Venezolane leer om op Jehovah te vertrou
“DIE jare van oorvloed”—dit is hoe die meeste Venezolane die tydperk ná 1976 onthou. Die regering het daardie jaar al die buitelandse oliemaatskappye in Venezuela genasionaliseer en die land se ekonomie het gefloreer. As bewys van die nuutgevonde materiële voorspoed het talle bouprojekte dwarsdeur die land begin verrys. Die land se hoogste geboue, die Parque Central Towers, is in die hoofstad, Caracas, opgerig. Mense het oënskynlik alle rede gehad om hulle vertroue in die bloeiende welvaart te stel.
Vandag lyk die vooruitsig egter minder belowend. Hoewel Venezuela steeds ’n welvarende nasie is, het dit al ekonomiese probleme ondervind. Hier onthou almal ‘Swart Vrydag’, soos 28 Februarie 1983 algemeen genoem word, toe die geldeenheid, die bolivar, gedevalueer is. Die geldstelsel het gevolglik krag verloor en buitelandse skuld het begin ophoop. Skielik het “die jare van oorvloed” in “jare van skaarste” verander. Hulle misplaaste vertroue het talle diep teleurgestel. Jehovah se Getuies het daarenteen geleer om op die ware God, Jehovah, te vertrou. Hulle het deur die jare heen voortdurende groei en toename geniet.
Die groei van vroeë Koninkryksaadjies
Twee pioniers, of voltydse bedienaars, van Texas, VSA, het in 1936 die saadjies van die goeie nuus van die Koninkryk na Venezuela gebring (Mattheüs 24:14). Tien jaar later het twee sendelinge—gegradueerdes van die vyfde klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead—gearriveer. En in September van daardie jaar is ’n takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Venezuela geopen. Daardie jaar se rapport het getoon dat daar altesaam 19 Koninkryksverkondigers in Venezuela was.
In November 1953 het N. H. Knorr, toe die president van die Genootskap, en sy sekretaris, M. G. Henschel, Venezuela aangedoen tydens hulle Suid-Amerikaanse toer. Negehonderd-twee-en-veertig het ’n byeenkoms in Caracas bygewoon. Teen 1977 het die getal Koninkryksverkondigers in Venezuela tot ’n hoogtepunt van meer as 13 800 toegeneem. Dit het die bou van ’n nuwe takkantoor in La Victoria, 85 kilometer buite die hoofstad, noodsaaklik gemaak. ’n Nuwe deel is aangebou en in 1985 toegewy. Vandag is daar meer as 42 900 verkondigers in sowat 500 gemeentes en groepe in Venezuela. En nog baie ander mense in Venezuela leer om op Jehovah te vertrou, soos blyk uit die uitstekende bywoningsyfer van 154 881 by die herdenking van Christus se dood in 1988.
’n Uiteenlopende dog vrugbare veld
Venezuela is ’n land van teenstellings en dit word weerspieël deur diegene wat geleer het om op Jehovah te vertrou. Hierdie land is eerstens bekend vir sy baie immigrante. Daar is dus selfs onder Jehovah se Getuies baie van Italië, Portugal, Duitsland, Spanje, Frankryk, Haïti, Trinidad, Kuba, die Dominikaanse Republiek, Ecuador en ander plekke. Tog is hulle met mede-Venezolane verenig in hulle vertroue in en diens aan die ware God, Jehovah.
Daar is ook baie kontreiverskille. ’n Oosterse visserman van die oostelike gebied verskil merkbaar van ’n beesboer, of llanero, van die suidelike vlaktes. ’n Haastige Caraqueño van die hoofstad of ’n ekstroverte werker van ’n oliemaatskappy in Maracaibo, die land se naasgrootste stad, verskil hemelsbreed van ’n rustige Andino-boer van die suidweste waar die Andesberge begin. Elkeen het sy eie gewoontes en aksent. Saam met die buitelandse atmosfeer wat die immigrante skep, is daar dus ’n kleurvolle verskeidenheid mense.
Mense van alle stande het ondanks sulke uiteenlopende agtergronde van Jehovah geleer. Maria Luisa was een van hulle. Sy was van sewejarige ouderdom af met spiritisme gemoeid. Toe sy grootgeword het, het sy aan alkohol en dwelms verslaaf geraak, ’n onsedelike lewe gelei en diep betrokke geraak by die aanbidding van die Venezolaanse godin, María Lionza.a Omdat haar leefwyse haar gewalg het, het sy in ’n Katolieke sendingstasie in die westelike deel van die land onder die Indiane begin werk. Sy het gou tot die slotsom gekom dat haar werk nòg haar, nòg die Indiane help. Sy het toe metafisika en reïnkarnasie ondersoek, maar tevergeefs. Op hierdie tydstip het Jehovah se Getuies María Luisa besoek. Sy het deur die Bybelkennis wat sy opgedoen het die nodige krag gekry om teen die bose geeste te stry. Nou vertrou sy op Jehovah en is sy ’n aktiewe verkondiger van die goeie nuus van die Koninkryk.
Selfs gestremde persone leer om op Jehovah te vertrou, soos in die geval van Juan en Carlos, twee eie broers. Carlos was nege toe hy meningitis opgedoen en blind geword het. Hy het die Bybel later saam met Jehovah se Getuies begin studeer, hoewel hy by die Katolieke charismatiese beweging betrokke was. Hy is in 1982 gedoop en is sedert Desember 1983 ’n voltydse bedienaar. As ’n blinde pionier dek hy sy gebied van hoek tot kant deur te loop, alleen indien nodig. Sy broer Juan het egter ’n heeltemal ander geskiedenis.
Juan is meer as 1,8 meter lank en was ’n groot straatvegter. Hy is eendag twee keer in die rug geskiet. Hy het gelewe, maar is van die bors af verlam en het heeltemal bedlêend geword. Toe die Getuies hom besoek het, het hy hulle aanbod om die Bybel met hom te studeer teësinnig aanvaar. Die studies het sy respek vir die Bybel weer aangewakker. Die hoop van volmaakte lewe in ’n paradys het hom geraak. Nadat hy opgehou het om te rook, te drink en vuil taal te gebruik, het al sy voormalige vriende hom verlaat, omdat Juan, soos hulle dit gestel het, ’n “heilige” geword het. Hy het nogtans aangehou om op Jehovah te vertrou en is uiteindelik gedoop.
“Die feit dat ek bedlêend is, het my nie verhinder om Jehovah se wil te doen nie”, sê Juan “want my hande en brein funksioneer ten minste nog goed”. Hoe dien hy Jehovah in sy toestand? “Ek gebruik my bandopnemer om my verantwoordelikhede, soos toesprake op die Teokratiese Bedieningskool, dele op die Diensvergadering en voorlesing by die weeklikse Wagtoring-studie, te vervul. Ek het die voorreg om een van die plaaslike Gemeentelike Boekstudies, wat in my huis gehou word, waar te neem. Ek kon ook as ’n gewone pionier dien.” Hoe voel hy oor dit alles? “Ek is baie dankbaar teenoor my familie en geestelike broers en susters vir al hulle hulp. Ek hoop en bid dat ons almal sal aanhou om op Jehovah te vertrou sodat ons die dag kan beleef wanneer ‘die lamme soos ’n takbok sal spring’.”—Jesaja 35:6.
Byeenkomste bring lof aan Jehovah
Die Getuies in Venezuela het onlangs twee Byeenkomssale gebou sodat hulle kan voortgaan met die werk wat soveel mense help om op Jehovah te vertrou. Die een is in Campo Elias, die staat Yaracuy, in die sentraal-westelike deel van die land. Die ander saal, wat omtrent 60 kilometer suid van Caracas geleë is, is ten volle toegerus met ’n doopbad, lugversorging, kombuis- en eetsaalgeriewe.
Buitestaanders en belangstellendes is grootliks beïndruk wanneer hulle na hierdie sale kom kyk het. Een busbestuurder is deur ’n groep Getuies gehuur om hulle na hulle kringbyeenkoms te neem. Toe die bestuurder met hulle aankoms die ruim parkeerterrein en pragtige omgewing sien, het hy gedink dat hy dié plek ook van binne moes sien. “Wat ek in daardie Byeenkomssaal gesien het, was ’n ander wêreld, ’n ander dimensie”, het hy later gesê. Hy was so beïndruk deur die orde en eenheid dat hy aandagtig na die hele program geluister het. Hy het later vir ’n Bybelstudie gevra en is nou ’n gedoopte broer.
Op een tydstip sou ’n byeenkoms in El Tigre, ’n stad in die suidoostelike deel van die land, gehou word. ’n Plaaslike terrein is gehuur, aangesien daar geen Byeenkomssaal in daardie gebied is nie. Sonder dat die broers dit geweet het, sou ’n karnaval egter op dieselfde dae in die stad gehou word. Toe die plaaslike owerheid ’n orkesverhoog reg langs die byeenkomsterrein kom oprig, het die Getuies by die karnavalorganiseerders gepleit om die orkesverhoog op ’n ander plek te plaas, maar tevergeefs. As ’n laaste uitweg het ’n Getuie toe vir dié in beheer gesê: “Julle moet asseblief weet dat julle moeilikheid met Jehovah soek.” Toe hy dit hoor, het een van die verantwoordelike persone gesê: “O nee, ek wil nie moeilikheid met Jehovah soek nie!” Die karnavalvieringe is toe verskuif na ’n terrein ver weg van waar die kringbyeenkoms gehou sou word.
By ’n ander byeenkoms het ’n suster se man, wat ’n politieke loopbaan gehad het, kom kyk of sy nie met iemand daar ’n liefdesverhouding het nie. Die gehalte van die toesprake het hom verbaas. “As ek soos daardie man kon praat, sal ek darem vooruitgang in my politieke loopbaan maak”, het hy vir sy vrou gesê. Na afloop van die program het hy een van die ouere manne genader en gevra dat hy gewys word hoe hy sy spreekkuns—en net dit—kan verbeter. “Moenie van my verwag om met ’n aktetas van huis tot huis te gaan nie”, het hy gewaarsku. ’n Bybelstudie is begin, en die man het gou van plan verander—hy wou met ’n aktetas van huis tot huis gaan en die goeie nuus verkondig! Hy het sy politieke loopbaan prysgegee en is gedoop, en nou vertrou hy en sy gesin op Jehovah.
Die weg word gebaan vir verdere uitbreiding
Tydens ’n besoek van L. A. Swingle, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, het ’n skare van 63 580 in die Plaza Monumental-arena in Valencia bymekaargekom. Baie van hulle het die hele nag per bus gereis. Almal daar teenwoordig, is grootliks aangemoedig toe broer Swingle vir hulle sê: “Julle is nie meer ’n klein tak nie. Julle is nou ’n tak van middelgrootte. En soos dinge nou lyk, sal julle binnekort deel van die ‘100 000-verkondigers-klub’ wees!”
Planne word beraam om die takkantoor in La Victoria te vergroot sodat daar na die wonderlike groei omgesien kan word. Ja, mense in Venezuela leer by die duisende om op Jehovah te vertrou.
[Voetnoot]
a Kyk Awake! van 22 Junie 1967, bladsye 21-23.
[Kaarte/Prent op bladsy 21]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
KARIBIESE SEE
VENEZUELA
Maracaibo
ANDESGEBERGTE
Campo Elias
Valencia
La Victoria
Caracas
El Tigre
COLOMBIA
BRASILIË
GUYANA
600 km
400 m.
[Prente op bladsy 24]
Buite- en binne-aansig van die Cúa-Byeenkomssaal