Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 6/15 bl. 8-13
  • Red jou lewe met bloed—Hoe?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Red jou lewe met bloed—Hoe?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • God se ferm standpunt oor bloed
  • Bloed in die geneeskunde of as geneesmiddel
  • Lewensreddend op mediese gebied?
  • Enige alternatiewe vir bloed?
  • Die kosbaarste bloed
  • Bloed—Noodsaaklik vir lewe
    Hoe kan bloed jou lewe red?
  • Studievrae vir die brosjure Hoe kan bloed jou lewe red?
    Ons Koninkryksbediening—1991
  • Die Bloed wat werklik lewens red
    Hoe kan bloed jou lewe red?
  • Bloedoortappings—Hoe veilig?
    Hoe kan bloed jou lewe red?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 6/15 bl. 8-13

Red jou lewe met bloed—Hoe?

“Kies dan die lewe, . . . deur . . . na [God se] stem te luister . . . want dit is jou lewe en die lengte van jou dae.”—DEUTERONOMIUM 30:19, 20.

1. Hoe is ware Christene uniek wat hulle respek vir die lewe betref?

BAIE mense sê dat hulle die lewe respekteer deur hulle beskouing van die doodstraf, aborsie of jag as bewys te meld. Maar ware Christene toon op ’n besondere manier respek vir die lewe. Psalm 36:10 sê: “By U [God] is die fontein van die lewe.” Aangesien die lewe ’n gawe van God is, huldig Christene sy beskouing van lewensbloed.

2, 3. Waarom moet ons God in aanmerking neem wanneer dit kom by bloed? (Handelinge 17:25, 28).

2 Ons lewe hang af van bloed, wat suurstof deur ons hele liggaam vervoer, koolsuurgas verwyder, ons help om by temperatuurveranderinge aan te pas en teen siektes weerstand te bied. Die Een wat ons die lewe gegee het, het ook die wonderlike, lewensonderhoudende vloeibare weefsel wat bloed genoem word, ontwerp en voorsien. Dit weerspieël sy voortdurende belangstelling in die behoud van menselewe.—Genesis 45:5; Deuteronomium 28:66; 30:15, 16.

3 Christene sowel as mense in die algemeen moet hulle afvra: ‘Kan bloed my lewe red slegs deur sy natuurlike funksies, of kan bloed my lewe op ’n verreikender manier red?’ Hoewel die meeste mense besef dat daar ’n skakel tussen lewe en die normale funksies van bloed is, is daar eintlik baie meer daarby betrokke. Die sedelike norme van Christene, Moslems en Jode dui op ’n Lewegewer wat hom oor lewe en oor bloed uitgespreek het. Ja, ons Skepper het baie te sê oor bloed.

God se ferm standpunt oor bloed

4. Wat het God vroeg in die mensegeskiedenis oor bloed gesê?

4 In God se Woord, die Bybel, word daar meer as 400 keer melding gemaak van bloed. Een van die vroegste vermeldings hiervan is Jehovah se verordening: “Alles wat lewe en beweeg, sal vir julle voedsel wees . . . Maar julle moenie vleis eet wat nog sy lewensbloed in het nie.” Hy het bygevoeg: “Vir julle lewensbloed sal ek beslis rekenskap eis” (Genesis 9:3-5, New International Version). Jehovah het dit aan Noag, die voorvader van die mensegesin, gesê. Die hele mensdom is derhalwe gewaarsku dat bloed in die Skepper se oë lewe verteenwoordig. Almal wat sê dat hulle God as Lewegewer erken, behoort derhalwe te besef dat Hy ’n ferm standpunt oor die gebruik van lewensbloed inneem.

5. Wat was die vernaamste rede waarom die Israeliete nie bloed moes inneem nie?

5 God het weer van bloed gepraat toe hy die Wet aan Israel gegee het. Levitikus 17:10, 11 lui volgens die Joodse Tanakh-vertaling: “As enigeen van die huis van Israel of van die vreemdelinge wat onder hulle vertoef enige bloed eet, sal Ek My aangesig rig teen die persoon wat die bloed eet, en Ek sal hom onder sy volk uitroei. Want die lewe van die vlees is in die bloed.” Daardie wet kon om gesondheidsredes voordelig gewees het, maar dit het baie meer behels. Deur bloed as iets spesiaals te beskou, kon die Israeliete toon dat hulle van God afhanklik was vir lewe (Deuteronomium 30:19, 20). Ja, die hoofrede waarom hulle nie bloed moes inneem nie, was nie omdat dit ongesond was nie, maar omdat dit vir God spesiale betekenis gehad het.

6. Hoekom kan ons seker wees dat Jesus God se wet op bloed onderhou het?

6 Watter standpunt neem die ware Christelike godsdiens in oor die gebruik van bloed om ’n menselewe te red? Jesus het geweet wat sy Vader oor die gebruik van bloed gesê het. Jesus “het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit ’n leuen gekom nie”. Dit beteken dat hy die Wet, waaronder die wet oor bloed, volmaak onderhou het (1 Petrus 2:22, NAV). Hy het dus vir sy volgelinge ’n voorbeeld gestel, onder andere ’n voorbeeld wat respek vir lewe en bloed betref.

7, 8. Hoe het dit duidelik geword dat God se wet op bloed op Christene van toepassing is?

7 Die geskiedenis toon wat later gebeur het toe ’n raadsvergadering van die Christelike bestuursliggaam moes besluit of Christene al Israel se wette moes hou. Onder goddelike leiding het hulle gesê dat Christene nie verplig is om die Mosaïese wet te hou nie maar dat dit ‘noodsaaklik’ is dat hulle hulle “onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is [vleis waarvan die bloed nie uitgeloop het nie] en van hoerery” (Handelinge 15:22-29). Hulle het dit dus duidelik gestel dat dit sedelik net so belangrik is om bloed te vermy as wat dit is om afgodediens en growwe onsedelikheid te vermy.a

8 Die eertydse Christene het daardie goddelike verbod onderhou. Britse geleerde Joseph Benson het daaroor kommentaar gelewer en gesê: “Hierdie verbod op die eet van bloed, wat aan Noag en sy hele nageslag gegee is, en aan die Israeliete herhaal is . . . is nooit herroep nie, maar is eerder onder die Nuwe Testament, Handelinge xv. bevestig; en daardeur het dit ’n ewigdurende verpligting geword.” Maar sal die Bybel se beskouing van bloed van toepassing wees op hedendaagse mediese gebruike, soos oortappings, wat uiteraard nie in die tyd van Noag of die apostels gebruik is nie?

Bloed in die geneeskunde of as geneesmiddel

9. Hoe is bloed in die ou tyd vir mediese doeleindes aangewend, en in teenstelling met watter Christelike standpunt?

9 Die mediese gebruik van bloed is hoegenaamd nie iets nuuts nie. Die boek Flesh and Blood, deur Reay Tannahill, wys daarop dat bloed byna 2 000 jaar lank in Egipte en elders “as die probate middel teen melaatsheid beskou is”. Die Romeine het geglo dat epilepsie genees kan word deur mensebloed in te neem. Tertullianus het aangaande hierdie “mediese” gebruik van bloed geskryf: “Beskou diegene wat, by ’n vertoning in die arena, met ’n gulsige dors die vars bloed van bose misdadigers neem . . . en dit wegdra om hulle epilepsie te genees.” Dit was in skerpe teenstelling met wat Christene gedoen het: “Ons het nie eens die bloed van diere by ons maaltye nie . . . Tydens die verhore van Christene bied julle vir hulle bloedwors aan. Julle is natuurlik daarvan oortuig dat [dit] vir hulle onwettig is.” Dink aan die implikasie daarvan: Eertydse Christene was bereid om eerder te sterf as om bloed, wat lewe verteenwoordig het, in te neem.—Vergelyk 2 Samuel 23:15-17.

10, 11. Waarom kan ons aanvaar dat God se standaard ten opsigte van bloed ook verbied dat ons bloedoortappings aanvaar?

10 Natuurlik is bloed destyds nie oorgetap nie, want eksperimente met oortappings het eers teen die begin van die 16de eeu begin. Maar in die 17de eeu het ’n professor in die anatomie aan die Universiteit van Kopenhagen beswaar gemaak: ‘Diegene wat mensebloed as inwendige behandeling vir siektes gebruik, misbruik dit blykbaar en doen ’n groot sonde. Kannibale word veroordeel. Waarom verafsku ons nie diegene wat hulle kele met mensebloed besmet nie? Dit geld ook vir die ontvangs van vreemde bloed uit ’n gesnyde aar, hetsy deur die mond of deur oortappingsinstrumente. Die bewerkers van hierdie operasie word in angs gehou deur die goddelike wet.’

11 Ja, selfs in vorige eeue het mense gesien dat God se wet die inname van bloed deur die are asook deur die mond verbied het. As mense dit vandag besef, kan dit hulle help om die standpunt van Jehovah se Getuies, wat met God se standpunt ooreenstem, te verstaan. Hoewel ware Christene lewe as baie kosbaar beskou en mediese dienste waardeer, respekteer hulle lewe as ’n gawe van die Skepper, en daarom probeer hulle nie om hulle lewe te onderhou deur bloed in te neem nie.—1 Samuel 25:29, NW.

Lewensreddend op mediese gebied?

12. Wat kan denkende mense redelikerwys oorweeg aangaande bloedoortappings?

12 Deskundiges beweer al jare lank dat bloed lewens red. Dokters kan vertel van iemand wat baie bloed verloor het, maar vinnig herstel het nadat hy ’n oortapping ontvang het. Daarom wonder mense dalk: ‘Hoe verstandig of onverstandig is die Christen se standpunt uit ’n mediese oogpunt?’ Voordat ’n denkende mens hom aan enige ernstige mediese prosedure onderwerp, sal hy eers vasstel wat die moontlike voordele en potensiële gevare is. Wat van bloedoortappings? Die waarheid is dat bloedoortappings baie gevare inhou. Dit kan selfs dodelik wees.

13, 14. (a) Noem ’n paar dinge wat bewys dat bloedoortappings gevaarlik is. (b) Hoe het die pous se ondervinding die gesondheidsgevare van bloed toegelig?

13 Onlangs het drr. L. T. Goodnough en J. M. Shuck gesê: “Die mediese gemeenskap is al lank daarvan bewus dat bloedoortapping nog altyd ’n gevaar inhou, al is die bloedvoorraad ook so veilig soos wat ons dit volgens ons kennis kan maak. Die komplikasie van bloedoortapping wat die algemeenste voorkom, is steeds nie-A/nie-B-hepatitis (NANBH); ander potensiële komplikasies is onder andere hepatitis B, alloïmmunisering, oortappingsreaksie, onderdrukte immuniteit en ysteroorbelading.” Die verslag het ’n ‘konserwatiewe’ skatting van net een van daardie ernstige gevare gemaak en bygevoeg: “Daar word verwag dat nagenoeg 40 000 mense elke jaar [in die Verenigde State alleen] NANBH sal opdoen en dat tot 10% van hulle sirrose en/of hepatoom [lewerkanker] sal opdoen.”—The American Journal of Surgery, Junie 1990.

14 Terwyl die gevaar van siektes wat deur oortappingsbloed opgedoen kan word alom bekend word, neem mense hulle beskouing van oortappings weer in oënskou. Byvoorbeeld: Nadat die pous in 1981 geskiet is, is hy in ’n hospitaal behandel en ontslaan. Later is hy weer opgeneem vir twee maande, en sy toestand was so kritiek dat dit gelyk het asof hy as ’n invalide sou moes aftree. Waarom? Hy het ’n sitomegalovirusinfeksie gekry van die bloed wat hy ontvang het. Sommige mense kan wonder: ‘As selfs bloed wat aan die pous gegee word gevaarlik is, wat van oortappings wat aan ons gewone mense gegee word?’

15, 16. Waarom is bloedoortappings nie veilig nie, selfs as die bloed vir siektes getoets is?

15 ‘Maar kan bloed nie getoets word vir siektes nie?’ vra iemand dalk. Wel, neem as voorbeeld die toetsing vir hepatitis B. Patient Care (28 Februarie 1990) het op die volgende gewys: “Die voorkoms van posttransfusiehepatitis het afgeneem nadat bloed wêreldwyd [daarvoor] getoets is, maar 5-10% van gevalle van posttransfusiehepatitis word steeds deur hepatitis B veroorsaak.”

16 Die feilbaarheid van sulke toetse kan ook gesien word in die geval van ’n ander gevaar wat bloed inhou—Vigs. Die Vigs-pandemie het mense maar alte bewus gemaak van die gevaar van besmette bloed. Daar is weliswaar nou maniere om bloed te toets vir tekens van hierdie virus. Maar bloed word nie oral getoets nie, en mense kan blykbaar die Vigs-virus jare lank in hulle bloed dra sonder dat dit deur die jongste toetse opgespoor word. Pasiënte kán dus Vigs kry van bloed wat getoets is en wat goedgekeur is—en van hulle hét al Vigs daarvan gekry!

17. Hoe kan bloedoortappings nadelige gevolge hê wat dalk nie onmiddellik sigbaar is nie?

17 Drr. Goodnough en Shuck het ook melding gemaak van “onderdrukte immuniteit”. Ja, daar is toenemende bewys dat selfs bloed waarop deeglike kruistoetse gedoen is ’n pasiënt se immuunstelsel kan aantas en die weg vir kanker en die dood kan open. Gevolglik het ’n Kanadese studie van “pasiënte met kop- en nekkanker getoon dat diegene wat gedurende die verwydering van [’n] gewas ’n bloedoortapping ontvang het agterna ’n betekenisvolle afname in immuunstand ondervind het” (The Medical Post, 10 Julie 1990). Dokters aan die Universiteit van Suid-Kalifornië het berig: “Die syfer vir die terugkering van alle kankers van die larinks was 14% vir diegene wat nie bloed ontvang het nie en 65% vir diegene wat wel bloed ontvang het. Wat die terugkering van kanker van die mondholte, farinks en neus of sinus betref, was die syfer 31% sonder oortappings en 71% met oortappings” (Annals of Otology, Rhinology & Laryngology, Maart 1989). Dit lyk ook of onderdrukte immuniteit ’n onderliggende rede is waarom diegene wat bloed gedurende ’n operasie ontvang baie makliker infeksies kry.—Sien venster, bladsy 10.

Enige alternatiewe vir bloed?

18. (a) Waartoe wend geneeshere hulle as gevolg van die gevare verbonde aan bloedoortappings? (b) Watter informasie oor alternatiewe kan jy aan jou geneesheer meld?

18 Sommige dink dalk: ‘Oortappings is gevaarlik, maar is daar enige alternatiewe?’ Ons wil beslis doeltreffende mediese behandeling hê wat van kwaliteit getuig. Is daar dus geoorloofde en doeltreffende maniere om ernstige mediese probleme te behandel sonder om bloed te gebruik? Gelukkig, ja. The New England Journal of Medicine (7 Junie 1990) het berig: “Geneeshere, wat al hoe meer bewus word van die gevare van [Vigs] en ander infeksies wat deur oortapping oorgedra word, neem die gevare en voordele van oortappings weer in oënskou en wend hulle tot alternatiewe, wat ook behels dat hulle oortappings geheel en al vermy.”b

19. Waarom kan jy vol vertroue wees dat jy bloed kan weier en nogtans met welslae medies behandel kan word?

19 Jehovah se Getuies weier al lank bloedoortappings, nie hoofsaaklik omdat dit vir hulle gesondheid gevaar inhou nie, maar omdat hulle aan God se wet op bloed gehoorsaam is (Handelinge 15:28, 29). Bekwame dokters het Getuiepasiënte nietemin met welslae behandel sonder bloed met sy gepaardgaande gevare. Soos net een van talle voorbeelde wat in mediese lektuur gemeld word, het Archives of Surgery (November 1990) hartoorplantings bespreek op Getuiepasiënte wie se gewete so ’n prosedure toegelaat het sonder die toediening van bloed. Die verslag het gesê: “Meer as 25 jaar se ondervinding van hartchirurgie op Jehovah se Getuies het suksesvolle hartoorplantings sonder die toediening van bloedprodukte tot gevolg gehad . . . Geen peri-operatiewe sterfgevalle het voorgekom nie, en vroeë opvolgstudies het getoon dat hierdie pasiënte nie méér geneig was tot die verwerping van orgaanoorplantings nie.”

Die kosbaarste bloed

20, 21. Waarom moet Christene versigtig wees om nie die gesindheid te ontwikkel dat ‘bloed slegte medisyne is’ nie?

20 Daar is egter ’n sieldeursoekende vraag wat elkeen van ons hom moet afvra. ‘Om watter rede het ek besluit om nie bloedoortappings te aanvaar nie? Eerlik waar, wat is my belangrikste, fundamentele rede?’

21 Ons het reeds gemeld dat daar doeltreffende alternatiewe vir bloed is wat ’n mens nie blootstel aan die talle gevare wat met oortappings gepaard gaan nie. Gevare soos hepatitis of Vigs het baie mense selfs beweeg om bloed om nie-godsdienstige redes te weier. Sommige het baie hieroor te sê, byna asof hulle aan ’n optog deelneem met ’n banier wat sê: “Bloed is gevaarlike medisyne.” Dit is moontlik dat ’n Christen by daardie veldtog betrokke kan raak. Maar dit is ’n veldtog wat uiteindelik op niks sal uitloop nie. Hoe so?

22. Watter realistiese beskouing van die lewe en die dood moet ons hê? (Prediker 7:2).

22 Ware Christene besef dat mense, selfs met die beste mediese behandeling in die beste hospitale, die een of ander tyd sterf. Mense sterf met of sonder bloedoortappings. Om dit te sê, is nie fatalisties nie. Dit is realisties. Die dood is vandag ’n feit van die lewe. Mense wat God se wet op bloed veronagsaam, ervaar dikwels onmiddellik of later die slegte gevolge weens die bloed. Sommige sterf selfs weens die bloedoortapping. Nogtans moet ons almal besef dat diegene wat ná die oortappings bly lewe nie ewige lewe verkry het nie; dus het bloed hulle lewe nie permanent gered nie. Die meeste wat bloed weens godsdiens- en/of mediese redes weier, maar alternatiewe terapie aanvaar, vaar daarenteen baie goed onder mediese behandeling. Hulle kan dus hulle lewe met jare verleng—maar nie eindeloos nie.

23. Hoe hou God se wette op bloed verband met die feit dat ons sondig is en ’n losprys nodig het?

23 Die feit dat alle mense wat vandag lewe onvolmaak is en mettertyd sterf, bring ons by die kerngedagte van wat die Bybel oor bloed sê. God het die hele mensdom beveel om nie bloed te eet nie. Waarom nie? Omdat dit lewe verteenwoordig (Genesis 9:3-6). In die Wet het hy verordeninge uiteengesit met die oog op die feit dat alle mense sondaars is. God het die Israeliete meegedeel dat hulle deur middel van diereoffers kon toon dat hulle sondes bedek moes word (Levitikus 4:4-7, 13-18, 22-30). Hoewel hy dit nie vandag van ons vereis nie, is dit nog van belang. God het hom voorgeneem om ’n offer te voorsien wat ten volle versoening sou doen vir die sondes van alle gelowiges—die losprys (Mattheüs 20:28). Dit is waarom ons God se beskouing van bloed moet hê.

24. (a) Waarom sal dit ’n fout wees om gesondheidsgevare as die kerngedagte aangaande bloed te beskou? (b) Wat moet werklik die onderliggende rede vir ons beskouing oor die gebruik van bloed wees?

24 Dit sal ’n fout wees as ons ons hoofsaaklik op die gesondheidsgevare van bloed toespits, want dit was nie wat God beklemtoon het nie. Dit was vir die Israeliete weens gesondheidsredes dalk voordelig om nie bloed te eet nie, net soos dit vir hulle voordelig was om nie die vleis van varke of aasdiere te eet nie (Deuteronomium 12:15, 16; 14:7, 8, 11, 12). Onthou egter dat toe God vir Noag die reg gegee het om vleis te eet hy nie gesê het dat hulle nie die vleis van sulke diere mag eet nie. Maar hy het wel gesê dat mense nie bloed mag eet nie. God het nie hoofsaaklik die moontlike gesondheidsgevare beklemtoon nie. Dit was nie die belangrike punt van sy verordening oor bloed nie. Sy aanbidders moes weier om hulle lewe met bloed te onderhou, nie omdat dit ongesond is om dit te doen nie, maar hoofsaaklik omdat dit onheilig is. Hulle het bloed geweier, nie omdat dit besoedel was nie, maar omdat dit kosbaar was. Hulle kon net deur middel van offerbloed vergifnis verkry.

25. Hoe kan bloed lewe blywend red?

25 Dit geld ook vir ons. In Efesiërs 1:7 het die apostel Paulus verduidelik: “Deur die bloed van sy Seun [Christus] is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God” (NAV). As God iemand se sondes vergewe en hom as regverdig beskou, het daardie persoon die vooruitsig op eindelose lewe. Jesus se losprysbloed kan dus—blywend, trouens, vir ewig—lewe red.

[Voetnote]

a Die verordening het afgesluit met dié woorde: “As julle jul sorgvuldig van hierdie dinge onthou, sal dit met julle goed gaan. Ons wens julle goeie gesondheid toe!” (Handelinge 15:29, NW). Die uitdrukking “Ons wens julle goeie gesondheid toe” was nie ’n belofte met dié strekking nie: ‘As jy jou van bloed en van hoerery onthou, sal jy beter gesondheid geniet.’ Dit was bloot ’n manier om die brief af te sluit, soos wanneer ons ‘Vaarwel’ sê.

b Etlike doeltreffende alternatiewe vir bloedoortappings word bespreek in die brosjure Hoe kan bloed jou lewe red?, wat in 1990 deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania uitgegee is.

Kan jy verduidelik?

◻ Wat is die hoofrede waarom Jehovah se Getuies bloedoortappings weier?

◻ Watter bewys is daar dat die Bybel se standpunt oor bloed uit ’n mediese oogpunt nie onredelik is nie?

◻ Watter verband is daar tussen die losprys en die Bybel se wet op bloed?

◻ Wat is die enigste manier waarop bloed lewens permanent kan red?

[Venster op bladsy 10]

OORTAPPING EN INFEKSIE

Nadat hy die kwessie of bloedoortappings ’n pasiënt vatbaarder vir infeksie maak in breë trekke hersien het, het dr. Neil Blumberg tot dié slotsom gekom: “Tien uit twaalf kliniese studies [hieroor] het bevind dat daar ’n betekenisvolle verband is tussen oortapping op sigself en ’n groter gevaar van bakteriese infeksie . . . Daarbenewens kan ’n oortapping wat ’n geruime tyd voor ’n operasie toegedien word die pasiënt se weerstand teen infeksie beïnvloed as die immunologiese reaksies van oortapping so lank duur soos sommige studies te kenne gee . . . As hierdie gegewens uitgebrei en bevestig kan word, wil dit voorkom dat akute postoperatiewe infeksies die een algemeenste, belangrikste komplikasie is wat met homoloë oortapping verband hou.”—Transfusion Medicine Reviews, Oktober 1990.

[Prent op bladsy 8]

Vergrote rooi bloedselle. “Elke mikroliter (0,00003 ons) bloed bevat van 4 miljoen tot 6 miljoen rooi bloedselle.”—“The World Book Encyclopedia”

[Erkenning]

Kunkel-CNRI/PHOTOTAKE NYC

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel