‘Hoe laat was dit?’
‘HOE laat is dit?’ Hoe dikwels het jy al daardie vraag gevra? In ons gejaagde hedendaagse eeu is ons altyd bewus van tyd. Die meeste van ons daaglikse bedrywighede—om in die oggend op te staan, werk toe te gaan, te eet, vriende te ontmoet, ensovoorts—word streng deur tyd beheer. En ons vertrou op menigte dinge—klokke, horlosies, alarms, radio’s—om vas te stel hoe laat dit is.
Wat van Bybeltye toe mense nie horlosies soos ons s’n gehad het nie? Hoe het hulle tyd gemeet? Gee die Bybelverslag enige aanduiding hiervan? As jy weet wanneer in die dag ’n sekere Bybelse gebeurtenis plaasgevind het, kan jy nuwe insig in die Woord van God verkry en jou Bybelstudie meer geniet.
Godgegewe tydwysers
Vroeër is die tyd wanneer ’n gebeurtenis plaasgevind het, vasgestel deur die son of die maan waar te neem, “die twee groot ligte” wat die Skepper in die hemel geplaas het “om skeiding te maak tussen die dag en die nag” (Genesis 1:14-16). Dit was byvoorbeeld “toe die dag begin breek het” dat die twee engele by Lot en sy gesin daarop aangedring het om uit die gedoemde stad Sodom uit te vlug (Genesis 19:15, 16). En dit was “teen die aand” dat Abraham se getroue dienaar by die put aangekom het waar hy Rebekka ontmoet het.—Genesis 24:11, 15.
Daar word soms presieser aanduidings van tyd gegee. Daar is byvoorbeeld vir Abimeleg, regter Gideon se gewelddadige seun, gesê om die stad Sigem “in die môre vroeg as die son uitkom” aan te val (Rigters 9:33). Daar was blykbaar ’n strategiese rede hiervoor. Die felle lig van die opkomende son agter Abimeleg se strydmagte moes dit vir Sigem se verdedigers baie moeilik gemaak het om die aanvallende leërs in “die skaduwee van die berge” te sien.—Rigters 9:36-41.
Idiomatiese tydaanwysers
Die Hebreërs het kleurvolle en interessante uitdrukkings gebruik om tyd aan te dui. Hulle gee ons nie net die gevoel van die plaaslike omgewing en gebruike nie, maar hulle sê ook iets oor die omstandighede van die gebeurtenis.
Genesis 3:8 sê byvoorbeeld vir ons dat Jehovah “omstreeks die winderige deel van die dag” met Adam en Eva gepraat het op die dag wat hulle gesondig het (NW). Daar word aangeneem dat dit omtrent teen sononder was wanneer koel briese opgekom en die hitte van die dag gebreek het. Aan die einde van die dag is dit gewoonlik die tyd om te ontspan en te rus. Jehovah het egter nie ’n ernstige regterlike saak tot die volgende dag laat oorstaan as daar nog tyd was om daarna om te sien nie.
Daarenteen toon Genesis 18:1, 2 dat Jehovah se engele “op die warmste van die dag” na Abraham se tent by Mamre gekom het. Stel jou die middagson voor wat op die Judese heuwels neerbrand. Die hitte kan drukkend wees. Dit was die gebruiklike tyd om te eet en te rus. (Sien Genesis 43:16, 25; 2 Samuel 4:5.) Gevolglik het Abraham moontlik na ete ‘by die ingang van die tent gesit’ en rus, waar daar dalk ’n ligte windjie gewaai het. Ons kan hierdie bejaarde man se gasvryheid des te meer waardeer wanneer ons lees dat hy na die besoekers “begin hardloop” het en hom toe “na die tent gehaas het” om vir Sara te sê om die brood voor te berei, waarna hy “na die kudde gehardloop het” en hom “gehaas [het] om dit voor te berei”. Dit alles op die warmste deel van die dag!—Genesis 18:2-8, NW.
Die Hebreërs se nagure
Die Hebreërs het klaarblyklik die nag in drie periodes verdeel, wat “nagwake” genoem is. Elke nagwaak het, na gelang van die seisoen, een derde, of omtrent vier uur, van die tyd tussen sononder en sonop geduur (Psalm 63:7). Dit was “met die begin van die middelste nagwaak”, wat van omtrent tienuur die aand tot twee-uur die oggend geduur het, dat Gideon die kamp van die Midianiete aangeval het. ’n Aanval op hierdie tyd het die wagte ongetwyfeld heeltemal verras. Die versigtige Gideon kon beslis nie ’n strategieser tyd vir sy aanval gekies het nie!—Rigters 7:19.
Tydens die uittog uit Egipte het Jehovah die see “deur ’n sterk oostewind . . . laat wegvloei, die hele nag deur”, en dit sodoende vir die Israeliete moontlik gemaak om op droë grond deur te trek. Teen die tyd dat die Egiptenaars hulle ingehaal het, was dit reeds “die môrewaak” en het Jehovah die leër van die Egiptenaars in verwarring gebring en hulle uiteindelik vernietig deur die water ‘teen dagbreek in sy bedding te laat terugvloei’ (Exodus 14:21-27). Dit het dus amper ’n hele nag geneem vir die see om verdeel te word en vir die Israeliete om deur te trek.
In die eerste eeu
Die Jode het teen die eerste eeu die stelsel aanvaar om die dag as ’n tydperk van 12 uur te reken. Dit is waarom Jesus in een van sy illustrasies gesê het: “Is daar nie twaalf ure in die dag nie?” (Johannes 11:9). Dit is van sonop tot sononder bereken, of van ongeveer sesuur die oggend tot sesuur die aand. Derhalwe sal “die derde uur” omtrent nege-uur die oggend wees. Dit was teen hierdie tyd op Pinkster dat die heilige gees uitgestort is. Toe die mense die dissipels daarvan beskuldig het dat hulle “vol soetwyn” was, het Petrus daardie beskuldiging vinnig weerlê. Niemand sal tog teen daardie vroeë uur al dronk wees nie!—Handelinge 2:13, 15.
Jesus se verklaring, “my voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het”, het eweneens groter betekenis wanneer ons die tydsfaktor in ag neem wat daarby betrokke was. “Dit was omtrent die sesde uur”, volgens Johannes 4:6, oftewel omtrent twaalfuur die middag. Jesus en die dissipels moes honger en dors gewees het nadat hulle die hele oggend deur die heuwelland van Samaria gereis het. Dit is waarom die dissipels hom aangespoor het om te eet toe hulle met die kos teruggekom het. Min het hulle geweet watter krag en voeding Jesus ontvang het deur Jehovah se werk te doen. Jesus se verklaring was ongetwyfeld meer as net beeldspraak. Jesus is letterlik versterk deur God se werk te doen, hoewel dit ure was sedert hy laas geëet het.—Johannes 4:31-34.
Aangesien sonop en sononder volgens die tyd van die jaar gewissel het, is die benaderde tyd van ’n gebeurtenis gewoonlik gegee. Ons lees dus gewoonlik van gebeurtenisse wat die derde, sesde of negende uur plaasgevind het—dikwels bedoel dit omtrent daardie tye (Mattheüs 20:3, 5; 27:45, 46; Markus 15:25, 33, 34; Lukas 23:44; Johannes 19:14; Handelinge 10:3, 9, 30). Wanneer die tydsfaktor egter onontbeerlik vir die verhaal was, is spesifieker verklarings van tyd gegee. Byvoorbeeld, aan die man wat gretig was om te weet of sy seun werklik deur Jesus se krag gehelp is, het die slawe geantwoord: “Gister, die sewende uur [omtrent eenuur die middag], het die koors hom verlaat.”—Johannes 4:49-54.
Verdelings van die nag
Die Jode het blykbaar teen die tyd van die Romeinse oorheersing die Griekse en Romeinse verdeling van die nag in vier wake aangeneem, pleks van die drie wat hulle voorheen gebruik het. Jesus het klaarblyklik in Markus 13:35 van die vier verdelings gepraat. Die “aand”-waak het van sononder tot omtrent nege-uur die aand geduur. Die tweede waak, die “middernag”-waak, het omtrent nege-uur begin en teen middernag geëindig. Die “haangekraai”-waak het van middernag tot omtrent drie-uur geduur. En die laaste waak, “vroeg in die môre”, het teen dagbreek, of omtrent sesuur, geëindig.
Die “haangekraai”-waak is van besondere belang weens Jesus se woorde aan Petrus in Markus 14:30: “Voordat die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën.” Hoewel party kommentators volhou dat die “twee maal” na spesifieke tye verwys—middernag en dagbreek onderskeidelik—toon A Dictionary of Christ and the Gospels, geredigeer deur James Hastings, dat “hane in werklikheid van middernag af, in die Ooste sowel as ander plekke, op ongereelde tye dwarsdeur die nag kraai”. Jesus het blykbaar nie van die spesifieke tyd gepraat wanneer Petrus hom sou verloën nie. Hy het eerder ’n teken gegee om Petrus aan sy woorde te herinner, wat daardie selfde nag noukeurig vervul is.—Markus 14:72.
Dit was “in die vierde nagwaak”—tussen drie- en sesuur die oggend—dat Jesus op die see van Galilea na sy dissipels toe geloop het wat in ’n skuit “reeds ’n paar honderd [meter] van die land af” was (NW). Dit is miskien maklik om te verstaan waarom die dissipels “ontsteld [was] en gesê [het]: Dit is ’n spook! En hulle het geskreeu van vrees” (Mattheüs 14:23-26). Dit toon daarenteen dat Jesus taamlik lank op sy eie in gebed op die berg deurgebring het. Aangesien dit net ’n tydjie was nadat Johannes die Doper deur Herodes Antipas onthoof is en net voor die Pasga wat die begin van die laaste jaar van Jesus se aardse bediening was, het Jesus beslis baie gehad om oor te peins in sy persoonlike gebed tot die Vader.
Afgesien van die vier wake is die nag ook as ’n tydperk van 12 uur gereken. Om Paulus veilig na Cesarea te vergesel, het die militêre bevelvoerder Claudius Lisias sy hoofmanne beveel om ’n krygsmag van 470 soldate “teen die derde uur van die nag” gereed te maak (Handelinge 23:23, 24). Paulus is dus onder die sluier van die nag veilig uit Jerusalem geneem.
Jy moet weet watter tyd van die dag dit is
As ons verslae oor gebeure onder God se eertydse volk lees en daaroor mediteer, is dit vir ons ’n bron van genot en geestelike krag. As jy die tydsfaktor in jou studie kan insluit, sal dit beslis die vreugde vermeerder wat jy uit jou Bybelstudie put. Hoe so? Op hierdie manier kan jy ’n goeie kennis van die Woord van God kry. Publikasies soos Insight on the Scriptures en die New World Translation of the Holy Scriptures With References is in hierdie verband onskatbare hulpmiddels (beide word deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. uitgegee). Hulle sal jou help om die antwoord te vind as jy jou afvra: ‘Hoe laat was dit?’