Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 11/15 bl. 23
  • Staan vas in Christelike vryheid!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Staan vas in Christelike vryheid!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Paulus verdedig sy apostelskap
  • Hoe geregverdig?
  • Staan vas!
  • Paulus se brief aan die Galasiërs—’n Blye boodsk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Bybelboek nommer 48—Galasiërs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • ’n Vry volk maar met verantwoordelikheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Staan vas vir godgegewe vryheid!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 11/15 bl. 23

Staan vas in Christelike vryheid!

Glanspunte uit Galasiërs

JEHOVAH is die God van vryheid (2 Korinthiërs 3:17). Sy Seun, Jesus Christus, het gesê: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). In navolging van Christus het die apostel Paulus die goeie nuus van vryheid verkondig.—Romeine 6:18; 8:21.

Paulus het daardie boodskap van vryheid verkondig en só die gemeentes van Galasië (’n Romeinse provinsie in Asië) gedurende sy eerste sendingsreis (47-48 G.J.) gestig. Die Galasiërs was bewus van die bestuursliggaam se besluit dat besnyding nie vir Christene nodig is nie (Handelinge 15:22-29). Maar Judaïseerders wou hulle aan slawerny onderwerp deur daarop te staan dat hulle besny moes word. Paulus het dus Christelike vryheid beklemtoon in die brief wat hy in ongeveer 50-52 G.J. uit Korinthe of Siriese Antiochië aan die Galasiërs geskryf het. Hy het byvoorbeeld gesê: “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.”—Galasiërs 5:1.

Paulus verdedig sy apostelskap

Paulus het eerstens getoon dat sy apostelskap “deur Jesus Christus en God” is (1:1–2:14). Vanweë ’n openbaring het Paulus (saam met Barnabas en Titus) na Jerusalem gegaan om die besnydingskwessie te bespreek. Daar het Jakobus, Cefas (Petrus) en Johannes besef dat hy volmag gegee is om ’n apostel vir die nasies te wees. En toe Petrus hom later van nie-Joodse gelowiges in Antiochië afgeskei het uit vrees vir die Joodse Christene wat van Jerusalem af gekom het, het Paulus hom tereggewys.

Hoe geregverdig?

Die apostel het ook die sterk punt aangevoer dat ’n mens slegs deur geloof in Jesus Christus geregverdig kan word (2:15–3:29). Die Galasiërs het God se gees ontvang, nie weens werke van die wet nie, maar omdat hulle die goeie nuus in geloof aanvaar het. Ware seuns van Abraham het geloof, maar persone wat geregverdig wil word deur “werke van die wet, is onder ’n vloek”. Waarom? Omdat hulle nie die Wet volmaak kan onderhou nie. Die Wet het in werklikheid oortredinge openbaar gemaak en was ’n “tugmeester na Christus toe”.

Staan vas!

Christus het deur sy dood ‘die wat onder die wet was, losgekoop’. Maar sy volgelinge moet in Christelike vryheid vasstaan (4:1–6:18). Die Galasiërs moes dus enigeen weerstaan wat hulle wou oorreed om ’n juk van slawerny op te neem. Hulle moes ook nie hulle vryheid misbruik nie, maar moes “die werke van die vlees” vermy en die vrug van God se gees aan die dag lê. Diegene wat hulle in slawerny aan die Wet wou onderwerp, wou “’n mooi vertoning in die vlees . . . maak”, vervolging vermy en ’n rede hê om te roem. Paulus het egter getoon dat nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid iets is. “Maar ’n nuwe skepping is iets” (NW). Hy het gebid dat daar vrede en genade oor geestelike Israel, diegene van daardie nuwe skepping, mag wees.

Paulus se brief aan die Galasiërs het hulle gehelp om diegene te weerstaan wat hulle geestelik slawe wou maak. Laat dit ons ook help om die vrugte van die gees aan die dag te lê en in Christelike vryheid vas te staan.

[Venster/Prent op bladsy 23]

Littetekens: “Verder moet niemand my moeite aandoen nie”, het Paulus geskryf, “want ek dra die littetekens van die Here Jesus in my liggaam” (Galasiërs 6:17). Onder sommige eertydse heidene is slawe gemerk om aan te toon wie hulle eienaars is. Verskeie patrone is in hulle vel gebrand of gegraveer. Al die fisiese mishandeling wat Paulus as gevolg van sy Christelike diens verduur het, het ongetwyfeld sekere littetekens aan sy liggaam gelaat. En dit het getuig dat hy, soos hy gesê het, ’n getroue slaaf van Christus was wat om Sy onthalwe vervolg is (2 Korinthiërs 11:23-27). Dit is moontlik “die littetekens” waarna Paulus verwys het, of hy kon gedink het aan die lewe wat hy as ’n Christen gelei het, waardeur hy die vrugte van God se gees aan die dag gelê het en sy bediening volbring het.

[Prent]

Romeinse slawe is gedwing om hulle meesters te dien, maar Paulus was ’n gewillige en vreugdevolle slaaf van Jesus Christus

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel