Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 2/15 bl. 9-12
  • Groot gesinne verenig in God se diens

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Groot gesinne verenig in God se diens
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Groot gesinne van vandag
  • Ouers moet geestelike mense wees
  • Werk as ’n span saam
  • Goeie kommunikasie, gemeenskaplike doelwitte
  • Vertrou op Jehovah
  • Moet nooit opgee nie!
  • Hoe om ’n geestelike sterk gesin te bou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Hoe om jou kinders groot te maak sodat hulle Jehovah liefhet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Kinders is “’n erfdeel van Jehovah”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Dra die verantwoordelikheid van gesinsorg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 2/15 bl. 9-12

Groot gesinne verenig in God se diens

“Seuns is ’n erfdeel van die here”, het die Psalmis geskryf. “Die vrug van die moederskoot is ’n beloning. soos pyle in die hand van ’n held, so is die seuns van die jeug. gelukkig is die man wat sy pylkoker daarmee gevul het!”—Psalm 127:3-5.

JA, KINDERS kan ’n seëning van Jehovah wees. En net soos ’n boogskutter bevrediging daaruit put om te weet hoe om die pyle in sy pylkoker te rig, so vind ouers geluk wanneer hulle hulle kinders op die weg rig wat na die ewige lewe lei.—Matteus 7:14.

Lank gelede was gesinne wat hulle ‘pylkokers gevul’ het met baie kinders iets algemeens onder God se volk. Dink byvoorbeeld aan hulle jare van gevangenskap in Egipte: “Die kinders van Israel was vrugbaar en het baie geword, en hulle het vermeerder en buitengewoon magtig geword, sodat die land vol was van hulle” (Exodus 1:7). As ’n mens die aantal Israeliete wat Egipte binnegegaan het, vergelyk met die aantal wat die land verlaat het, toon dit dat die gemiddelde gesin tien kinders gehad het!

Later het Jesus in ’n gesin grootgeword wat vandag vir baie dalk groot lyk. Jesus was die eersgeborene, maar Josef en Maria het vier ander seuns en ’n paar dogters gehad (Matteus 13:54-56). Die feit dat hulle soveel kinders gehad het, verduidelik moontlik hoe Maria en Josef van Jerusalem af kon begin terugreis sonder om te besef dat Jesus nie in hulle groep was nie.—Lukas 2:42-46.

Groot gesinne van vandag

Vandag besluit baie Christene om die grootte van hulle gesin te beperk weens geestelike, ekonomiese, maatskaplike en ander redes. Groot gesinne bly nietemin die reël in baie gemeenskappe. Volgens The State of the World’s Children 1997 het Afrika in die gebied suid van die Sahara die hoogste vrugbaarheidsyfer. Daar gee die gemiddelde vrou geboorte aan ses kinders.

Vir Christenouers met groot gesinne is dit nie maklik om hulle kinders groot te maak sodat hulle Jehovah liefhet nie, maar baie van hulle is suksesvol. Sukses hang daarvan af of die gesin in ware aanbidding verenig is. Die apostel Paulus se woorde aan die gemeente in Korinte is nog net so toepaslik vir Christengesinne van vandag. Hy het geskryf: “Ek vermaan julle dan nou, broers, . . . dat julle almal eenstemmig moet spreek en dat daar nie verdeeldhede onder julle moet wees nie, maar dat julle paslik verenig kan wees in dieselfde denke en in dieselfde gedagtegang” (1 Korintiërs 1:10). Hoe kan sulke eenheid verkry word?

Ouers moet geestelike mense wees

’n Sleutelfaktor is dat ouers ten volle toegewy moet wees aan God. Kyk na wat Moses vir die Israeliete gesê het: “Hoor, Israel, die HERE onse God is ’n enige HERE. Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”—Deuteronomium 6:4-7.

Let op dat Moses gesê het dat die gebooie van God ‘in die hart’ van die ouers moes wees. Dan eers sou die ouers geneig wees om hulle kinders gereeld geestelik te onderrig. Trouens, wanneer ouers geestelik sterk is, is hulle gretig om hulle kinders in geestelike sake te onderrig.

As ’n mens ’n geestelike persoon wil word en Jehovah met jou hele hart wil liefhê, is dit noodsaaklik om gereeld God se Woord te lees, daaroor na te dink en dit toe te pas. Die psalmis het geskryf dat die een wat behae skep in die wet van Jehovah en dit “dag en nag” lees, sal word “soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit”.—Psalm 1:2, 3.

Net soos ’n boom goeie vrugte dra as dit gereeld natgemaak word, bring gesinne wat geestelik gevoed word ook godvrugtige vrugte tot lof van Jehovah voort. ’n Goeie voorbeeld is die gesin van Uwadiegwu, wat in Wes-Afrika woon. Hoewel Uwadiegwu en sy vrou agt kinders het, dien albei as gewone pioniers, of voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies. Hy sê: “Ons gesin het al meer as 20 jaar lank ’n gereelde gesinsbybelstudie. Ons het die kinders van kleins af God se Woord geleer, nie net gedurende ons gesinstudie nie, maar ook in die bediening en by ander geleenthede. Al ons kinders is verkondigers van die goeie nuus van die Koninkryk en net die jongste, wat ses jaar oud is, is nog nie gedoop nie.”

Werk as ’n span saam

“Deur wysheid sal ’n huis opgebou word”, sê die Bybel (Spreuke 24:3, NW). In die gesin bring sulke wysheid spanwerk voort. Die “kaptein” van die gesinspan is die vader, wat deur God as die hoof van die huisgesin aangestel is (1 Korintiërs 11:3). Die geïnspireerde apostel Paulus het beklemtoon hoe ernstig die verantwoordelikheid van hoofskap is toe hy geskryf het: “As iemand vir dié wat syne is, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie [materieel sowel as geestelik] sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige.”—1 Timoteus 5:8.

In ooreenstemming met hierdie raad uit God se Woord moet ’n Christenman omsien na die geestelikheid van sy vrou. As vrouens swaar belas is met huiswerk, kan hulle geestelikheid daaronder ly. In ’n Afrikaland het ’n pasgedoopte Christen by die ouer manne in die gemeente gekla dat dit gelyk het of sy vrou nie in geestelike sake belangstel nie. Die ouer manne het voorgestel dat sy vrou praktiese hulp nodig het. Die man het haar dus met die huiswerk begin help. Hy het ook tyd geneem om haar te help om beter te lees en haar kennis van die Bybel te vergroot. Sy het goed gereageer, en nou is die hele gesin in God se diens verenig.

Vaders moet ook besorg wees oor die geestelikheid van hulle kinders. Paulus het geskryf: “Vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Wanneer ouers ag slaan op die vermaning om nie hulle kinders te irriteer nie, sowel as die opdrag gehoorsaam om hulle op te lei, voel die kinders dat hulle deel is van ’n gesinspan. Dan sal kinders mekaar waarskynlik help en aanmoedig om geestelike doelwitte te bereik.

Spanwerk behels dat kinders geestelike verantwoordelikhede gegee word wanneer hulle daarvoor gereed is. Een vader, ’n Christen- ouer man met 11 kinders, staan soggens vroeg op en hou studies met ’n paar van hulle voordat hy werk toe gaan. Nadat die ouer kinders gedoop is, maak hulle beurte om hulle jonger broers en susters te help, wat insluit dat hulle hulle die Bybel leer. Die vader hou toesig en prys hulle vir hulle pogings. Ses van die kinders is gedoop, en die ander streef daardie doelwit na.

Goeie kommunikasie, gemeenskaplike doelwitte

Liefdevolle kommunikasie en gemeenskaplike geestelike doelwitte is noodsaaklik as gesinne verenig wil wees. Gordon, ’n Christen- ouer man wat in Nigerië woon, is die vader van sewe kinders tussen die ouderdomme van 11 en 27. Net soos die ouers is ses van die kinders pioniers. Die jongste kind, wat onlangs gedoop is, neem gereeld saam met die res van die gesin aan die dissipelmaakwerk deel. Die twee volwasse seuns is bedieningsknegte in die gemeente.

Gordon het self met elkeen van sy kinders ’n Bybelstudie gehou. Daarbenewens het die gesin ’n omvattende program van Bybelonderrig. Hulle kom elke oggend bymekaar om ’n Bybelteks te bespreek en berei dan vir die gemeentelike vergaderinge voor.

Een van die doelwitte wat vir elke gesinslid gestel word, is om al die artikels in Die Wagtoring en Ontwaak! te lees. Onlangs het hulle daaglikse Bybellees by hulle roetine gevoeg. Gesinslede moedig mekaar aan om vol te hou met die gewoonte deur te gesels oor wat hulle gelees het.

Die weeklikse gesinsbybelstudie is so goed gevestig dat niemand daaraan herinner moet word nie—almal sien daarna uit. Deur die jare heen het die inhoud, vorm en lengte van die gesinstudie gewissel na gelang van die ouderdomme en behoeftes van die kinders. Die gesin het nader gekom aan ander getroue knegte van God, en dit het ’n voordelige uitwerking op die kinders gehad.

As ’n gesin doen hulle dinge saam en sit hulle tyd opsy vir ontspanning. Een keer per week het hulle ’n “gesinsaand” waartydens hulle vasvraspeletjies speel, smaakvolle grappe vertel, klavier speel, stories vertel en net ontspan. Soms gaan hulle strand toe en na ander besienswaardighede.

Vertrou op Jehovah

Wat ons hierbo bespreek het, maak dit geensins makliker om groot gesinne groot te maak nie. “Dit is ’n geweldige uitdaging om ’n goeie vader vir agt kinders te wees”, sê een Christen. “Hulle het baie materiële en geestelike voedsel nodig; ek moet hard werk om genoeg geld te verdien om hulle te onderhou. Die ouer kinders is in hulle tienerjare en al agt is op skool. Ek weet dat geestelike opleiding noodsaaklik is, maar party van my kinders is koppig en ongehoorsaam. Hulle maak my hartseer, maar ek weet dat ek soms dinge doen wat Jehovah se hart seermaak, en hy vergewe my. Ek moet dus geduldig voortgaan om my kinders reg te help totdat hulle weer by hulle sinne kom.

“Ek probeer Jehovah se voorbeeld volg want hy is geduldig met ons omdat hy wil hê dat almal tot berou moet kom. Ek studeer met my gesin, en party van my kinders streef daarna om gedoop te word. Ek vertrou nie op my eie krag om resultate te verkry nie; met my krag kan ek baie min bereik. Ek probeer deur gebed om al hoe nader aan Jehovah te kom en om die spreuk toe te pas wat sê: ‘Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.’ Jehovah sal my help om my kinders suksesvol op te lei.”—Spreuke 3:5, 6.

Moet nooit opgee nie!

Partykeer lyk dit dalk of die opleiding van kinders ’n ondankbare taak is, maar moet nooit opgee nie! Volhard! As jou kinders nie nóú gunstig reageer op jou pogings of dit waardeer nie, sal hulle dit dalk later doen. Dit neem tyd vir ’n kind om ’n Christen te word wat die vrugte van die gees voortbring.—Galasiërs 5:22, 23.

Monica, wat in Kenia woon, is een van tien kinders. Sy sê: “My ouers het ons van kleins af Bybelwaarheid geleer. My pa het elke week die Christenpublikasies met ons gestudeer. Weens sy werk was die studie nie altyd op dieselfde dag nie. Wanneer hy van die werk af by die huis gekom het, het hy ons soms buite sien speel en vir ons gesê dat ons almal binne vyf minute moet inkom vir ons Bybelstudie. Ná ons Bybelstudie is ons aangemoedig om vrae te vra of enige probleme te bespreek.

“Hy het seker gemaak dat ons met godvrugtige kinders omgegaan het. My pa het gereeld die skool besoek om die onderwysers oor ons gedrag te vra. Gedurende een besoek het hy gehoor dat my drie ouer broers met ander seuns baklei het en dat hulle soms ongeskik was. My pa het hulle gestraf omdat hulle hulle sleg gedra het, maar hy het ook tyd geneem om uit die Skrif te verduidelik waarom hulle hulle op ’n godvrugtige manier moet gedra.

“Ons ouers het ons die voordele van vergaderingbywoning gewys deur vergaderingdele saam met ons voor te berei. Ons is opgelei om bedienaars te wees deur oefensessies by die huis te hê. Ons het ons ouers van kleins af in die veldbediening vergesel.

“Vandag is twee van my ouer broers spesiale pioniers, een suster is ’n gewone pionier en nog ’n suster, wat getroud is en kinders het, is ’n ywerige Getuie. My twee jonger susters, wat 18 en 16 jaar oud is, is gedoopte verkondigers. Die twee jonger seuns word opgelei. Ek dien al drie jaar lank by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Kenia. Ek het my ouers lief en waardeer hulle omdat hulle geestelike mense is; hulle stel vir ons ’n goeie voorbeeld.”

Ongeag hoeveel kinders jy het, jy moet nooit tou opgooi en ophou om hulle op die weg na die ewige lewe te help nie. Namate Jehovah jou pogings seën, sal jy ook voel soos die apostel Johannes oor sy geestelike kinders gevoel het: “Ek het geen groter rede tot dankbaarheid as hierdie dinge nie, dat ek hoor dat my kinders voortgaan om in die waarheid te wandel.”—3 Johannes 4.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel