Bewyse van Salomo se heerlikheid
VOLGENS Bybelchronologie het koning Salomo van 1037 v.G.J. tot 998 v.G.J. oor Israel regeer. Dit is interessant dat die boek The Archaeology of the Land of Israel, deur professor Yohanan Aharoni, toon hoe ’n revolusionêre vooruitgang “omstreeks 1000 v.G.J.” in die beskawing van die Israeliete plaasgevind het.
Een voorbeeld wat Aharoni gee, is die bewyse van stewige stadsmure wat gebou is met groot klippe wat “in langwerpige, reghoekige blokke gesny is en met presisie inmekaargepas is”. In Israel se buurlande is dele van die stadsmure daarenteen “van stene en hout gemaak”.
Stede wat omstreeks die tyd van Salomo herbou is, lewer boonop bewys van sorgvuldige beplanning met netjiese rye huise en sorgvuldig uitgelegde strate. Aharoni ondersoek noukeurig die ruïnes van “vier dorpe in Juda wat ooreenkomstig dieselfde fundamentele plan gebou is . . . Beër-seba, Tell Beit Mirsim, Bet-Semes en Mispa”. Hoe verskil dit tog van ’n ander groot beskawingsentrum—die vroeëre Mesopotamiese stad Ur! Sir Leonard Woolley het daaroor geskryf: “Daar is geen poging tot dorpsbeplanning aangewend nie . . . Die ongeplaveide strate, talle daarvan blinde steë, . . . het ’n doolhof gevorm waarin dit maklik sou gewees het om te verdwaal.”
Aharoni bespreek ook die verbetering in huisgerei omstreeks die tyd van Salomo se bewind. “Die verandering in materiële ontwikkeling . . . is nie net in weelde-items waarneembaar nie, maar veral ook in keramiek . . . Die kwaliteit van die erdewerk en oonddroging het onherkenbaar verbeter . . . Daar het skielik ’n groot verskeidenheid kruike verskyn.”
Die glorierykste kenmerk van Salomo se bewind was die luisterryke tempel, die paleis en die staatsgeboue in Jerusalem. ’n Reusehoeveelheid goud is gebruik om hierdie geboue te versier (1 Konings 7:47-51; 10:14-22). Vyf jaar na Salomo se dood het farao Sisak van Egipte gekom en Jerusalem van sy rykdom beroof.—1 Konings 14:25, 26.
In sowel Egipte as Palestina bevestig argeologiese inskripsies dat Sisak Israel inderdaad verower het. Trouens, baie geskiedkundiges erken dat Sisak se plundering van Jerusalem ’n swak Egiptiese ekonomie laat herleef het en Sisak in staat gestel het om die enorme vergroting van ’n Egiptiese tempel te finansier waarop hy sy oorwinning aangeteken het, soos op hierdie bladsy gesien kan word. Sisak is kort daarna oorlede, en nog ’n inskripsie toon dat sy seun ongeveer 200 ton goud en silwer aan die tempels van Egipte geskenk het. Die inskripsie maak nie die bron van hierdie rykdom bekend nie, maar argeoloog Alan Millard sê in sy boek Treasures From Bible Times dat “baie daarvan die goud was wat Sisak van Salomo se tempel en paleis in Jerusalem weggevoer het”.
Geen wonder dat selfs ’n ateïstiese bron die werklikheid van Salomo se glorieryke bewind erken nie! Onder die inskrywing “Salomo”, noem die Bol’shaia Sovetskaia Entsiklopediia (Groot Sowjet-Ensiklopedie), hom “heerser van die Israeliet-Judese-koninkryk”, en voeg by dat hy gedurende “die koninkryk se hoogtepunt” regeer het.