Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 5/15 bl. 10-15
  • God is nie partydig nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • God is nie partydig nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons Skepper—Is hy partydig?
  • Was Jesus partydig?
  • ’n Groot verandering
  • “Uit alle nasies”
  • Naasteliefde is moontlik
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • God is nie partydig nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Mag ons almal een wees net soos Jehovah en Jesus een is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • ‘God is nie partydig nie’
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 5/15 bl. 10-15

God is nie partydig nie

“God [is] nie partydig . . . nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid werk, aanvaarbaar vir hom.”—HANDELINGE 10:34, 35, NW.

1. Watter belangrike stelling het Paulus in eertydse Athene oor rasse gemaak?

“GOD wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. . . . Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon” (Handelinge 17:24-26). Wie het daardie woorde gespreek? Die Christenapostel Paulus, gedurende sy beroemde toespraak op Marsheuwel, of die Areopagus, in Athene, Griekeland.

2. Wat help om die lewe kleurryk en interessant te maak, en wat het ’n Japannese besoeker aan Suid-Afrika beïndruk?

2 Paulus se stelling laat ons heel moontlik dink aan die wonderlike verskeidenheid wat in die skepping bestaan. Jehovah God het soveel soorte mense, diere, insekte en plante geskape. Hoe vervelig sou die lewe tog gewees het as hulle almal eenders was! Hulle verskeidenheid help om die lewe kleurryk en interessant te maak. ’n Besoeker van Japan wat ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies in Suid-Afrika bygewoon het, was byvoorbeeld beïndruk deur die verskeidenheid rasse en kleure wat hy daar gesien het. Hy het gemeld dat dit heel anders in Japan is, waar die oorgrote meerderheid dieselfde raseienskappe het.

3. Hoe beskou party ’n ander velkleur, en waartoe gee dit aanleiding?

3 Maar kleurverskil tussen die rasse laat dikwels ernstige probleme ontstaan. Talle beskou diegene met ’n ander velkleur as minderwaardig. Dit gee aanleiding tot vyandigheid, selfs haat en die plaag van rassevooroordeel. Was dit ons Skepper se bedoeling? Is party rasse in sy oë meerderwaardig? Is Jehovah partydig?

Ons Skepper—Is hy partydig?

4-6. (a) Wat het koning Josafat oor partydigheid gesê? (b) Hoe het Moses sowel as Paulus Josafat se stelling bevestig? (c) Watter vrae kan party opper?

4 Ons kan ’n idee vorm van ons Skepper se beskouing van die hele mensdom deur terug te gaan in die geskiedenis. Koning Josafat, wat van 936 tot 911 v.G.J. oor Juda geregeer het, het talle verbeteringe aangebring en gereël dat die regstelsel wat op die goddelike wet gegrond was behoorlik funksioneer. Hy het die regters hierdie uitstekende raad gegee: “Kyk wat julle doen, want julle spreek nie reg vir die mens nie, maar vir die HERE . . . handel nougeset, want by die HERE onse God is geen onreg of partydigheid . . . nie.”—2 Kronieke 19:6, 7.

5 Honderde jare vantevore het die profeet Moses vir die stamme van Israel gesê: ‘Die HERE jou God is vir niemand partydig nie’ (Deuteronomium 10:17, NAV). En in sy brief aan die Romeine het Paulus gemaan: “Lyding en benoudheid bring Hy oor die lewe van elke mens wat kwaad doen, in die eerste plek oor dié van die Jood, maar ook oor dié van die nie-Jood . . . God trek immers niemand voor nie.”—Romeine 2:9-11, NAV.

6 Maar party vra dalk: Wat van die Israeliete? Was hulle nie God se uitverkore volk nie? Het hy hulle nie voorgetrek nie? Het Moses nie vir die hele Israel gesê: “Jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees” nie?’—Deuteronomium 7:6.

7. (a) Waartoe het die Jode se verwerping van die Messias gelei? (b) Wie kan vandag wonderlike seëninge van God geniet, en hoe?

7 Nee, God was nie partydig toe hy die Israeliete vir ’n spesiale doel gebruik het nie. Toe Jehovah ’n volk gekies het deur wie hy die Messias kon voortbring, het hy die nakomelinge van die getroue Hebreeuse aartsvaders gekies. Maar toe die Jode die Messias, Jesus Christus, verwerp en hom om die lewe gebring het, het hulle God se guns verloor. Maar vandag kan diegene van enige ras of nasie wat geloof in Jesus beoefen wonderlike seëninge geniet en die vooruitsig op die ewige lewe hê (Johannes 3:16; 17:3). Dit bewys beslis dat God geensins partydig is nie. Daarbenewens het Jehovah die Israeliete beveel om ‘die vreemdeling lief te hê’ en ‘hom nie te verdruk nie’, ongeag sy ras of nasionaliteit (Deuteronomium 10:19; Levitikus 19:33, 34). Ons liefdevolle hemelse Vader is waarlik nie partydig nie.

8. (a) Wat bewys dat Jehovah Israel nie voorgetrek het nie? (b) Hoe het Jehovah Israel gebruik?

8 Die Israeliete het weliswaar spesiale voorregte geniet. Maar hulle het ook ’n groot verantwoordelikheid gehad. Hulle was verplig om Jehovah se wette te hou, en diegene wat versuim het om dit te gehoorsaam, is vervloek (Deuteronomium 27:26). Trouens, die Israeliete moes herhaaldelik gestraf word omdat hulle God se Wet verbreek het. Jehovah het hulle derhalwe nie voorgetrek nie. Hy het hulle eerder gebruik om profetiese patrone te vorm en waarskuwende voorbeelde te voorsien. Dit was gepas deur Israel dat God die Verlosser, Jesus Christus, tot seën van die hele mensdom voortgebring het.—Galasiërs 3:14; vergelyk Genesis 22:15-18.

Was Jesus partydig?

9. (a) Hoe is Jehovah en Jesus eenders? (b) Watter vrae ontstaan oor Jesus?

9 Kon Jesus partydig wees, aangesien Jehovah glad nie partydig is nie? Wel, dink hieraan: Jesus het eenkeer gesê: “Ek [soek] nie my wil . . . nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het” (Johannes 5:30). Daar bestaan volmaakte eendrag tussen Jehovah en sy geliefde Seun, en Jesus doen sy Vader se wil in elke aspek. Trouens, hulle beskouing en voorneme is so eenders dat Jesus kon sê: “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien” (Johannes 14:9). Jesus het meer as 33 jaar lank persoonlik ondervind hoe dit is om as ’n mens op die aarde te lewe, en die Bybel toon hoe hy ander mense behandel het. Wat was sy gesindheid teenoor ander rasse? Was hy bevooroordeeld of partydig? Was Jesus ’n rassis?

10. (a) Hoe het Jesus op ’n Feniciese vrou se versoek om hulp geantwoord? (b) Het Jesus vooroordeel getoon deur van nie-Jode as “hondjies” te praat? (c) Hoe het die vrou die beswaar te bowe gekom, en met watter gevolg?

10 Jesus het die grootste deel van sy aardse lewe met Joodse mense deurgebring. Maar eendag het ’n Feniciese vrou, ’n nie-Jood, hom genader en hom gesmeek om haar dogter te genees. In antwoord het Jesus gesê: “Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel.” Die vrou het nietemin gepleit: “Here, help my!” Toe het hy voorts gesê: “Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie.” Vir die Jode was honde onrein diere. Het Jesus dus vooroordeel getoon deur van nie-Jode as “hondjies” te praat? Nee, want hy het pas gepraat van sy spesiale opdrag van God om na ‘die verlore skape van Israel’ om te sien. Jesus het boonop die vergelyking versag deur nie-Jode met “hondjies”, en nie wilde honde nie, te vergelyk. Wat hy gesê het, het natuurlik die vrou op die proef gestel. Nederig, dog vasbeslote om hierdie beswaar te bowe te kom, het sy taktvol geantwoord: “Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval.” Die vrou se geloof het Jesus beïndruk en hy het haar dogter onmiddellik genees.—Mattheüs 15:22-28.

11. Hoe het Jode en Samaritane mekaar beskou, soos toegelig word deur ’n voorval waarby Jesus betrokke was?

11 Beskou ook Jesus se ontmoetings met sekere Samaritane. Bittere vyandigheid het tussen Jode en Samaritane bestaan. By een geleentheid het Jesus boodskappers gestuur om vir hom in ’n sekere Samaritaanse dorp voorbereidings te tref. Maar daardie Samaritane “het Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem op reis was”. Dit het Jakobus en Johannes so ontstel dat hulle vuur uit die hemel wou afroep en hulle wou vernietig. Maar Jesus het die twee dissipels bestraf, en hulle almal het na ’n ander dorp gegaan.—Lukas 9:51-56.

12. Waarom was ’n sekere Samaritaanse vrou verbaas oor Jesus se versoek?

12 Was Jesus, soos die ander Jode, die Samaritane vyandig gesind? Wel, let op wat by ’n ander geleentheid plaasgevind het. Jesus en sy dissipels was op pad van Judea na Galilea en moes deur Samaria reis. Moeg van die reis het Jesus langs die fontein van Jakob gaan sit om te rus terwyl sy dissipels na die stad Sigar gegaan het om voedsel te koop. Intussen het ’n Samaritaanse vrou water kom skep. Jesus self het by ’n ander geleentheid die Samaritane as “van ’n ander ras” geklassifiseer (Lukas 17:16-18, The Kingdom Interlinear Translation of the Greek Scriptures). Maar hy het vir haar gesê: “Gee vir My water om te drink.” Aangesien Jode geen omgang met Samaritane gehad het nie, het die verbaasde vrou gesê: “Hoe is dit dat U wat ’n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek ’n Samaritaanse vrou is?”—Johannes 4:1-9.

13. (a) Hoe het Jesus op die Samaritaanse vrou se beswaar geantwoord, en wat was haar reaksie? (b) Wat was die uiteinde?

13 Maar Jesus het die vrou se beswaar geignoreer. Hy het eerder die geleentheid benut om vir haar te getuig, en selfs erken dat hy die Messias is! (Johannes 4:10-26). Die verstomde vrou het haar waterkruik by die fontein gelaat, teruggehardloop na die stad en die ander vertel wat gebeur het. Hoewel sy ’n onsedelike lewe gelei het, het sy haar belangstelling in geestelike sake getoon deur te sê: “Is Hy nie miskien die Christus nie?” Wat was die uiteinde? Baie van die plaaslike mense het geloof in Jesus gestel op grond van die goeie getuienis wat die vrou gelewer het (Johannes 4:27-42). Dit is interessant dat Kongregasionalistiese teoloog Thomas O. Figart die volgende kommentaar in sy boek A Biblical Perspective on the Race Problem gelewer het: “As ons Here dit belangrik genoeg geag het om ’n foutiewe rassetradisie deur ’n welwillende gebaar ter syde te stel, dan moet ons oppas dat ons nie in die hedendaagse rivier van rassisme verswelg word nie.”

14. Hoe het Jehovah se onpartydigheid gedurende die bediening van Filippus die evangelis geblyk?

14 Jehovah God se onpartydigheid het mense van verskillende rasse in staat gestel om Joodse bekeerlinge te word. Dink ook aan wat 19 eeue gelede op die woestynpad tussen Jerusalem en Gasa plaasgevind het. ’n Swartman in die diens van Ethiopië se koningin het in sy wa gery terwyl hy die profesie van Jesaja gelees het. Hierdie beampte was ’n besnede bekeerling, want hy het ‘na Jerusalem gekom om te aanbid’. Jehovah se engel het aan die Joodse evangelis Filippus verskyn en vir hom gesê: “Gaan daarheen en bly by daardie wa.” Het Filippus gesê: “Ag, nee! Hy behoort tot ’n ander ras”? Glad nie! Filippus het met graagte die Ethiopiër se uitnodiging aangeneem om in die wa te klim, by hom te gaan sit en Jesaja se profesie oor Jesus Christus te verduidelik! Toe hulle by water kom, het die Ethiopiër gevra: “Wat verhinder my om gedoop te word?” Aangesien niks dit verhinder het nie, het Filippus die Ethiopiër met genoeë gedoop, en Jehovah het daardie gelukkige man as ’n gesalfde volgeling van Sy onpartydige Seun, Jesus Christus, aanvaar (Handelinge 8:26-39). Maar daar was weldra verdere bewys van goddelike onpartydigheid.

’n Groot verandering

15. Watter verandering het na Jesus se dood plaasgevind, en hoe verduidelik Paulus dit?

15 Die dood van Christus het nie wêreldse rassevooroordeel uit die weg geruim nie. Maar deur middel van daardie offerdood het God wel die verhouding van Jesus se Joodse dissipels tot sy nie-Joodse volgelinge verander. Die apostel Paulus het hierop gewys toe hy aan nie-Joodse Christene in Efese geskryf en gesê het: “Onthou dat julle vroeër . . . heidene in die vlees was . . . dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het.” Daardie “middelmuur”, of simbool van skeiding, was die Wetsverbondsreëling wat as ’n skeidsmuur tussen Jode en nie-Jode gedien het. Dit is op grond van Christus se dood afgeskaf sodat Jode sowel as nie-Jode deur hom “die toegang deur een Gees tot die Vader” kon hê.—Efesiërs 2:11-18.

16. (a) Waarom is Petrus die sleutels van die Koninkryk gegee? (b) Hoeveel sleutels was daar, en wat het hulle gebruik tot gevolg gehad?

16 Daarbenewens is “die sleutels van die koninkryk van die hemele” aan die apostel Petrus gegee sodat mense van enige ras van God se voornemens kon leer, uit heilige gees “weer gebore” kon word en geestelike erfgename saam met Christus kon word (Mattheüs 16:19; Johannes 3:1-8). Petrus het drie simboliese sleutels gebruik. Die eerste was vir Jode, die tweede vir Samaritane en die derde vir nie-Jode (Handelinge 2:14-42; 8:14-17; 10:24-28, 42-48). Die onpartydige God, Jehovah, het derhalwe vir uitverkorenes uit alle rasse die voorreg oopgestel om Jesus se geestelike broers en mede-erfgename van die Koninkryk te wees.—Romeine 8:16, 17; 1 Petrus 2:9, 10.

17. (a) Watter buitengewone gesig het Petrus ontvang, en waarom? (b) Na wie se huis het sekere manne Petrus geneem, en wie het daar vir hom gewag? (c) Waaraan het Petrus daardie nie-Jode herinner, maar wat het God hom duidelik geleer?

17 Petrus het ’n buitengewone gesig van onrein diere ontvang om hom voor te berei om die derde sleutel—vir die nie-Jode—te gebruik en hy is meegedeel: “Staan op, Petrus, slag en eet!” Die les was: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie” (Handelinge 10:9-16). Petrus het in groot onsekerheid verkeer oor die betekenis van die gesig. Maar drie manne het weldra opgedaag om hom na die huis van Cornelius, ’n Romeinse leërowerste wat in Cesarea gestasioneer was, te neem. Aangesien daardie stad die vernaamste hoofkwartier van Romeinse leërs in Judea was, was dit die natuurlike plek vir Cornelius om te woon. Cornelius, sowel as sy familielede en intieme vriende, het vir Petrus in daardie uiters nie-Joodse omgewing gewag. Die apostel het hulle daaraan herinner: “Julle weet dat dit ongeoorloof is vir ’n Joodse man om met iemand van ’n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie. Daarom het ek, toe ek gehaal is, gekom sonder om teë te spreek.”—Handelinge 10:17-29.

