Paulus se brief aan die Galasiërs—’n Blye boodskap
NA ’N inleidende begroeting het die apostel Paulus aan die Galasiërs geskryf: “Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle . . . geroep het, afvallig word en ’n ander evangelie aanneem.” En ’n bietjie later het hy uitgeroep: “Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel? Galasiërs 1:6; 3:1, NTP.
Waarom het die Galasiërs Paulus so ontstel? Wie was hierdie mense, en hoe het Paulus hulle ontmoet? Wat is die evangelie wat hy aan hulle verkondig het? En watter praktiese waarde het dit vandag vir ons?
Die mense en hulle probleem
Die Galasiërs was hoofsaaklik Indo-Europese mense van Keltiese herkoms uit Gallië. Maar hulle het ook mense van ander nasionaliteite ingesluit. Die Romeinse provinsie Galasië het ten minste vier stede bevat wat in die Bybelverslag gemeld word: Ikonium, Listre, Derbe en Antiochië in Pisidië. Paulus het hulle tydens sy eerste sendingreis besoek, en gemeentes is in hierdie plekke gestig (Handelinge 13:14-14:23). Jong Timotheüs was een van die vroeë Christene in Galasië.—Handelinge 16:1, 2.
Na Paulus se eerste sendingreis deur Galasië het die bestuursliggaam, wat uit apostels en ouere manne bestaan het, in 49 G.J. in Jerusalem vergader en beslis dat die besnydenis nie ’n vereiste vir Christene is nie (Handelinge 15:1-29). Na hierdie vergadering het Paulus en Silas hierdie aspek van die evangelie aan die gemeentes in Galasië oorgedra.—Handelinge 16:1-6.
Maar kort daarna was Paulus egter geskok om te hoor dat sekere persone in Galasië daarop aangedring het dat Christene besny moes word. Hierdie persone was Judaïseerders wat nie-Joodse Christene probeer oorreed het om volgens die Mosaïese wet te lewe. Hulle het ook Paulus se gesag as ’n apostel ondermyn.
Dit was as gevolg van hierdie ongelukkige toedrag van sake dat Paulus aan die Galasiërs geskryf het om hulle aan te spoor om tot besinning te kom. Hy het die brief geskryf terwyl hy nog op sy tweede sendingreis was, moontlik in Korinthe, of kort nadat hy in Antiochië in Sirië aangekom het. Die brief kon dus reeds in die noordelike herfs van 50 G.J. of eers in 52 G.J. geskryf gewees het.
Paulus sê vir die Galasiërs dat hierdie Judaïseerders die evangelie probeer verdraai. En soos Paulus sê, handel hierdie evangelie oor Christus Jesus. Ja, dit is die evangelie oor die vryheid wat Christus bring—vryheid van gevangenskap aan oorgeërfde sonde en ook vryheid van gevangenskap aan die Mosaïese wet. Paulus herhaal gevolglik twee keer die waarskuwing dat as enigiemand, selfs ’n engel uit die hemel, iets as evangelie verkondig het wat in stryd was met wat hy as evangelie verkondig het, ‘hy ’n vervloeking moes wees’.—Galasiërs 1:7-9.
Wat bereik Paulus dan met sy brief? Eerstens, dit bevestig duidelik sy gesag as ’n apostel. Tweedens, dit steun op bekwame wyse die beslissing van die bestuursliggaam oor die besnydeniskwessie. En dit tref ’n teenstelling tussen die werke van die vlees en die vrug van die gees, en beklemtoon werke wat God behaag.
Paulus verdedig sy apostelskap
Paulus vestig uit die staanspoor die aandag op sy gesag waar hy sê: “Paulus, ’n apostel nie vanweë mense of deur ’n mens nie, maar deur Jesus Christus en God die Vader . . . Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie. Want ek het dit ook nie van ’n mens ontvang of geleer nie, maar deur ’n openbaring van Jesus Christus.”—Galasiërs 1:1, 11, 12; Handelinge 22:6-16.
Paulus verhaal kortliks hoedat hy voorheen aansien in Judaïsme geniet het, maar dat hy, na sy wonderdadige bekering deur Christus, die evangelie in Arabië en Damaskus gaan verkondig het. Dan vertel Paulus dat hy Petrus vyftien dae lank (in 36 G.J.) in Jerusalem besoek het. Dit was eers weer veertien jaar later, in 49 G.J., dat Paulus na Jerusalem teruggekeer het vir die vergadering oor die besnydeniskwessie (Galasiërs 1:13-24). Hy noem die Judaïseerders wat besnydenis voorstaan “valse broeders” wat getroue Christene “in diensbaarheid” probeer bring het. Maar hy sê dat “ons selfs nie ’n oomblik in onderworpenheid toegegee het nie, sodat die waarheid van die evangelie by julle bestendig sou bly”.—Galasiërs 2:1-5.
As ons daaroor nadink, het Paulus waarlik ’n goeie voorbeeld op die gebied van nederigheid gestel. Hoewel hy ’n apostel was wat persoonlik deur Jesus Christus gekies is, het hy die evangelie wat hy verkondig het aan die bestuursliggaam voorgelê en die gesag daarvan erken. Toon ons vandag die nodige eerbied aan manne wat deur die Bestuursliggaam aangestel is en werk ons met hulle saam in die verkondiging van die evangelie?
Later het Paulus sy apostoliese gesag gehandhaaf deur die apostel Petrus van aangesig tot aangesig teë te staan. Hy het dit gedoen omdat Petrus weens mensevrees opgehou het om saam met nie-Joodse Christene te eet. Paulus het Petrus se dwaling blootgelê en vir hom gevra: “As jy wat ’n Jood is, soos ’n heiden lewe en nie soos ’n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe?”—Galasiërs 2:11-14.
Geloof belangriker as werke van die wet
Waar Paulus die Galasiërs aanspoor om tot besinning te kom, vra hy: “Het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?” Aangesien die antwoord voor-die-hand-liggend is, het hy gevra: “Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?” Hy herinner hulle aan Abraham wat nie onder die wet was nie, en tog “in God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken”. Die wet is later bygevoeg om oortredinge te openbaar. Dit het in werklikheid diegene wat probeer het om dit te hou ter dood veroordeel. Maar soos Paulus verduidelik, het Christus soos ’n vervloekte man gesterf sodat sy volgelinge van die wet verlos kon word en deur die geloof kon lewe. Die wet was egter van nut gewees daar dit ’n “tugmeester na Christus toe” was.—Galasiërs 3:1-29.
Aangesien die Galasiërs geestelike seunskap en vryheid deur Christus ontvang het, vra Paulus waarom hulle na ’n slawerny aan die wet wou terugkeer deur dae en maande en seisoene en jare waar te neem. Hy sê die Judaïseerders “se ywer vir julle is nie met suiwer bedoelings nie. Hulle wil julle van my losmaak.” Maar Paulus spreek sy liefdevolle besorgdheid uit deur te sê: “Ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry.”—Galasiërs 4:1-20, NTP.
Paulus gebruik dan ’n gelykenis om ’n teenstelling te tref tussen slawerny aan werke van die wet en ware Christelike vryheid. Abraham se slavin Hagar stel die wetsverbond voor en “kom ooreen met die teenswoordige Jerusalem en is met haar kinders saam in slawerny”. Sara stel andersyds die Abrahamitiese verbond voor, en sy kom ooreen met die ‘Jerusalem daarbo wat vry is, en sy is ons moeder’. Net soos Ismael Isak vervolg het, het die Jode die ware Christene, die kinders van die vry vrou, teëgestaan.—Galasiërs 4:21-31.
Staan vas in Christelike vryheid
Op grond van die gemelde gelykenis vermaan Paulus hulle: “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.” Paulus beklemtoon dit dat as iemand hom laat besny, dit van geen waarde sal wees nie. Die persoon wat dit doen, sal verplig wees om die hele wet te onderhou en sal aldus nie geregtigheid deur geloof verkry nie. Paulus sê dus met verontwaardiging: “Ag, as die wat julle opstandig maak, hulleself tog maar ook wou vermink!”—Galasiërs 5:1-12.
Hoewel Christene vryheid verkry het, bestaan die gevaar dat hierdie vryheid misbruik kan word om die begeertes van hulle onvolmaakte vlees te bevredig. Paulus vermaan gevolglik: “Julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ’n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde. Want die hele wet word vervul in een woord naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”—Galasiërs 5:13, 14.
Paulus wys egter daarop dat ons ’n voortdurende stryd voer om nie vleeslike begeertes te bevredig nie, maar deur die gees te wandel. Hy tref ’n teenstelling tussen die werke van die vlees en die vrug van die gees. Die werke van die vlees is “hoerery, onreinheid, ongebondenheid . . . en dergelike dinge . . . Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Paulus toon dat Christene wat ordelik deur die gees wandel, ook nie “soekers van ydele eer” moet word “wat mekaar uittart en mekaar beny nie”.—Galasiërs 5:15-26.
Nuttige werke
In die laaste hoofstuk meld Paulus nuttige werke wat ’n Christen kan doen, soos om oortreders reg te help en mekaar se laste te dra. Paulus verduidelik dat indien ’n persoon in die vlees saai, hy verderf uit sy vlees sal maai. Maar as hy in die gees saai, sal hy die ewige lewe uit die gees maai. Die Galasiërs word gevolglik aangespoor: “Laat ons dan . . . aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.” In sy slot wys Paulus dan op die beweegredes van die Judaïseerders wat wil hê dat hulle hulle moet laat besny. Dit is sodat “hulle in julle vlees kan roem”. Maar Paulus sê dat hy slegs “in die [folterpaal] van onse Here Jesus Christus” sal roem.—Galasiërs 6:1-14, vgl. NW.
Paulus se brief aan die Galasiërs slaag waarlik uitstekend daarin om die geskille van sy tyd vierkant onder die oë te sien. Hoe nuttig dit vandag vir ons sal wees, sal afhang van hoe goed ons die goeie raad daarin volg.
[Kaart op bladsy 11]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Korinthe
Antiochië
GALASIË
Ikonuim
Listre
Derbe
Antiochië
SIRIË
Die Groot See