‘Weg met die godloses!’
DIE massas het hom as godloos beskou, as ’n man wat probeer het om aanbidding te ontmoedig en hulle gode te vernietig. Verag en verkleineer, is hy in ’n openbare vergadering voor hulle gebring. Op die goewerneur se vraag het ’n statige man van 86 vorentoe getree en sy identiteit bevestig. Sy naam was Polycarpus.
Die Romeinse provinsiale goewerneur Statius Quadratus het met dié woorde voortgegaan: “Sweer by die gees van die keiser; kom tot besinning en sê: ‘Weg met die ateïste!’” Polycarpus het toe na die ontsaglike skare bandelose heidene gekyk wat die stadion gevul het. Hy het na hulle gewys, en gekreun, hemelwaarts gekyk en gesê: “Weg met die ateïste!” Ja, ‘Weg met die godloses!’
Die prokonsul het toe met groter dringendheid gepraat en gesê: “Lê die eed af en ek sal jou vrystel; vloek Christus.” Maar Polycarpus het geantwoord: “Ek het Hom ses-en-tagtig jaar lank gedien, en Hy het my geen onreg aangedoen nie. Hoe kan ek my Koning wat my gered het, laster?”
Voorbereidsels is toe getref vir die bejaarde man se teregstelling. Hy sou deur vuur verteer word. Waarom? Wie was Polycarpus presies? En watter gebeure het tot sy dood aanleiding gegee?
Polycarpus se vroeë lewe
Polycarpus is in ongeveer 69 G.J. in Klein-Asië, in Smirna (die huidige Turkse stad Izmir) gebore. Hy is na bewering deur Christenouers grootgemaak. Polycarpus het ’n uitnemende volwassene geword en hy was bekend vir sy vrygewigheid, onselfsugtigheid, goedhartige behandeling van ander en ywerige studie van die Skrif. Hy het mettertyd ’n opsiener in die gemeente in Smirna geword.
Daar word gesê dat Polycarpus in sy vroeëre jare van geleenthede gebruik gemaak het om direk van sommige van die apostels te leer. Die apostel Johannes was klaarblyklik een van sy onderrigters. Ireneus vertel trouens dat Polycarpus “nie net deur die apostels onderrig is en met baie wat Christus gesien het, omgegaan het nie, maar dat hy ook in Asië deur die apostels aangestel is as ’n opsiener in die kerk wat in Smirna is”. Ons kan ons net voorstel watter vreugde en genoegdoening Polycarpus uit sulke verrykende omgang moes geput het. Dit het sekerlik gehelp om hom vir sy taak as ’n opsiener in die gemeente toe te rus.—Handelinge 20:28; 1 Petrus 5:1-4.
Hy handhaaf grondwaarhede
Polycarpus se toesig oor die gemeente het in die uitdagende jare van die voorspelde afval begin (2 Thessalonicense 2:1-3). Hy was klaarblyklik bereid om hom ten behoewe van ander in te span. Toe Ignatius van Antiochië, Sirië, op pad na sy marteldood in Rome die Filippense gevra het om ’n brief aan sy tuisgemeente te stuur, het Polycarpus van Smirna dus gesorg dat dit afgelewer is. Hy het toe self ook ’n brief aan die Filippense gestuur.
In Polycarpus se brief aan die Filippense vind ons bevestiging van sekere skriftuurlike waarhede. Hy tref onderskeid tussen God en Christus, die Vader en die Seun, en sê dat dit “deur die wil van God deur Jesus Christus” is dat ons gered word. Polycarpus waarsku teen geldgierigheid en herinner sy lesers daaraan dat hoereerders en homoseksuele nie God se Koninkryk sal beërwe nie. (Vergelyk 1 Timotheüs 6:10; 1 Korinthiërs 6:9, 10.) Hy sluit ook vermaninge in vir vrouens om hulle mans lief te hê en vir ouere manne om “medelydend en barmhartig” te wees. Almal word aangespoor om “ywerig te wees in die strewe na wat goed is”. Polycarpus pleit ten slotte: “Mag die God en Vader van ons Here Jesus Christus, en Jesus Christus Self, wat die Seun van God en ons ewige Hoëpriester is, julle in geloof en waarheid en in alle ootmoedigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid, lydsaamheid, verdraagsaamheid en reinheid opbou.”
Polycarpus het ruimskoots uit die Skrif aangehaal. Hy het in sy brief aan die Filippense verwys na Mattheüs, Handelinge, Romeine, 1 Korinthiërs, 2 Korinthiërs, Galasiërs, Efesiërs, 2 Thessalonicense, 1 Timotheüs, 1 Petrus en waarskynlik na ander dele van die Skrif. Dit gee vir ons ’n aanduiding dat sommige verklaarde Christene ten minste probeer het om gedurende die moeilike tydperk ná die apostels se dood aan skriftuurlike beginsels vas te hou.
Sy werk in Smirna
Smirna, ’n eertydse kusstad van Klein-Asië, was ’n bedrywige en vooruitstrewende handelsentrum. Dit was ook ’n sentrum vir aanbidding van die Staat. Romeinse keisers is byvoorbeeld opvallend as gode op muntstukke en deur inskripsies uitgebeeld. Heidense godsdiensfilosofieë is deur keiserlike gesag bevorder.
Blykbaar was ’n hele paar wat met die gemeente in Smirna geassosieer het materieel arm. Maar hulle is vroeër geprys omdat hulle geestelik ryk was. Hoe bemoedigend moes dit tog vir Christene in Smirna gewees het om Jesus se woorde te hoor wat deur die apostel Johannes opgeteken is! Christus het aan die “engel”, of gesalfde opsieners, in Smirna gesê: “Ek ken jou werke en verdrukking en armoede—maar jy is ryk—en die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar ’n sinagoge van die Satan. Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.”—Openbaring 2:8-10.
Enige geestelike rykdom wat daar moontlik nog onder verklaarde Chistene in Smirna was, het ongetwyfeld regstreeks verband gehou met die goeie toesig van ouere manne in die gemeente. Dít was ’n tydperk van onstuimige godsdiensstryd en lede van die gemeente het te midde van teenstrydige gelowe en kultusse gedien. Die gebied waarin hulle getuig het, was deurdrenk van demoniese gebruike, waaronder toorkuns en astrologie, en die klimaat was dus een van godloosheid.
Benewens die vyandigheid van die heidense bevolking was daar ook die bitter haat wat die Jode geopenbaar het. Toe die marteldood van Polycarpus op 23 Februarie 155 G.J. plaasgevind het, het fanatiese Jode na bewering gehelp om vuurmaakhout bymekaar te maak. Hulle het dit gedoen hoewel die teregstelling op ’n groot sabbatdag plaasgevind het!
Wie is die godloses?
Polycarpus was van plan om in Smirna te bly en die gevaar te trotseer wanneer sy vyande hom kom haal. Maar op aandrang van ander het hy na ’n nabygeleë plaas gegaan. Toe dit bekend word waar hy hom bevind, het hy geweier om weer te verhuis om diegene wat hom gesoek het, te ontwyk, maar het hy net gesê: “Laat God se wil geskied.”
Polycarpus het die stadion binnegegaan en voor die goewerneur en die ontsaglike, siedende skare gestaan. Toe die goewerneur daarop aandring dat hy die keiser in aanbidding vereer, het Polycarpus onomwonde gesê: “Ek is ’n Christen . . . As u wil weet wat Christelikheid beteken, hoef u net ’n dag te bepaal en my te woord te staan.” Die goewerneur het geantwoord: “Rig jou betoog tot die skare.” Maar Polycarpus het gesê: “Ek het gedink dat dit die moeite werd sou wees om dit met ú te bespreek, aangesien ons geleer is om regmatige respek aan die magte en owerhede te gee . . . solank dit nie met ons beginsels bots nie.” Polycarpus is kort daarna verbrand omdat hy Jesus Christus nie wou verloën nie.
Polycarpus se posisie as ’n Christen is iets wat God alleen kan bepaal. Wat van vandag? ’n Ontsaglike menigte ware Christene sal Christus ook nie verloën nie. Hulle verkondig eerder dat hy as God se Messiaanse Koning in die hemel ingehuldig is. Hierdie Getuies van Jehovah wys ook daarop dat ons op die punt staan om die vervulling te sien van Jesus se profetiese woorde aangaande die “groot verdrukking”, die rampspoedigste gebeurtenis wat die wêreld ooit sal ervaar. Dit dui egter nie die einde van die mensdom aan nie, maar van goddeloosheid. Oorlewing tot in ’n regverdige nuwe wêreld van vrede en genot is moontlik.—Mattheüs 24:13, 21, 34; 2 Petrus 3:13.
Wie sal teen die boodskappers van sulke goeie nuus wil stry? Slegs diegene wat werklik godloos is, selfs al het hulle ’n “gedaante van godsaligheid” (2 Timotheüs 3:5). Valse godsdiensleerstellings het die sinne van sommige verblind, en baie ‘skenk aandag aan misleidende geïnspireerde uitsprake en die leringe van demone’ (1 Timotheüs 4:1, NW). Hedendaagse Christene het onder die godloses gely, sommige tot die dood toe. Maar getroue knegte van Jehovah sal nooit verlies ly nie, want God sal uiteindelik vir hulle die ewige lewe as gawe gee. Hierdie getroue verkondigers van God se Koninkryk bly intussen troue voorstanders van skriftuurlike waarheid.