‘Gedra julle op ’n manier wat die goeie nuus waardig is’
“Alleen, gedra julle op ’n manier wat die goeie nuus van Christus waardig is.”—FILIPPENSE 1:27, “NW”.
1. ’n Onlangse gebeurtenis in die stad New York het watter gunstige kommentare van die burgemeester uitgelok? (Romeine 13:3)
VOLGENS ’n berig in The New York Times het “meer as 1 000 Getuies” op 29 September 1988 na die Stadsaal in Lower-Manhattan gekom. Hulle het gekom om ’n bouaansoek te ondersteun wat deur die stad se Raad vir Konsepraming verhoor sou word. Hoewel die aansoek om toestemming vir ’n nuwe woongebou by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies geweier is, het die burgemeester “die Getuies geprys as ‘uiters netjies’ en gesê dat hulle ‘werklik bewonder moet word’”.
2. In watter opsig is die Getuies se maniere anders, en waarom?
2 Wat kan gewoonlik verwag word wanneer meer as duisend mense byeenkom om ’n ongewilde saak te ondersteun? ’n Gestamp, geskreeu en selfs openlike geweld is nie ongewoon nie. Waarom is die Getuies anders? Dit is omdat hulle besef dat hulle gedrag te alle tye hulle oortuiging weerspieël. Hulle onthou die skriftuurlike raad: “Hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.”—1 Petrus 2:12.
Goeie maniere verheerlik Jehovah
3. Watter rol speel ons maniere wat die verheerliking van Jehovah betref?
3 Dit is ongetwyfeld ’n deel van ons Christelike verantwoordelikheid om Jehovah God deur goeie gedrag te verheerlik (Mattheüs 5:16). Goeie gedrag sluit natuurlik baie dinge in—byvoorbeeld eerlikheid, vlyt en goeie sedes. Maar hierdie eienskappe word gewoonlik net deur diegene waardeer wat ons goed ken of deur diegene met wie ons gereeld te doen kry, soos ons vriende, familielede, werkgewers, medewerkers en onderwysers. Wat van die meeste ander mense, met wie ons net terloops in aanraking kom? Dit is waar ons maniere veral belangrik is. Want soos ’n mooi verpakking wat ’n waardevolle geskenk aantrekliker maak, maak goeie maniere iets wat ons aanbied aantrekliker. Al het ons ook ander goeie Christelike eienskappe of al is ons bedoelings ook hoe bewonderenswaardig sal dit min help as ons maniere sleg is. Hoe kan ons maniere Jehovah dan verheerlik?
4. In watter aspekte van die lewe moet ons op ons maniere ag slaan?
4 “Gedra julle net op ’n manier wat die goeie nuus . . . waardig is”, sê Paulus (Filippense 1:27, NW). Ons openbare bediening is natuurlik hierby betrokke. Maar ons gedrag en maniere by ons plek van aanbidding, in ons buurt, by die werk, op skool, ja, in elke aspek van ons lewe, hou ook regstreeks verband met die doeltreffendheid van ons bediening. “Ons lê nie die minste hindernis in die weg nie, sodat die bediening nie beklad mag word nie”, skryf Paulus (2 Korinthiërs 6:3). Hoe kan ons seker wees dat ons daardie raad toepas? Wat kan ons doen om mekaar, veral die kinders in ons midde, te help om te alle tye Christelike maniere aan die dag te lê?
By die Koninkryksaal
5. Wat moet ons besef wanneer ons by die Koninkryksaal is?
5 Die Koninkryksaal is ons plek van aanbidding. Ons is daar op uitnodiging van Jehovah en sy Seun, Jesus Christus. In daardie sin is ons gaste in Jehovah se huis (Psalm 15:1; Mattheüs 18:20). Is jy ’n goeie gas wanneer jy na die Koninkryksaal kom? Om ’n goeie gas te wees, moet ons die gepaste bedagsaamheid en respek toon, nie net teenoor die gasheer nie, maar ook teenoor die ander gaste. Wat behels dit?
6. (a) Voortdurende laatkommery by vergaderinge toon ’n gebrek waaraan? (b) Wat kan gedoen word om die probleem te bowe te kom?
6 Vir eers is daar die kwessie van stiptheid. Dit is weliswaar nie altyd maklik om betyds te wees nie. Party woon ver weg; ander het ’n gesin en kinders wat hulle moet klaarmaak. Hulle inspanning om Christelike vergaderinge gereeld by te woon, is waarlik prysenswaardig. Maar daar is opgemerk dat party ’n gewoonte daarvan maak om laat by die vergaderinge aan te kom. Wat kan hulle doen om dit reg te stel? ’n Mens moet eerstens besef dat herhaaldelike laatkommery by Christelike vergaderinge nie altyd ’n gebrek aan waardering vir die waarde van vergaderinge weerspieël nie. Party wat dikwels laat is, geniet die vergaderinge blykbaar net soveel soos enigiemand anders—wanneer hulle uiteindelik daar is. Die probleem is dalk eerder die gevolg van swak beplanning en ’n gebrek aan bedagsaamheid teenoor mede-Christene. Een van die redes waarom ons vermaan word om ‘nie ons onderlinge byeenkoms te versuim nie’, is sodat ons “op mekaar [kan] ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor” (Hebreërs 10:24, 25). Ons kan dit nie doen as ons herhaaldelik laat is en sodoende mense se aandag aftrek of hulle steur nie. Kenners doen aan die hand dat ons, as ons nie laat wil wees nie, moet probeer om vroeg aan te kom eerder as om net-net betyds te wees. Moet jy hierdie wenk toepas?
7. Verduidelik hoe noulettende aandag by vergaderinge met goeie maniere verband hou.
7 Goeie maniere vereis dat ons aandagtig luister wanneer mense met ons praat (Spreuke 4:1, 20). Dit geld ook vir Christelike vergaderinge, waar bedienaars van God ons toespreek sodat hulle ons ’n geestelike gawe kan gee om ons op te bou. Ons sou werklik baie ongemanierd wees as ons gedurende die vergadering indut, herhaaldelik fluister vir die een wat langs ons sit, kougom of lekkers kou, ander leesstof lees of na ander sake omsien. Jong Elihu het nie net geduldig gesit terwyl Job en die drie metgeselle lang toesprake gehou het nie, maar het ook ‘geluister’ na wat hulle gesê het en ‘op hulle ag gegee’ (Job 32:11, 12). Goeie Christelike maniere sal ons beweeg om behoorlike respek vir die spreker en sy Bybelboodskap te toon deur hom ons onverdeelde aandag en ondersteuning te gee.
8. Hoe toon ons dat ons mededissipels van Jesus Christus is?
8 Christelike maniere behels ook dat ons voor en na die vergaderinge daadwerklike belangstelling toon in ander wat by die Koninkryksaal teenwoordig is. Paulus het gesê dat gesalfde lede van die Christengemeente “nie meer vreemdelinge en bywoners [is] nie, maar . . . huisgenote van God” (Efesiërs 2:19). Behandel jy jou mede-Getuies as vreemdelinge en bywoners of as huisgenote? ’n Vriendelike groet, ’n hartlike handdruk, ’n liefdevolle glimlag—dit is nou wel alles klein dingetjies, maar dit is ’n deel van die bewys dat ons mededissipels van Jesus Christus is. Moet ons nie, as ons so optree wanneer ons vreemdelinge ontmoet, dit “die meeste aan die huisgenote van die geloof” doen nie?—Galasiërs 6:10.
9. Hoe kan kinders geleer word om belangstelling te toon in persone buite hulle eie ouderdomsgroep?
9 Kan kinders geleer word om sulke belangstelling in mense buite hulle eie ouderdomsgroep te toon? Party volwassenes meen dalk dat kinders saam met hulle maatjies moet gaan speel nadat hulle ’n uur of twee by die vergadering gesit en luister het. Maar die Koninkryksaal is nie ’n speelplek nie (Prediker 3:1, 17). Toe ’n onderwyser ’n vier-en-’n-halfjarige seuntjie gevra het hoeveel broers en susters hy het, het hy geantwoord: “Daar is so baie dat ek hulle nie almal kan tel nie.” Later, toe sy ouers hom hieroor uitgevra het, het die seuntjie verduidelik: “Ek weet nie hoeveel broers en susters ek het nie. Wanneer ek na die Koninkryksaal toe gaan, is daar so baie.” Vir hom is alle aanwesiges sy broers en susters.
In ons openbare bediening
10. Watter opdrag van Jesus kan ons help om ons te ‘gedra op ’n manier wat die goeie nuus waardig is’ terwyl ons ons bediening uitvoer?
10 Gedrag wat ‘die goeie nuus waardig is’, het natuurlik ook betrekking op ons openbare bediening. Ons moet in gedagte hou dat ons ’n vreedsame boodskap bring, en ons maniere moet dit weerspieël (Efesiërs 6:15). Jesus se opdrag is: “As julle die huis ingaan, groet dit; en as die huis dit waardig is, laat julle vrede daarop kom.” Deur hartlik, vriendelik en eerbiedig te wees, wys ons vir die huisbewoner dat ons sy ware belange op die hart dra. Maar soms is die persoon wat die deur oopmaak onvriendelik, selfs aggressief. Sal ons ontsteld wees en ook so begin optree? Let op wat Jesus voorts gesê het: “Maar as [die huis] nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer” (Mattheüs 10:12, 13). Ons maniere by die deur moet altyd by “die bediening van die versoening” pas.—2 Korinthiërs 5:18.
11. Hoe raak ons kleredrag en voorkoms ons rol as bedienaars van God?
11 Ons maniere getuig ook in ander opsigte van ons. Pas ons voorkoms byvoorbeeld by ons rol as ’n bedienaar van God se Woord? Wat van die toerusting wat ons gebruik—boeketas, Bybel en Bybellektuur? ’n Koerantrubriekskrywer gee sakemanne hierdie raad: “Trek aan vir sake, nie vir ’n partytjie, informele geselligheid of sportbyeenkoms nie.” Waarom? Omdat jou kleredrag en voorkoms “maatskaplike snelskrif is wat vir omstanders inligting gee oor wie en wat jy is en waar jy in die samelewing inpas”. Wanneer ons dus werksaam is in ons bediening, ons “sake”, moet ons kleredrag en voorkoms nie slordig of uitspattig, nie opsigtig of oordadig wees nie, maar altyd só dat dit ‘die goeie nuus waardig is’.—Vergelyk 1 Timotheüs 2:9, 10.
12. Hoe kan ons goeie maniere aan die dag lê wat die regte en besittings van die huisbewoner betref?
12 Hoewel ons ‘altyd bereid moet wees om verantwoording te doen’ van die goeie nuus vereis goeie Christelike maniere dat ons dit “met sagmoedigheid en vrees [“diepe eerbied”, NW] doen” (1 Petrus 3:15). Dit sluit respek vir die huisbewoner se regte en besittings in. Beplan ons ons bedrywigheid sodat ons hom op ’n redelike tyd besoek? Is ons wakker om op te let of ons ’n noodsaaklike werk onderbreek? Gebruik ons dikwels woorde soos “Mag ek?”, “Asseblief” en “Dankie”? Probeer ons om die huisbewoner by die gesprek te betrek, of oorheers ons dit omdat ons bang is dat ons nie alles sal kan sê wat ons voorberei het nie?
13. Lig toe hoe goeie maniere in die bediening dikwels goeie resultate lewer.
13 Goeie maniere, tesame met opregte, persoonlike besorgdheid, baan dikwels die weg vir ’n goeie getuienis. Dit is waarom goed gemanierde kinders dikwels die aandag van huisbewoners geniet en hulle belangstelling prikkel al kan volwassenes dit dalk nie regkry nie. ’n Dertienjarige Getuie in Mexiko het ’n jong meisie ontmoet wat ’n Bybelstudie wou hê. Maar die meisie het gesê dat sy dit sonder haar pa se medewete sou moes doen. Die jong verkondiger het egter gemeen dat sy, in hierdie geval uit respek vir die pa, self sy toestemming moet verkry. Sy het dus aangebied om met die pa te praat en het vir hom gesê dat wat hulle gaan studeer baie belangrik is. Toe hy sien hoe ernstig die jong suster is en uit waardering vir die feit dat sy direk na hom toe gekom het, het hy gesê: “As wat julle gaan studeer so belangrik is, moet my hele gesin studeer.” Die resultaat was dat hierdie 13-jarige ’n Bybelstudie met die hele gesin, met inbegrip van ’n getroude seun en sy vrou en ander volwasse kinders, begin het.
Goeie maniere begin tuis
14. Waar begin goeie maniere, en watter faktor speel ’n belangrike rol?
14 Die goeie maniere van jong Getuies is dikwels ’n goeie getuienis van die opleiding wat hulle tuis ontvang. Ons maniere is inderdaad ’n weerspieëling van ons lewenswyse. Daarom behoort goeie maniere, in teenstelling met wat sommige dink, tuis ’n belangrike rol te speel. Soos in ander aspekte van die gesinslewe is die ouers se voorbeeld in hierdie opsig van die allergrootste belang (2 Timotheüs 1:5). As ’n mens vir kinders sê: “Doen wat ek sê, nie wat ek doen nie”, leer jy hulle beslis nie maniere nie. Die tallose besonderhede van goeie maniere word nie bloot deur mondelinge opdragte geleer nie, maar deur waarneming en nabootsing. “Ouers is nie net die beste onderwysers nie; hulle is ook die voorbeelde, want ons kinders leer deur ons handelwyse te volg”, sê Beverley Feldman, skryfster van Kids Who Succeed. Watter soort maniere sien jou kinders in jou?
15. Hoe kan ouers hulle kinders help om goeie maniere ’n lewenslange gewoonte te maak?
15 “Vaders, moenie julle kinders [irriteer] nie”, is die Bybel se raad (Efesiërs 6:4, vgl. NW). Dit is vir kinders irriterend en frustrerend as daar vir hulle gesê word dat hulle vriendelik en bedagsaam moet wees, terwyl hulle sien hoe hulle ouers stry, skinder, onbeskof optree of gou ontsteld raak. Kan hulle verkwalik word as hulle op dieselfde manier optree? Daarenteen sê die teks voorts: “Maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” En dit sluit die grondbeginsels van goeie maniere in, soos om “Hallo”, “Asseblief”, “Dankie” en “Ek is jammer” te sê, respek vir ouer persone te toon en mededeelsaam te wees (Levitikus 19:32; Romeine 16:3-7). Hierdie eienskappe wat gedurende die kinderjare tuis geleer word, sal lewenslank waardevol wees.—Spreuke 22:6.
16. Watter inspanning is nodig, en met watter resultate?
16 Ouers sowel as kinders moet goeie maniere dus ’n deel van hulle daaglikse roetine maak, eerder as om vir ’n spesiale geleentheid te wag. Ouers moet terselfdertyd geduldig en verdraagsaam wees wanneer hulle kinders foute begaan, wat wel sal gebeur. Sê vir hulle hoe baie hulle goeie gedrag vir jou beteken, en prys hulle vordering. Dit verg natuurlik baie inspanning van jou. Maar het die Skrif nie gesê dat kinders goddelike beginsels ingeskerp moet word “as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” nie? (Deuteronomium 6:7). As jy dit doen, skep dit ’n gemoedelike en heilsame atmosfeer in die huis, wat grootliks daartoe sal bydra dat jou kinders tot behulpsame, bedagsame en goed gemanierde volwassenes ontwikkel. Dan sal hulle jou en hulle Skepper, Jehovah God, tot lof en eer strek.
’n Goed gemanierde volk
17. Wat word by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies gesien?
17 Die “meer as 1 000 Getuies” wat op daardie middag in September buite die Stadsaal in die stad New York vergader het, het bloot op klein skaal getoon hoe Jehovah se Getuies hulle gereeld gedra. ’n Man het elders vir die eerste keer na die Koninkryksaal toe gekom en het daarna gesê: “Ek het in een dag meer opreg liefdevolle mense, volslae vreemdelinge, ontmoet as wat ek ooit ontmoet het in die kerk waarin ek grootgeword het.” Die resultaat? “Dit was duidelik dat ek die waarheid gevind het”, het hy gesê. Hierdie man het sy lewenswyse verander, hom sewe maande later aan Jehovah toegewy en is gedoop.—Vergelyk 1 Korinthiërs 14:25.
18. Hoe het Jehovah se Getuies se standaard ten opsigte van goeie maniere buitestaanders geraak?
18 Die Getuies se standaard ten opsigte van maniere en dekorum by hulle nasionale en internasionale byeenkomste het al talle gunstige kommentare uitgelok. By een so ’n onlangse geleentheid in Japan het ’n gids op ’n toerbus gesê: “Toe julle van die bus afgeklim het, het elkeen, die kinders inkluis, sonder uitsondering vir my gesê: ‘Baie dankie.’ Dit het my baie gelukkig gemaak!” By ’n ander byeenkoms het die opsigter by ’n nabygeleë spoorwegstasie vir ’n Getuie gesê: “Dit was ’n chaotiese ramp toe 12 000 mense vroeër by die Osaka-kasteelsaal vergader het.” Maar toe het hy gesê: “Julie is baie ordelik, en ons is verlig. Dra asseblief ons groete oor aan wie ook al julle hoof is.”
19. Wat moet ons almal se voorneme met betrekking tot maniere wees?
19 Wat toon sulke kommentare? Dat Jehovah se Getuies as geheel hulle wel ‘gedra op ’n manier wat die goeie nuus waardig is’. Maar wat van ons as individue? Mag ons almal, jonk sowel as oud, op ons hemelse Vader, Jehovah, vertrou soos kinders wat op ’n liefdevolle vader vertrou, sodat ons geleer kan word om selfs in ’n ongemanierde wêreld ’n goed gemanierde volk te wees.—Deuteronomium 8:5; Spreuke 3:11, 12.
Onthou jy?
◻ Waarom is goeie maniere nodig as ’n deel van goeie gedrag?
◻ Watter goeie maniere is gepas by ons plek van aanbidding?
◻ Hoe kan goeie maniere in die veldbediening aan die dag gelê word?
◻ Hoe kan ouers hulle kinders help om goeie maniere aan te kweek?
◻ Watter hoë standaard ten opsigte van maniere moet ons probeer handhaaf?