Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 7/15 bl. 24-26
  • Malta se gasvryheid bring seëninge mee

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Malta se gasvryheid bring seëninge mee
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Besoekers bring goeie nuus
  • Vertroosting uit die Skrif
  • Aansporing om ywerig te wees
  • Nuttige raad bring seëninge mee
  • Wedersydse bemoediging
  • “Dit is dalk net ’n lied”
    Ontwaak!—2010
  • ’n Kosbare skat om te deel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Verbly julle in die hoop
    Ontwaak!—2006
  • Hoop vir die haweloses en die armes
    Ontwaak!—2015
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 7/15 bl. 24-26

Malta se gasvryheid bring seëninge mee

MALTA was vir die apostel Paulus ’n welkome gesig toe hy in die eerste eeu G.J. skipbreuk gely het. Die eilandbewoners het hom en sy medereisigers “hulpvaardig” ontvang. Trouens, die Maltese het “buitengewone mensliewendheid” teenoor die reisigers betoon.—Handelinge 28:1, 2, vgl. NW.

Later het die hoofman van die eiland, Publius, Paulus en sy metgeselle gasvry ontvang en ‘hulle drie dae lank vriendelik geherberg’. Toe die nuus versprei het dat die apostel Publius se vader van koors en buikloop genees het, “het ook die ander wat siektes gehad het op die eiland, na hom gekom en is genees” (Handelinge 28:7-9). Maar Paulus het meer gedoen. Hy het waarheidsaadjies in die harte van die mense gesaai, en dit het baie seëninge vir hierdie gasvrye eilandbewoners meegebring. Vandag gebeur dieselfde op Malta. Kom kyk hoe.

Besoekers bring goeie nuus

As ’n mens vanuit die lug na sonnige Malta kyk, skyn dit soos ’n juweel in die blou Middellandse See. As ’n besoeker Luqa-lughawe nader, sien hy ’n sonbestraalde land met oënskynlik min plantegroei. Wanneer hy op die grond is, vind hy uit hierdie eiland van elf by sestien kilometer is die tuiste van nagenoeg 347 000 inwoners. Die koepels en torings van Malta se talryke kerke en katedrale openbaar sy godsdienstige agtergrond. Maar hoe het die Maltese in hierdie 20ste eeu by besoeke van Jehovah se Getuies baat gevind?

Een reisende opsiener genaamd David het Juliana se huis besoek en het gevind dat sy geredelik op die Koninkryksboodskap reageer. “Ek het baie ontevrede geword oor die kerk se betrokkenheid by die politiek”, sê Juliana, “en ek het derhalwe probeer om die waarheid oor God se regering in die Bybel te vind. Maar wanneer ek dit gelees het, was daar dinge wat ek nie maklik kon verstaan nie. Stel jou voor hoe nuuskierig ek was toe hierdie besoeker by my deur gevra het of ek weet wat God se Koninkryk is! Ek het hom onmiddellik gevra om die antwoord in my Katolieke Bybel vir my te wys. Hy het. Daardie einste dag het ek geweet dat ek die waarheid gevind het.”

’n Plaaslike Getuie het gereël om die Bybel met Juliana te studeer. Wat ’n aangename verrassing was dit tog vir David toe hy ses maande later na Malta terugkeer en Juliana hom in die Koninkryksaal verwelkom! Sy was spoedig gereed om ’n verkondiger van die goeie nuus van die Koninkryk te wees.

Juliana se man, Francis, was ook verwar deur kerkleerstellings. Toe hy haar by een geleentheid in die hospitaal besoek het, het sy na bandopnames geluister van openbare Bybeltoesprake wat by die Koninkryksaal gehou is. Toe hy ’n toespraak oor die gesinslewe hoor, het Francis opgemerk hoe wys die Bybelse raad was, en hy het gevolglik besluit om Christenvergaderinge te begin bywoon. Hy het spoedig bewus geword van ’n probleem wat opgelos moes word. Wat was dit?

Francis het ongeveer 20 jaar lank al as ’n croupier by die kasino gewerk. Hy het nou besef dat werk wat dobbelary behels het, strydig was met Christelike beginsels wat hebsug en gierigheid veroordeel (Romeine 13:9, 10; 1 Korinthiërs 6:9, 10). “Hoewel ek aanvanklik nie genoeg geloof gehad het om van werk te verander nie”, erken Francis, “het ek Jehovah in gebed om hulp gevra. Uiteindelik het ek ’n ander werk gekry wat my in staat stel om vir my vrou en seun, Sandro, te sorg.” Vandag dien Francis as ’n ouere man in die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies.

Vertroosting uit die Skrif

Rose was ses jaar lank gelukkig getroud met George toe hy tragies verongeluk het. Sy het geen vertroosting gevind in die priester se bewering dat God George weggeneem het omdat hy jaloers was oor die liefde wat sy vir haar man gehad het nie. Rose het so terneergedruk geword dat sy dit oorweeg het om haar drie kinders om die lewe te bring en dan selfmoord te pleeg.

Maar wat ’n verandering het Rose ondergaan toe Helen, ’n Getuie in die buurt, ’n Bybelstudie met haar begin hou het! Rose is spoedig vertroos deur die skriftuurlike lering oor die opstanding (Johannes 5:28, 29). Terselfdertyd het Peter, ’n ander besoekende opsiener, haar bemoedig. Sy het baie baat gevind by sy gesprekke oor die opstanding. Aangespoor deur hierdie hoop het Rose saam met Helen aan die openbare predikingswerk begin deelneem, en hulle albei dien nou as gewone pioniers, of voltydse Koninkryksverkondigers.

Aansporing om ywerig te wees

Joe kom uit ’n groot gesin, want hy het 12 broers en susters. Hy het, op aansporing van ’n reisende opsiener, ywerig vir sy baie familielede getuig. “In die begin”, sê hy, “het my gesin geweet dat wat ek vir hulle uit die Bybel verduidelik het sin gemaak het. Maar toe hulle sien dat ek al hoe meer daarin belangstel om ’n Getuie te word, het hulle van gedagte verander, en hulle almal was teen my—veral my vader.” Het hulle gesindheid Joe se ywer gedemp?

Glad nie! Byvoorbeeld, toe die baba van een van sy susters siek was en op sterwe gelê het, het Joe vir haar getuig en oor die opstandingshoop met haar gepraat. Hierdie suster is nou ’n gedoopte Getuie van Jehovah. Daarna het een van Joe se ouer broers en sy gesin belangstelling in die waarheid getoon. Toe het die oudste broer en sy gesin ’n standpunt vir God se Koninkryk ingeneem. Intussen het Joe se vader al hoe kwater geword. Toe Joe se jongste suster ook die Bybel begin studeer het, het die vader Joe uit die huis gesit. Joe was nie ontmoedig nie en het elke geleentheid gebruik om sy familielede te besoek en oor die Bybel se boodskap te praat. Sy vader het steeds kwaad geword en gesê: “Waarom praat jy nie met die priester nie? Hy ken die Bybel die beste!” Joe het gesê dat hy dit met graagte sou doen as sy vader hom sou vergesel. Hoe het hulle besoek afgeloop?

“Ons het reëlings getref vir ’n dag en ’n tyd”, vertel Joe, “maar die priester wou weet oor watter onderwerp hy voorbereiding moes doen en het verduidelik dat hy nou ’n bietjie navorsing sou moes doen, aangesien hy die seminarie sewe jaar vantevore verlaat het. . . . Maar na ’n week, ’n maand en selfs twee maande het die priester nie een afspraak nagekom nie. Toe my vader dit opmerk, het hy sy siening van die kerk verander en mettertyd besef dat wat ek uit die Bybel geleer het waar was.” Joe se vader het uiteindelik die waarheid aanvaar, wat die getal van sy familielede wat in Jehovah se diens is op 29 te staan bring.

Nuttige raad bring seëninge mee

’n Getroude pionierbedienaar genaamd Ignatio praat geesdriftig oor ’n ander besoekende opsiener en verduidelik: “Paul en sy vrou het by ons kom bly. Hulle het ons albei in ons huweliksverhouding, asook in die veldbediening gehelp. Hy het altyd die belangrikheid van die predikingswerk beklemtoon.”

Ignatio vertel wat gebeur het toe Paul tydens sy laaste besoek saam met die gemeentelike ouere manne en bedieningsknegte vergader het. “Toe ek sê dat ek daardie oggend nie in die predikingswerk kon uitgaan nie omdat ek my deel op die program vir ’n vergadering moes voorberei”, sê Ignatio, “het Paul gesê dat hy in die velddiens sou uitgaan soos ons gereël het selfs al kon ek nie saam met hom gaan nie. Toe het ek besluit om ook te gaan. Hoe het Jehovah tog my besluit geseën! Daardie oggend het ek ’n Bybelstudie begin, en as gevolg daarvan is daar nou ses mense in die waarheid.”—Vergelyk 3 Johannes 4.

Wedersydse bemoediging

Elke keer wanneer ’n reisende ouere man mede-Getuies op Malta besoek, ontvang hulle hom gasvry en is hulle gretig om by sy bemoediging en vermaning baat te vind. (Vergelyk 3 Johannes 5-8.) Gevolglik neem al hoe meer Maltese ’n ferm standpunt in vir Jehovah God en sy Koninkryk. Teen die einde van die 1989-diensjaar het 389 van hierdie gasvrye eilandbewoners dit gedoen. Hulle is nou in vyf florerende gemeentes verdeel (vier op Malta en een op die nabygeleë eiland Gozo), en hulle verkondig die goeie nuus met vrymoedigheid.

Al die reisende opsieners wat in die laaste jare gestuur is om Malta te besoek, het soos die apostel Paulus gevoel, wat vir die Romeinse Christene gesê het: “Ek verlang om julle te sien, om julle een of ander geestelike genadegawe mee te deel, sodat julle versterk kan word.” Hulle besoeke het beslis verkwikkende, “wedersydse bemoediging” tot gevolg gehad (Romeine 1:11, 12, vgl. NW). Daarbenewens bring die Koninkrykspredikingswerk van Jehovah se Getuies ryk seëninge mee vir die gasvrye mense van Malta.

[Kaart/Prente op bladsy 24, 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

GOZO

COMINO

MALTA

Valletta

Middellandse See

8 km

5 m.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel