontlik nie alles waarvoor hulle bid nie. Omdat hulle onvolmaak is, wil hulle moontlik dinge hê wat nie tot hulle welsyn sal strek nie. Hulle liefdevolle hemelse Vader sal nie vir hulle enigiets gee wat tot hulle nadeel strek nie, want hy is die Gewer van “elke goeie gif en elke volmaakte gawe” (Jakobus 1:17). God sal eweneens nie iets toestaan wat hy as onnodig beskou nie. (Vergelyk 2 Korinthiërs 12:7-10.) Hy verhoor gebede in ooreenstemming met sy wil en voorneme vir sy volk.—1 Johannes 5:14, 15.
Jesus “is gunstig verhoor”
Jesus Christus was ’n man van gebed (Mattheüs 6:9-13; Johannes 17:1-26). Hy het volle vertroue gehad dat sy hemelse Vader sy gebede sou verhoor. Jesus het eenkeer gesê: “Vader . . . Ek het geweet dat U My altyd verhoor” (Johannes 11:41, 42). Maar is Jesus nie heel aan die einde van sy aardse lewe teleurgestel nie? Het hy nie tóé uitgeroep nie: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”—Mattheüs 27:46.
Toe Jesus daardie woorde geuiter het, het hy klaarblyklik ’n profesie aangaande sy dood vervul (Psalm 22:2). In beperkte sin kon Jesus ook bedoel het dat Jehovah sy beskerming aan hom onttrek het en toegelaat het dat sy Seun ’n smartlike en skandelike dood sterf om sy onkreukbaarheid tot die uiterste te beproef. ’n Ondersoek van die gebeure op daardie laaste dag van Jesus se aardse lewe toon dat God sy gebede verhoor het.
Die aand toe hy in hegtenis geneem is, het Jesus in die tuin van Getsemane gebid. Drie keer het hy gepleit: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan” (Mattheüs 26:39, 42, 44). Jesus was nie teensinnig om sy lewe as losprys vir die gelowige mensdom te gee nie. Nee, maar hy was klaarblyklik diep besorg oor die moontlikheid dat hy oneer sou bring op sy Vader wat hy so innig liefgehad het as hy soos ’n vervloekte lasteraar aan ’n folterpaal sou sterf. Het Jehovah Jesus se gebed verhoor?
Jare later het die apostel Paulus geskryf: “Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hom geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor [“gunstig verhoor”, NW] is uit die angs” (Hebreërs 5:7; Lukas 22: 42, 44). Ja, op die angsvolle nag wat sy dood voorafgegaan het, is Jesus “gunstig verhoor”. Maar hoe?
Jehovah het ’n engel gestuur wat “aan [Jesus] verskyn en Hom versterk” het (Lukas 22:43). Nadat hy op dié manier versterk is, was Jesus in staat om die dood aan die folterpaal tegemoet te gaan. Jehovah het hom klaarblyklik toe verseker dat sy dood aan die folterpaal nie oneer op die goddelike naam sou bring nie, maar dat dit juis uiteindelik sou dien om God se naam te heilig. Jesus se dood aan die folterpaal het in werklikheid ’n weg gebaan vir die Jode, wat andersins onder die vloek van die Wet was, om van veroordeling tot die dood gered te word.—Galasiërs 3:11-13.
Drie dae later het Jehovah Jesus opgewek en hom vrygespreek van enige moontlike aanklag van laster deur hom tot ’n hoër posisie te verhef (Filippense 2:7-11). Wat ’n wonderlike manier om Jesus se gebed aangaande “hierdie beker” te verhoor! Daardie gebed is op Jehovah se manier verhoor. En Jesus het wonderlike seëninge geniet omdat hy vir sy hemelse Vader gesê het: “Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!”—Lukas 22:42.
Hoe Jehovah vandag gebede verhoor
Soos Jesus moet diegene wat Jehovah vandag wil behaag altyd vra dat God se wil geskied. Hulle moet die geloof hê dat Jehovah hulle gebede op ’n manier sal verhoor wat tot hulle grootste voordeel sal strek. Trouens, hy sal ‘doen ver bo alles wat hulle bid of dink’.—Efesiërs 3:20.
’n Jong Christin wat by haar ongelowige ouers gebly het, het die waarheid van daardie teks ervaar. Sy het ’n brief van die Wagtoringgenootskap ontvang waarin sy gevra is om biddend die moontlikheid te oorweeg om ’n spesiale sendingtoewysing aan te neem. Hoewel dit haar innige begeerte was om by haar ouers te bly en hulle te help om Christene te word, het sy God in gebed gevra: “Wat is U wil? Moet ek, ongeag my ouers se teenstand, hierdie uitnodiging aanneem, of moet ek my ouers help deur by hulle te bly?” Elke keer as sy gebid het, het haar gewete haar aangespoor om die uitnodiging aan te neem. Sy het besluit dat dit Jehovah se antwoord was.
God het hierdie vrou die krag gegee om by haar besluit te bly. Toe sy gevra is om na die Awaji-eiland in Japan te gaan, was haar ouers geskok en het hulle hulle teenstand verskerp. Aangesien hulle haar egter nie kon oorreed om van plan te verander nie, het haar ma besluit om die Bybel te bestudeer net om te sien waarom haar dogter so ’n besluit geneem het. Drie maande later het haar ouers haar besoek. Toe haar pa sien hoe goed die ander Getuies van Jehovah na haar omsien, was hy diep beïndruk en het gehuil toe daar niemand naby was nie. Kort daarna het hy ook die Bybel begin bestudeer. Mettertyd is albei hierdie jong vrou se ouers gedoop en het hulle begin om Jehovah getrou te dien. Het Jehovah God hierdie Christin nie oorvloedig geseën nie?
Hulle gebede word verhoor
Onthou jy die woorde van die vrou wat aan die begin van die vorige artikel gemeld is? Sy het nooit gevoel dat haar gebede verhoor word nie. Nogtans het sy later besef dat God tog haar gebede verhoor het. Die vrou het ’n verslag gehou van die kern van haar gebede. Een dag het sy deur die notaboekie gekyk en besef dat Jehovah die meeste van haar gebede verhoor het, selfs dié wat sy self reeds vergeet het! Sy het derhalwe besef dat God na haar omgesien het en dat hy haar gebede op ’n liefdevolle wyse verhoor het wat tot haar grootste voordeel gestrek het.
As jy voel dat jou gebede nie verhoor word nie, moet jy jou afvra: ‘Het ek ’n persoonlike verhouding met Jehovah, die “Hoorder van die gebed”? Indien nie, doen ek stappe om van hom te leer en om een van sy toegewyde knegte te word?’ Hy verhoor die gebede van diegene wat hom liefhet en sy wil doen. Hulle “volhard in die gebed” en word, net soos Jesus, gunstig verhoor (Romeine 12:12). “Stort [jou] hart” dus teenoor Jehovah uit en doen sy wil (Psalm 62:9). Dan sal jou gebede verhoor word.
Vandag bid miljoene mense om iets besonders. En ja, hulle gebede word verhoor. Laat ons sien waarom ons verseker kan wees dat gebede soos hierdie verhoor sal word.