18. (a) Watter belangrike aankondiging het Petrus aan Cornelius en sy gaste gemaak? (b) Watter dramatiese gebeurtenis het plaasgevind terwyl Petrus oor Jesus getuig het? (c) Watter stap is toe ten opsigte van daardie gelowige nie-Jode gedoen?

18 Na Cornelius God se leiding van sake verduidelik het, het Petrus gesê: “Ek bemerk seer seker dat God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid werk, aanvaarbaar vir hom” (Handelinge 10:30-35, NW). Toe het iets dramaties gebeur terwyl die apostel besig was om ’n getuienis oor Jesus Christus te lewer! “En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het.” Petrus se Joodse metgeselle “was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is. Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak.” Petrus het geantwoord: “Niemand kan tog die water weer, dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, nie gedoop word nie?” Wie kon beswaar maak, aangesien die heilige gees van die onpartydige God van die hemele oor hierdie gelowige nie-Jode uitgestort is? Petrus het derhalwe beveel dat hulle “in die Naam van die Here” Jesus Christus gedoop word.—Handelinge 10:36-48.

“Uit alle nasies”

19. Waarom neem rassevyandigheid toe, en in watter mate?

19 Ons bevind ons nou in “die laaste dae”, en “swaar tye” is ’n lewensfeit. Mense is onder meer liefhebbers van hulleself, grootpraters, trotsaards, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, sonder selfbeheersing, wreed, roekeloos en verwaand (2 Timotheüs 3:1-5). In so ’n maatskaplike klimaat is dit nie verbasend dat rassevyandigheid en -konflik wêreldwyd toeneem nie. In talle lande verag mense van verskillende rasse of kleure mekaar of haat hulle mekaar selfs. Dit het tot gevegte en selfs afgryslike wreedhede in sommige lande gelei. Selfs in sogenaamd verligte gemeenskappe sukkel baie mense om rassevooroordeel te bowe te kom. En dit lyk of hierdie “siekte” selfs na gebiede versprei waar ’n mens dit die minste sou verwag, soos eilande waar daar voorheen feitlik idilliese vreedsaamheid geheers het.

20. (a) Watter geïnspireerde gesig het Johannes gesien? (b) In watter mate word hierdie profetiese gesig vervul? (c) Watter probleem moet party nog ten volle te bowe kom, en waar moet hulle ’n oplossing soek?

20 Ondanks die gebrek aan rasseharmonie in verskeie wêrelddele het die onpartydige God, Jehovah, egter voorspel dat opregte mense van alle rasse en nasies in merkwaardige internasionale eenheid saamgebring sou word. Deur goddelike inspirasie het die apostel Johannes “’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale [gesien]; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam” en het Jehovah geloof (Openbaring 7:9). Hierdie profesie ondergaan reeds vervulling. In 210 lande geniet meer as 3 300 000 getuies van Jehovah uit alle nasies en rasse vandag eenheid en rasseharmonie. Maar hulle is steeds onvolmaak. Selfs party van hulle sukkel om rassevooroordeel ten volle te bowe te kom, hoewel hulle miskien nie hiervan bewus is nie. Hoe kan hierdie probleem te bowe gekom word? Ons sal die saak in die volgende artikel bespreek, wat op nuttige raad uit die geïnspireerde Woord van die onpartydige God, Jehovah, gebaseer is.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Waarom sou jy sê dat Jehovah nie partydig was deur die Israeliete te gebruik nie?

◻ Watter bewys is daar dat Jesus Christus nie rassevooroordeel gekoester het of partydig was nie?

◻ Hoe is Petrus gehelp om te sien dat “God nie partydig is nie”?

◻ Watter profesie wat op eenheid dui, word nou vervul ondanks die gebrek aan rasseharmonie in hierdie wêreld?

[Prent op bladsy 10]

Die apostel Paulus het vir the Atheners gesê dat God ‘al die nasies van die mensdom gemaak het om oor die hele aarde te woon”

[Prent op bladsy 12]

Omdat Jesus nie partydig was nie, het hy vir die Samaritaanse vrou by Jakob se fontein naby Sigar getuig

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel