Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 3/1 bl. 18-23
  • Volg Jesus se voorbeeld van godvrugtige toegewyheid na

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Volg Jesus se voorbeeld van godvrugtige toegewyheid na
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Seun—net soos sy Vader
  • Beoefen godvrugtige toegewydheid teenoor familielede
  • “Daarvoor het Ek uitgegaan”
  • Voeg by julle volharding godvrugtige toegewydheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Voeg godvrugtige toegewydheid by jou volharding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Streef godvrugtige toegewydheid as gedoopte Christene na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Welkom by die “Godvrugtige Toegewydheid”-Streekbyeenkomste
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 3/1 bl. 18-23

Volg Jesus se voorbeeld van godvrugtige toegewyheid na

“Die heilige geheim van hierdie godvrugtige toegewydheid is, soos algemeen erken word, groot: ‘Hy [Jesus] is openbaar gemaak in die vlees.’”—1 TIMOTHEÜS 3:16, “NW”.

1. (a) Watter vraag het meer as 4 000 jaar lank onbeantwoord gebly? (b) Wanneer en hoe is die antwoord gegee?

DIT was ’n vraag wat meer as 4 000 jaar lank onbeantwoord gebly het. Sedert die eerste mens, Adam, versuim het om onkreukbaarheid te handhaaf, was die vraag: Hoe kan die mens godvrugtige toegewydheid openbaar? In die eerste eeu G.J., toe God se Seun na die aarde gekom het, is die antwoord uiteindelik gegee. Jesus Christus het met elke gedagte, woord en daad bewys gelewer van sy persoonlike gehegtheid aan Jehovah. Sodoende het hy die ‘heilige geheim van godvrugtige toegewydheid’ geopenbaar en vir toegewyde mense getoon hoe hulle sulke toegewydheid kan handhaaf.—1 Timotheüs 3:16, NW.

2. Waarom moet ons noukeurig ag gee op Jesus se voorbeeld terwyl ons godvrugtige toegewydheid nastreef?

2 Dit is verstandig om noukeurig ‘ag te gee’ op Jesus se voorbeeld terwyl ons as toegewyde, gedoopte Christene godvrugtige toegewydheid nastreef (Hebreërs 12:3). Waarom? Om twee redes. Eerstens kan Jesus se voorbeeld ons help om godvrugtige toegewydheid aan te kweek. Jesus het sy Vader beter geken as wat enigiemand anders hom geken het (Johannes 1:18). En Jesus het Jehovah se handelwyse en eienskappe so noukeurig weerspieël dat hy kon sê: “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien” (Johannes 14:9). Deur Jesus se lewe en bediening kan ons dus ’n dieper waardering vir Jehovah se tere eienskappe verkry en sodoende ons persoonlike gehegtheid aan ons liefdevolle Skepper versterk. Tweedens kan Jesus se voorbeeld ons help om godvrugtige toegewydheid te openbaar. Hy was die volmaakte voorbeeld van ’n persoon wie se gedrag godvrugtige toegewydheid geopenbaar het. Dit is dus verstandig om vas te stel hoe ons ons ‘met Christus kan beklee’, dit wil sê, hoe ons hom ons model kan maak, sy voorbeeld kan navolg.—Romeine 13:14.

3. Wat moet deel van ons persoonlike Bybelstudieprogram uitmaak, en waarom?

3 Nie alles wat Jesus gesê en gedoen het, is op skrif bewaar nie (Johannes 21:25). Daarom moet die dinge wat onder goddelike inspirasie neergeskryf is vir ons van besondere belang wees. As deel van ons persoonlike Bybelstudieprogram moet ons dus gereeld die Evangelieverslae oor Jesus se lewe lees. Maar as ons wil hê dat die lees daarvan ons moet help om godvrugtige toegewydheid na te streef, moet ons tyd neem om met waardering na te dink oor wat ons lees. Ons moet ook voortdurend dieper as die oppervlak probeer kyk.

Die Seun—net soos sy Vader

4. (a) Wat toon dat Jesus ’n hartlike en gevoelvolle man was? (b) Hoe het Jesus die inisiatief geneem in sy optrede teenoor ander?

4 Beskou ’n voorbeeld. Jesus was ’n hartlike en gevoelvolle man. Let op hoe Markus 10:1, 10, 13, 17 en 35 toon dat mense van elke ouderdom en van alle agtergronde hom genaakbaar gevind het. By meer as een geleentheid het hy kinders in sy arms geneem (Markus 9:36; 10:16). Waarom het mense, selfs kinders, so op hul gemak by Jesus gevoel? Vanweë sy innige, opregte belangstelling in hulle (Markus 1:40, 41). Dit het geblyk uit die feit dat hy dikwels die inisiatief geneem het om ander te nader wat hulp nodig gehad het. Ons lees dus dat hy die weduwee van Nain, wie se dooie seun hulle besig was om weg te dra, ‘gesien’ het. Hy het toe “nader gegaan” en die seun opgewek, en die verslag sê nêrens dat iemand hom gevra het om dit te doen nie (Lukas 7:13-15). Hy het ook, sonder dat hy gevra is om dit te doen, die inisiatief geneem om ’n gebreklike vrou en ’n man met watersug te genees.—Lukas 13:11-13; 14:1-4.

5. Wat leer hierdie verslae oor Jesus se bediening ons van Jehovah se eienskappe en handelwyse?

5 Wanneer jy oor sulke gebeure lees, moet jy stop en jou afvra: ‘Wat leer hierdie verslae my van Jehovah se eienskappe en handelwyse, aangesien Jesus sy Vader volmaak weerspieël het?’ Hulle behoort ons opnuut te verseker dat Jehovah ’n hartlike en gevoelvolle God is. Die intensiteit van sy blywende belangstelling in die mensdom het hom beweeg om die inisiatief te neem in sy handelinge met hulle. Dit was nie nodig om hom te dwing om sy Seun “as ’n losprys vir baie” te gee nie (Mattheüs 20:28; Johannes 3:16). Hy soek geleenthede om ‘geheg te raak’ aan diegene wat hom uit liefde sal dien (Deuteronomium 10:15, NW). Soos die Bybel sê: “[Jehovah se] oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is.”—2 Kronieke 16:9.

6. Wat is die gevolg as ons nadink oor Jehovah se hartlikheid en diep meegevoel soos toegelig deur sy Seun?

6 As jy op hierdie manier nadink oor Jehovah se hartlikheid en diep meegevoel, soos toegelig deur sy Seun, sal dit jou hart roer en met groter waardering vir Sy liefdevolle en innemende eienskappe vul. Dit weer sal jou na hom toe aantrek. Jy sal beweeg word om hom te alle tye en in alle omstandighede vryelik in gebed te nader (Psalm 65:3). Dit sal jou persoonlike gehegtheid aan hom versterk.

7. Wat moet jy jou afvra nadat jy oor Jehovah se hartlikheid en diep meegevoel gepeins het, en waarom?

7 Hou egter in gedagte dat godvrugtige toegewydheid meer as ’n blote gevoel van vroomheid behels. Soos Bybelkenner R. Lenski sê, “behels [dit] ons hele eerbiedige, vroom gesindheid en die dade wat dit tot gevolg het”. (Ons kursiveer.) Nadat jy gepeins het oor Jehovah se hartlikheid en diep meegevoel soos toegelig deur Jesus, moet jy jou dus afvra: ‘Hoe kan ek meer soos Jehovah word in hierdie opsig? Vind ander my genaakbaar?’ As jy ’n ouer is, moet jy toeganklik wees vir jou kinders. En as jy ’n gemeentelike ouere man is, moet jy beslis toeganklik wees. Wat sal jou dus genaakbaarder maak? Hartlikheid en diep meegevoel. Jy moet innige, opregte belangstelling in ander aankweek. As jy werklik vir ander omgee en gewillig is om in hulle belang te arbei, sal hulle dit aanvoel en hul tot jou aangetrokke voel.

8. (a) Wat moet jy in gedagte hou terwyl jy Bybelverslae oor Jesus lees? (b) Wat leer die verslae wat in die voetnoot aangegee word ons aangaande Jehovah?

8 Wanneer jy Bybelverslae oor Jesus lees, moet jy dus in gedagte hou dat die dinge wat Jesus gesê en gedoen het jou baie oor Jehovah as persoon kan leer.a En wanneer jou waardering vir God se eienskappe, soos weerspieël deur Jesus, jou beweeg om meer soos Hy te probeer word, lewer jy bewys van jou godvrugtige toegewydheid.

Beoefen godvrugtige toegewydheid teenoor familielede

9, 10. (a) Hoe is Jesus se liefde vir en besorgdheid oor sy moeder, Maria, enkele oomblikke voor sy dood geopenbaar? (b) Wat is blykbaar die rede waarom Jesus Maria aan die sorg van die apostel Johannes toevertrou het en nie aan een van sy vleeslike broers nie?

9 Jesus Christus se lewe en bediening toon duidelik hoe godvrugtige toegewydheid aan die dag gelê moet word. ’n Roerende voorbeeld is in Johannes 19:25-27 (vgl. NW) opgeteken, waar ons lees: “En by die [folterpaal] van Jesus het gestaan sy moeder en sy moeder se suster, Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena. En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het [Johannes], by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, dáár is u seun! Daarop sê Hy vir die dissipel: Dáár is jou moeder! En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem.”

10 Dink net! Enkele oomblikke voordat Jesus sy aardse lewe opgeoffer het, het sy liefde en besorgdheid hom beweeg om sy moeder, Maria, (wat blykbaar reeds ’n weduwee was) aan die sorg van die geliefde apostel Johannes toe te vertrou. Maar waarom Johannes en nie een van Jesus se vleeslike broers nie? Omdat Jesus nie net besorg was oor Maria se fisiese, materiële behoeftes nie, maar veral oor haar geestelike welsyn. En die apostel Johannes (wat dalk Jesus se neef was) het reeds bewys gelewer van sy geloof, terwyl daar geen aanduiding is dat Jesus se vleeslike broers al op daardie stadium gelowiges was nie.—Mattheüs 12:46-50; Johannes 7:5.

11. (a) Hoe sê Paulus kan ’n Christen godvrugtige toegewydheid in sy eie huisgesin beoefen? (b) Waarom voorsien die ware Christen in die behoeftes van bejaarde ouers?

11 Hoe was dít ’n blyk van godvrugtige toegewydheid? Die apostel Paulus verduidelik: “Eer weduwees wat werklik weduwees is. Maar indien ’n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle dan eers leer om in hulle eie huisgesin godvrugtige toegewydheid te beoefen en ’n passende vergoeding aan hulle ouers en grootouers te bly betaal, want dit is aangenaam in God se oë” (1 Timotheüs 5:3, 4, NW). As ’n mens jou ouers eer deur materiële hulp te voorsien wanneer dit nodig word, is dit, soos Paulus sê, ’n blyk van godvrugtige toegewydheid. Hoe so? Jehovah, die Insteller van die gesinsreëling, beveel kinders om hulle ouers te eer (Efesiërs 3:14, 15; 6:1-3). Die ware Christen erken dus dat hy nie net liefde teenoor sy ouers toon as hy sulke gesinsverantwoordelikhede nakom nie, maar ook eerbied vir God en gehoorsaamheid aan sy gebooie.—Vergelyk Kolossense 3:20.

12. Hoe kan jy godvrugtige toegewydheid teenoor bejaarde ouers beoefen, en wat moet jou beweegrede wees?

12 Hoe kan jy dan godvrugtige toegewydheid teenoor familielede beoefen? Dit sal ongetwyfeld behels dat jy, soos Jesus, reël dat die geestelike en materiële behoeftes van bejaarde ouers bevredig word. Versuim om dit te doen sal ’n gebrek aan godvrugtige toegewydheid verraai. (Vergelyk 2 Timotheüs 3:2, 3, 5.) Die toegewyde Christen voorsien die nodige vir behoeftige ouers, nie net weens goedhartigheid of omdat dit sy plig is nie, maar omdat hy sy familie liefhet, en hy erken hoe belangrik Jehovah die nakoming van sulke verantwoordelikheid beskou. Die feit dat hy na sy bejaarde ouers omsien, is dus ’n blyk van godvrugtige toegewydheid.b

13. Hoe kan ’n Christenvader godvrugtige toegewydheid teenoor sy gesin beoefen?

13 Godvrugtige toegewydheid kan ook op ander maniere in die huisgesin beoefen word. Byvoorbeeld: ’n Christenvader het die verantwoordelikheid om materieel, emosioneel en geestelik vir sy gesin te voorsien. Daarom voorsien hy nie net in hulle materiële behoeftes nie maar reël hy ook liefdevol vir ’n gereelde gesinsbybelstudie. Hy ruim tyd in om gereeld saam met sy gesin aan die veldbediening deel te neem. Hy is gebalanseerd en besef dat hulle ook rus en ontspanning nodig het. En hy tree verstandig op en bepaal wat voorrang moet geniet, met die gevolg dat hy nie toelaat dat gemeentelike bedrywighede hom sy gesin laat verwaarloos nie (1 Timotheüs 3:5, 12). Waarom doen hy al hierdie dinge? Nie bloot weens pligsbesef nie, maar uit liefde vir sy gesin. Hy besef hoe belangrik dit vir Jehovah is dat ’n mens na jou gesin omsien. Deur sy verantwoordelikheid as man en vader op hierdie wyse na te kom, beoefen hy godvrugtige toegewydheid.

14. Hoe kan ’n Christenvrou godvrugtige toegewydheid in die huisgesin aan die dag lê?

14 Christenvrouens het ook ’n verantwoordelikheid om godvrugtige toegewydheid in die huisgesin te beoefen. Hoe? Die Bybel sê dat ’n vrou “onderdanig” aan haar man moet wees en hom moet “eerbiedig” (Efesiërs 5:22, 33). Selfs al is haar man nie ’n gelowige nie moet sy steeds “onderdanig” aan hom wees (1 Petrus 3:1). Die Christin toon sulke onderdanigheid as vrou deur haar man se besluite te ondersteun, mits dit nie met God se wette bots nie (Handelinge 5:29). En waarom aanvaar sy hierdie rol? Nie net omdat sy haar man liefhet nie, maar veral omdat sy erken dat dit “betaamlik is in die Here”—dit wil sê, dat dit God se reëling vir die gesin is (Kolossense 3:18). Haar gewillige onderdanigheid aan haar man is dus ’n blyk van haar godvrugtige toegewydheid.

“Daarvoor het Ek uitgegaan”

15. Op watter uitnemende manier het Jesus godvrugtige toegewydheid geopenbaar?

15 Een van die uitsonderlike maniere waarop Jesus godvrugtige toegewydheid geopenbaar het, was deur ‘die evangelie van die koninkryk van God te verkondig’ (Lukas 4:43, NAV). Nadat Jesus in 29 G.J. in die Jordaan gedoop is, het hy hom die daaropvolgende drie en ’n half jaar ywerig in hierdie allerbelangrikste werk ingespan. “Daarvoor het Ek uitgegaan”, het hy verduidelik (Markus 1:38; Johannes 18:37). Maar hoe was dit ’n blyk van sy godvrugtige toegewydheid?

16, 17. (a) Wat het Jesus beweeg om ywerig te preek en te onderrig? (b) Waarom was Jesus se bediening, wat uit prediking en onderrigting bestaan het, ’n blyk van sy godvrugtige toegewydheid?

16 Dink weer aan die feit dat godvrugtige toegewydheid beteken dat jy weens jou liefde vir God en jou innige waardering vir sy innemende eienskappe só lewe dat jy hom behaag. Wat was dit dus wat Jesus beweeg het om tydens sy laaste jare op aarde met sulke ywer te preek en te onderrig? ’n Blote pligsbesef of verpligting? Dit ly geen twyfel nie dat hy besorg was oor mense (Mattheüs 9:35, 36). En hy het ten volle besef dat sy salwing met heilige gees hom aangestel en gemagtig het om sy bediening uit te voer (Lukas 4:16-21). Maar sy beweegredes het dieper gestrek.

17 ‘Ek het die Vader lief’, het Jesus die laaste nag van sy aardse lewe vir sy apostels gesê (Johannes 14:31). Daardie liefde is gebaseer op ’n baie diep, intieme kennis van Jehovah se eienskappe (Lukas 10:22). Jesus is gemotiveer deur ’n hart wat deur diep waardering geroer is en het behae daarin geskep om God se wil te doen (Psalm 40:8, NW). Dit was sy “voedsel”—so onontbeerlik vir lewe, so aangenaam (Johannes 4:34). Hy was die volmaakte voorbeeld van ’n persoon wat ‘eers die koninkryk gesoek het’ pleks van sy eie belange eerste te stel (Mattheüs 6:33). Dit was dus nie net wat hy gedoen het of selfs hoeveel hy gedoen het nie maar waarom hy dit gedoen het wat sy bediening, wat uit prediking en onderrigting bestaan het, ’n blyk van sy godvrugtige toegewydheid gemaak het.

18. Waarom is deelname aan die bediening nie noodwendig ’n blyk van godvrugtige toegewydheid nie?

18 Hoe kan ons die “voorbeeld”, Jesus, in hierdie opsig navolg? (1 Petrus 2:21). Almal wat ag slaan op Jesus se uitnodiging: “Kom . . . hier, volg My”, het ’n goddelike opdrag om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig en dissipels te maak (Lukas 18:22; Mattheüs 24:14; 28:19). Beteken dit dat ons godvrugtige toegewydheid nastreef as ons help om die goeie nuus te verkondig? Nie noodwendig nie. As ons traak-my-nieagtig is in die bediening, blote vormdiens lewer of net daaraan deelneem om familielede of ander te behaag, sal dit beswaarlik as ‘’n daad van godvrugtige toegewydheid’ beskou word.—2 Petrus 3:11, NW.

19. (a) Wat moet die vernaamste rede vir ons deelname aan die bediening wees? (b) Wat is die gevolg wanneer ons deur diepgewortelde liefde vir God gemotiveer word?

19 Ons beweegredes moet dieper strek, soos dié van Jesus. Jesus het gesê: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart [die emosies, die begeertes en die gevoelens van die innerlike mens] en met jou hele siel [jou lewe en hele wese] en met jou hele verstand [jou intellektuele vermoëns] en met al jou krag.” Daarop het ’n skerpsinnige skrifgeleerde bygevoeg: “[Dit] is van meer belang as al die brandoffers en ander diereoffers” (Markus 12:30, 33, 34, NAV). Dit is dus nie net wat ons doen wat tel nie, maar ook waarom ons dit doen. ’n Diepgewortelde liefde vir God wat ons hele wese insluit, moet die vernaamste rede vir ons deelname aan die bediening wees. As dit die geval is, sal ons nie met ’n bloot minimale deelname tevrede wees nie maar sal ons beweeg word om die diepte van ons godvrugtige toegewydheid te toon deur ons uiterste bes te doen (2 Timotheüs 2:15). As liefde vir God ons beweegrede is, sal ons ook nie krities wees en ons bediening met ander s’n vergelyk nie.—Galasiërs 6:4.

20. Hoe kan ons ten volle baat vind by Jesus se voorbeeld wat die betoning van godvrugtige toegewydheid betref?

20 Hoe dankbaar kan ons tog wees dat Jehovah die heilige geheim van godvrugtige toegewydheid aan ons geopenbaar het! As ons Jesus se woorde en dade noukeurig bestudeer en hom probeer navolg, sal dit ons help om godvrugtige toegewydheid in groter mate aan te kweek en aan die dag te lê. Jehovah sal ons ryklik seën terwyl ons Jesus se voorbeeld volg om godvrugtige toegewydheid as toegewyde, gedoopte Christene na te streef.—1 Timotheüs 4:7, 8, vgl. NW.

[Voetnote]

a Kyk ook wat die volgende verslae ons van Jehovah leer: Mattheüs 8:2, 3; Markus 14:3-9; Lukas 21:1-4; en Johannes 11:33-36.

b Sien Die Wagtoring, 1 Junie 1987, bladsye 13-18, vir ’n breedvoerige bespreking van wat dit behels om godvrugtige toegewydheid teenoor bejaarde ouers te beoefen.

Onthou jy?

◻ Waarom moet ons ag gee op Jesus se voorbeeld terwyl ons godvrugtige toegewydheid nastreef?

◻ Wat leer die hartlikheid en diep meegevoel wat Jesus weerspieël het ons aangaande Jehovah?

◻ Hoe kan ons godvrugtige toege-wydheid teenoor familielede openbaar?

◻ Wat moet ons beweegrede wees as ons wil hê dat ons bediening ’n blyk van godvrugtige toegewydheid moet wees?

[Prent op bladsy 21]

’n Christenvader het die verantwoorde-likheid om materieel, emosioneel en geestelik vir sy gesin te voorsien

[Prent op bladsy 23]

‘Indien ’n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle ’n passende vergoeding aan hulle ouers en grootouers bly betaal.’

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel