Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 10/1 bl. 27-29
  • ‘As Jehovah die huis nie bou nie . . . ’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘As Jehovah die huis nie bou nie . . . ’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe om die huis te bou
  • Suksesvolle gesinsbou
  • Praktiese opleiding
  • Strewe na gesinsamehorigheid
  • Hoe om ’n geestelike sterk gesin te bou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Dra die verantwoordelikheid van gesinsorg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Die Christengesin doen dinge saam
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Groot gesinne verenig in God se diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 10/1 bl. 27-29

‘As Jehovah die huis nie bou nie . . . ’

ONGEAG waar jy woon, daar is iewers ’n plek wat jy jou huis noem. Woonplekke en boumetodes verskil grootliks. Paal-en-kleihutte, balkhuise, voorafvervaardigde betonhuise—die lys is oneindig. Party voel net so tuis in ’n grashut as ander in ’n stewiger woning. Waarom is dit so?

Of ’n mens op jou gemak en vergenoeg is, hang grotendeels af van die vriende wat jy kies (Spreuke 18:24). Ondanks al die verloklikhede wat die wêreld bied, wend ’n mens jou onwillekeurig huiswaarts as jy vrede en verkwikking soek. En tog, te oordeel na berigte oor hedendaagse gesinslewe, is daar geen waarborg dat ’n mens altyd vrede en verkwikking by die huis sal vind nie. Die mense met wie jy saamwoon—jou gesin—kan in ’n groot mate jou vrede òf deel òf bederf. Wat is dan die geheim as ’n mens ’n gelukkige, vreedsame huis wil opbou?

Hoe om die huis te bou

“As [Jehovah] die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou”, sê die eerste vers van Psalm 127. Persone wat help om geboue vir die aanbidding van die ware God, Jehovah, op te rig, kan vir die waarheid hiervan instaan. Hoewel geskoolde werkers hulle tyd en kragte aanbied vir die vinnige bou van mooi Koninkryksale, is dit Jehovah se seën wat sukses waarborg. Selfs toeskouers kan dikwels sien dat iets buitengewoons aan die werk is. ’n Tydskrif wat oor een so ’n projek in Colchester, Engeland, verslag gedoen het, het byvoorbeeld die titel “Jehovah sit die dak op” gebruik.

Soos in die geval van letterlike bouprojekte hang die sukses van ander werksaamhede ook van Jehovah se seën af. Beskou Salomo se woorde in die derde vers van Psalm 127: “Kyk, seuns is ’n erfdeel van [Jehovah]; die vrug van die moederskoot is ’n beloning.” Jehovah is ook ’n uitmuntende Bouer van gesinne, en ouers het die wonderlike voorreg om sy medewerkers te weesa (Hebreërs 11:10). Hoe kan Christenouers voordeel trek uit hierdie bevoorregte vennootskap en met welslae ’n gelukkige, vreedsame gesin opbou, ’n gesin wat die Skepper, Jehovah God, tot eer strek?

Suksesvolle gesinsbou

’n Wesenselement van suksesvolle bouwerk is ’n goeie argiteksplan, of bloudruk. Vir die bou van jong lowers van God is daar geen beter bloudruk as sy geïnspireerde Woord, die Bybel, nie (2 Timotheüs 3:16, 17). “Lei ’n seun op ooreenkomstig die weg vir hom; ook as hy oud word, sal hy nie daarvan afwyk nie”, het Salomo geskryf (Spreuke 22:6, NW) “Die weg vir hom” is Jehovah se weg, en wanneer ouers dit volg, bied hulle aan hulle kinders die vooruitsig om tot getroue knegte van God te ontwikkel.

’n Goeie gebou vereis goeie boumateriaal. Een besoeker uit Afrika het dit moeilik gevind om te glo dat sommige van die geboue wat hy in Europa gesien het honderde jare oud was. Dit was vir hom ’n openbaring om die duursame materiale te sien wat in daardie geboue gebruik is. Wanneer bouers daarenteen minderwaardige materiale gebruik, is die gevolge dikwels rampspoedig, selfs noodlottig. Dit geld ook vir die grootmaak van kinders.

By bevrugting ontvang kinders ’n genetiese erfenis wat gekenmerk word deur onvolmaaktheid as gevolg van die sonde (Psalm 51:7). Met ander woorde, hulle is van die begin af defek. Christenouers moet dit teenwerk deur duursame, godvrugtige eienskappe in hulle kinders te bou (1 Korinthiërs 3:10-15). As dit nie gedoen word nie, sal die ouers se bouwerk tevergeefs wees, al werk hulle ook hoe hard in ander opsigte, soos om hulle seuns en dogters van die beste kos, klere en onderdak te voorsien.

Dit is waarom die goddelike vermaning aan ouers, veral aan vaders, gegee word: “Voed hulle [die kinders] op in die tug en vermaning van die Here” (Efesiërs 6:4). Die tug en vermaning van Jehovah verg die beste bloudrukke en boumateriale. Dít sal tot ewige voordeel van die hele gesin wees.

Praktiese opleiding

Ten spyte van die sorgvuldigste planne duik daar altyd onverwagte krisisse in die loop van enige bouwerk op. Ouers moet eweneens bedag wees op onverwagte probleme in die daaglikse lewe van gesinslede, en hulle moet voorberei wees om dit die hoof te bied. Hoe moet hulle te werk gaan?

Goeie kommunikasie tussen die twee ouers is noodsaaklik. Wanneer vader en moeder die kinders se vordering biddend bespreek, sal hulle sommige prysenswaardige aspekte vind en ander aspekte waar verdere “bouwerk” nodig is. Wanneer sulke swakhede geïdentifiseer is, kan die ouers saam optree en die nodige korrektiewe stappe doen.

Maar julle het miskien ’n groot gesin en wonder dalk: ‘Hoe kan ons ons pogings aanpas by die individuele behoeftes van ons baie kinders?’ Kan julle nie julle kinders praktiese opleiding gee om mekaar te help nie? Vakleerlinge werk jare lank saam met bedrewe ambagsmanne om vaardighede te bemeester. Miskien kan julle julle tienderjarige kinders tydens die gesinstudie vra om sekere sake aan die jonger kinders te verduidelik. Eerlikheid, die keuse van vriende, hoe om slegte invloede by die skool te weerstaan, ensovoorts, is onderwerpe wat die ouer sowel as die jonger kinders baie goed kan begryp. Deur aan die ouer kinders sulke praktiese opdragte te gee, kan julle hulle help om hulle insig en onderrigvermoë te ontwikkel terwyl hulle die jonger kinders noodsaaklike dinge leer (Hebreërs 5:14). ’n Bykomende voordeel is dat dit ’n hegte verhouding tussen broers en susters bevorder.

Miskien is jou gesin klein, met net een kind. Dan het jy baie geleenthede om jou kind te leer ken en te verstaan. Maar pas op dat jy nie jou kind bederf deur te veel aandag op hom toe te spits nie. Daar is immers drie in die gesin, nie waar nie? Doen dus dinge saam. Dit sal hom leer om met ander te kommunikeer en sy aandag na buite te rig, wat sal voorkom dat hy selfsugtig word.

Strewe na gesinsamehorigheid

Om ’n gesin op te bou, verg natuurlik veel meer as dat ’n Bybelstudie gehou, raad gegee en dissipline toegepas word. Salomo het gesê: “In die geval van ’n mens is daar niks beters as dat hy eet en inderdaad drink en sy siel die goeie laat sien weens sy harde werk nie” (Prediker 2:24, NW). Julle gesin geniet ongetwyfeld kos wat smaaklik voorberei is. Sorg julle dat julle as ’n gesin saam eet? Dit is miskien nie altyd moontlik wanneer verskillende gesinslede by die werk, by die skool of met ander sake besig is nie. Tog is daar gewoonlik ten minste een maaltyd per dag wat julle as ’n gesin saam kan eet. Wat kan help om ’n heilsame atmosfeer om die gesinstafel te skep?

Een broer gebruik die geleentheid om ’n Bybelvraag te opper wat almal kan bespreek. Hy stel natuurlik nie diegene in die verleentheid wat nie die antwoord ken nie. Ander vertel ondervindinge uit die veldbediening. Deur aandag te skenk aan geestelike sake kan maaltye geleenthede word om die hele gesin op te bou. (Kyk Romeine 14:19.) In sommige dele van die wêreld is dit weliswaar nie die gebruik om veel te gesels wanneer daar geëet word nie. Dit is nietemin belangrik om ’n doelbewuste poging aan te wend om ’n gelukkige atmosfeer te behou. Spreuke 15:17 sê: “Liewer ’n porsie groente waar liefde by is, as ’n vetgevoerde bees en haat daarby.”

Ontspanning en ’n verandering van pas het ook ’n plek in Christelike gesinslewe. Verstandige ouers gebruik sulke geleenthede om ’n sterk teokratiese gesin op te bou. Hoe?

Hoewel dit maklik is om die kinders hulle eie gang te laat gaan sodat hulle hulle eie belangstellings kan najaag, is daar gevare hieraan verbonde. Hoe onverstandig is dit byvoorbeeld om toe te laat dat kinders so aktief betrokke raak by sport dat dit vir hulle gevaar, selfs lewensgevaar, inhou! (1 Timotheüs 4:8). Kies sover moontlik bedrywighede waaraan elke lid van die gesin kan deelneem. Die vader kan hulle menings en idees inwin en aan elkeen ’n taak opdra ter voorbereiding.

Kan julle as ’n gesin verruim word in julle liefde deur ander lede van die gemeente te nooi om julle gesinsvreugde te deel? Ouer lede van die gemeente geniet dit dikwels om die gesinsgees te deel, veral as hulle eie gesinne nie naby is of nie volgens Christelike beginsels lewe nie (Jakobus 1:27). In baie gemeentes is daar gesinne met net een ouer. Ouere manne en ander kan, met die nodige agting vir teokratiese hoofskap en gedagtig aan Christelike betaamlikheid, geestelike toevlug bied aan lede van sulke gesinne (Jesaja 32:1). Menige “vaderlose seun” het later ’n gebalanseerde gesinshoof geword danksy die liefdevolle belangstelling wat deur ’n ryp Christenvolwassene getoon is.—Psalm 82:3, NW.

Dit kos harde werk om ’n Christelike huisgesin op te bou. Maar met Jehovah se hulp sal jy waarlik tot die besef kom dat ‘seuns ’n erfdeel van Jehovah is, die vrug van die moederskoot ’n beloning’ (Psalm 127:1, 3). Hulle kan ’n bron van lof wees, nie net vir hulle Christenouers nie, maar ook vir hulle Skepper, Jehovah God.

[Voetnoot]

a Die Hebreeuse woorde vir “die wat daaraan bou” (vers 1) en “seuns” (vers 3) kom vermoedelik albei van die grondwoord wat “om te bou” beteken. Daarbenewens kan die woord “huis” in Hebreeus op òf ’n “woonplek” òf ’n “gesin” sien (2 Samuel 7:11, 16; Miga 1:5). Die bou van ’n huis hou dus verband met die grootmaak van ’n gesin. Jehovah se seën is onontbeerlik in albei ondernemings.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel