‘Teen kennis—wat valslik so genoem word’
HOE belangrik is waarheid vir jou? Ontstel dit jou dat onwaarhede die waarheid oor die Skepper van hemel en aarde verdraai, selfs verberg het? Dit het Ireneus, ’n verklaarde Christen van die tweede eeu van ons Gewone Jaartelling, baie ontstel. Hy het daarna gestreef om die gevaarlike onjuisthede van Gnostisisme, ’n afvallige vorm van die Christelike godsdiens, bloot te lê. Die apostel Paulus het Timotheüs vroeër gewaarsku om sulke “valslik sogenaamde kennis” te verwerp.—1 Timotheüs 6:20, 21.
Ireneus het dwaalleringe sterk veroordeel. Beskou byvoorbeeld wat hy gesê het in die voorwoord van sy omvangryke literêre werk getiteld: “Die weerlegging en omverwerping van kennis wat valslik so genoem word.” Hy het geskryf: “Sekere mense, wat die waarheid verwerp, bring fabels en sinlose geslagsregisters onder ons in wat, soos die apostel gesê het [1 Timotheüs 1:3, 4], eerder twisvrae bevorder as God se werk om in die geloof op te bou. Deur hulle slinks saamgestelde retoriek laat hulle die onervarenes se gedagtes afdwaal en neem hulle hul gevange deur die orakels van die Here verdorwe te maak, en hulle is bose vertolkers van dinge wat goed gestel is.”
Die Gnostici (van die Griekse woord gnoʹsis, wat “kennis” beteken) het beweer dat hulle deur middel van geheime openbaring verhewe kennis besit en het gespog dat hulle die “verbeteraars van die apostels” was. Gnostisisme het filosofie, spekulasie en heidense mistisisme met die afvallige Christelike godsdiens vermeng. Ireneus het geweier om enigsins hieraan deel te hê. Hy het eerder ’n lewenslange stryd teen ketterleringe aangeknoop. Hy was ongetwyfeld deeglik bewus van hoe belangrik dit is om op die apostel Paulus se waarskuwing ag te slaan: “Pas op dat niemand julle as ’n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie.”—Kolossense 2:8; 1 Timotheüs 4:7.
Vroeë lewe en bediening
Min is bekend oor die vroeë lewe en persoonlike geskiedenis van Ireneus. Daar word algemeen veronderstel dat hy ’n boorling van Klein-Asië was en tussen 120 G.J. en 140 G.J. in of naby die stad Smirna gebore is. Ireneus getuig persoonlik dat hy Polikarpus, ’n opsiener in die gemeente van Smirna, in sy vroeë jeugjare geken het.
Terwyl Ireneus onder die voogdyskap van Polikarpus geleer het, het hy blykbaar met Florinus bevriend geraak. Polikarpus was ’n lewende skakel met die apostels. Hy het die Skrif uitvoerig verduidelik en hulle sterk aangeraai om by die leringe van Jesus Christus en Sy apostels te bly. Maar ten spyte van hierdie goeie Skriftuurlike opleiding het Florinus later na die leringe van Valentinus, die prominentste leier van die Gnostiese beweging, afgedwaal!
Ireneus wou hê dat sy vriend en voormalige metgesel Florinus weer gesonde Skriftuurlike leringe moes aanhang en uit die kloue van Valentinianisme gered moes word. Ireneus is dus beweeg om ’n brief aan Florinus te skryf, en het gesê: “Hierdie leerstellings, Florinus, . . . is nie grondige begrip nie; hierdie leerstellings is nie konsekwent met die kerk nie en betrek diegene wat hulle volg in die grootste goddeloosheid; . . . hierdie leerstellings is nie deur daardie ouderlinge, wat voor ons was en wat met die apostels omgegaan het, aan ons oorgelewer nie.”
In sy poging om Florinus te herinner aan die goeie opleiding wat hy aan die voete van die vername Polikarpus ontvang het, het Ireneus verder gesê: “Ek onthou die gebeure van daardie tye . . . sodat ek selfs die plek kan meld waar die geseënde Polikarpus gewoonlik gesit en gepreek het . . . Ook toe hy gepraat het van sy vriendskap met Johannes, en met die res van diegene wat die Here gesien het; hoe hy ook altyd hulle woorde verhaal het.”
Florinus is daaraan herinner dat Polikarpus onderrig gegee het in die dinge wat hy ontvang het “van die ooggetuies van die Woord van lewe, [en] alles in ooreenstemming met die Skrif oorgedra het. Hierdie dinge, wat deur God se genade aan my vergun is, het ek toe gehoor en dit opgeskrywe, nie op papier nie maar in my hart; en deur God se genade herinner ek myself voortdurend akkuraat aan hierdie dinge. En ek kan [aangaande Valentinianisme] voor die aangesig van God getuig dat as daardie geseënde en apostoliese presbiter [Polikarpus] so iets gehoor het, hy sou uitroep en sy ore daarvoor sou sluit . . . Hy sou gevlug het van die plek waar hy, sittende of staande, sulke woorde gehoor het.”
Dit is nie bekend of Florinus ooit op die roerende en kragtige brief van Ireneus gereageer het nie. Maar Ireneus se woorde openbaar sy opregte besorgdheid oor ’n dierbare vriend wat die weg van die waarheid verlaat en voor afvalligheid geswig het.—Vergelyk 2 Thessalonicense 2:3, 7-12.
Dit is nie bekend wanneer Ireneus hom in Gallië (Frankryk) gevestig het nie. In 177 G.J. het hy as ’n opsiener in die gemeente in Lyon gedien. Volgens berig was sy bediening daar baie vrugbaar. Trouens, geskiedskrywer Gregorius van Tours het berig dat Ireneus dit in ’n kort tydjie reggekry het om al die mense van Lyon tot die Christelike godsdiens te bekeer. Dit was ongetwyfeld oordrywing.
Teen dwaalleringe
Ireneus se belangrikste werk, “Die weerlegging en omverwerping van die kennis wat valslik so genoem word”, is algemeen “Teen die Dwaalleringe” genoem. Dit word in vyf boeke verdeel. Die eerste twee bevat ’n kritiese beskrywing van die opvattinge van verskillende kettersektes, veral die dwaalleer van Valentinus. In die ander drie boeke probeer Ireneus om “argumente uit die Skrif” uiteen te sit.
In die voorwoord van sy derde boek “Teen die Dwaalleringe” skryf Ireneus: “Hou derhalwe in gedagte wat ek in die twee vorige boeke gesê het; en saam met dié boek sal julle van my ’n volledige antwoord teen al die ketters hê, en sal julle in staat wees om hulle getrou en met vrymoedigheid teë te staan namens die een ware en lewegewende geloof wat die Kerk van die apostels ontvang het en aan haar kinders deelagtig maak. Want die Here van ons almal het aan sy apostels die krag van die evangelie gegee, en deur hulle het ons ook die waarheid geleer, dit wil sê, die leer van die Seun van God—soos die Here vir hulle gesê het: ‘Hy wat na julle luister, luister na my, en hy wat julle verag, verag my en hom wat my gestuur het.’”
Hoewel Ireneus erken het dat hy nie ’n goeie skrywer is nie, was hy vasbeslote om alle aspekte van die “bose leringe” van Gnostisisme aan die kaak te stel. Hy haal baie tekste aan en lewer kommentaar daaroor en gebruik meesterlike redenasies teen die “valse leraars” van die “verderflike ketterye” (2 Petrus 2:1-3). Dit lyk of Ireneus gesukkel het om sy werk op ’n bevredigende manier saam te stel. Waarom? Omdat hy ’n ontsaglike klomp gegewens versamel het.
Ireneus se uiteensetting het na groot moeite en vele studie duidelik die lig gesien. Sy uitvoerige argumente voorsien ’n skat van kennis oor die bronne en verskynsels van Gnostisisme. Die geskrifte van Ireneus is ook ’n onskatbare indeks van ten minste ’n paar Skriftuurlike opvattinge wat aan die einde van die tweede eeu G.J. steeds deur verklaarde voorstanders van God se Woord gehuldig is.
Ireneus bevestig herhaaldelik geloof in “een God, die almagtige Vader, wat hemel en aarde gemaak het, en die see en alles wat daarin is, en in een Christus Jesus, die seun van God, wat vlees geword het ter wille van ons verlossing”. Die Gnostici het hierdie feite geloën!
Ireneus het Gnostiese Dosetisme (die leer dat Christus nooit in menslike gedaante gekom het nie) veroordeel en geskryf: “Christus moet ’n mens soos ons wees om ons van verdorwenheid te verlos en ons volmaak te maak. Aangesien sonde en die dood deur ’n mens in die wêreld gekom het, kan dit dus slegs deur ’n mens regmatig en tot ons voordeel uitgewis word; maar natuurlik nie deur iemand wat ’n blote afstammeling van Adam is en dus self verlossing nodig het nie, maar deur ’n tweede Adam wat bonatuurlik verwek is, ’n nuwe voorvader van ons geslag” (1 Korinthiërs 15:45). Die Gnostici was daarenteen Dualiste, wat geglo het dat geestelike dinge goed is, maar dat alle materie en vleeslike dinge boos is. Gevolglik het hulle die mens Jesus Christus verwerp.
Aangesien die Gnostici geredeneer het dat alle vleeslike dinge boos is, het hulle ook die huwelik en voortplanting verwerp en beweer dat dit van Satan afkomstig is. Hulle het selfs goddelike wysheid aan die slang in Eden toegeskryf! Hierdie standpunt het tot uiterste lewenstyle gelei, òf asketisme òf losbandige gedrag. Omdat hulle beweer het dat redding slegs deur mistieke Gnostisisme, of selfkennis, moontlik was, het hulle geen ruimte vir die waarheid van God se Woord gelaat nie.
In teenstelling hiermee het Ireneus se argumente geloof in die Millennium behels en het dit ’n mate van begrip getoon vir die vooruitsig van vreedsame lewe op aarde in die toekoms. Hy het daarna gestreef om die groeiende faksies van sy tyd te verenig deur die kragtige Woord van God te gebruik. En hy word oor die algemeen onthou vir sy helder denke, fyn waarneming en gesonde oordeel.
Hoewel sommige Ireneus (wat omstreeks 200 G.J. oorlede is) die eer gee vir die bevordering van die ware leerstellings van die Christelike geloof, moet ’n mens onthou dat sy tyd ’n tyd van verandering en voorspelde afvalligheid was. Soms is sy argumente ietwat vaag, selfs teenstrydig. Ons heg nietemin groot waarde aan die getuienis van mense wat die geïnspireerde geskrewe Woord van God, pleks van die tradisies van mense, met vrymoedigheid verdedig het.