Guatemalane neem die goeie nuus aan
BLOU berge en reusevulkane verskyn meteens in die verte wanneer die vliegtuig die hoofstad nader. Passasiers aan die een kant kyk deur hulle ruit en sien hoe die vulkaan Pacaya groot rookwolke uitblaas wat ’n stygende kolom vorm en dan in die lug verdwyn. Passasiers aan die ander kant kyk af en sien hoe seil- en roeibote onverstoord die Amatitlán-meer oorsteek. Dit is Guatemala, land van groot kontraste.
Guatemala is in Sentraal-Amerika en beslaan ’n gebied van sowat 109 000 vierkante kilometer. Sy landskap wissel van baie hoë berge—wat 33 vulkane insluit, waarvan 4 aktief is—tot laagliggende oerwoude, reënwoude en kristalhelder mere en riviere. Die hoogte wissel van seevlak tot 4 211 meter. In die hoofstad is daar ewigdurende lente, met ’n gemiddelde temperatuur van 24°C die hele jaar deur. Terwyl die temperatuur hoër in die berge tot onder vriespunt kan daal, kan die kusgebiede smoorwarm wees teen 38°C. Hierdie land bied iets vir iedere smaak, met strande, oerwoude, berge, dorre streke en vrugbare valleie. En in al hierdie gebiede word die goeie nuus van die Koninkryk verkondig.
Koninkryksverkondiging begin
Koninkryksprediking het ongeveer in 1920 in Guatemala begin. Mettertyd het groepies belangstellendes en Koninkryksverkondigers in verskeie dele van die land begin vorm. Toe die eerste twee sendelinge op 21 Mei 1945 daar aangekom het, het hulle baie belangstelling gevind. Een vertel: “Die tweede Saterdag na ons aankoms het ek besluit om straatwerk te doen met die tydskrifte. Daardie aand het ek met my boeketas vol lektuur vertrek, en binne ’n uur en ’n half was dit dolleeg. Ek het 32 tydskrifte, 34 boekies, 4 boeke en een Bybel versprei.” Daardie eerste maand het hulle 17 tuisbybelstudies begin! Die eerste sendelingsuster wat daar aangekom het, is na 44 jaar nog steeds ’n entoesiastiese verkondiger van die goeie nuus van die Koninkryk.
Die gebied waarin ons preek, is vol kontraste. Die hoofstad, Guatemala, het talle moderne, hoë geboue, sowel as eksklusiewe woongebiede met pragtige huise, waar bediendes besoekers deur middel van ’n interkom antwoord. Maar ’n hanetreetjie daarvandaan is modderhutte met grasdakke waar elektrisiteit en lopende water slegs drome is. Met so ’n kleurryke gebied is daar nie so iets soos ’n gewone dag in die velddiens nie.
In onlangse jare word baie deure nie oopgemaak nie omdat beide man en vrou werk. Getuies neem dikwels deel aan straatwerk om vir sulke mense te getuig. Party begin om 5:30 vm. en bied lektuur aan by die woelige bushaltes. ’n Getuie moet fiks wees om by te hou by mense wat hulle haas om ’n bus te haal. Een oggend het ’n groep Getuies besluit om ’n paar taxiryers te nader omdat die drukte by die bushaltes afgeneem het. Tot hulle verbasing het verskeie taxiryers hulle eie nommer van die Wagtoring uitgehaal, wat reeds onderstreep was. Een of twee het vrae gehad, wat die broers met graagte beantwoord het met behulp van die taxiryers se eie Bybels.
Die prediking in die hooglande
Panajachel is een van die dorpies aan die Atitlán-meer, ’n pragtige blougroen meer omring deur majestueuse berge en drie vulkane. Sommige dorpies is na die apostels vernoem. Ongeveer 95 persent van die mense is Maja-afstammelinge, en Cakchiquel en Tzutuhil is twee van die vernaamste tale. Hoewel die mans ook Spaans praat, ken die meeste vroue nie Spaans nie omdat hulle meestal by die huis is. Elke dorpie het sy eie kleurryke tradisionele kleredrag, wat gewoonlik deur die vroue met die hand geweef word.
Jy sal met jou aankoms in Panajachel merk dat dit nie soos ander dorpies in Guatemala is nie. Langs eenvoudige modderhutte sien jy pragtige chalets. Die moderne hotelle vorm ’n selfs groter kontras. Mense van reg oor die wêreld kom na Panajachel om die Atitlán-meer te bewonder.
Een Getuie verduidelik hoe die predikingswerk hier gedoen word: “’n Boot word vooraf vir ’n dag gehuur, en ons broers van naburige Sololá, tesame met besoekers van die stad Guatemala, word genooi om die groot gebied te help dek. Die broers van Sololá is ’n groot hulp, want die meeste van hulle woon in bergagtige terrein soortgelyk aan wat ons sal besoek. Hulle praat ook die plaaslike taal. Die reis begin vroeg in die oggend. Terwyl die boot die meer oorsteek, bewonder die kinders die kristalblou water en oefen die ouers ’n paar woorde in die taal.
“Hierdie keer sal vyf dorpe besoek word. Eers word drie groepe gevorm. Dan word hulle in pare verdeel—diegene wat die taal praat met die wat dit nie praat nie. Daar is net drie klein kaaie waar ons aan wal kan gaan om hierdie dorpe te bereik; ’n groep word dus by elkeen afgesit. Dit is bemoedigend om te sien hoe ons broers met hulle kleurryke inheemse kleredrag langs dié met Westerse kleredrag werk. Dit op sigself is ’n goeie getuienis vir die inwoners. Nuuskierige kinders groet ons gewoonlik. Nadat hulle die doel van ons besoek vasgestel het, hardloop hulle vooruit om al die inwoners te vertel.
“Teen die tyd dat ons die beskeie huise bereik, wag baie mense gretig om ons kleurryke brosjures of My boek met Bybelverhale waarvan die kinders hulle vertel het te sien. Watter Bybellektuur ook al by die eerste huis gelaat is, sal ook by die volgende huise gevra word, want almal wil dieselfde pragtige publikasie hê as wat hulle bure ontvang het. Omdat baie nie kan lees nie, geniet hulle veral die prente van die toekomstige Paradys. Hulle gesigte verhelder wanneer hulle na die hoop vir die toekoms luister wat die Bybel in Openbaring 21:3, 4 belowe. Ons verpoos kortliks vir ’n lekker piekniek-ete en gaan dan tot 3:00 nm. voort om met die mense te gesels. Dan keer ons terug na die kaai om vir die boot te wag om ons op te laai. Wanneer almal aan boord is, deel die broers vreugdevol hulle ondervindinge met mekaar.
“Een suster onthou die blydskap wat sy ervaar het toe sy ’n vrou bokant haar hoor roep het: ‘Suster, Suster, hier is ek. Jy het teruggekom om my te besoek. Dankie, dankie.’ Sy het opgekyk na die volgende terras op die berg en die vrou herken wat opgewonde vir haar gewaai het. Die vorige keer dat sy daardie dorpie besoek het, het die vrou baie belangstelling getoon toe hulle die Bybel saam bespreek het. Die vrou het op die beloofde herbesoek gewag. Hulle het weer ’n aangename Bybelstudie gehad.
“Alhoewel almal uitgeput is omdat hulle ver ente oor rotsagtige terrein moes loop, is hulle gretig om te weet wanneer hulle weer kan gaan. Wanneer die boot die oewer bereik, neem ons afkeid met opmerkings oor die volgende vreugdevolle geleentheid.”
In laagliggende kusstreke
Guatemala het ook twee kontrasterende kuslyne: die Stille Oseaankus met sy skouspelagtige swart strande en die Karibiese kus met sy wit sand.
Daar is ’n groot verandering van omgewing en klimaat wanneer ’n mens vyf-en-veertig minute van die hoofstad na die Stille Oseaan ry. By die kus is dit warm en bedompig, en dit wemel van die insekte. Palm-, kokos- en kapokbome tesame met welige plantegroei is ’n bewys dat jy in die trope is. Daar is groot gemeentes van Jehovah se Getuies in baie van die dorpe in die streek.
Hier het die fiets die perd as tradisionele vervoermiddel vervang, en daarom sien ’n mens dikwels hoe ons broers behendig deur die suikerrietlande ry wanneer hulle van hut tot hut getuig. Een broer het ’n Bybelstudie gehou met ’n man wat 35 kilometer van hom af gewoon het. Elke week het hy daardie afstand twee maal op sy fiets afgelê om hierdie belangstellende persoon Bybelwaarheid te leer.
Jy sal moontlik dink dat jy ’n ander land betree het as jy die twee hawens, Santo Tomas de Castilla en Puerto Barrios, aan die Karibiese kus besoek. Die lewenswyse verskil van dié in die res van Guatemala. Die huise het grasperke en struike wat vir almal sigbaar is; jy sien selde ’n rousteenmuur om ’n eiendom, iets wat ’n kenmerk van Mexiko en Sentraal-Amerika is. Boonop sien jy hier nie die stamdrag wat so algemeen in die res van Guatemala is nie.
“Omdat dit ’n hawestad is, het jy hier die geleentheid om die Bybelboodskap aan alle soorte mense te verduidelik”, het een voltydse bedienaar gesê. “Ek het deur die swaaideure van een kroeg geloop. Die ‘madam’ het die aanbod van ’n boek en Bybel aanvaar, en sy het my genooi om haar te kom leer hoe om dit te bestudeer. Toe ek die volgende week teruggegaan het, het sy by ’n groot tafel met die Bybel en die boek gewag. Sy het met ’n vriendelike gebaar vir my gewys om te sit en gesê dat ek ’n bietjie moet wag terwyl sy al die ‘meisies’ geroep het. Sy wou hê dat hulle ook moet leer. Voor ek my kom kry, was die hele tafel omring deur haar ‘meisies’. Sy het na my gedraai en gesê: ‘Wys ons nou hoe om die Bybel te bestudeer.’ Ek het gedink: ‘Hoe het ek in hierdie penarie beland?’ Maar ek het kalm voortgegaan asof ek altyd die Bybel in ’n kroeg bestudeer.” Die madam het vinnig vordering gemaak. Sy het haar beroep laat vaar en ’n gedoopte Getuie geword. Vandag is sy aktief in ’n ander gemeente en hou self Bybelstudies met belangstellendes.
’n Uur daarvandaan per kano oor die baai is die skilderagtige dorp Livingston, ’n rustige gemeenskap met vriendelike mense wat sterk beïnvloed is deur Afrika-bygeloof en voedoe. Dit is daar nie ongewoon om in die nag die geluid van tromme te hoor en om te sien hoe mense tydens feeste Afrika-danse in die strate uitvoer nie. Jy kom ook agter dat ’n vreemde dialek gepraat word—Caribe, of Garifuna. ’n Klein maar snel toenemende groep Koninkryksverkondigers aldaar voorsien in die geestelike behoeftes van die mense.
Geweld en vervolging teenoor vrede
In 1982 het probleme ontstaan toe die nuwe president van Guatemala probeer het om guerrilla-aktiwiteite te onderdruk wat gedurende die leierskap van sy voorganger stukrag verkry het. Sy strategie was om burgerpatrollies op die been te bring wat uit gewapende burgerlikes bestaan en snags die strate gepatrolleer het. Hulle het die dorpe verdedig en die leër ingelig oor enige verdagte bedrywighede. In baie gebiede was hierdie burgerpatrollies ’n toets vir die neutraliteit van ons broers.
In een dorp is daar op die hele gemeente druk uitgeoefen om hulle Christelike neutraliteit te skend deur patrolliediens te verrig. Nadat hulle met die dood gedreig is, het hulle na die hoofstad gevlug, waar hulle in ’n Koninkryksaal toevlug gevind het totdat die broers hulle kon huisves. Ja, baie broers het swaar toetse en vervolging verduur omdat die leër probeer het om hulle te dwing om te patrolleer.
Een broer vertel: “Ek is 20 jaar oud en woon saam met my broer en sy vrou. My probleme het begin toe die guerrilla- en militêre bedrywighede die plaas bereik het waar ek gewerk het. By een geleentheid het gewapende manne agt mense vlak voor ons oë weggeneem. Net twee het teruggekom; die ander is nooit weer gesien nie.
“In April 1984 het die weermag na die plaas gekom om nuwe rekrute te vind. Hulle het my en my medewerkers gevra om aan te sluit. Nadat ek geweier het, het hulle my onophoudelik begin slaan. My medewerkers het soos kinders gehuil toe hulle dit sien en my gesoebat om die wapen op te neem en aan te sluit. Een soldaat het sy vingers in my nek gesteek en my ore gedraai terwyl ’n ander een my vasgedruk het sodat nog een my kon skop en klap. ’n Offisier het woedend geskreeu: ‘Wat makeer jou? Is jy ’n dier of is jy God?’ Uiteindelik het ’n ander offisier daar aangekom en gesê: ‘Los hom, want dit is hoe die Getuies is. Jy moet hulle doodmaak voor hulle kop gee.’ Die eerste offisier het gesê: ‘Skiet hom!’ Maar in plaas daarvan het hy my in die maag gestamp met sy geweer. Toe hulle oortuig was dat ek nie by hulle sal aansluit nie, het hulle opgehou om my te slaan. Na drie dae het hulle my vrygelaat. Ek het my onkreukbaarheid behou danksy Jehovah se hulp. Daarom sê ek vir ander jongmense dat hulle volle vertroue moet hê in Jehovah, want hy sal ons help om te volhard wanneer ons dit nodig het.” Gelukkig het die omstandighede grootliks verander nadat die nuwe president in Januarie 1986 sy amp aanvaar het.
Weldra sal kontraste soos oorlog en vrede, rykdom en armoede, lewe en dood vir ewig verdwyn. In die toekomstige aardwye Paradys sal aangename kontraste soos nag en dag, berge en dale, dreunende oseane en kalm mere geniet word, ooreenkomstig Jehovah God se voorneme. Jy kan ook daar wees mits jy, soos die meer as tienduisend Koninkryksverkondigers van Guatemala, die goeie nuus heelhartig aanneem.