Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 6/1 bl. 20-23
  • Dra die verantwoordelikheid van gesinsorg

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dra die verantwoordelikheid van gesinsorg
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Materiële en geestelike sorg
  • “As jy in jou huis sit”
  • Wees aanpasbaar en volhard
  • Help “vaderlose” seuns en dogters
  • Hoe om ’n geestelike sterk gesin te bou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Ouers, voorsien in die behoeftes van julle gesin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Leer julle kinders om Jehovah lief te hê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Bestudeer God se Woord gereeld saam as ’n gesin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 6/1 bl. 20-23

Dra die verantwoordelikheid van gesinsorg

“VADERS, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Met hierdie geïnspireerde woorde het die apostel Paulus duidelik die verantwoordelikheid van gesinsorg geplaas waar dit hoort—op die vader.

In die meeste gesinne is die vader nie die enigste een wat sy kinders versorg nie. Sy vrou, die moeder van sy kinders, help graag haar man om die verantwoordelikheid te dra. Koning Salomo het dus gesê: “My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie.”—Spreuke 1:8.

Materiële en geestelike sorg

Ouers wat hulle kinders liefhet, verwaarloos hulle nie willens en wetens nie. Trouens, as Christene dit sou doen, sou dit daarop neerkom dat hulle hulle geloof versaak, soos ons aflei uit Paulus se woorde aan Timoteus: “Ja, as iemand vir dié wat syne is, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige” (1 Timoteus 5:8). Christene besef dat die grootmaak van kinders in “die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” baie meer vereis as om net materieel vir hulle te voorsien.

Let op die vermaning wat Moses die nasie Israel gegee het toe hulle laer op die vlaktes van Moab opgeslaan was, net voordat hulle die Beloofde Land ingegaan het. Daar het hy God se wette aan hulle herhaal en hulle beveel: “Lê dan hierdie woorde van my weg in julle hart en in julle siel” (Deuteronomium 11:18). Vroeër het hy hulle daaraan herinner dat hulle Jehovah met hulle hele hart, siel en al hulle krag moet liefhê en het bygevoeg: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees” (Deuteronomium 6:5, 6). Dit was noodsaaklik vir Israelitiese ouers om die woorde van God se Wet in hulle hart te laat insink. Met harte wat oorloop van waardering vir geestelike dinge kon Israelitiese ouers Moses se volgende woorde prakties toepas: “Jy moet dit [die woorde van God se Wet] jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”—Deuteronomium 6:7; 11:19; vergelyk Matteus 12:34, 35.

Let op dat vaders daardie woorde in hulle kinders moes “inskerp” en daaroor moes “spreek”. Merriam-Webster’s Collegiate Dictionary definieer “inskerp” as “om te onderrig en in te prent deur gereelde herhalings of vermanings”. Wanneer ouers daagliks—in die oggend, middag en aand—oor God se Wet gepraat het, het dit baie vir hulle kinders beteken. Namate die kinders hulle ouers se liefde vir God se Wet aangevoel het, het dit hulle beïnvloed om self ’n hegte verhouding met Jehovah aan te kweek (Deuteronomium 6:24, 25). Dit is interessant dat Moses vaders uitdruklik beveel het om hulle kinders te leer ‘as hulle in hulle huis sit’. Sulke onderrigting was deel van gesinsorg. Maar wat van vandag?

“As jy in jou huis sit”

“Dit is nie maklik nie”, verduidelik Janet, ’n Christenmoeder van vier.a “’n Mens het volharding nodig”, stem haar man, Paul, saam. Soos baie ander Getuie-ouers probeer Paul en Janet ten minste een keer per week die Bybel met hulle kinders studeer. “Ons probeer om ons gesinsbybelbespreking op ’n vasgestelde tyd elke Maandagaand te hou”, verduidelik Paul, maar hy erken: “Dit werk egter nie altyd nie.” As ’n aangestelde ouer man in sy gemeente is hy al by tye weggeroep om na dringende sake om te sien. Sy twee oudste kinders dien as voltydse bedienaars. Hulle vind dat die aand ’n produktiewe tyd is om met mense in die bediening in aanraking te kom. As ’n gesin pas hulle dus die tyd vir hulle gesinstudie aan. “Soms het ons ons studie direk ná ons aandete”, verduidelik Paul.

Hoewel ouers wyslik aanpasbaar is wat die tyd van hulle gesinstudie betref, probeer hulle dit gereeld hou. “As die tyd van ons studie verander moet word”, sê hulle dogter met die naam Clare, “sit my pa altyd die nuwe tyd op die yskasdeur, sodat ons almal weet wanneer dit sal wees.”

Wanneer die gesin bymekaarkom vir die gereelde gesinsbybelstudie bied dit ook ’n goeie geleentheid vir die jonger gesinslede om hulle bekommernisse en probleme met hulle ouers te bespreek. So ’n studie werk goed wanneer dit nie so styf is dat die kinders bloot die antwoorde op die vrae lees uit die Bybelhandboek wat hulle gebruik nie. “Ons gesinstudie is ’n geleentheid om te gesels”, verduidelik Martin wat twee seuns het. “Wanneer ’n mens een keer per week bymekaarkom om ’n skriftuurlike onderwerp te bespreek, vind jy uit hoe jou gesin geestelik vaar”, sê hy. “Allerhande dinge kom uit in die bespreking. Jy vind uit wat op skool aangaan, en selfs interessanter, jy vind uit watter gesindhede jou kinders ontwikkel.” Sy vrou, Sandra, stem saam en voel dat sy ook baie by die gesinstudie baat vind. “Terwyl my man die studie hou”, sê sy, “kom ek baie dinge agter deur te luister na die manier waarop my seuns sy vrae beantwoord.” Dan pas Sandra haar kommentare aan om haar seuns te help. Sy geniet die studie meer omdat sy daadwerklik daartoe bydra. Ja, gesinstudietye bied ouers ’n geleentheid om insig te kry in hulle kinders se denkwyse.—Spreuke 16:23, vgl. NW; 20:5.

Wees aanpasbaar en volhard

Wanneer dit tyd is vir julle gesinstudie sal jy moontlik vind dat een kind wakker is en belangstel, terwyl ’n ander een dalk op ’n liefdevolle manier aangespoor moet word om te konsentreer en baat te vind. Een Christenmoeder sê: “Dit is maar hoe die gesinslewe is! Jy weet wat jy as ’n ouer moet doen. Wanneer jy dus daarmee volhou, help Jehovah jou en seën hy jou pogings.”

Hoe lank ’n kind kan konsentreer, kan grootliks verskil na gelang van sy ouderdom. Die ouer met onderskeidingsvermoë neem dit in aanmerking. Een egpaar het vyf kinders,wie se ouderdomme wissel van ses tot die twintigerjare. Die vader, Michael, sê: “Gee die jongste die kans om die eerste antwoord op die vraag te gee. Laat die ouer kinders dan die besonderhede byvoeg en gedagtes inbring wat hulle voorberei het.” As ouers op hierdie wyse onderskeidingsvermoë aan die dag lê in die manier waarop hulle hulle kinders behandel, stel dit ouers in staat om hulle kinders te leer watter waarde dit het om ander in ag te neem. “Een van ons seuns verstaan miskien die punt”, sê Martin, “terwyl die ander seun baie hulp nodig het om dit te snap. Ek vind dat die studiesessie ’n geleentheid word om te leer hoe om Christelike geduld en die ander vrugte van die gees aan die dag te lê.”—Galasiërs 5:22, 23; Filippense 2:4.

Wees voorbereid daarop om by jou kinders se verskillende vermoëns en vlakke van ontwikkeling aan te pas. Simon en Mark, wat nou tieners is, het toe hulle jonger was, gevind dat hulle dit werklik geniet het om die boek Die grootste mens wat nog geleef het saam met hulle ouers te studeer. “Ons pa het ons verskillende dele laat opvoer net soos in ’n toneelstuk”, sê hulle. Hulle vader onthou hoe hy op sy hande en knieë gegaan het om die gelykenis van die barmhartige Samaritaan saam met sy seuns op te voer (Lukas 10:30-35). “Dit was realisties en groot pret.”

Baie kinders skop teen die roetine van ’n gesinstudie. Moet dit die ouers verhinder om die studie op die beplande tyd te hou? Nee, beslis nie. ‘Sotheid sit vas in die hart van die seun [of dogter]’, erken Spreuke 22:15. Een enkelmoeder het gedink dat sy misluk in haar pogings om ’n gesinstudie te hou omdat die sessie ’n heel paar keer ontwrig is. Maar sy het volhard. Nou het haar kinders groot respek vir haar en waardeer hulle die liefde en besorgdheid wat sy teenoor hulle betoon het deur te volhard en die gesinstudie gereeld te hou.

Help “vaderlose” seuns en dogters

Christen- ouer manne moet ‘as herders toesig hou oor die kudde van God’ (1 Petrus 5:2, 3). Gereelde besoeke by die gesinne in hulle gemeente bied hulle geleenthede om die ouers te prys wat hulle Christelike verantwoordelikhede nakom. Wie se verantwoordelikheid is dit om die kinders van enkelouers te onderrig? Moet nooit vergeet dat die verantwoordelikheid om die kinders te onderrig op die ouer rus nie.

Christelike wysheid sal ouer manne help om gevaarlike situasies te vermy wat kan ontstaan as hulle die rol van die ander ouer probeer inneem. Hoewel twee broers moontlik ’n Christensuster kan besoek wat ’n enkelouer is, sal hulle te alle tye versigtig wees vir wat hulle reël om die gesinstudiereëling te ondersteun. Soms sal ’n uitnodiging aan die kinders (en natuurlik ook die enkelouer) om die ouer man se eie gesinstudie by te woon opbouend en prakties wees. Moet egter nooit vergeet dat Jehovah ons groot hemelse Vader is nie. Hy is beslis teenwoordig om die moeder te lei en te help wanneer sy ’n studie met haar kinders hou, selfs al doen sy dit alleen.

Wat van die situasie waar ’n jong persoon geestelikgesind is, maar sy ouers min of geen besorgdheid oor hulle geestelike verantwoordelikhede toon nie? Jehovah se getroue knegte hoef nooit mismoedig te voel nie. “Aan u [Jehovah God] vertrou die ongelukkige, die vaderlose seun, homself toe”, het die psalmis gesing. “Ú het sy helper geword” (Psalm 10:14, NW). Liefdevolle ouer manne in die gemeente sal andersyds hulle bes doen om die ouers aan te moedig om na hulle kinders om te sien. Hulle kan ’n gesinsbespreking voorstel en dit dan bywoon in ’n poging om praktiese wenke te gee oor hoe om saam te studeer. Hulle sal natuurlik nie die verantwoordelikheid van die ouers wegneem op wie die verantwoordelikheid volgens die Skrif rus nie.

Kinders wie se ouers nie die geloof aanneem nie, het baie ondersteuning nodig. Dit kan nuttig wees om hulle in te sluit by julle gesinstudie as dit hulle ouers se goedkeuring wegdra. Robert, wat nou ’n volwassene met sy eie gesin is, het Christelike vergaderinge saam met sy ouers bygewoon toe hy maar net drie jaar oud was. Hy het goeie herinneringe van daardie vergaderinge gehad selfs nadat sy ouers opgehou het om met die Christengemeente te assosieer. Toe hy tien was, het hy ’n Getuieseun ontmoet wat hom saamgeneem het na die vergaderinge toe. Die Getuieseun se ouers het Robert met graagte as ’n geestelike weeskind onder hulle vlerke geneem en het later ’n studie met hom gehou. Danksy hierdie liefdevolle sorg het hy vinnig vooruitgang gemaak en geniet hy nou die voorreg om as ’n ouer man in die gemeente te dien.

Selfs wanneer ouers die vooruitgang van hulle kinders teëstaan, is die kinders nie alleen nie. Jehovah bly ’n getroue hemelse Vader. “’n Vader van die wese . . . is God in sy heilige woning”, sê Psalm 68:6. Seuns en dogters wat in geestelike sin wese is, weet dat hulle hulle tot hom in gebed kan wend, en hy sal hulle onderskraag (Psalm 55:23; 146:9). Soos ’n moeder kom Jehovah se organisasie ywerig sy verantwoordelikheid na om aangename geestelike maaltye voor te berei wat bedien word deur sy publikasies en by die vergaderinge van die meer as 85000 Christengemeentes regoor die wêreld. Met die geestelike hulp van ons Vader, Jehovah, en sy organisasie wat soos ’n moeder is, sal selfs die ‘vaderloses’ ’n sekere mate van Bybelstudie geniet.

Christenouers wat gereelde gesinsbybelstudies met hulle kinders hou, moet geprys word. Enkelouers wat volhard daarin om hulle kinders in Jehovah se weë op te lei, verdien spesiale aandag en lof vir hulle pogings (Spreuke 22:6). Almal wat besorgdheid toon teenoor kinders wat in geestelike sin vaderloos is, weet dat dit ons hemelse Vader, Jehovah, behaag. Om na ’n gesin se geestelike behoeftes om te sien, is ’n swaar verantwoordelikheid. Maar moet ‘nie ophou nie, want op die regte tyd sal jy maai indien jy nie moeg word nie’.—Galasiërs 6:9.

[Voetnoot]

a Van die name is verander.

[Prent op bladsy 23]

’n Gesinstudie bied ’n goeie geleentheid vir die jonger lede om hulle ouers van hulle bekommernisse te vertel

[Foto-erkenning op bladsy 20]

Harper’s

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel