Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 8/1 bl. 23-25
  • Stimulerend warm, verfrissend koud

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Stimulerend warm, verfrissend koud
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe om louheid te vermy
  • Die strik van vermaak en onsedelikheid
  • Hoe om vandag “warm” of “koud” te bly
  • Koop goud wat deur vuur gelouter is
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Luister na wat die gees sê!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Behou geloof in God en Christus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Hoor wat die gees aan die gemeentes sê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 8/1 bl. 23-25

Stimulerend warm, verfrissend koud

ONGEVOELIG, lusteloos, onverskillig. Party mense kan oënskynlik net nie beweeg word nie. Die vroeë Christen-gemeente in Laodicea het so ’n probleem gehad, en dit het gelei tot hierdie woorde van sensuur van die verheerlikte Jesus Christus: “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (Openbaring 3:15, 16). Waarom was die gemeente in hierdie betreurenswaardige geestelike toestand?

Die Frigiese stad Laodicea was in Efese se hinterland in Klein-Asië geleë. ’n Belangrike handelsroete het deur Laodicea gegaan en dan vertak. Een pad het na Efese gelei; die ander het oor die berge na Filadelfia, Sardis, Thiatire, en eindelik Pergamis gegaan. Ryk Loadicea het beroemd geword vir sy saketransaksies. Een van sy uitvoerprodukte was ’n dun, sagte, swart wol wat van die plaaslike skape verkry is. ’n Mediese skool is daar naby opgerig, en Frigiese oogpoeier, wat as besonder goed beskou is, is in die gebied gemaak. Laodicea het baie bekend geword vir sy Frigiese matte. Daar word gemeen dat die borduur-kuns daar ontstaan het, en die Latynse woord vir “borduurder” (phrygio) staaf klaarblyklik hierdie beskouing. Laodicea het ook ’n sentrum geword vir musiek en die beroemde Frigiese kunsvorm wat gekenmerk word deur geometriese ontwerpe—swastikas, meanders en ruite.

Was dit, met die oog op Laodicea se voorspoed, moontlik dat sommige van die Christene aldaar toegelaat het dat hulle so betrokke raak by kommersiële bedrywighede dat hulle min tyd oorgehad het om die goeie nuus aan ander te verkondig? Het party van hulle begin om ’n wêreldlike loopbaan eerste in hulle lewe te stel omdat hulle ‘iets interessanter’ as die gesonde beginsels van die Christelike godsdiens wou hê?

Dit ly geen twyfel dat sulke gesindhede die Loadicense se liefde vir Jehovah, die Heer Jesus Christus en hulle naaste kon laat verkoel nie (Mattheüs 24:12; 22:37-39). As ons toelaat dat materialisme inbreuk maak op ons tyd en voorkeur gee aan die najaging van ’n wêreldlike loopbaan, loop ons eweneens gevaar om “lou” te word in ons toewyding en bloot meganies te dien as ’n soort “assuransie” ‘net ingeval die “groot verdrukking” wel in ons lewe kom’.—Openbaring 7:14.

Hoeveel beter is dit tog om stimulerend warm te wees teenoor diegene wat meen dat die wêreld ’n “koue” plek is omdat ander nie werklik in hulle probleme belangstel nie! Hoeveel beter is dit tog om verfrissend koud te wees teenoor diegene vir wie ongeregtighede dinge “warm” maak!

Mede-Christene kan ook gestimuleer word deur die ywerige voorbeeld van iemand wat voorkeur aan Koninkryksbelange gee (Mattheüs 6:33). Hulle kan verkoel of verkwik word deur trooswoorde en liefdevolle dade wanneer hulle siek is of met beproewende omstandighede te kampe het. Veral jong Christene kan gerus nadink oor hoe hulle hulle tyd en energie ten beste kan benut.

Hoe om louheid te vermy

Waarom het die verrese Jesus daardie woorde gebruik toe hy die gemeente in Laodicea aangespreek het? Hy het moontlik op die stad se watervoorraad gesinspeel. Anders as Hierapolis en Kolosse daar naby, het Laodicea nie sy eie waterbron gehad nie. Hierapolis was bekend vir sy warm bronne, so stimulerend vir die moeë winterreisiger. Kolosse het koue water gehad, wat baie verkwikkend was in die somerhitte. Maar Laodicea se water moes oor ’n lang afstand na die stad gebring word, eers in ’n oop akwaduk en dan deur hol kubusvormige klipblokke wat met beton aanmekaar gesit is. Die water was heel waarskynlik lou wanneer dit die stad se bewoners bereik het.

Jesus Christus het ook na ander sake verwys wat vir die Christene in Laodicea bekend sou wees (Openbaring 3:17, 18). In plaas van die sagte, blink, swart wolkledingstukke wat so gesog was in die gebied, moes die Laodicense wit klere kry wat hulle as Christendienaars van Jehovah sou identifiseer (Openbaring 16:15). In plaas van die “goud” van Laodicea se geldelike transaksies, is hulle vermaan om hoedanighede soos geloof en volharding aan die dag te lê wat versterk kon word deur beproewing en wat baie kosbaarder en duursamer as materiële rykdom is (1 Korinthiërs 3:10-15; 1 Petrus 1:6, 7). Geestelike ‘oogsalf’ sou baie doeltreffender wees as die Frigiese oogpoeier. Laodicense moes die hoop op die ewige lewe onderskei en hulle lewens daarmee in gedagte beplan.—Romeine 12:12; 1 Timotheüs 4:7; Filippense 3:13, 14.

Dit bevat ’n les vir die hedendaagse Christen. In plaas daarvan om sy begeerte na die jongste kleremodes en die beste soort voedsel, huis en vervoer te probeer bevredig, sal hy verstandig wees as hy probeer om geestelike “klere”, “goud” en ‘oogsalf’ by Jesus te “koop”. Ja, “koop” dit, het Jesus gesê. Dit sal iets kos—tyd om met God se volk om te gaan; tyd om God se Woord en Bybelstudiehulpe te bestudeer; tyd om te peins oor wat ons leer en nuwe gedagtes in verband te bring met dit wat ons reeds weet en dan aanpassings in ons denke te maak; tyd en inspanning om die dinge wat ons leer aan ander te verkondig. Dit kan beteken dat ons met minder materiële dinge moet klaarkom om meer tyd te wy aan studie van die Skrif en pogings om ander geestelik te help. So ’n handelwyse sal ongetwyfeld die Christen se hoop lewend hou.

Die strik van vermaak en onsedelikheid

Ander strikke het Christene in Laodicea bedreig en kon daartoe bygedra het dat hulle “lou” word. Argeologiese opgrawings het die ruïnes van ’n stadion, teaters en gimnasiums aan die lig gebring. Het party Christene toegelaat dat genotsug in hulle lewens insluip? God se knegte moet vandag op hulle hoede wees teen die begeerte na die verkeerde soort of te veel vermaak. Veral jong Christene kan voel dat daar iets met hulle skort as hulle nie elke week na ’n bioskoop, ’n vertoning of partytjie gaan nie, veral op Saterdagaande wanneer ander oënskynlik ’n aangename tydjie geniet. Hierdie jonger Christene voel moontlik verleë as hulle nie die volgende Maandagoggend wêreldlike vermaak met hulle skoolmaats of kollegas kan bespreek nie. Maar reël gerus vermaak saam met ander geestelik sterk jongmense en ook ouer persone. Hoeveel beter is dit tog om verkwik te word deur omgang met “die wat die Here uit ’n rein hart aanroep”!—2 Timotheüs 2:22.

Onsedelikheid en swelgery het ook die geestelike welsyn van Christene in Laodicea bedreig. Die bevolking het Dionysus, die Griekse god van wyn, aanbid. Sy aanbidders het probeer om een met hom te word deur wild te dans. Die fallus was prominent in hulle ritusse.

Ons lewe vandag in ’n wêreld waar sedelike standaarde immer verval. In baie plekke is onsedelikheid die norm. Baie hedendaagse diskodanse kom ooreen met die orgieë ter ere van Dionysus of Bacchus. Jehovah se volk moet druk weerstaan om aan sulke dinge mee te doen as hulle nie ‘uit Jesus se mond gespuug’ wil word nie. Dit is inderdaad noodsaaklik dat ons ons lewens ooreenkomstig Jehovah se heiligheid of reinheid lei.—1 Petrus 1:16.

Hoe om vandag “warm” of “koud” te bly

Jesus Christus het die Laodicense daaraan herinner dat sy bestrawwing en tugtiging ’n blyk van sy liefde vir hulle was (Openbaring 3:19). Hy het hulle aangespoor om steeds meer geestelike krag te verkry. Wanneer hulle nagedink het oor die wyse waarop Jesus homself voorgestel het as die “Amen”, “die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God”, kon vroeë Christene verseker wees van die betroubaarheid van God se seun en die sekerheid van wat hy hulle beloof het (Openbaring 3:14). Net soos Jesus die “begin” van die intelligente skepping is, so is hy die “begin” van die skepping van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” waarop Christene wag (2 Petrus 3:13). Dit was net ’n kwessie van tyd voordat hulle die beloning sou ontvang.

Dit is vandag eweneens net ’n kwessie van tyd, en al die getuienis dui daarop dat die tyd kort is (Openbaring 12:12). Moet jou dus nie deur die wêreld laat beinvloed sodat jy “lou” word nie. Moenie betrokke raak by materialistiese strewes nie. Dink ernstig na oor die wysheid daarvan om jou lewe om ’n wêreldlike loopbaan te bou. Let op die hoeveelheid en die soort vermaak wat jy geniet, asook op jou omgang. Bly geestelik sterk en wakker deur tyd wyslik te gebruik vir Bybelstudie, om die vergaderinge van Jehovah se volk by te woon en jou God ywerig te dien.—1 Korinthiërs 15:58.

Jesus Christus se gedrag en persoonlikheid was stimulerend warm in die oë van diegene wat Jehovah liefgehad het sowel as verfrissend koud, strelend, vir diegene wat gebuk gegaan het onder sonde en die laste van die lewe (Mattheüs 11:28, 29; Johannes 2:17). Hedendaagse Christene kan Christus se voorbeeld volg deur op te tree in ooreenstemming met die betekenis van sy boodskap aan die gemeente in Laodicea.

[Prent op bladsy 24]

’n Romeinse akwaduk het water na Laodicea gelei

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel