Aardwye veiligheid—Hoe?
STEL jou voor dat jy op ’n aarde sonder gevaar en tekorte lewe. Dit is wat aardwye veiligheid beteken. Is dit net ’n droom?
Nee. Beskou die dae van eertydse koning Salomo. Aangaande sy wyse heerskappy sê die Bybel: “Juda en Israel [het] veilig gewoon . . . , elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom . . . al die dae van Salomo.”—1 Konings 4:25.
’n Les van Salomo se bewind
Merkwaardige Bybelverslae, soos die hierbo, word deur skeptici as oordrywing afgemaak. Gevolglik vra iemand dalk: ‘Hoe kan ek seker wees dat Salomo se heerskappy nie net ’n mite is nie?’ Indirekte argeologiese bewyse word in die volgende artikel voorgelê. Die beste bewys dat Salomo se heerskappy werklik bestaan het, is natuurlik die feit dat die onfeilbare Woord van die lewende God, Jehovah, daaroor skryf.—Johannes 17:17; 1 Petrus 1:24, 25.
Die geheim van die veiligheid wat onder Salomo se bewind geniet is, het in die toepassing van Jehovah se regverdige wette gelê. Voor die Israeliete die Beloofde Land binnegegaan het, het God gesê: ‘As julle in my insettinge wandel en my gebooie hou, sal die land sy opbrings gee. En julle sal veilig in julle land woon. Ook sal ek vrede gee in die land, sodat julle sal lê en rus sonder dat iemand julle skrikmaak.’—Levitikus 26:3-6.
Ongelukkig het die Israeliete na Salomo se dood opgehou om Jehovah te gehoorsaam; hulle het hulle tot afgodediens en liederlike seksaanbidding gewend. Gevolglik het hulle hul veiligheid verloor en is die land deur farao Sisak van Egipte ingeval (1 Konings 14:21-26). “Júlle het My verlaat; daarom gee Ék julle ook oor in die hand van Sisak”, het Jehovah aan ’n vergadering van owerstes in Jerusalem gesê.—2 Kronieke 12:5.
Iemand groter as Salomo
Jesus Christus het die geskiedkundige waarheid oor Salomo en “al sy heerlikheid” bevestig (Mattheüs 6:29). Maar aangaande homself het Jesus gesê: “Meer as Salomo is hier!” (Mattheüs 12:42). Wat het hy bedoel? Die veiligheid wat onder Salomo se bewind geniet is, was beperk. Daardie menslike koning kon sy onderdane nie van siekte, sonde en die dood bevry nie. Maar Jesus het sondige mense geleer hoe hulle volmaakte lewe in ewigdurende veiligheid kon verkry.—Johannes 10:10; 13:34, 35; 17:3.
Die grondslag vir die verkryging van sulke algehele veiligheid is deur Jesus se dood en opstanding gelê (Johannes 3:16; 1 Korinthiërs 15:20). Vanaf God se regterhand in die hemel sal hy spoedig aardwye veiligheid vir almal bring wat hulle aan sy heerskappy onderwerp. Koning Dawid van die ou tyd is geïnspireer om hieroor in die poëtiese 72ste Psalm te skryf. Hierdie woorde het ’n gedeeltelike vervulling gedurende die bewind van Dawid se seun gehad; derhalwe die opskrif: “Betreffende Salomo” (NW). Tog is die vernaamste vervulling met betrekking tot die Koninkryksheerskappy van die Grotere Salomo, Jesus Christus.
Volgens Psalm 72:7, 8 sal die veiligheid wat onder Christus se heerskappy sal heers wêreldwyd sowel as ewigdurend wees. “In sy dae sal die regverdige bloei en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie. En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.”—Vergelyk Sagaria 9:9, 10.
Onderdane van Christus se heerskappy sal ook niks kortkom nie, want Psalm 72:16 verseker ons: “Daar [sal] volheid van koring wees in die land, op die top van die berge.” Vanselfsprekend sal daar ook vryheid van diskriminasie, verdrukking en geweld wees. “Want hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.”—Psalm 72:12, 14.
Soos in die tyd van koning Salomo sal die grondslag vir sulke aardwye veiligheid die verstandige toepassing van Jehovah se universele wette wees. Dit sal in antwoord wees op Dawid se profetiese versoek: “o God, gee aan die koning u regte . . . Hy sal aan die ellendiges van die volk reg verskaf, die kinders van die behoeftige verlos en die verdrukker verbrysel.”—Psalm 72:1, 4.
Wat van ons huidige behoeftes?
‘Dis alles goed en wel’, sê iemand dalk, ‘maar ek het nou fisiese veiligheid nodig.’ Christene is weliswaar steeds onderhewig aan die onveilige toestande wat die mensdom teister—misdaad, siekte, natuurrampe, bejaardheid en die dood. Die ondervinding dwarsoor die wêreld toon egter dat hulle hierdie dinge danksy Bybelkennis beter die hoof kan bied (Spreuke 15:1; 22:3). Daarbenewens het hulle die genoeë van ’n vaste hoop. ’n Nuwe Bybelstudent van ’n misdaadgeteisterde voorstad van Johannesburg het een manier gemeld waarop die Skrif hom gehelp het: “Nou weet ek dat misdaad nie blywend is nie; dis net tydelik.”
Daar is selfs hoop vir diegene wat as slagoffers van gewelddade gesterf het. “Ek is die opstanding en die lewe”, het Jesus belowe, en toe het hy bygevoeg: “Wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe.”—Johannes 11:25.
So ’n gevoel van veiligheid verg sterk geloof, wat verkry word deur Jehovah se Woord te bestudeer. Deur daagliks tyd af te sonder om die Bybel te bestudeer, kan jy die vervulling van hierdie wonderlike belofte ondervind: “Die wat na my luister, sal veilig woon en gerus wees teen die skrik van die onheil.”—Spreuke 1:33; 2:21, 22.
[Venster op bladsy 6]
“Onder Salomo se bewind het die Israeliete in drie dekades materieel verder ontwikkel as gedurende die voorafgaande tweehonderd jaar. In Salomoniese rotslae tref ons die oorblyfsels aan van imposante geboue, groot stede met enorme mure, die uitbreiding van woonbuurte met deeglik geboude komplekse van die welgesteldes se wonings, ’n betekenisvolle sprong in die tegniese bekwaamheid van die pottebakker en sy vervaardigingsprosesse. Ons vind ook die oorblyfsels van artefakte van goedere wat in verafgeleë plekke gemaak is, tekens van lewendige internasionale handel en bedryf.”—The House of David, deur Jerry M. Landay.
[Foto-erkenning op bladsy 5]
NASA photo