Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 5/15 bl. 20-23
  • Die ware Christelike godsdiens verbeter die lewenswyse in Swede

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die ware Christelike godsdiens verbeter die lewenswyse in Swede
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Bybelkennis help!
  • ’n Uitkringende effek
  • Getuieniswerk op skool
  • Die stryd om godsdiensvryheid
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 5/15 bl. 20-23

Die ware Christelike godsdiens verbeter die lewenswyse in Swede

SWEDE se bevolking geniet een van die hoogste lewenstandaarde ter wêreld. Benewens volop kos en woonruimte, motors, plesierbote, televisiestelle en persoonlike rekenaars geniet Swede se inwoners feitlik gratis mediese sorg, ouderdoms- en ongeskiktheidspensioene, kindertoelaes en ander staatsondersteunde dienste.

Jy kan derhalwe die gevolgtrekking maak dat niemand die lewensgehalte in so ’n land verder kan verbeter nie. Nogtans het Swede, ondanks al sy materiële voordele, ook sy probleme: egskeiding, alkoholisme, dwelmmisbruik, misdaad en selfmoord. Godsdiens, wat ’n mens sou verwag ’n kragtige sedelike invloed sal uitoefen, is feitlik dood in Swede. Meer as 90 persent van die land se inwoners behoort aan die Lutherse Staatskerk, maar net 2,1 persent woon sy dienste gereeld by. Een priester sê: “Die Kerk het afgetree. . . . Hy het sy lewenskrag verloor en hom van die mense se behoeftes gedissosieer.”

Die kerk se versuim om die lewenswyse in Swede te verbeter, beteken egter glad nie dat die ware Christelike godsdiens misluk het nie. Ongeveer 22 000 van Jehovah se Getuies in 331 gemeentes slaag daarin om mense te help om hulle lewe te verbeter deur Bybelbeginsels toe te pas. Hierdie werk het nie ongemerk gegaan nie.

“Ons moet Jehovah se Getuies bewonder vir hulle ywer om hulle boodskap te verkondig!” sê ’n godsdiensleraar in die landswye Pinksterkoerant Dagen (Die Dag). Die artikel voeg by: “Jehovah se Getuies is die groep wat elke jaar die grootste getal nuwe lede win en het die grootste groep jongmense . . . Ons behoort by Jehovah se Getuies te leer!”

Diegene wat werklik bereid is om by Jehovah se Getuies te leer, sal beslis iets ontdek. Wat is dit? Hoe Bybelwaarhede die gehalte van hulle lewe opvallend kan verbeter.

Bybelkennis help!

Beskou ’n brief wat die plaaslike takkantoor van die Wagtoringgenootskap van ’n jong ongehude moeder ontvang het. Sy het geskryf: “Ek wil my waardering uitspreek vir die goeie lewe wat ek lei sedert ek met Jehovah se Getuies begin studeer het. My huis ruik nie meer na rook nie. Ek het besef hoe belangrik dit is om meer tyd saam met my dogter deur te bring. My finansiële situasie het verbeter, hoewel ek dieselfde salaris het. Ek sukkel nie meer so om te slaap nie. Ek het ook ware vriende wat tot my geluk bydra. Ja, ek sal nie my huidige leefwyse verruil vir die een wat ek voorheen gehad het nie.”

Nog ’n voorbeeld gaan oor die kwessie van egskeiding—wat baie in Swede voorkom. Maar die Bybel het ’n egpaar genaamd Arne en Ketie gehelp. Hulle was 13 jaar getroud en het twee kinders gehad toe persoonlike verskille gemaak het dat hulle skei. Hulle het mekaar gehaat.

Arne, wat weggetrek het en alleen gaan woon het, is deur Jehovah se Getuies besoek en het die Bybel begin studeer. Hy het so opgewonde geraak oor wat hy geleer het dat hy eendag gou na Ketie se huis toe gegaan het en haar en die kinders probeer dwing het om ook te studeer! Toe sy weier, het hy haar teen die muur gegooi en gesê: “Jy studeer, of ek maak jou dood!” Ketie het Jehovah se Getuies gebel en gekla: “Watter wrede soort God is daardie Jehovah?”

Ketie is geduldig meegedeel dat Jehovah ’n liefdevolle God is wat niemand dwing nie. Sy het nuuskierig geword en wou meer leer. Namate Arne meer kennis opgedoen het van goddelike beginsels het hy tot bedaring gekom en weer met Ketie begin praat. Hulle het mekaar gereeld by vergaderinge in die Koninkryksaal gesien. Die gevolg? Nadat albei gedoopte Getuies geword het, het hulle weer met mekaar getrou! Hulle is nou al agt jaar getroud, en Arne dien as ’n gemeentelike ouere man. “Ons huwelik is nou beter as wat dit ooit was”, sê hulle. “Daar is soveel waarvoor ons Jehovah moet dank.”

Bybelwaarhede help ook jongmense om die gehalte van hulle lewe te verbeter. ’n Jong man genaamd David vertel: “My ouers was geskei en dit het gelyk of alles in my lewe verkeerd loop. Niks kon my skeel nie. Ek het dikwels stokkiesgedraai en het in die laaste drie jaar geen huiswerk gedoen nie. Soms het ek gevoel dat dit nie eers die moeite werd is om te lewe nie. Ek het verflenterde jeans en ou skoene gedra. My hare het halfpad teen my rug afgehang. Ek het verskillende lewenstyle probeer, soos dié van punk rock- en hard rock-aanhangers. Ek het gerook en gedrink en by misdaad betrokke geraak.

“In 1986 het een van Jehovah se Getuies my besoek. ‘Nog een van daardie verdagte godsdienstige karakters’, het ek gedink. ‘Ek sal hom ’n paar vrae vra wat hy nie sal kan beantwoord nie.’ Tot my verbasing het hy hulle beantwoord. Ek het saam met hom na een van sy Bybelstudies gegaan en gevind dat hy ’n logiese antwoord op feitlik alles het—dat daar geen gaping in die waarheid was nie. Ek het ’n byeenkoms bygewoon en was verbaas om daardie netjiese, vriendelike mense te sien. Ek het die vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon en was verbaas toe soveel mense na my toe gekom en my hand geskud het. Watter eenheid is daar tog nie onder hierdie mense nie!”

Anderhalf jaar later is David as een van Jehovah se Getuies gedoop. Sy familie, ou vriende, onderwysers en ander kon skaars glo dat hierdie netjies geklede en goed versorgde jong man die David was wat hulle vroeër geken het.

’n Uitkringende effek

Dit kan soms ontmoedigend wees om in Swede van huis tot huis te preek. Die Sweed is baie gesteld op sy privaatheid. Wanneer die deurklokkie lui, kyk hy dalk deur ’n loergaatjie, en baie deure bly toe vir Jehovah se Getuies. Maar hulle verloor nie moed nie. Die Getuies weet dat die engele mense wie se harte na regverdigheid neig, kan vind. (Openbaring 14:6; vergelyk Mattheüs 13:41.) Wanneer die waarheid eers in so ’n persoon se lewe kom, kring dit dikwels uit—soos kringe op die water—na familielede en vriende.

’n Vrou in Stockholm vertel hoe sy by haar kombuistafel gesit en huil het oor die ellende van haar lewe. “Ek was desperaat”, het sy gesê. “Skielik het ek begin bid: ‘God, ek wil met u praat oor die lewe.’ Die deurklokkie het gelui. Ek het deur die loergaatjie ’n goed geklede man gesien en het dus die deur oopgemaak. Hy het gesê dat hy ’n paar bemoedigende gedagtes uit God se Woord met my wil bespreek. Hy was een van Jehovah se Getuies. Ek het gevra of hy die ander mense op my verdieping besoek het. ‘Nee’, het hy gesê, ‘ek was op pad huis toe ná ’n Bybelstudie toe ek besluit het om ’n paar besoeke af te lê. Ek het toevallig hier begin.’ Ek was verstom omdat ek ’n paar verdiepings boontoe gewoon het. Ek het gehou van die dinge wat hy my gewys het.”

Hierdie vrou het die Bybel spoedig begin studeer. Sy het haar familie en vriende geesdriftig vertel van die dinge wat sy geleer het. Sy het 28 Bybels en 96 boeke versprei. Die gevolg? Haar man, twee van haar susters, haar broers- en susterskind, haar swaer, haar vader en moeder, haar man se seun uit ’n vorige huwelik, haar werkmaat en haar man se medewerker en sy vrou het spoedig die Bybel begin studeer en hulle vir doop bekwaam. Tot dusver het 13 mense die geleentheid gehad om die gehalte van hulle lewe te verbeter deur een besoek by ’n huis deur een van Jehovah se Getuies. Hierdie vrou sê: “Omdat ons ons na Jehovah se wil geskik het, het ons lewe soveel verbeter dat ons hom elke dag op ons knieë behoort te dank!”

Getuieniswerk op skool

Daar is ernstige dissiplinêre probleme in talle skole in Swede. Maar jong Getuies oefen ’n positiewe invloed uit deur Bybelwaarhede aan onderwysers en medeleerlinge oor te dra. Jong Jorgen het byvoorbeeld reguit vir sy onderwysers en klasmaats gesê dat hy een van Jehovah se Getuies is. Hy is gerespekteer vir sy openhartigheid en goeie gedrag. Jorgen het selfs uittartende vrae altyd beleef geantwoord en na die Bybel verwys. Dit het ’n diep indruk op sy klasmaats gemaak. Jorgen vertel:

“’n Jaar nadat ek met skool klaar was, het ek Peter, ’n ou klasmaat, ontmoet. Na ’n paar besprekings het ek ’n Bybelstudie met hom begin hou. Omdat sy ma daarteen gekant was, het ons op die strand gestudeer. Peter is in Maart 1988 gedoop. Sy ma het opgemerk dat haar seun ten goede verander het, en sy het dus ook begin studeer. Mettertyd is sy gedoop.

“’n Ander ou klasmaat, Torbjorn, het die Bybel begin studeer. Sy ma ook. Hulle is ook nou gedoop.” Altesaam vier van Jorgen se klasmaats het die Bybel begin studeer, en ’n vyfde het belangstelling uitgespreek. “Ek hoop dat hierdie ondervinding jong Getuies op skool sal aanmoedig om nie terughoudend te wees nie”, sê Jorgen. “Hulle Christelike gedrag en ferm standpunt vir die waarheid saai sade wat dalk later goeie vrugte sal dra.”

Die stryd om godsdiensvryheid

Jehovah se Getuies het ook ’n sleutelrol gespeel om basiese godsdiensvryheid in Swede tot stand te bring. Dit was tot almal se voordeel.

Soos in alle ander lande het Jehovah se Getuies in Swede byvoorbeeld individueel besluit om Christelike neutraliteit te handhaaf (Johannes 17:16). Gevolglik het baie Getuies lang vonnisse in die tronk uitgedien. Maar in 1966 is ’n deurbraak op die gebied van godsdiensvryheid gemaak toe die regering besluit het dat Getuies, hangende individuele ondersoek, nie vir militêre diens opgeroep sal word nie (Jesaja 2:2-4). Swede se godsdiensverdraagsaamheid het as voorbeeld vir ander regerings gedien.

Nog ’n saak het die regte van pasiënte behels. Jehovah se Getuies neem die Bybel se bevel om hulle ‘van bloed te onthou’ ernstig op en weier dus bloedoortappings (Handelinge 15:28, 29). Hoewel nie alle dokters en mediese personeel hierdie skriftuurlike standpunt gerespekteer het nie, het die prominentste mediese tydskrif in Swede onlangs in ’n opskrif aangekondig: “Weiering van bloedoortapping moet gerespekteer word as die pasiënt bewus is van die gevolge.”

Dit was die opskrif in ’n berig oor ’n vergadering van die Nasionale Raad van Gesondheid en Welsyn en die Afvaardiging vir Mediese Etiek van die Sweedse Vereniging van Geneeskunde. Na ’n bespreking van die situasie van Jehovah se Getuies het hierdie instansies besluit om alle dokters aan te spoor om inskiklik te wees wanneer ’n wetlik bevoegde pasiënt—van 15 jaar of ouer—weier om ’n bloedoortapping te aanvaar. Hulle het erken dat bloedoortappings nou nie meer so geredelik toegedien word nie vanweë die risiko dat siektes oorgedra kan word. Maar nog belangriker is die feit dat hulle verligte besluit die grondreg van elke pasiënt om ’n spesifieke vorm van mediese behandeling te weier ondersteun.

Die meeste van Swede se inwoners lei inderdaad materieel ’n goeie lewe. Maar baie moet moreel en geestelik opgebou word. Ware Christene in daardie land help ongetwyfeld almal wat bereid is om God se Woord te leer en toe te pas om hulle lewenswyse te verbeter. Sulke ontvanklike mense geniet ook die vooruitsig op ewige lewe in God se komende nuwe wêreld.—Johannes 17:3; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4.

[Kaart op bladsy 22]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

NOORWEË

SWEDE

FINLAND

USSR

DENEMARKE

WES-DUITSLAND

OOS-DUITSLAND

POLE

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel