Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 11/1 bl. 29-31
  • Gaan voort om reggestel te word’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gaan voort om reggestel te word’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat dit beteken om reggestel te word
  • Die nodigheid van regstelling vandag
  • Goddelike standaarde
  • Inspanning nodig
  • Sal jy aanhou om veranderinge te maak?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • God is nie partydig nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Wanneer alle rasse in vrede sal saamwoon
    Ontwaak!—1993
  • Ouere manne—Help ander reg in ’n gees van sagmoedigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 11/1 bl. 29-31

Gaan voort om reggestel te word’

“IS U seker dat ons nie daar gaan verbyvaar nie?” Die passasier het haar vraag aan die skip se eerste offisier gerig. Terwyl die klein skip heen en weer geskommel het in die greep van die welbekende Kaapse branders van die Suid-Atlantiese Oseaan het dit vir haar gelyk of dit net ’n wonderwerk sou wees as hulle hulle bestemming, wat ’n piepklein kolletjie op die kaart is, bereik.

Die eerste offisier het haar toe na die brug genooi en vir haar verduidelik hoe navigasietoerusting werk—girokompasse, radar, satellietseinontvangers en selfs die eenvoudige sekstant. Hoewel die tegniese verduidelikings vir haar ’n bietjie moeilik was om te verstaan, het sy ’n grondbeginsel van navigasie begryp: rigtingregstelling. Met behulp van sy navigasie-instrumente kon die kaptein die invloede van seestrome en wind teëwerk deur voortdurend aanpassings te maak. Sonder sulke regstellings sou hulle baie, baie kilometers ver by hul bestemming verbyvaar.

Christene is soos skepe in die oseaan van die mensdom. Ons doelwit is om ‘vlekkeloos en onberispelik voor Jehovah bevind te word in vrede’ (2 Petrus 3:14). Maar soos met ’n skip is daar interne en eksterne kragte wat ons soms van koers laat afwyk. Hoe gepas is die woorde van die apostel Paulus aan die Korinthiërs dus: “Hiervoor bid ons, dat julle weer reggestel word. . . . Gaan voort om . . . reggestel te word.”—2 Korinthiërs 13:9, 11, NW.

Wat dit beteken om reggestel te word

Die Griekse woord wat hier met “regstel” vertaal word, het betrekking op iets wat “in die regte lyn” gebring word. (Sien voetnoot in die NW-naslaanuitgawe.) In sommige Bybeltekste word dit gebruik om te beskryf hoe iets tot die regte toestand herstel word. In Mattheüs 4:21 word ’n soortgelyke woord byvoorbeeld gebruik om te beskryf hoe nette “herstel” word (Kingdom Interlinear). Wat beteken dit dan vir Christene om reggestel te word?

Wel, beskou die Christene in Korinthe aan wie Paulus geskryf het. In ’n vorige brief aan hulle het Paulus verkeerde situasies wat in die gemeente geheers het onder hulle aandag gebring: ’n sektegees, die toelating van geslagsonsedelikheid, regsgedinge onder broers, oneerbiedigheid teenoor die Heer se Aandmaal en selfs onordelike vergaderinge (1 Korinthiërs 1:10-13; 5:1; 6:1; 11:20, 21; 14:26-33). Die Korinthiërs moes dus die situasie daar “herstel”, dit wil sê, dit “in die regte lyn” met godvrugtige beginsels bring.

Paulus se tweede brief aan hulle toon dat dit presies is wat hulle gedoen het (2 Korinthiërs 7:11). Maar Paulus het geweet dat druk van die wêreld, van Satan en van hulle eie vleeslike neigings sou aanhou om hulle van tyd tot tyd van koers te laat afdwaal. Daarom het hy hulle gepas vermaan om ‘voort te gaan om reggestel te word’.

Die nodigheid van regstelling vandag

Jehovah se Getuies moet vandag eweneens voortgaan om reggestel te word. Satan die Duiwel ‘voer oorlog’ teen ons en lê hom koorsagtig daarop toe om ons ons onkreukbaarheid te laat prysgee (Openbaring 12:17; Efesiërs 6:12). Ons word ook omring deur ’n wêreldwye stelsel van dinge wat “volgens die owerste van die mag van die lug” funksioneer. Ons werkmaats en skoolmaats is dalk mense wat ‘in die begeerlikhede van hulle vlees wandel en die wil van die vlees doen’ (Efesiërs 2:2, 3). Ons het ook ’n voortdurende stryd teen ons oorgeërfde sondige neigings (Romeine 7:18-26). Sonder voortdurende regstelling kan ons maklik van koers af gedryf word.

’n Ondervinding van die apostel Petrus lig dit goed toe. Nadat hy Jesus tereg as “die Christus, die Seun van die lewende God”, geïdentifiseer het, is Petrus geprys met die woorde: “Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is” (Mattheüs 16:16, 17). Dit is duidelik dat Petrus se denke reg gerig was. Nogtans moes Jesus hom binne die bestek van die tyd wat deur die volgende ses verse gedek word ernstig berispe! Toe Petrus hoor dat Christus “veel . . . moes ly, en gedood” sou word, het hy Jesus gemaan: “Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie!” Jesus het vinnig geantwoord: “Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.”—Mattheüs 16:21-23.

Petrus het uit ’n vleeslike oogpunt gedink. Sy gedagtes en gesindheid moes reggestel word. Is dit nie van tyd tot tyd ook met ons almal die geval nie? Is ons nie geneig om dinge uit ons eie oogpunt, pleks van God s’n te sien nie? Ons moet van tyd tot tyd dus reggestel word. Soos ’n skip op see is sulke aanpassings soms dalk klein, feitlik onbeduidend. Maar hulle beteken dalk die verskil tussen die bereiking van ons bestemming en geestelike skipbreuk. ’n Klein aanpassing nou kan inderdaad voorkom dat jy later groot—miskien pynlike—aanpassings moet maak.

Goddelike standaarde

As ’n skip se navigasie-instrumente nie akkuraat gekalibreer is nie, kan behoorlike rigtingregstellings nie gemaak word nie. As ons eweneens ons lewe op koers wil hou, het ons die akkurate leiding van God se Woord, die Bybel, nodig. “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing” (2 Timotheüs 3:16). Daardie geïnspireerde Woord sit God se standaarde van gedrag en denke uiteen. Dit is noodsaaklik dat ons dit gereeld lees om “die spore van geregtigheid” te volg.—Psalm 23:3.

Verdere riglyne kom van “die getroue en verstandige dienskneg”-klas van gesalfde Christene. Hulle is deur middel van Jehovah se gees gehelp om sy wil progressief te verstaan (Mattheüs 24:45-47; Spreuke 4:18). Wanneer ons dus riglyne van Jehovah se organisasie kry, kan ons verstandig optree en ons daaraan onderwerp, omdat ons alte goed weet dat Jehovah ons op ’n weg sal lei wat ons vir ewig tot voordeel sal strek.—Jesaja 48:17.

Soms het ons egter persoonlike hulp nodig om op koers te bly. Paulus het in Galasiërs 6:1 gemaan: “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is [“geestelike hoedanighede het”, NW], so een reghelp met die gees van sagmoedigheid.” Ouere manne en bedieningsknegte tel onder diegene wat sulke geestelike hoedanighede het. Hulle sal dikwels ons aandag vestig op die een of ander gebied waar ons aanpassings moet maak.

Inspanning nodig

Dit is nie altyd maklik om die nodige veranderinge in ons lewe aan te bring nie. Dink weer eens aan Petrus. Petrus was ’n gebore Jood en het grootgeword met die heersende negatiewe beskouing van mense van ander rasse. Soos hy vir die nie-Jood Cornelius gesê het: “Julle weet dat dit ongeoorloof is vir ’n Joodse man om met iemand van ’n ander volk omgang te hê of hom te besoek.” Maar nadat hy besef het dat dit God se wil is dat hy die Christelike waarheid aan hierdie man en sy familie meedeel, het Petrus tot die slotsom gekom: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.”—Handelinge 10:28, 34, 35.

Petrus het ’n verstommende verandering in sy denke en gesindheid teenoor ander rasse aangebring! Maar dit was blykbaar nodig dat hy voortgaan om in hierdie opsig reggestel te word, want ’n paar jaar later het Petrus voor portuurdwang geswig en nie-Joodse gelowiges begin vermy. Die apostel Paulus moes hom teregwys en skerp met hom praat om hom te help om sy denke nog verder reg te stel!—Galasiërs 2:11-14.

’n Christen van vandag het dalk insgelyks teen ’n agtergrond van rassediskriminasie grootgeword. Nadat hy die waarheid aanvaar het, erken hy dalk met sy verstand dat God nie partydig is nie, maar hy koester steeds gevoelens van rassevooroordeel. Hoewel hy nie vyandig teenoor mense van ’n ander ras is nie, aanvaar hy dalk vanselfsprekend dat hulle ongewenste eienskappe het vanweë hulle raserfenis. Hy stel hulle geduld miskien op die proef met rassistiese grappe of opmerkings wat voortdurend die aandag op ras of rasseverskille vestig. Hy verwerp moontlik selfs geestelike vermaning van ’n mede-Christen wat hom nie so goed kan uitdruk nie omdat hy op opvoedkundige of maatskaplike gebied ’n agterstand het. Dit is duidelik dat dit ware inspanning van so ’n persoon sal verg om sy denke reg te stel sodat dit met Jehovah s’n strook!a

Maar ongeag wat die geskil is—rassevooroordeel, materialisme, sosiale betrokkenheid by die skool en werk of die nodigheid om Christenvergaderinge by te woon—ons moet gehoor gee aan die riglyne wat deur middel van God se Woord en sy organisasie voorsien word. Ons moet nooit meen dat geldige skriftuurlike raad nie op ons van toepassing is en dit ignoreer nie. Dink aan wat die ontroue Israeliete gesê het: “Die weg van Jehovah is nie reg ingestel nie”. Is dit nie ons wat ons volgens Jehovah se weë moet instel nie?—Esegiël 18:25, NW.

Ons verheug ons oor die feit dat Jehovah innig belangstel in die manier waarop ons voor hom wandel deur sy volk voortdurend reg te stel. Dit is soos Jesaja geprofeteer het: “En jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan.” Mag ons sensitief wees vir sulke liefdevolle leiding van Jehovah en ‘bereid wees om gehoorsaam te wees’ (Jesaja 30:21; Jakobus 3:17, NW). Ja, laat ons voortgaan om reggestel te word sodat die koers wat ons inslaan ons sal lei tot die doelwit van ’n ewigheid in God se guns!

[Voetnote]

a Sien die artikels oor vooroordeel in die Ontwaak! van 8 Maart 1985. Sien ook Die Wagtoring van 15 Mei 1988, bladsye 10-20.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel