Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 5/15 bl. 24-26
  • Ywerige Getuies van Jehovah gaan vooruit!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ywerige Getuies van Jehovah gaan vooruit!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • VOORDELE EN ANDER KENMERKE
  • GESKIEDKUNDIGE AKKURAATHEID
  • PETRUS—’N GETROUE GETUIE
  • PAULUS SE DRIE SENDINGREISE
  • VERVOLGING IS VERGEEFS
  • ALTYD VOORUIT
  • Bybelboek nommer 44—Handelinge
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Moedige getuies van Jehovah in aksie!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Verkondig Jehovah se koninkryk met vrymoedigheid!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Jehovah se woord kry die oorhand!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 5/15 bl. 24-26

Ywerige Getuies van Jehovah gaan vooruit!

JEHOVAH se eerste-eeuse getuies was mense wat vrymoedig en ywerig opgetree het. Hulle het Jesus se opdrag om ‘te gaan en dissipels van al die nasies te maak’ gretig uitgevoer.—Mattheüs 28:19.

Maar hoe weet ons dat Christus se vroeë volgelinge daardie opdrag ernstig opgeneem het? Die Bybelboek Handelinge bewys dat hulle ywerige getuies van Jehovah was wat waarlik vir niks gestuit het nie!

VOORDELE EN ANDER KENMERKE

’n Ooreenkoms tussen die taal en styl van die derde Evangelie en dié van die boek Handelinge dui op een skrywer—Lukas, ‘die geliefde geneesheer’ (Kolossense 4:14). Van die unieke kenmerke van Handelinge is die gesprekke en gebede wat daarin opgeteken is. Ongeveer 20 persent van die boek bestaan uit toesprake, soos dié wat Petrus en Paulus ter stawing van die ware geloof gehou het.

Die boek Handelinge is omstreeks 61 G.J. in Rome geskryf. Dit is blykbaar die rede waarom dit nie melding maak van Paulus se verskyning voor die keiser of Nero se vervolging van Christene wat omstreeks 64 G.J. gewoed het nie.—2 Timotheüs 4:11.

Soos die Evangelie van Lukas was Handelinge aan Theofilus gerig. Dit is geskryf om geloof te versterk en verslag te lewer oor die groei van die Christelike geloof (Lukas 1:1-4; Handelinge 1:1, 2). Die boek bewys dat Jehovah se hand met sy lojale knegte was. Dit maak ons bewus van die krag van sy gees en versterk ons vertroue in goddelik geïnspireerde profesie. Handelinge help ons ook om vervolging te verduur, beweeg ons om selfopofferende Getuies van Jehovah te wees en versterk ons geloof in die Koninkrykshoop.

GESKIEDKUNDIGE AKKURAATHEID

Lukas het, as Paulus se metgesel, al hulle reise opgeteken. Hy het ook met ooggetuies gepraat. Hierdie faktore en deeglike navorsing maak sy geskrifte ’n meesterstuk wat geskiedkundige akkuraatheid betref.

Geleerde William Ramsay kon derhalwe sê: “Lukas is ’n eersteklas geskiedskrywer: sy feitelike verklarings is nie net betroubaar nie, hy gee ook die ware historiese gevoel weer . . . Hierdie skrywer moet onder die grootste geskiedskrywers getel word.”

PETRUS—’N GETROUE GETUIE

Die godgegewe werk om die goeie nuus te verkondig, kan net in die krag van Jehovah se heilige gees uitgevoer word. Wanneer Jesus se volgelinge dus heilige gees ontvang, sal hulle getuies van hom word in Jerusalem, Judea en Samaria en “tot aan die uiterste van die aarde”. Op Pinkster 33 G.J. word hulle met die heilige gees gevul. Aangesien dit net 9:00 vm. is, is hulle beslis nie, soos sommige dink, dronk nie. Petrus gee ’n treffende getuienis, en 3 000 word gedoop. Godsdiensteenstanders probeer om Koninkryksverkondigers die swye op te lê, maar God verhoor sy getuies se gebed en stel hulle in staat om sy woord met vrymoedigheid te spreek. Toe hulle weer gedreig word, is hulle antwoord: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” Die werk gaan voort terwyl hulle aanhou om van huis tot huis te preek.—1:1–5:42.

Vertroue in Jehovah se gees stel sy getuies in staat om vervolging te verduur. Nadat die getroue getuie Stefanus dus met klippe doodgegooi is, word Jesus se volgelinge verstrooi, maar dit versprei die woord net verder. Filippus die evangelis is ’n pionier in Samaria. Verbasend genoeg word die gewelddadige vervolger Saulus van Tarsus bekeer. As die apostel Paulus ervaar hy die gloed van vervolging in Damaskus, maar hy spring die Jode se moorddadige planne vry. Paulus vertoef ’n kort rukkie by die apostels in Jerusalem en sit daarna sy bediening voort.—6:1–9:31.

Jehovah se hand is met sy getuies, soos Handelinge verder toon. Petrus wek Dorkas (Tabita) op uit die dood. Hy gee gehoor aan ’n oproep en verkondig die goeie nuus in Cesarea aan Cornelius, sy familie en vriende. Hulle is die eerste nie-Jode wat as Jesus se dissipels gedoop word. Die “sewentig sewetalle” eindig dus, wat ons by 36 G.J. bring (Daniël 9:24). Kort daarna stel Herodes Agrippa I die apostel Jakobus tereg en laat hy Petrus in die gevangenis sit. Maar die apostel word deur ’n engel uit die tronk bevry, en ‘die woord van God groei en neem steeds toe’.—9:32–12:25.

PAULUS SE DRIE SENDINGREISE

Diegene wat hulle, soos Paulus, in God se diens inspan, word geseën. Sy eerste sendingreis begin in Antiochië, Sirië. Op die eiland Ciprus word die goewerneur Sergius Paulus en baie ander gelowiges. By Perge in Pamfilië verlaat Johannes Markus hulle en keer terug na Jerusalem, maar Paulus en Barnabas gaan verder na Antiochië in Pisidië. In Listre hits Jode vervolging aan. Hoewel hy gestenig en vir dood agtergelaat word, herstel Paulus en sit hy sy bediening voort. Hy en Barnabas keer uiteindelik terug na Antiochië in Sirië, waar hulle die eerste reis voltooi.—13:1–14:28.

Soos sy eerste-eeuse eweknie los die hedendaagse Bestuursliggaam vraagstukke op deur die leiding van die heilige gees. Die besnydenis was nie onder die “noodsaaklike dinge”, wat behels het dat hulle hul “onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery” nie (15:28, 29). Wanneer Paulus ’n tweede sendingreis begin, vergesel Silas hom, en Timotheüs sluit hom later by hulle aan. Hulle reageer dadelik op ’n uitnodiging om na Macedonië oor te kom. In Filippi lei die getuieniswerk tot ’n oproer en gevangeskap. Maar Paulus en Silas word deur middel van ’n aardbewing vrygelaat en preek vir die tronkbewaarder en sy huisgesin, en hulle word gedoopte gelowiges.—15:1–16:40.

Jehovah se knegte moet, soos Paulus en die Bereane wat die Skrif ondersoek het, ywerige studente van sy Woord wees. Hy getuig op die Areopagus in Athene oor die feit dat Jehovah die skepper is, en sommige word gelowiges. In Korinthe is daar soveel belangstelling dat hy 18 maande lank in daardie stad bly. Terwyl hy daar is, skryf hy Eerste en Tweede Thessalonicense. Die apostel neem afskeid van Silas en Timotheüs en seil na Efese, daarna gaan hy na Cesarea en reis verder na Jerusalem. Wanneer hy na Siriese Antiochië terugkeer, voltooi hy sy tweede sendingreis.—17:1–18:22.

Soos Paulus toon, is getuieniswerk van huis tot huis ’n noodsaaklike deel van die Christelike bediening. Die apostel se derde reis (52-56 G.J.) volg grotendeels dieselfde roete as sy tweede reis. Paulus se bediening verwek teenstand in Efese, waar hy Eerste Korinthiërs skryf. Tweede Korinthiërs word in Macedonië geskryf, en hy skryf aan die Romeine terwyl hy in Korinthe is. In Milete vergader Paulus met die ouere manne van Efese en vertel hy hoe hy hulle in die openbaar en van huis tot huis onderrig het. Sy derde reis kom tot ’n einde met sy aankoms in Jerusalem.—18:23–21:14.

VERVOLGING IS VERGEEFS

Vervolging lê Jehovah se getroue getuies nie die swye op nie. Wanneer gepeupelgeweld dus teen Paulus losbars by die tempel in Jerusalem getuig hy met vrymoedigheid vir die woedende oproermakers. ’n Plan om hom dood te maak, word in die wiele gery wanneer hy onder militêre geleide na goewerneur Felix in Cesarea gestuur word. Paulus word twee jaar lank gevange gehou terwyl Felix bly hoop op omkoopgeld wat hy nooit kry nie. Sy opvolger, Festus, hoor hoe Paulus hom op die keiser beroep. Voordat hy na Rome gaan, verdedig die apostel homself op treffende wyse voor koning Agrippa.—21:15–26:32.

Jehovah se knegte word nie deur beproewinge afgeskrik nie en hou aan om te preek. Dit is beslis waar in Paulus se geval. As gevolg van sy beroep op die keiser vertrek die apostel omstreeks 58 G.J. saam met Lukas na Rome. By Mira in Licië klim hulle op ’n ander skip oor. Hoewel hulle skipbreuk ly en op die eiland Melite land, neem ’n ander vaartuig hulle later na Italië. Selfs onder militêre bewaking in Rome laat Paulus mense na hom toe kom en verkondig hy die goeie nuus aan hulle. Gedurende sy gevangeskap skryf hy aan die Efesiërs, die Filippense, die Kolossense, Filemon en die Hebreërs.—27:1–28:31.

ALTYD VOORUIT

Die boek Handelinge toon dat die werk wat God se Seun begin het getrou deur Jehovah se eerste-eeuse getuies voortgesit is. Ja, met die krag van God se heilige gees het hulle ywerig getuig.

Omdat Jesus se vroeë volgelinge biddend op God vertrou het, was Sy hand met hulle. Duisende het gevolglik gelowiges geword, en ‘die evangelie is in die ganse mensdom onder die hemel verkondig’ (Kolossense 1:23). Ware Christene het inderdaad destyds en vandag bewys dat hulle ywerige getuies van Jehovah is wat vooruitgaan!

[Venster/Prent op bladsy 25]

CORNELIUS DIE HOOFMAN OOR HONDERD: Cornelius was ’n leëroffisier, of ’n hoofman oor honderd (10:1). ’n Hoofman oor honderd se jaarlikse loon was ongeveer vyf keer meer as dié van ’n infanteris, of ongeveer 1 200 denarii, maar dit kon baie meer wees. Wanneer hy afgetree het, het hy geld of grond as vergunning gekry. Sy militêre drag was kleurryk, van ’n silwerhelm tot ’n kledingstuk wat soos ’n Skotse rokkie gelyk het, ’n fynwolmantel en versierde beenskutte. ’n Hoofman oor honderd se troepe het teoreties uit 100 man bestaan, maar soms was daar net om en by 80. Soldate vir die “Italiaanse leërafdeling” is blykbaar onder Romeinse burgers en vrygemaakte slawe in Italië gewerf.

[Venster/Prent op bladsy 25]

GEBED OP ’N DAK: Petrus was nie vertonerig toe hy alleen op die dak gebid het nie (10:9). ’n Leuning rondom die plat dak het hom waarskynlik uit mense se sig verberg (Deuteronomium 22:8). Die dak was ook ’n plek om te ontspan en om saans van die straat se geraas weg te kom.

[Venster/Prent op bladsy 25]

AANGESIEN VIR GODE IN MENSEGEDAANTE: Paulus se genesing van ’n verlamde man het inwoners van Listre laat dink dat gode as mense verskyn het (14:8-18). Zeus, die vernaamste Griekse god, het ’n tempel in daardie stad gehad, en sy seun Hermes, die boodskapper van die gode, was bekend vir sy welsprekendheid. Aangesien die mense gedink het dat Paulus Mercurius (Hermes) was omdat hy die woordvoerder was, het hulle Barnabas as Jupiter (Zeus) beskou. Dit was gebruiklik om beelde van valse gode met kranse van blomme of van sipres- of denneblare te kroon, maar Paulus en Barnabas het sulke afgodiese behandeling verwerp.

[Venster/Prent op bladsy 25]

DIE TRONKBEWAARDER GLO: Toe ’n aardbewing die tronkdeure laat oopgaan en die boeie van die gevangenes laat losraak het, wou die Filippensiese tronkbewaarder homself om die lewe bring (16:25-27). Waarom? Omdat Romeinse reg bepaal het dat ’n tronkbewaarder die ontsnapte se straf moet ondergaan. Die tronkbewaarder het blykbaar verkies om selfmoord te pleeg eerder as om doodgemartel te word, wat waarskynlik die lot van sommige gevangenes was. Maar hy het die goeie nuus aanvaar, en “hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense”.—16:28-34.

[Venster/Prent op bladsy 26]

’N BEROEP OP DIE KEISER: As ’n Romeinse burger van geboorte af het Paulus die reg gehad om hom op die keiser te beroep en in Rome verhoor te word (25:10-12). ’n Romeinse burger mag nie sonder ’n verhoor geboei, gegesel of gestraf word nie.—16:35-40; 22:22-29; 26:32.

[Erkenning]

Musei Capitolini, Roma

[Venster/Prent op bladsy 26]

TEMPELBEWAARDER VAN ARTEMIS: Die silwersmid Demetrius was ontsteld oor Paulus se prediking en het ’n oproer verwek. Maar Efese se stadsklerk het die skare uitmekaar laat gaan (19:23-40). Die silwersmede het klein silwerbeeldjies gemaak van die heiligste deel van die tempel waarin die beeld van die vrugbaarheidsgodin met die baie borste, Artemis (NW), gehou is. Stede het met mekaar meegeding om die eer om haar ne·o·koʹros, of “tempelbewaarder” te wees.

[Venster/Prent op bladsy 26]

TEENSPOED OP SEE: Toe die skip waarop Paulus was, meegesleep is deur die stormwind wat Euroklidon genoem word, ‘kon hulle met moeite die sleepbootjie onder beheer hou’ (27:15, 16). ’n Skip het kabels gehad waarmee die romp omgord kon word om drukking te verlig wat gedurende storms deur die beweging van die mas daarop geplaas is (27:17). Hierdie matrose het vier ankers uitgegooi en die toue losgemaak wat die stuurspane vashou, waarmee die skip gestuur is (27:29, 40, vgl. NAV). Die skip van Alexandrië het die skeepsmerk “Castor en Pollux”—Seuns van Zeus, wat as beskermgode van matrose beskou is—gehad.—28:11.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel