‘Gord die wapens van die lig aan’
“Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord.”—ROMEINE 13:12.
1, 2. Hoe het die meeste eerste-eeuse Jode op “die ware lig” gereageer, en dit ondanks watter voordele?
JESUS CHRISTUS is “die waaragtige lig wat elke mens verlig” (Johannes 1:9). Toe hy in 29 G.J. as die Messias gekom het, het hy na ’n nasie gekom wat deur God gekies is om Sy getuies te wees en wat, ten minste in naam, aan Jehovah toegewy was (Jesaja 43:10). Baie Israeliete het vir die Messias gewag, en party van hulle het van die profesieë wat hom sou identifiseer, geken. Daarbenewens het Jesus in alle dele van Palestina gepreek en het hy tekens gedoen waar die menigtes hom kon sien. Skares het saamgestroom om na hom te luister, en hulle was beïndruk deur wat hulle gesien en gehoor het.—Mattheüs 4:23-25; 7:28, 29; 9:32-36; Johannes 7:31.
2 Uiteindelik het die meeste Jode Jesus egter verwerp. Johannes se Evangelie sê: “Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie” (Johannes 1:11). Waarom was dit die geval? Die antwoord op daardie vraag sal ons help om nie dieselfde fout as hulle te maak nie. Dit sal ons help om ‘die werke van die duisternis af te lê en die wapens van die lig aan te gord’, en sodoende ’n ongunstige oordeel soos dié van eerste-eeuse Israel te vermy.—Romeine 13:12; Lukas 19:43, 44.
Teenstand van godsdiensowerhede
3. Hoe het die Joodse godsdiensleiers getoon dat hulle “blinde leiers” is?
3 In Israel was dit in die eerste plek die godsdiensleiers wat die lig verwerp het. Al was hulle “wetgeleerdes” het hulle ’n wettiese stelsel van reëls aan die volk opgedwing wat God se Wet dikwels weerspreek het (Lukas 11:45, 46). Gevolglik het hulle ‘die woord van God kragteloos gemaak deur hulle oorleweringe wat hulle bewaar het’ (Markus 7:13; Mattheüs 23:16, 23, 24). Hulle was “blinde leiers” wat gekeer het dat die lig deurskyn.—Mattheüs 15:14.
4, 5. (a) Wat was die Fariseërs se reaksie toe van die Jode begin wonder het of Jesus die Messias is? (b) Watter slegte hartstoestand het die Fariseërs aan die dag gelê?
4 By een geleentheid toe baie Israeliete gewonder het of Jesus dalk die Christus is, het die bekommerde Fariseërs beamptes gestuur om hom in hegtenis te neem. Die beamptes het sonder hom teruggekom en gesê: “Nooit het ’n mens so gespreek soos hierdie mens nie.” Die Fariseërs was nie beïndruk nie en het die beamptes gevra: “Julle is tog nie ook mislei nie? Het iemand uit die owerstes in Hom geglo, of uit die Fariseërs? Maar hierdie skare wat die wet nie ken nie, is vervloek!” Nikodemus, ’n lid van die Sanhedrin, het geprotesteer dat dit onwettig is om ’n man te veroordeel voordat hy verhoor is. Die Fariseërs het hom vermakerig geantwoord en gesê: “Jy is tog nie ook uit Galilea nie? Ondersoek en sien dat daar geen profeet uit Galilea opgestaan het nie.”—Johannes 7:46-52.
5 Waarom het godsdiensleiers in ’n nasie wat aan God toegewy was so opgetree? Omdat ’n slegte hartstoestand in hulle ontstaan het (Mattheüs 12:34). Hulle minagting vir die gewone mense het hulle verwaandheid verraai. Hulle implikasie dat nie een ‘van die owerstes of die Fariseërs in hom geglo het nie’, het getoon dat hulle vermetel genoeg was om te dink dat die Messias net eg kon wees as hulle hom goedgekeur het. Daarbenewens was hulle oneerlik omdat hulle probeer het om Jesus se geloofwaardigheid te ondermyn omdat hy van Galilea was, terwyl ’n eenvoudige ondersoek sou getoon het dat hy in werklikheid in Betlehem, volgens profesie die geboorteplek van die Messias, gebore is.—Miga 5:1; Mattheüs 2:1.
6, 7. (a) Hoe het die godsdiensleiers op Lasarus se opstanding gereageer? (b) Wat het Jesus gesê om die godsdiensleiers se liefde vir die duisternis bloot te lê?
6 Hierdie godsdiensleiers se onverbiddelike teenstand teen die lig is oortuigend getoon toe Jesus vir Lasarus opgewek het. So ’n daad sou vir ’n godvresende persoon ’n bewys gewees het dat Jehovah Jesus steun. Maar die godsdiensleiers kon net ’n bedreiging vir hulle bevoorregte posisie sien. Hulle het gesê: “Wat sal ons doen?—want hierdie man doen baie tekens. As ons Hom so laat begaan, sal almal in Hom glo; en die Romeine sal kom en ons land en ons nasie albei afneem” (Johannes 11:44, 47, 48). Daarom het hulle saam beraadslaag oor hoe hulle Jesus en Lasarus kon doodmaak, moontlik omdat hulle gehoop het dat hulle die lig sodoende sou uitdoof.—Johannes 11:53, 54; 12:9, 10.
7 Gevolglik is daardie godsdiensleiers van God se volk deur verwaandheid, trots, intellektuele oneerlikheid en ’n oorweldigende eiebelang van die lig af weggedryf. Jesus het hulle skuld teen die einde van sy bediening blootgelê deur te sê: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie.”—Mattheüs 23:13.
Selfsug en trots
8. Watter gebeurtenisse in Nasaret het die slegte hartstoestand van party mense wat daar gewoon het, blootgelê?
8 Die Joodse volk van die eerste eeu het oor die algemeen hulle godsdiensleiers nagevolg en die lig verwerp weens hulle slegte hartstoestand. Jesus is byvoorbeeld eenkeer genooi om in ’n sinagoge in Nasaret te preek. Hy het ’n gedeelte uit Jesaja gelees en dit verduidelik, en die gemeente het aanvanklik na hom geluister. Maar toe hy geskiedkundige vergelykings tref wat hulle selfsug en gebrek aan geloof blootgelê het, het hulle woedend geword en hom probeer doodmaak (Lukas 4:16-30). Trotsheid, sowel as ander slegte eienskappe, het hulle daarvan weerhou om behoorlik op die lig te reageer.
9. Hoe is die verkeerde motiewe van ’n groot groep Galileërs blootgelê?
9 By ’n ander geleentheid het Jesus ’n groot menigte wonderdadig langs die See van Galilea gevoed. Ooggetuies van hierdie wonderwerk het gesê: “Hy is waarlik die profeet wat in die wêreld sou kom” (Johannes 6:10-14). Toe Jesus per boot na ’n ander plek gegaan het, het die menigte hom gevolg. Maar Jesus het geweet dat baie van hulle nie deur ’n liefde vir die lig beweeg is nie. Hy het vir hulle gesê: “Julle soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het” (Johannes 6:26). Kort daarna is sy woorde waar bewys toe ’n hele aantal wat hom gevolg het na die wêreld teruggedraai het (Johannes 6:66). ’n Selfsugtige gesindheid van “wat kry ek daaruit?” het gekeer dat die lig op hulle val.
10. Hoe het die meeste nie-Jode op die lig gereageer?
10 Ná Jesus se dood en opstanding het gelowige Jode voortgegaan om die lig na ander Jode uit te dra, maar min het daarop gereageer. Gevolglik het die apostel Paulus en ander, wat as “’n lig van die nasies” gedien het, die goeie nuus na ander lande versprei (Handelinge 13:44-47). Baie nie-Jode het daarop gereageer, maar die algemene reaksie was soos Paulus dit beskryf het: “Ons verkondig Christus wat aan ’n paal gehang is, . . . [’n boodskap wat] vir die nasies dwaasheid [is]” (1 Korinthiërs 1:22, 23, NW). Die meeste nie-Jode het die lig verwerp omdat hulle deur heidense bygelowe of wêreldse filosofieë verblind is.—Handelinge 14:8-13; 17:32; 19:23-28.
“Uit die duisternis geroep”
11, 12. Wie het in die eerste eeu op die lig gereageer, en wie reageer vandag daarop?
11 Ondanks die algemene gebrek aan reaksie in die eerste eeu is baie regskapenes ‘uit die duisternis tot God se wonderbare lig geroep’ (1 Petrus 2:9). Die apostel Johannes skryf van hulle: “Almal wat [Christus] aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo” (Johannes 1:12). Hierdie liefhebbers van die lig is sedert Pinkster 33 G.J. met heilige gees gedoop en het seuns van God geword wat die hoop het om saam met Jesus in sy hemelse Koninkryk te regeer.
12 In ons dag is die laastes van daardie gesalfde seuns van God versamel en ter vervulling van Daniël se profesie ‘glinster hulle soos die uitspansel en bring baie tot regverdigheid’ (Daniël 12:3). Hulle het hulle lig só laat skyn dat meer as viermiljoen “ander skape” na die waarheid aangetrek is en ’n regverdige posisie voor God geniet (Johannes 10:16). Op hulle beurt weerspieël hulle weer die lig in alle wêrelddele, sodat die lig nou helderder as ooit skyn. In ons dag, soos in die eerste eeu, het “die duisternis . . . [die lig] nie oorweldig nie”.—Johannes 1:5.
‘Daar is geen duisternis in God nie’
13. Watter waarskuwing het die apostel Johannes ons gegee?
13 Ons moet egter nooit die waarskuwing van die apostel Johannes vergeet nie: “God is lig, en geen duisternis is in Hom nie. As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie” (1 Johannes 1:5, 6). Dit is duidelik dat dit vir Christene moontlik is om in dieselfde strik as die Jode te trap en, terwyl hulle beweer dat hulle getuies vir God is, werke van die duisternis te doen.
14, 15. Watter werke van die duisternis het hulle in die eerste-eeuse Christengemeente geopenbaar, en wat leer ons hieruit?
14 Om die waarheid te sê, dit het in die eerste eeu gebeur. Ons lees van ernstige verdeeldheid in Korinthe (1 Korinthiërs 1:10-17). Die apostel Johannes moes gesalfde Christene waarsku om mekaar nie te haat nie, en Jakobus moes party vermaan om nie meer aandag aan die rykes te gee as aan die armes nie (Jakobus 2:2-4; 1 Johannes 2:9, 10; 3 Johannes 11, 12). Daarbenewens het Jesus, toe hy die sewe gemeentes van Klein-Asië geïnspekteer het, soos in die boek Openbaring opgeteken is, gesê dat die werke van die duisternis, onder andere afvalligheid, afgodediens, onsedelikheid en materialisme, in die gemeentes ingedring het (Openbaring 2:4, 14, 15, 20-23; 3:1, 15-17). In daardie vroeë dae van die Christengemeente het baie die lig verlaat, waarvan party uitgesit is en ander net weggedryf het na “die buitenste duisternis”.—Mattheüs 25:30; Filippense 3:18; Hebreërs 2:1; 2 Johannes 8-11.
15 Al hierdie verslae uit die eerste eeu toon verskillende maniere waarop die duisternis van Satan se wêreld in die denkwyse van individuele Christene of selfs in hele gemeentes kan insypel. Ons moet waak dat so iets nooit met ons gebeur nie. Hoe kan ons dit doen?
Die nuwe persoonlikheid
16. Watter goeie raad het Paulus aan die Efesiërs gegee?
16 Paulus het die Efesiërs aangespoor om nie meer “verduisterd . . . in hulle verstand en vervreemd van die lewe wat aan God behoort” te wees nie. Sodat hulle nie in daardie duisternis sou terugval nie, moes hulle hartsgesindhede aankweek wat tot die lig behoort. Paulus het gesê: “Dat julle die ou persoonlikheid, wat met julle vroeëre lewenswandel ooreenkom en wat na sy bedrieglike begeertes verderf word, moet aflê, maar dat julle nuut gemaak moet word in die krag wat julle denke aandryf, en julle met die nuwe persoonlikheid moet beklee, wat na God se wil geskep is in ware regverdigheid en lojaliteit.”—Efesiërs 4:18, 22-24, NW.
17. Hoe kan ons vandag verhoed dat ons in die duisternis in terugval?
17 Paulus beveel hier as ’t ware ernstige chirurgie aan—om iets wat voorheen ’n deel van ons was, ons ou persoonlikheid, uit te sny en toe te laat dat ons ’n hele nuwe gees ontwikkel ‘wat ons denke aandryf’. En hy het nie met nuwe belangstellendes gepraat nie, maar met gedoopte Christene. Die verandering van ons persoonlikheid hou nie op wanneer ons gedoop word nie. Dit is ’n voortdurende proses. As ons ophou om die nuwe persoonlikheid aan te kweek, sal die oue waarskynlik weer te voorskyn kom, met sy trots, verwaandheid en selfsug (Genesis 8:21; Romeine 7:21-25). Dit kan daartoe lei dat ons tot werke van die duisternis terugkeer.
“In u lig sien ons die lig”
18, 19. Hoe kan “kinders van die lig” volgens Jesus en Paulus se beskrywing uitgeken word?
18 Onthou dat ons slegs die ewige lewe sal verkry as ons ’n gunstige oordeel van God ontvang, en daardie oordeel berus op hoe lief ons die lig het. Nadat Jesus na hierdie feit verwys het, het hy gesê: “Elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie. Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.”—Johannes 3:19-21.
19 Paulus het hierdie gedagte beaam toe hy die volgende aan die Efesiërs geskryf het: “Wandel soos kinders van die lig. Want die vrug van die Gees [“lig”, NW] bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid” (Efesiërs 5:8, 9). Gevolglik toon ons werke of ons kinders van die lig of van die duisternis is. Maar regte werke kan net uit ’n goeie hart ontstaan. Dit is waarom ons op ons hart moet let, bewus moet wees van ons behoefte om ons persoonlikheid voortdurend te vernuwe en ag moet gee op die gees wat ons gedagtes aandryf.—Spreuke 4:23.
20, 21. (a) Watter spesiale uitdaging het kinders wat in Christelike gesinne gebore is? (b) Watter uitdaging het alle kinders van Christenouers?
20 In sommige gevalle was dit ’n spesiale uitdaging vir kinders wat vir toegewyde Getuies van Jehovah gebore is. Waarom? Wel, aan die een kant geniet sulke kinders ’n wonderlike seëning. As ’n mens die waarheid van kleins af ken, beteken dit in werklikheid dat ’n mens nooit die duisternis van Satan se wêreld self hoef te ondervind nie (2 Timotheüs 3:14, 15). Aan die ander kant neem party kinders in hierdie situasie die waarheid as vanselfsprekend aan en leer hulle nooit werklik om die lig lief te hê nie. Dit was die geval met die meeste Jode in die eerste eeu. Hulle het grootgeword in ’n nasie wat aan Jehovah toegewy was en in sekere mate het hulle die waarheid geken. Maar dit was nie in hulle hart nie.—Mattheüs 15:8, 9.
21 Christenouers is voor God verantwoordelik om hulle kinders in die lig groot te maak (Deuteronomium 6:4-9; Efesiërs 6:4). Maar uiteindelik moet die kind self die lig meer liefkry as die duisternis. Hy moet die lig van die waarheid sy eie maak. Terwyl hy grootword, sal sekere dinge in Satan se wêreld miskien aantreklik lyk. Die sorgvrye of onverantwoordelike lewenswyse van sy portuurs lyk dalk opwindend. Die skeptisisme wat in die skool geleer word, is dalk verleidelik. Maar hy moet nooit vergeet dat buite die lig ‘duisternis die aarde oordek’ nie (Jesaja 60:2). Hierdie verduisterde wêreld het op die ou end niks goeds om aan te bied nie.—1 Johannes 2:15-17.
22. Hoe seën Jehovah nou diegene wat in die lig inkom, en hoe sal hy hulle in die toekoms seën?
22 Koning Dawid het geskryf: “By U [Jehovah] is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig. Laat u goedertierenheid voortduur vir die wat U ken, en u geregtigheid vir die opregtes van hart” (Psalm 36:10, 11). Diegene wat die lig liefhet, leer Jehovah ken, en dit kan vir hulle die lewe beteken (Johannes 17:3). Weens sy goedertierenheid ondersteun Jehovah hulle nou, en wanneer die groot verdrukking toeslaan, sal hy hulle tot in ’n nuwe wêreld behoue laat bly. Dit kan met ons gebeur as ons nou die duisternis van Satan se wêreld vermy. In die nuwe wêreld sal die mensdom tot volmaakte lewe in die Paradys herstel word (Openbaring 21:3-5). Diegene wat ’n gunstige oordeel ontvang, sal dan die vooruitsig hê om vir ewig in Jehovah se lig te wees. Wat ’n wonderlike vooruitsig! En wat ’n wonderlike aansporing is dit tog om nou ‘die werke van die duisternis af te lê en die wapens van die lig aan te gord’!—Romeine 13:12.
Onthou jy?
◻ Waarom het die meeste Jode in Jesus se dag die lig verwerp?
◻ In watter mate skyn die lig in hedendaagse tye?
◻ Watter waarskuwings oor selfsug en trots is daar in eerste-eeuse voorbeelde?
◻ Wat is noodsaaklik as ons in die lig wil bly?
◻ Watter seëninge is vir liefhebbers van die lig in die vooruitsig?
[Prent op bladsy 14]
Die meeste Jode in Jesus se dag het nie op die lig gereageer nie
[Prente op bladsy 17]
Deur die dekades heen is verskillende maniere gebruik om die lig te laat skyn en dissipels te maak
[Prent op bladsy 18]
‘Julle moet die ou persoonlikheid aflê en julle met die nuwe persoonlikheid beklee’