Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 6/15 bl. 21-25
  • Verkondig Jehovah se koninkryk met vrymoedigheid!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verkondig Jehovah se koninkryk met vrymoedigheid!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Medegelowiges word opgebou
  • Laat Jehovah se wil geskied
  • Deur ’n skare aangeval maar nie afgeskrik nie
  • Vrymoedigheid voor heersers
  • Gevare op see
  • Hou aan om Jehovah se Koninkryk te verkondig!
  • “Ek beroep my op Caesar!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Wees moedig – Jehovah is jou Helper
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • “Ek wil hê dat die keiser my saak moet verhoor!”
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • “Moenie moed verloor nie!”
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 6/15 bl. 21-25

Verkondig Jehovah se koninkryk met vrymoedigheid!

‘Hy het almal ontvang wat na hom gekom het, terwyl hy die koninkryk van God gepreek het.’—HANDELINGE 28:30, 31.

1, 2. Watter bewys van goddelike ondersteuning het die apostel Paulus gehad, en watter voorbeeld het hy gestel?

JEHOVAH ondersteun Koninkryksverkondigers altyd. Hoe waar was dit tog nie van Paulus nie! Hy het met goddelike ondersteuning voor heersers verskyn, volksoproer verduur en Jehovah se Koninkryk met vrymoedigheid verkondig.

2 Selfs as ’n gevangene in Rome het Paulus “almal ontvang wat na hom gekom het, terwyl hy die koninkryk van God gepreek . . . het” (Handelinge 28:30, 31). Wat ’n goeie voorbeeld vir Jehovah se Getuies vandag! Ons kan baie leer uit Paulus se bediening, wat deur Lukas in die laaste hoofstukke van die Bybelboek Handelinge opgeteken is.—20:1–28:31.

Medegelowiges word opgebou

3. Wat het in Troas gebeur, en hoe vergelyk dit met wat in ons dag gebeur?

3 Nadat die oproer in Efese verby was, het Paulus sy derde sendingreis voortgesit (20:1-12). Maar toe hy na Sirië wou vaar, het hy uitgevind van ’n sameswering teen hom deur die Jode. Aangesien hulle miskien beplan het om aan boord van dieselfde skip as Paulus te gaan en hom dood te maak, het hy deur Macedonië gegaan. Hy het ’n week in Troas deurgebring en medegelowiges opgebou soos reisende opsieners onder Jehovah se Getuies vandag doen. Die aand voor sy vertrek het Paulus sy rede gerek tot middernag toe. Eutichus, wat blykbaar moeg was weens die dag se bedrywighede, het by ’n venster gesit. Hy het aan die slaap geraak en het hom van die derde verdieping af doodgeval, maar Paulus het hom opgewek. Watter vreugde moes dit tog verskaf het! Dink net aan die vreugde wat sal heers wanneer etlike miljoene in die komende nuwe wêreld opgewek word.—Johannes 5:28, 29.

4. Wat het Paulus die ouere manne van Efese aangaande die bediening geleer?

4 Onderweg na Jerusalem het Paulus in Milete met die ouere manne van Efese vergader (20:13-21, vgl. NW). Hy het hulle daaraan herinner dat hy hulle “van huis tot huis” geleer het en dat hy “sowel aan Jode as aan Grieke grondige getuienis afgelê het omtrent berou jeens God en geloof in onse Here Jesus”. Diegene wat uiteindelik ouere manne geword het, het hulle bekeer en het geloof gehad. Die apostel het hulle ook opgelei om die Koninkryk met vrymoedigheid te verkondig aan ongelowiges in ’n bediening van huis tot huis, soos dié van Jehovah se Getuies vandag.

5. (a) Hoe was Paulus voorbeeldig met betrekking tot leiding deur die heilige gees? (b) Waarom het die ouere manne raad nodig gehad om ‘ag te gee op die hele kudde’?

5 Paulus was voorbeeldig wat die aanvaarding van leiding deur God se heilige gees betref (20:22-30). Die apostel sou “gebind deur die Gees”, of met ’n gevoel van verpligting om die leiding daarvan te volg, na Jerusalem gaan, hoewel boeie en verdrukkinge daar op hom gewag het. Hy het die lewe kosbaar geag, maar die handhawing van onkreukbaarheid aan God was vir hom van die allergrootste belang, soos dit vir ons moet wees. Paulus het die ouere manne aangespoor om ‘ag te gee op die hele kudde waaroor die Heilige Gees hulle as opsieners aangestel het’. Na sy “vertrek” (blykbaar wanneer hy sou sterf) sou ‘wrede wolwe die kudde nie spaar nie’. Sulke mense sou uit die ouere manne se eie geledere opstaan, en dissipels met swak onderskeidingsvermoë sou hulle verdraaide leringe aanvaar.—2 Thessalonicense 2:6.

6. (a) Waarom kon Paulus die ouere manne met vertroue aan God toevertrou? (b) Hoe het Paulus die beginsel in Handelinge 20:35 gevolg?

6 Die ouere manne moes geestelik wakker bly om teen afvalligheid te waak (20:31-38). Die apostel het hulle onderrig in die Hebreeuse Skrifte en Jesus se leringe, wat die mag het om hulle te heilig sodat hulle die hemelse Koninkryk, ‘die erfdeel onder al die geheiligdes’, kon ontvang. Paulus het gewerk om hom en sy metgeselle te onderhou en hy het die ouere manne ook aangemoedig om harde werkers te wees (Handelinge 18:1-3; 1 Thessalonicense 2:9). As ons ’n soortgelyke lewenswyse volg en ander help om ewige lewe te verkry, sal ons Jesus se woorde waardeer: “Dit is saliger [“gelukkiger”, NW] om te gee as om te ontvang.” Die strekking van hierdie woorde word in die Evangelies aangetref, maar net Paulus, wat dit miskien deur oorvertelling of deur inspirasie ontvang het, haal dit aan. Ons kan baie geluk smaak as ons soos Paulus self-opofferend is. Hy het hom so ingespan dat sy vertrek die ouere manne in Efese baie hartseer gemaak het!

Laat Jehovah se wil geskied

7. Hoe het Paulus ’n voorbeeld gestel wat onderwerping aan God se wil betref?

7 Toe die einde (ca. 56 G.J.) van Paulus se derde sendingreis genader het, het hy ’n goeie voorbeeld gestel wat onderwerping aan God se wil betref (21:1-14). In Cesarea het hy en sy metgeselle by Filippus gebly, wie se vier ongetroude dogters “die profetiese gawe” besit het om gebeurtenisse deur middel van die heilige gees te voorspel. Daar het die Christenprofeet Agabus sy eie hande en voete met Paulus se gordel vasgebind en is hy deur die gees beweeg om te sê dat Jode die eienaar van die gordel in Jerusalem sou bind en hom in die hande van die nie-Jode sou oorlewer. “Ek is bereid nie alleen om gebind te word nie, maar ook om in Jerusalem te sterwe vir die Naam van die Here Jesus”, het Paulus gesê. Die dissipels het hulle hierby neergelê en gesê (NW): “Laat die wil van Jehovah geskied.”

8. Wat kan ons onthou as ons dit soms moeilik vind om goeie raad te aanvaar?

8 Paulus het die ouere manne in Jerusalem meegedeel wat God deur sy bediening onder die nie-Jode gedoen het (21:15-26). As ons dit ooit moeilik vind om goeie raad te aanvaar, kan ons in gedagte hou hoe Paulus dit aanvaar het. Om te bewys dat hy Jode in heidense lande nie leer om “van Moses afvallig” te word nie, het hy ag geslaan op die ouere manne se raad om hom seremonieel te reinig en die koste vir hom en vier ander manne te betaal. Hoewel die Wet deur Jesus se dood uit die weg geruim is, was dit nie verkeerd dat Paulus aspekte daarvan aangaande geloftes nakom nie.—Romeine 7:12-14.

Deur ’n skare aangeval maar nie afgeskrik nie

9. Watter ooreenkoms is daar tussen Paulus se ondervindinge en dié van Jehovah se hedendaagse Getuies wat skaregeweld betref?

9 Jehovah se Getuies het dikwels onkreukbaarheid teenoor God gehandhaaf in die aangesig van skaregeweld. (Sien byvoorbeeld die 1975 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 180-90.) Jode van Klein-Asië het eweneens die skare teen Paulus opgesweep (21:27-40). Toe hulle Trofimus die Efesiër saam met hom sien, het hulle die apostel valslik daarvan beskuldig dat hy die tempel verontreinig het deur Grieke daarin te neem. Hulle wou Paulus doodmaak, maar die Romeinse owerste oor duisend Claudius Lisias en sy manne het die oproer gedemp! Soos voorspel is, het Lisias (deur die Jode se toedoen) Paulus met kettings laat boei (Handelinge 21:11). Toe hulle die apostel na die soldate se kwartiere langs die tempelhof wou neem, het Lisias uitgevind dat Paulus nie ’n oproermaker is nie, maar ’n Jood wat toegelaat is om in die tempelgebied in te gaan. Paulus het toestemming gekry om te praat en het die mense in Hebreeus toegespreek.

10. Hoe het die Jode in Jerusalem op Paulus se toespraak gereageer, en waarom is hy nie gegesel nie?

10 Paulus het met vrymoedigheid getuig (22:1-30). Hy het homself as ’n Jood geïdentifiseer wat deur hooggeagte Gamaliël onderrig is. Die apostel het verduidelik dat hy onderweg na Damaskus om volgelinge van Die Weg te vervolg, verblind is toe hy die verheerlikte Jesus Christus gesien het, maar Ananias het sy gesig herstel. Later het die Here Paulus meegedeel: “Gaan heen, want Ek sal jou ver wegstuur na die heidene.” Hierdie woorde was soos ’n vonkie in ’n woud. Die skare het geskreeu dat Paulus nie behoort te lewe nie en het in hulle woede hulle klere afgegooi en stof in die lug gewerp. Lisias het Paulus dus na die soldate se kwartiere geneem vir ondervraging deur middel van geseling om uit te vind waarom die Jode teen hom was. ’n Geseling (met ’n toestel waaraan leerrieme met knope of stukkies metaal of been vasgeheg is) is afgewend toe Paulus gevra het: ‘Is dit geoorloof om ’n onveroordeelde Romeinse burger te gesel?’ Toe Lisias uitvind dat Paulus ’n Romeinse burger is, het hy bang geword en hom voor die Sanhedrin gebring om uit te vind waarom die Jode hom beskuldig het.

11. In watter opsig was Paulus ’n Fariseër?

11 Toe Paulus sy verdediging voor die Sanhedrin begin deur te sê dat hy “met ’n volkome goeie gewete voor God gewandel” het, het die hoëpriester Ananias bevel gegee dat hy geslaan word (23:1-10). Paulus het gesê: “God sal u slaan, gewitte muur.” ‘Skel jy die hoëpriester uit?’ het sommige gevra. Omdat hy nie goed kon sien nie, het Paulus Ananias dalk nie herken nie. Maar toe hy sien dat die raad uit Fariseërs en Sadduseërs bestaan het, het Paulus gesê: ‘Ek is ’n Fariseër wat oor die opstandingshoop voor die gereg staan.’ Dit het die Sanhedrin verdeel, want Fariseërs het in die opstanding geglo en Sadduseërs het nie. Daar was so ’n groot getwis dat Lisias tot die apostel se redding moes kom.

12. Hoe het Paulus ’n sameswering om hom in Jerusalem dood te maak vrygespring?

12 Paulus het daarna ’n sameswering om hom dood te maak vrygespring (23:11-35). Veertig Jode het gesweer dat hulle nie sou eet of drink totdat hulle hom doodgemaak het nie. Paulus se susterskind het dit aan hom en aan Lisias vertel. Die apostel is onder militêre geleide na goewerneur Antonius Felix in Cesarea, die Romeinse administratiewe hoofstad van Judea, geneem. Nadat hy Paulus belowe het dat hy verhoor sou word, het Felix hom onder bewaking gehou in die pretoriaanse paleis van Herodes die Grote, die goewerneur se hoofkwartier.

Vrymoedigheid voor heersers

13. Waaroor het Paulus vir Felix getuig, en wat was die gevolge?

13 Die apostel het hom spoedig teen valse aanklagte verdedig en met vrymoedigheid vir Felix getuig (24:1-27). Voor Joodse beskuldigers het Paulus getoon dat hy nie ’n volksopstand verwek het nie. Hy het gesê dat hy die dinge wat in die wet en in die profete geskrywe is, glo en op ‘’n opstanding van regverdiges sowel as onregverdiges’ hoop. Paulus het na Jerusalem gegaan met “aalmoese” (bydraes vir Jesus se volgelinge wie se armoede dalk die gevolg van vervolging was) en is seremonieel gereinig. Hoewel Felix ’n oordeel uitgestel het, het Paulus later vir hom en sy vrou Drusilla (dogter van Herodes Agrippa I) oor Christus, geregtigheid, selfbeheersing en die toekomstige oordeel gepreek. Hierdie woorde het Felix bang gemaak en hy het Paulus laat gaan. Later het hy die apostel egter dikwels laat haal omdat hy tevergeefs gehoop het om omkoopgeld te ontvang. Felix het geweet dat Paulus onskuldig was, maar hy het hom gevange gehou in die hoop dat hy in die Jode se guns sou kom. Twee jaar later is Felix deur Porcius Festus opgevolg.

14. Van watter wetlike voorsiening het Paulus gebruik gemaak toe hy voor Festus verskyn het, en watter ooreenkoms vind jy hierin?

14 Paulus het hom ook met vrymoedigheid voor Festus verdedig (25:1-12). As die apostel die dood verdien het, sou hy nie weier om te sterwe nie, maar niemand kon hom aan die Jode oorlewer om hulle ’n guns te bewys nie. “Ek beroep my op die keiser!” het Paulus gesê, en van die reg van ’n Romeinse burger gebruik gemaak om in Rome (destyds voor Nero) verhoor te word. Omdat die versoek toegestaan is, sou Paulus ‘in Rome getuig’ soos voorspel is (Handelinge 23:11). Jehovah se Getuies maak ook gebruik van voorsienings om ‘die goeie nuus te verdedig en wetlik te bevestig’.—Filippense 1:7, NW.

15. (a) Watter profesie is vervul toe Paulus voor koning Agrippa en die keiser verskyn het? (b) Hoe het Saulus ‘teen die prikkels geskop’?

15 Koning Herodes Agrippa II van noordelike Judea en sy suster Bernice (met wie hy ’n bloedskendige verhouding gehad het) het Paulus aangehoor toe hulle Festus in Cesarea besoek het (25:13–26:23). Deur vir Agrippa en die keiser te getuig, het Paulus die profesie vervul dat hy die Here se naam voor konings sou uitdra (Handelinge 9:15). Paulus het Agrippa vertel wat onderweg na Damaskus gebeur het en dat Jesus gesê het: “Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.” Soos ’n hardkoppige bul homself seermaak deur hom te verset teen die steke van ’n prikkel, so het Saulus homself seergemaak deur teen Jesus se volgelinge, wat God se ondersteuning gehad het, te veg.

16. Hoe het Festus en Agrippa op Paulus se getuienis gereageer?

16 Hoe het Festus en Agrippa gereageer? (26:24-32). Omdat Festus nie die opstanding kon verstaan nie en verbaas was oor Paulus se oortuiging, het hy gesê: “Die groot geleerdheid bring jou tot kranksinnigheid.” Party mense beskuldig Jehovah se Getuies vandag eweneens van kranksinnigheid, hoewel hulle in werklikheid soos Paulus “woorde van waarheid en gesonde verstand” spreek. “Jy beweeg my byna om ’n Christen te word”, het Agrippa gesê, wat die verhoor beëindig het maar erken het dat Paulus losgelaat kon word as hy hom nie op die keiser beroep het nie.

Gevare op see

17. Hoe sal jy die gevare beskryf wat Paulus op see ervaar het gedurende sy reis na Rome?

17 Die reis na Rome het Paulus aan “gevare op see” blootgestel (2 Korinthiërs 11:24-27). ’n Hoofman oor honderd genaamd Julius was aangestel oor die gevangenes wat van Cesarea na Rome gevaar het (27:1-26). Toe hulle skip in Sidon aangekom het, is Paulus toegelaat om gelowiges te besoek, wat hom geestelik verkwik het. (Vergelyk 3 Johannes 14.) By Mira in Klein-Asië het Julius die gevangenes laat oorklim op ’n graanskip wat na Italië onderweg was. Ondanks sterk teenwinde het hulle die hawe Mooi Hawens, naby die Kretensiese stad Lasea, bereik. Nadat hulle daar vertrek het op pad na Fenix het ’n noordoostelike wind die skip meegesleep. Die matrose was bang dat hulle op die Sirtis (dryfsand) van Noord-Afrika te lande sou kom en het “die seile neergehaal”. Die romp is met toue omgord sodat die skip se nate nie sou oopbars nie. Toe hulle die volgende dag steeds deur die storm geteister is, is die skip ligter gemaak deur van die vrag oorboord te gooi. Op die derde dag het hulle die skeepsgereedskap (seile of ekstra gereedskap) weggegooi. Toe hulle amper alle hoop laat vaar het, het ’n engel aan Paulus verskyn en hom meegedeel om nie bevrees te wees nie, want hy sou voor die keiser staan. Wat ’n verligting was dit toe die apostel sê dat al die reisgenote op ’n sekere eiland sou strand!

18. Wat het uiteindelik met Paulus en sy medereisigers gebeur?

18 Die reisigers het dit wel oorlewe (27:27-44). Teen middernag op die 14de dag het die matrose vermoed dat land naby was. Dieptepeilings het dit bevestig, en ankers is uitgegooi om ’n ramp op die rotse te verhoed. Op aansporing van Paulus het al 276 manne geëet. Toe is die skip ligter gemaak deur die koring oorboord te gooi. Teen dagbreek het die matrose die ankers afgekap, die roertoue losgemaak en die voorseil teen die wind opgetrek. Die vaartuig het op ’n sandbank geloop en die agterstewe het in stukke gebreek. Maar almal het die land bereik.

19. Wat het met Paulus op Malta gebeur, en wat het hy daar vir ander gedoen?

19 Papnat en moeg het die skipbreukelinge hulle op Malta (Melite) bevind, waar die eilandbewoners hulle “buitengewone mensliewendheid” bewys het (28:1-16). Toe Paulus hout op ’n vuur sit, het die hitte egter ’n slapende adder laat uitkom wat aan sy hand vasgebyt het. (Daar is nou geen giftige slange op Malta nie, maar hierdie slang was ’n “giftige dier” [NW].) Die Maltese het gedink dat Paulus ’n moordenaar was wat nie deur “goddelike wraak” toegelaat sou word om te lewe nie, maar toe hy nie dood neerval of met inflammasie opswel nie, het hulle gesê dat hy ’n god is. Paulus het later baie mense genees, waaronder die vader van Publius, Malta se hoofamptenaar. Drie maande daarna het Paulus, Lukas en Aristarchus op ’n skip vertrek met die skeepsmerk “Seuns van Zeus” (NW) (Castor en Pollux, tweelinggodhede wat seevaarders glo begunstig het). Toe hulle by Puteoli land, het Julius verder gereis met sy beskermling. Paulus het God gedank en moed geskep toe Christene van die Romeinse hoofstad hulle by die Appius-mark en die Drie Herberge langs die Appiese Weg ontmoet het. Oplaas, in Rome, is Paulus toegelaat om op sy eie te woon, hoewel hy deur ’n soldaat opgepas is.

Hou aan om Jehovah se Koninkryk te verkondig!

20. Waarmee het Paulus hom besig gehou in sy verblyfplek in Rome?

20 In sy verblyfplek in Rome het Paulus Jehovah se Koninkryk met vrymoedigheid verkondig (28:17-31). Hy het vir die vernaamste Jode gesê: “Dit is oor die hoop van Israel dat ek met hierdie ketting geboei is.” Daardie hoop het behels dat hy die Messias aanvaar, iets waarvoor ons ook bereid moet wees om te ly (Filippense 1:29). Hoewel die meeste Jode nie geglo het nie, het baie nie-Jode en ’n Joodse oorblyfsel die regte hartstoestand gehad (Jesaja 6:9, 10). Paulus het twee jaar lank (ca. 59-61 G.J.) almal ontvang wat na hom gekom het, terwyl hy “die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus, met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering”.

21. Watter voorbeeld het Paulus tot aan die einde van sy aardse lewe gestel?

21 Nero het Paulus blykbaar onskuldig bevind en hom vrygelaat. Die apostel het toe sy werk saam met Timotheüs en Titus hervat. Maar hy is weer gevange geneem in Rome (ca. 65 G.J.) en het waarskynlik deur Nero se toedoen ’n marteldood gesterf (2 Timotheüs 4:6-8). Maar Paulus het tot die einde toe ’n goeie voorbeeld gestel as ’n moedige Koninkryksverkondiger. Mag almal wat aan God toegewy is Jehovah se Koninkryk in hierdie laaste dae vrymoediglik met dieselfde gees verkondig!

Hoe sal jy antwoord?

◻ Watter bedieningsopleiding het Paulus die ouere manne van Efese gegee?

◻ Hoe het Paulus ’n voorbeeld van onderwerping aan God se wil gestel?

◻ Watter ooreenkoms is daar tussen Paulus se ondervindinge en dié van Jehovah se hedendaagse Getuies wat skaregeweld betref?

◻ Van watter wetlike voorsiening het Paulus gebruik gemaak toe hy voor goewerneur Festus verskyn het, en watter hedendaagse parallel is daar?

◻ Waarmee het Paulus hom in sy verblyfplek in Rome besig gehou, en watter voorbeeld het hy gestel?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel