Vervolging in Burundi—’n Verbroke belofte van godsdiensvryheid!
Godsdiensvryheid word in baie Westerse lande as vanselfsprekend aanvaar. Die godsdiensvervolging wat nou in die Afrikaland Burundi plaasvind, wys egter hoe onseker daardie vryheid kan wees. Om die waarheid te sê, solank die basiese menseregte van enige groep mense vertrap word, is niemand se regte veilig nie. Ons wil ons lesers derhalwe aanspoor om die huidige gebeure in Burundi te ondersoek.
OP 16 FEBRUARIE 1989 het die skaduwee van die duister Middeleeue oor die Afrikaland Burundi geval. Op daardie dag het die president van die Republiek van Burundi, Pierre Buyoya, met die goewerneurs van die provinsies vergader. Direk na daardie vergadering het wrede godsdiensvervolging alom teen Jehovah se Getuies uitgebreek. Mans, vroue en selfs kinders het weldra die slagoffers van onwettige arrestasies, slae, marteling en uithongering geword.
Die feit dat sulke wreedhede in vandag se dae kan plaasvind, is op sigself skandelik. Maar Burundi se vervolging van Christene is veral verfoeilik. Waarom? Omdat dit ’n belofte van godsdiensvryheid skend.
Regeringsverraad
Burundi is ’n afgesonderde Afrikaland wat net suid van die ewenaar geleë is, maar hierdie bergagtige land geniet ’n koel, aangename klimaat. (Kyk kaart.) Voor Augustus 1988 toe Burundi wêreldwyd in die nuus gekom het, was min mense rondom die aarde bewus van sy bestaan. ’n Bloedige geskil het toe tussen die twee vername etniese groepe, die Tutsi en die Hutu, uitgebreek. Dit het ongetwyfeld ’n negatiewe indruk van Burundi by baie gewek.
Daar is nietemin talle goeie dinge wat oor hierdie vooruitstrewende land gesê kan word. Die mense is vlytig en hardwerkend. ’n Artikel in The New York Times Magazine merk verder op dat dit “op verskeie maniere vir ’n besoeker duidelik is dat Burundi, hoe arm ook al, werk. Maurice Gervais, die plaaslike verteenwoordiger van die Wêreldbank, noem dit ‘’n baie hardwerkende land’.”
Burundi se godsdienssituasie bedreig egter hierdie positiewe beskouing. Ongeveer 80 persent beweer dat hulle Christene is, die meerderheid Rooms-Katoliek. Tog het politieke regeringstelsels aldaar ’n verontrustende patroon van onverdraagsaamheid teenoor godsdiens geopenbaar. The Christian Century het op 16 Oktober 1985 berig: “Die regering van Burundi het gedurende die afgelope jaar ’n reeks stappe gedoen wat daarop gemik is om die kerk se bestaan te ondermyn . . . Die reg op openbare en private aanbidding en gebed is drasties ingekort. Al die kerke van party denominasies . . . is gesluit en verbied om te funksioneer; . . . tientalle individuele Christene is opgesluit, party selfs gemartel . . . bloot omdat hulle hul reg op godsdiensbeoefening uitgeoefen het.”
Verwagtinge het dus hoog geloop toe ’n nuwe regering in September 1987 in Burundi onder die leierskap van president Pierre Buyoya aan bewind gekom het. Die nuwe president het sy volk godsdiensvryheid belowe en hy het gou stappe gedoen om sy woord gestand te doen. ’n Verslag deur die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake lui: “President Buyoya het gedurende sy eerste jaar aan bewind ingrypende veranderinge in Burundi se beleid ten opsigte van georganiseerde godsdiens gemaak en die onderdrukking van godsdiensbeoefening onder die [vorige] bewind gestaak. Buyoya het alle godsdiensgevangenes vrygelaat; die geslote kerke heropen; alle gekonfiskeerde kerkeiendom teruggegee.” President Buyoya het met hierdie verligte optrede die agting van vryheidsliefhebbers wêreldwyd verwerf.
Waarom is Jehovah se Getuies dan onlangs as ’n teiken vir godsdiensverdrukking uitgesonder?
Jehovah se Getuies—’n stryd om erkenning
Die Katolieke Kerk het deur die dekades heen “tot ’n magtige ekonomiese en politieke entiteit ontwikkel”, berig The New York Times. In die nasie se koloniale dae is die kerk toegelaat om “die land feitlik te regeer”, aangesien dit “die hoofrol in die voorsiening van gesondheidsorg en onderwys gespeel het”. Dit is dus geen wonder dat die regering moontlik deur georganiseerde godsdiens bedreig gevoel het nie.
Toe Jehovah se Getuies in 1963 hulle openbare evangelisasiewerk in Burundi begin het, het hulle egter geen poging aangewend om in staatsaangeleenthede in te meng nie. Hulle het eerder hulle werk tot die verkondiging van “hierdie evangelie van die koninkryk” beperk (Mattheüs 24:14). Aangesien die Bybel sê dat ware Christene “nie van die wêreld” moet wees nie, het Jehovah se Getuies op politieke gebied neutraal gebly, ’n standpunt wat Getuies wêreldwyd inneem.—Johannes 17:16.
Die Getuies het gewetensgetrou geweier om by politieke partye aan te sluit en politieke partyslagspreuke uit te roep. Regerings het hierdie neutrale standpunt dikwels misverstaan en dit beskou as ’n gebrek aan vaderlandsliefde of selfs as ’n blyk van ondermyning. Maar dit is nie die geval nie. Jehovah se Getuies is wêreldwyd as voorbeeldige, wetsgehoorsame burgers bekend. Hulle neem die Bybel se bevel dat jy jou aan wêreldlike regerings moet “onderwerp” ernstig op (Romeine 13:1). Hoewel hulle nie nasionale embleme soos vlae salueer of op enige wyse vereer nie, bejeën hulle nie sulke embleme met minagting nie.—Exodus 20:4, 5.
Jehovah se Getuies het in 1975 aansoek gedoen om wetlike erkenning van hulle werk. Maar in 1976 is die regering deur ’n militêre staatsgreep onvergewerp en het president Jean-Baptiste Bagaza aan bewind gekom. Hy het godsdiensvryheid belowe. Tog is Jehovah se Getuies in Maart 1977 amptelik verbied! Jehovah se Getuies rondom die wêreld het moeite gedoen om die saak vir lede van die Bagaza-regering op te klaar, maar briewe, besoeke aan die ambassades van Burundi in Frankryk en België, asook vergaderinge met regeringsamptenare in Burundi, was alles tevergeefs. In 1987 is sowat 80 Getuies in Burundi—mans en vroue—maande lank in die tronk opgesluit. Een Getuie het daar gesterf.
Toe het majoor Pierre Buyoya in 1987 deur ’n staatsgreep aan bewind gekom. Katolieke en Protestante het gou baat gevind by sy godsdiensverdraagsaamheid—maar nie die Getuies nie.
Godsdiensvervolging breek uit
Nadat president Buyoya op 16 Februarie 1989 met die goewerneurs van die provinsies vergader het, is daar oor die radio aangekondig dat die toename van Jehovah se Getuies een van die groot probleme is wat Burundi die hoof moet bied. Dadelik het die goewerneurs van binnelandse provinsies met ’n vloedgolf vervolging begin. Hoewel die besonderhede nog onvolledig is, gee die volgende verslae min of meer ’n idee van wat nou daar plaasvind:
Die provinsie Gitega: Goewerneur Yves Minani het opdrag gegee dat die polisie en bevolking gemobiliseer moes word om al Jehovah se Getuies te arresteer. Later het agente van die veiligheidspolisie by die huis van Ntibatamabi Edmond, ’n spesiale pionierevangelis, ingebreek en hom gearresteer. Terwyl hy in opsluiting was, is hy geen kos gegee nie. Hy het talle kere van honger flou geword. Hy is ook gemartel in ’n poging om hom ’n gerug te laat bevestig dat Jehovah se Getuies mensebloed eet—’n venynige leuen!
Na Edmond se arrestasie is Ntikarahera Aaron en Ntimpirangeza Prime, ook Getuies van Jehovah, gearresteer en in Gitega in die tronk gesit. Hulle is net so wreed behandel.
Nijimbere Charlotte, die vrou van ’n kringopsiener—’n reisende bedienaar wat ’n aantal gemeentes besoek—het van haar Christenbroers se toestand gehoor. Sy het probeer om kos na die tronk te neem, maar is op 16 Maart 1989 gearresteer en deur die owerheid as gyselaar aangehou in ’n poging om haar man in die hande te kry.
Die provinsie Muramvya: Goewerneur Antoine Baza het almal wat as Getuies bekend gestaan het, ontbied om met hom te vergader en vrae te beantwoord. Op 4 Maart het ’n groep aan daardie versoek voldoen. Hoewel hulle sy vrae beleef beantwoord het, het hulle geweier om politieke partyslagspreuke uit te roep.
Die goewerneur het in reaksie hierop die plaaslike bevolking aangehits om Jehovah se Getuies aan te val. Die polisie het op 16 Maart die huise van Getuies wat as sodanig bekend gestaan het, binnegegaan en mans en vroue begin slaan omdat hulle geweier het om partyslagspreuke uit te roep. Hulle het beslag gelê op ’n winkel wat aan ’n Getuie behoort het en dit gesluit—die gesin is hulle bestaansmiddel ontneem.
Op 17 Maart is vier vroue geslaan omdat hulle geweier het om hul geloof te verloën. Hulle is in ’n tronksel sonder ventilasie gesit, hoewel een van hulle die moeder van ’n 20 dae oue baba was.
Op 20 Maart het ’n bende, gewapen met stokke en fakkels, by die huise van party Getuie-vroue ingebreek, hulle geslaan en hulle uit hul huise verdryf. Onder die wat aangerand is, was ’n 75-jarige vrou wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer het en ’n aantal kinders onder 14!
Pierre Kibina-Kanwa, die skoolhoof van die primêre skool Nyabihanga, het Getuie-leerlinge probeer dwing om die landsvlag te salueer. Toe hy dit nie kon regkry nie, het hy hulle uit die skool gesit. Twee-en-twintig Getuies van daardie dorp was genoodsaak om te vlug en moes al hulle besittings agterlaat. Ndayisenga Leonidas, Kanyambo Leanard, Ntahorwamamiye Abednego, Bankangumurindi P., Kashi Grégoire en Mbonihankuye Thadée was onder die wat gearresteer is.
Die provinsie Bujumbura: Die administrateur van die Muhuta-distrik, Nahimana Macaire, het Kavunzo Vincent, Ndabazaniye Sylvestre en Ndizwe-Nzaniye—almal Getuies—na ’n vergadering ontbied. Daar het hy hulle daarvan beskuldig dat hulle by ’n etniese botsing in Augustus 1988 betrokke was. Hoewel Jehovah se Getuies duidelik nie daarby betrokke was nie, het slae en arrestasies gevolg.
Die provinsie Bubanza: Twee Getuies is gearresteer net omdat hulle Bybellektuur besit het. Toe hulle geweier het om die partysaluut te gee, het goewerneur Kimbusa Balthazar hulle na ’n militêre kamp gestuur. Daar het die soldate hulle gemartel deur hulle vingers te vergruis.
Wat jy kan doen
Die meeste van hierdie mishandelinge het in die binneland plaasgevind, weg van die oë van buitelandse waarnemers. Maar meer as 13 miljoen eksemplare van dié artikel sal wêreldwyd in 106 tale versprei word. Burundi se wreedhede sal nie langer ’n geheim wees nie. Vryheidsliefhebbers sal geskok wees dat sulke skreiende skendings van menseregte plaasvind—regte waarvoor duisende inwoners van Afrika gestry het.
Burundi waag dus baie deur nie sy belofte van godsdiensvryheid na te kom nie. Sy reputasie as ’n progressiewe, hardwerkende nasie waaraan hy so hard gewerk het, staan op die spel. Wil Burundi beskou word as ’n nasie van fanatiese godsdiensvervolgers? Ons dink nie so nie. Ons kan slegs aanneem dat president Buyoya se adviseurs hom heeltemal verkeerd ingelig het, hom mislei het.
Die aantygings wat teen Jehovah se Getuies gemaak is, is onsinnige leuens wat bedoel is om redelose woede aan te vuur. Jehovah se Getuies is geensins ’n bedreiging vir die sekuriteit van die regering van Burundi of enige ander nasie nie. Hulle is vredeliewend en wetsgehoorsaam, eerbiedig teenoor nasionale embleme. In teenstelling met gerugte weier hulle volstrek om bloed in enige vorm in te neem—selfs wanneer hulle lewens in gevaar is.—Handelinge 15:28, 29.
Ware Christene rondom die wêreld sal dus eensgesind vir hulle broers in Burundi bid (1 Timotheüs 2:1, 2). Baie lesers sal ook beweeg word om direk aan president Pierre Buyoya te skryf en beleef te versoek dat die godsdiensvervolging gestaak word en dat Jehovah se Getuies amptelike erkenning as ’n gevestigde godsdiens ontvang. Burundi moet na rede luister as hy sy naam in die oë van die wêreld in ere wil herstel.
His Excellency Major Pierre Buyoya
President of the Republic of Burundi
Bujumbura
REPUBLIC OF BURUNDI
[Kaarte op bladsy 22]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
RWANDA
ZAÏRE
BURUNDI
TANZANIË
TANGANJIKA—MEER