Kolossense—Gesonde raad oor leer en gedrag
WAT is Jesus Christus se posisie in God se reeling? Moet Christene spesiale dae waarneem of asketisme beoefen om na aan Jehovah te kom en redding te verkry? Wat word vereis van godvresende mans, vrouens, kinders en ander?
Sulke vrae moes beantwoord word deur eerste-eeuse Christene wat in die stad Kolosse, Klein-Asië, gewoon het. Hule was omring deur nie-Jode met heidense filosofieë wat strenge onthouding vereis het, asook deur Jode wat hulle van sekere kosse onthou het en spesiale dae waargeneem het. Trouens, valse leerstellings het die gemeente in ’n mate binnegedring.
Terwyl hy ’n gevangene in Rome was, het die apostel Paulus, wat moontlik nooit in Kolosse was nie, nuus oor sy medegelowiges aldaar ontvang (Kolossense 1:7, 8; 2:1). In sekere opsigte het hulle goed gevaar. Maar etlike valse leerstellings het hulle geestelikheid bedreig, en die apostel was diep bekommerd daaroor. Onder goddelike inspirasie het Paulus dus omstreeks 60 tot 61 G.J. ’n roerende brief aan die Kolossense geskryf.a Die gesonde raad daarin oor leer en gedrag het vir hulle belangrike vrae beantwoord, net soos dit ook vir 20ste-eeuse Christene doen.
Die Seun se uitnemende posisie
Paulus se brief was gerig aan “die heilige en gelowige broeders in Christus”, dit wil sê, aan Jesus se gesalfde volgelinge in Kolosse. Die apostel het God in gebed gedank vanweë hulle geloof, hoop en liefde. Daarbenewens het Paulus en Timotheüs ‘nie opgehou om te bid dat hulle met juiste kennis, wysheid en geestelike insig vervul mag word nie’. Met watter doel? ‘Om Jehovah in alles te behaag.’—Kolossense 1:1-12.
’n Belangrike deel van daardie kennis staan in verband met God se Seun. Dit is deur hom dat Christene vrygekoop is en vergifnis vir hulle sondes ontvang. Hy is “die Eersgeborene van die hele skepping”, die begin van Jehovah se skeppingswerke deur wie miljoene engeleseuns, die heelal en die aarde, met sy plant- en dierelewe, in aansyn gebring is. Die Seun is ook “die Eersgeborene uit die dode”, daar hy die weg vir sy medeerfgename gebaan het om opgewek te word tot onsterflikheid saam met hom in die hemel. Jesus Christus is onder meer ook “die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente”, die uitnemendste onder sy gesalfde volgelinge.—Kolossense 1:13-18.
Daarbenewens ‘het dit God behaag dat die ganse volheid in sy Seun sou woon’. Hy is die verpersoonliking van goddelike eienskappe, onder meer wysheid—trouens, alles wat Christene nodig het vir onderrigting en leiding. Dit ontbreek sy leer, wat met die res van die Skrifte strook, aan niks. Deur hom sal alle ander dinge in die hemel en op die aarde met God versoen word, en danksy Christus se offerande is die “verborgenheid”, wat eeue lank verborge was en wat in verband staan met nie-Jode se hoop om saam met hom in hemelse heerlikheid te deel, geopenbaar. Maar as Christene daardie versoening wil verkry, moet hulle standvastig bly en hulle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie. Paulus het hard gewerk as ’n bedienaar van hierdie evangelie wat draai om Christus, die uitnemendste persoon in God se reëling.—Kolossense 1:19-29.
Valse leerstellings weerlê
Om die heerlike voorreg te geniet om saam met Jesus in die hemelse lewe te deel, moes die Christene in Kolosse onthou dat ‘alle skatte van wysheid en kennis in Christus verborge is’. Hulle moes gevolglik oppas dat niemand ‘hulle as ’n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van mense en nie volgens Christus nie’. Hulle moes die onskriftuurlike begrippe van die Grieke en die nie-Bybelse leerstellings van die Jode verwerp. Dit is noodsaaklik dat Jehovah se Getuies vandag ook valse leerstellings verwerp en ’n ferme standpunt vir die waarheid inneem.—Kolossense 2:1-12.
Paulus het vervolgens die Kolossense teen Judaïseerders versterk. Hy het daarop gewys dat God die Mosaïese wet weggeneem het deur dit aan Jesus se folterpaal te nael. Hulle moes gevolglik nie toelaat dat enigiemand hulle geloof en geregtigheid op grond van voedsel, drank en sekere feeste oordeel nie. Waarom nie? Want sulke dinge was maar net ’n skaduwee van die komende dinge, “maar die werklikheid behoort aan die Christus”.—Kolossense 2:13-17, NW.
Om ander verkeerde beskouings teë te werk, het Paulus waarskuwings gerig teen diegene wat behae skep in valse, geveinsde nederigheid en “die aanbidding van engele”. Party in Kolosse het skynbaar gedink dat hulle op dieselfde wyse as engele aanbid of hulle het die engele regstreeks aanbid. Maar daar is getoon dat dit en dinge soos “danige nederigheid” en asketisme of “streng beheersing van die liggaam” “geen waarde [het] vir die beteueling van die sondige drifte nie”. Dinge soos asketisme en geveinsde nederigheid sal ons vandag eweneens nie geesteliker persone maak nie.—Kolossense 2:18-23, NTP.
Om ware geestelikheid te handhaaf en onbetaamlike vleeslike begeertes te beveg, moet Jesus se gesalfde dissipels ‘die dinge bedink wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie’. Slegs dan kan hulle hoop om saam met Christus in hemelse heerlikheid geopenbaar te word. Christene met aardse verwagtinge moet eweneens hulle hart op geestelike dinge sit.—Kolossense 3:1-4; Mattheüs 6:19-21.
Gesonde raad oor gedrag
Wat sal ons werklik help om nader aan Jehovah te kom en geesteliker persone te word? ‘Maak dood julle liggaam ten opsigte van hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid’, het Paulus gesê. Die misbruik van spraak deur dinge soos toorn, skandelike taal en laster moet ook vermy word. Ons moet ‘die ou persoonlikheid aflê en ons met die nuwe beklee’, soos die apostel vir die Kolossense gesê het. Ons moet ons beklee met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid en liefde—daardie “volmaakte band van eenheid”. Al hierdie dinge sal nie net tot ons eie vrede bydra nie, maar ook tot die van die hele gemeente.—Kolossense 3:5-17, vgl. NW.
Net soos die Christene in Kolosse kan hedendaagse getuies van Jehovah baat vind by Paulus se raad oor gesinsverpligtinge en ander verantwoordelikhede. Vroue word vermaan om aan hulle mans onderdanig te wees. Mans moet hulle vroue liefhê en “nie teen hulle verbitter word nie”. Kinders moet hulle ouers gehoorsaam, en vaders moet nie hulle kinders vertoorn “sodat hulle nie moedeloos word nie”.—Kolossense 3:18-21.
Christendiensknegte moes gehoorsaam wees, en hulle gelowige here moes hulle regverdig en billik behandel. Filemon en sy dienskneg Onesimus het in Kolosse gewoon, en hulle het ongetwyfeld albei hierdie raad diep waardeer. Hedendaagse Christene moet dieselfde beginsels toepas in hulle werkgewer-werknemer-verhouding. Trouens, wat ons ook al doen, ons moet ‘dit van harte doen soos vir Jehovah’.—Kolossense 3:18-4:1.
Paulus het sy medegelowiges aangespoor om met danksegging in die gebed te volhard. Hulle moes ook bid dat God ’n deur van die woord vir Paulus en sy metgeselle moes open sodat hulle ‘die verborgenheid van Christus kon spreek’. Dit behoort ons te beweeg om dank te betuig aan Jehovah en te bid dat hy die Koninkrykspredikingswerk voorspoedig moet maak! En mag ons woorde altyd aangenaam wees, “met sout besprinkel”, soos Paulus vermaan. Ons woorde moet van goeie smaak getuig, by ons hoorders byval vind en moet help om die lewens te bewaar van diegene wat op ons woorde ag slaan.—Kolossense 4:2-6.
Hierdie uiters nuttige brief is met persoonlike groete en vermaning afgesluit. Tichikus en Onesimus (wat dit klaarblyklik saamgebring het) sou vir die Kolossense nuus oor Paulus bring. Epafras, wat moontlik gehelp het om die gemeente in Kolosse te stig, het ‘vir hulle in die gebede gestry’. Paulus self het met persoonlike groete afgesluit en gebid dat hulle onverdiende goedheid of genade mag geniet.—Kolossense 4:7-18.
Paulus se raad aan die Christene in Kolosse help ons om die uitnemende posisie van Jesus Christus in God se reëling te begryp. Hierdie brief toon vir ons wat ons moet doen—en wat ons moet vermy—as ons na aan Jehovah wil kom en gered wil word. Dit vestig die aandag op God se vereistes vir mans, vrouens, kinders en ander wat God se guns wil geniet. Paulus se brief aan die Kolossense bevat voorwaar gesonde raad oor leer en gedrag.
[Voetnoot]
a Kyk ook Aid to Bible Understanding, bladsye 365, 366; “All Scripture Is Inspired of God and Beneficial”, bladsye 224-227. Albei boeke word uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap.