Kweek Christelike maniere aan in ’n ongemanierde wêreld
“Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon!”—PSALM 133:1, “NAV”.
1. Wat het met goeie maniere gebeur?
“GOEIE maniere het die afgelope 25 jaar ’n ernstige knou gekry”, sê rubriekskryfster Ann Landers. “Dit is nie net ’n geval van mans wat nie vir vroue motordeure oopmaak of vir hulle sitplekke op treine of busse aanbied nie. Dit lê dieper as dit.” Oral waar ons kyk, kan ons inderdaad bewyse sien dat ons in ’n toenemend ongemanierde wêreld lewe. Mense druk voor ander in as hulle moet toustaan, rook in vol hysbakke, speel harde musiek in openbare plekke, ensovoorts. Ons leer uit daaglikse ondervinding dat ons eeu ondanks beter onderwysgeleenthede en ’n beter lewenstandaard oor die algemeen ’n eeu is waarin Dankie en Asseblief vreemde woorde geword het en gewone beleefdheid en hoflikheid grotendeels vergeet is.
2. Waarom is die hedendaagse gebrek aan goeie maniere nie verbasend nie?
2 Is dit verbasend? Nie werklik nie. Dit herinner ons bloot aan wat die apostel Paulus geïnspireer is om te sê oor die gedrag van die mense in “die laaste dae” wanneer ‘swaar tye sou kom’. Paulus het onder meer voorspel dat mense “liefhebbers van hulleself . . . grootpraters, trotsaards, . . . ondankbaar, . . . sonder natuurlike liefde, . . . bandeloos” sou wees (2 Timotheüs 3:1-3). Selfs ’n vlugtige kykie sal toon dat sulke optrede vandag algemeen voorkom onder mense van elke ouderdom, klas en nasionaliteit. Waarom is dit die geval? Wat is die bydraende oorsake van die algemene gebrek aan goeie maniere?
Oorsake van slegte maniere
3. Hoe bevorder “die lug” van hierdie stelsel slegte maniere?
3 Die uitdrukking “liefhebbers van hulleself” is ’n gepaste beskrywing van die “ekgeslag”, wat betrekking het op diegene wat met die klem op aanmatiging, individualisme en selfuiting grootgemaak is. Hierdie gees, waarvan “die lug” om ons deurtrek is, is reëlreg in stryd met die Bybel se raad dat Christene “nie elkeen na sy eie belange [moet] omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n” (Efesiërs 2:2, 3; Filippense 2:4). Die resultaat? ’n Geslag wat grootgemaak is met die idee dat hulle hulself kan behaag, gaan hulle beslis nie veel bekommer oor die uitwerking wat hulle gedrag op ander sal hê nie.
4. Hoe word diegene wat aanvaarde standaarde veronagsaam vandag beskou, en hoe moet ’n Christen die saak beskou?
4 Een belangrike faktor wat mense vroeër ’n mate van hoflikheid teenoor mekaar laat toon het, was portuurdwang. Besorgdheid oor wat ander sou dink, het ongemanierdheid lank teëgehou. Maar hoe skokkender en buitensporiger iemand se handelwyse vandag is, hoe gewilder sal dit waarskynlik onder baie mense word. Diegene wat die aanvaarde standaarde ignoreer, word nie meer as ongemanierd of onbeskof beskou nie, maar wel as modieus of gesofistikeerd, baie bewonderenswaardig. Onthou egter die betekenis van “gesofistikeerd”, naamlik “nie in ’n natuurlike, suiwer of oorspronklike toestand nie”. Dit is ontleen aan dieselfde Griekse wortel as die term wat in 2 Petrus 1:16 met “kunstig verdigte” weergegee word. Dit sal beslis vir ware Christene raadsaam wees om so ’n gesindheid te vermy.
5. Wat is nog ’n bydraende oorsaak van die gebrek aan goeie maniere?
5 “Omdat die oordeel oor ’n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen”, sê Prediker 8:11. Dit is nog ’n bydraende oorsaak van die gebrek aan goeie maniere in die openbaar. Omdat mense so maklik skotvry van oortredings afkom, word hulle verhard teen skending van die aanvaarde gedragstandaarde. “Burgers wat uiters geskok sou wees as hulle in die openbaar as ’n deel van die kriminele element geïdentifiseer sou word, oortree nietemin allerhande wette goedsmoeds in die openbaar—dwelmwette, wette teen rommelstrooiing”, sê ’n artikel in The New York Times. Gevolglik het “lawaaierigheid, vandalisme en graffiti-skrywery” ’n onvermydelike deel van ons daaglikse lewe geword. Hoflikheid, asook respek vir ander mense se regte, besittings en privaatheid, het dus nog ’n paar terugslae gekry.
6. Watter uitwerking het mense se besige lewe op hulle maniere, en hoe was Jesus in hierdie opsig anders?
6 Aangesien goeie maniere oor die algemeen as van die fyner puntjies in die lewe beskou word, word dit maklik vergeet wanneer mense haastig is—en dit lyk asof die meeste mense deesdae gewoonlik haastig is. Gevolglik stap hulle by mekaar verby sonder om ’n woord te sê of hul gesigsuitdrukking te verander. Hulle stamp en stoot in toue, of hulle vleg ongeduldig deur die rye verkeer bloot om ’n paar minute of sekondes te spaar. Mense raak dikwels so verdiep in hulle eie aangeleenthede, of hulle beplan om so baie dinge te doen, dat enige onverwagte gebeurtenis of besoeker ’n ergernis of steurnis is. Dink na oor hoe dit verskil van die manier waarop Jesus die mense behandel het wat hom selfs op ongeleë tye genader het.—Markus 7:24-30; Lukas 9:10, 11; 18:15, 16; Johannes 4:5-26.
7. Waarteen moet ware Christene waak wat goeie maniere betref?
7 Hoewel ons in ’n vinnig bewegende wêreld lewe en daar al hoe meer eise aan ons tyd en energie gestel word, sal dit die situasie glad nie verbeter as ons toelaat dat sulke druk ons onbeskof laat optree nie. Inteendeel, onbeskofte optrede gee aanleiding tot baie van die sinlose geweld waarvan ons hoor—rusies, bakleiery, vetes en selfs moorde—juis omdat mense onbeskoftheid met onbeskoftheid vergeld. Al hierdie dinge maak deel uit van die gees van die wêreld waarvan ware Christene geen deel moet wees nie.—Johannes 17:14, vgl. NW; Jakobus 3:14-16.
Voortreflike voorbeelde van goeie maniere
8. Wat word Christene aangespoor om te doen hoewel hulle deur ongemanierde mense omring word?
8 Aangesien ons omring word van mense wat min agting vir ander het, is dit maklik om voor die druk te swig en goeie maniere agterweë te laat bly. Maar ons kan, gedagtig aan die Bybel se vermaning om ‘nie aan hierdie wêreld gelykvormig te word nie’, die talle uitmuntende voorbeelde in die Bybel ondersoek en probeer om die hoë standaarde met betrekking tot Christelike maniere in die hedendaagse, ongemanierde wêreld te handhaaf (Romeine 12:2, 21; Mattheüs 5:16). Ons dade moet toon dat ons heelhartig saamstem met die psalmis wat gesê het: “Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon!”—Psalm 133:1, NAV.
9. Wat toon die Skrif aangaande die manier waarop Jehovah met mense handel?
9 Die beste voorbeeld van iemand wat goeie maniere aan die dag lê, is die Skepper en Vader van almal, Jehovah God self. Dit gebeur dikwels dat mense wat ’n hoë posisie beklee of mag oor ander uitoefen baasspelerig optree en eis dat hulle hul sin kry. Maar die allerhoogste Persoon in die heelal, Jehovah God, is altyd goed gemanierd wanneer hy met sy ondergeskiktes handel. Toe hy sy vriend Abraham geseën het, het hy gesê: “Slaan [asseblief] jou oë op en kyk van die plek waar jy staan.” En weer: “Kyk [asseblief] op na die hemel en tel die sterre” (Genesis 13:14; 15:5, vgl. NW). Toe God vir Moses ’n teken van Sy mag gegee het, het Hy gesê: “Steek [asseblief] jou hand in jou boesem” (Exodus 4:6, vgl. NW). Jare later het Jehovah deur sy profeet Miga, selfs vir sy wederstrewige volk gesê: “Hoor [asseblief], o hoofde van Jakob en owerstes van die huis van Israel! . . . Hoor [asseblief] dit, hoofde” (Miga 3:1, 9, vgl. NW). Het ons in hierdie opsig “navolgers van God” geword deur “asseblief” te sê wanneer ons met ander praat?-Efesiërs 5:1.
10, 11. (a) Wat kan van Jesus se optrede en maniere gesê word? (b) Hoe kan ons Jesus navolg wat goeie maniere teenoor alle mense betref?
10 Jesus Christus, “wat in die boesem van die Vader is”, is nog ’n uitmuntende, navolgenswaardige voorbeeld (Johannes 1:18). In sy handelinge met mense was hy enersyds teer en simpatiek, andersyds reguit en ferm; maar hy het niemand onbeskof of onvriendelik behandel nie. Die boek The Man from Nazareth meld “sy buitengewone gawe om tussen allerhande mense op sy gemak te wees” en sê: “In die openbaar sowel as privaat het hy op gelyke voet met manne en vroue geassosieer. Hy was op sy gemak tussen onskuldige kindertjies en vreemd genoeg ook op sy gemak tussen swendelaars wat deur hul gewete gekwel is, soos Saggeus. Eerbare, huisvaste vroue, soos Maria en Martha, kon met natuurlike vrymoedigheid met hom praat, maar losbandige vroue het hom ook genader asof hulle seker was dat hy sou verstaan en vriendskap aan hulle sou betoon . . . Sy buitengewone onbewustheid van die grense wat gewone mense omring, is een van sy kenmerkendste eienskappe.
11 ’n Waarlik goed gemanierde persoon word gekenmerk deur die feit dat hy of sy almal met die gepaste eerbied en bedagsaamheid behandel, en dit sal vir ons raadsaam wees om Jesus Christus in hierdie opsig na te volg. Ja, die meeste mense kry dit reg om teenoor sekere persone eerbiedig te wees, veral teenoor dié wat hoër posisies as hulle beklee. Maar hulle is dikwels afsydig, koel en onbeskof teenoor diegene wat volgens hulle hul minderes of selfs hul gelykes is. Blykbaar gee dit hulle ’n gevoel van meerderwaardigheid en mag. Maar daar is al tereg gesê dat ‘onbeskoftheid ’n swak man se nabootsing van krag is’. Die Bybel vermaan ons dus: “Die een moet die ander voorgaan in eerbetoning” (Romeine 12:10). As ons ons bes doen om daardie raad te volg, sal dit ons baie help om, soos Jesus, teenoor alle mense goed gemanierd te wees.
12. Wat is die kern van Jesus se lering oor menseverhoudinge?
12 Hierdie positiewe, uitreikende eienskap word ook in Jesus se leringe beklemtoon, veral in die sogenaamde Gulde Reël: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen” (Mattheüs 7:12). In die Analecta, een van die Vier Boeke van Confucius—wat lank in die Ooste as die toppunt van sedelike gedrag beskou is—is die meester interessant genoeg deur een van sy volgelinge gevra of daar één woord is wat lewenslank ’n gedragsbeginsel kon wees. “Miskien sal die woord ‘wederkerigheid’ (sjoe) deug”, het die leermeester geantwoord, en toe het hy bygevoeg: “Moenie aan ander doen wat jy nie wil hê dat ander aan jou moet doen nie.” In teenstelling hiermee kan ons maklik sien dat Jesus se lering verhewe is. Want alleenlik wanneer ’n mens die inisiatief neem om goed ‘aan ander te doen’, sal dit hartlike, aangename en vriendskaplike verhoudings meebring.
Christelike maniere is gegrond op Christelike liefde
13, 14. (a) Wat is onlangs oor maniere in die openbaar gesê? (b) Waarom is daar tans soveel belangstelling in maniere en etiket?
13 Vanweë die algemeenheid van slegte maniere is daar vandag sprake van ’n terugkeer tot behoorlike gedrag. “Ons het in die sestigerjare ’n opstand teen maniere gehad”, sê Marjabelle Stewart, ’n gewilde skryfster en onderwyseres oor die onderwerp, “maar maniere word nou deur ’n nuwe revolusie herstel. Mense erken dat dit belangrik is en wil weet wat die maatskaplike standaarde is.” Hierdie hernieude belangstelling in goeie maniere word weerspieël in die geweldige toename van boeke, handleidings, adviesrubrieke en TV-praatprogramme oor enigiets van watter vurk by ’n formele dinee gebruik moet word tot hoe om iemand in vandag se komplekse en vinnig veranderende maatskaplike en gesinsverhoudinge aan te spreek.
14 Maar waarom word party mense meer bewus van maniere? “In vandag se mededingende gemeenskap”, verduidelik Stewart, “is maniere ’n kwessie van oorlewing.” Met ander woorde, goeie maniere word beskou as ’n middel wat jou kan help om deur die lewe te kom en vooruit te gaan. Daarom lees mense boeke en woon hulle klasse oor etiket by om te leer hoe hul kleredrag sukses in die hand kan werk, hoe om ’n goeie indruk te skep, hoe om in die raadskamer aanvaar te word, ensovoorts.a ’n Probleem in hierdie opsig is dat maniere net iets doelmatigs geword het, soos ’n masker wat ’n mens gedurende ’n vertoning dra en afhaal wanneer dit verby is. Dit is derhalwe nie verbasend nie dat ons herhaaldelik hoor van ‘welopgevoede’ en ‘vername’ mense wat die skokkendste misdade in die sakewêreld gepleeg het.
15, 16. (a) Wat sê een gesaghebbende op die gebied van maniere oor “die beste gedragsreëls”? (b) Hoe hou 1 Korinthiërs 13:4-7 met ware Christelike maniere verband?
15 Dit is allesbehalwe wat goeie maniere behoort te wees. Amy Vanderbilt, ’n gesiene gesaghebbende op die gebied, skryf in haar New Complete Book of Etiquette: “Die beste gedragsreëls is in Hoofstuk 13 van Eerste Korinthiërs, St. Paulus se pragtige verhandeling oor welwillendheid. Hierdie reëls hou geensins verband met die fyn puntjies van kleredrag of met dié van oppervlakkige maniere nie. Hulle hou wel verband met gevoelens en gesindhede, vriendelikheid en bedagsaamheid teenoor ander.”
16 Amy Vanderbilt het natuurlik die gedeelte in 1 Korinthiërs 13:4-7 bedoel, waar Paulus die verskeie aspekte van Christelike liefde uitvoerig beskryf. Oorweeg die resultate van ’n paar punte wat hy gestel het. Byvoorbeeld: iemand wat “lankmoedig en vriendelik” is, sal ander sekerlik geduldig en eerbiedig behandel. “Handel nie onwelvoeglik nie” is ’n ander manier om te sê ‘handel welvoeglik’, en “welvoeglikheid” word gedefinieer as “handhawing van standaarde van smaak, fatsoenlikheid of gehalte”. Soos J. B. Phillips se New Testament in Modern English hierdie sinsnede dus tereg weergee: “Liefde het goeie maniere.” Dit is moeilik om te dink dat enigiemand wat sulke liefde betoon as ongemanierd beskou sal word.
17. Waarvan is ons maniere ’n aanduiding?
17 Dit spreek dus vanself dat Christelike maniere regstreeks met Christelike liefde verband hou. Maniere is nie net ’n middel tot ’n doel of iets wat ’n mens aansit wanneer dit vir jou voordelig is nie. Ons maniere—die wyse waarop ons ander behandel, ons houding, optrede en gewone gedrag—toon eerder hoeveel ons vir ander mense omgee en hoe diep ons liefde vir hulle is. Hetsy ons jonk of oud is, ons moet probeer om op die Bybel se raad ag te slaan: “Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van ’n ander” (1 Korinthiërs 10:24). Christelike maniere is dus, as ’n aspek van Christelike liefde, ’n kenmerk van Jesus Christus se ware dissipels.—Johannes 13:35.
Toon te alle tye goeie maniere
18. Wat moet ons ons voorneem om te doen ten spyte van wat ons om ons sien?
18 Jesus het aangaande ons geslag voorspel: “Omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Mattheüs 24:12). Hierdie verkoeling van liefde word vandag duidelik weerspieël in die onverskillige en selfsugtige gesindheid van so baie mense. Maar pleks daarvan dat dit ons beweeg om ook so onverskillig te reageer, moet ons Paulus se raad in gedagte hou: “Vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense” (Romeine 12:17, 18). Ons moet ons voorneem om te alle tye goed gemanierd te wees, hetsy ons pogings waardeer word of nie.—Mattheüs 5:43-47.
19. Hoe het ons maniere ’n uitwerking op alle aspekte van die lewe?
19 Ja, Christelike maniere is die natuurlike uiting van ons hartgrondige liefde vir ander en ons besorgdheid oor hulle. Net soos ons spraak openbaar wat ons innerlike is, toon ons maniere hoeveel ons vir ander omgee en of ons onverskillig is (Mattheüs 12:34, 35). As sodanig moet maniere ’n belangrike rol in alle aspekte van ons lewe speel. Dit moet ’n lewenswyse wees. In watter opsigte kan maniere in groter mate geopenbaar word? Hoe kan heilsame Christelike maniere in groter mate aangekweek word? Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.
[Voetnoot]
a Die woord “etiket” kom van ’n Franse wortel wat kaartjie of aanplakpapiertjie beteken. Die boek Word Origins and Their Romantic Stories, deur Wilfred Funk, verduidelik: “Die belangrikste etiket-reëls is op opsigtelike plekke in die weermagkampe vasgespyker. Die lys het die reëls vir die dag bevat . . . Ons kan dalk sê dat etiket ’n ‘kaartjie’ is wat toegang tot die beskaafde gemeenskap verleen.”
Kan jy verduidelik?
◻ Waarom is dit nie verbasend dat daar ’n gebrek aan goeie maniere is nie?
◻ Wat is party oorsake van slegte maniere?
◻ Hoe verskil Christelike maniere van die maniere en etiket van die wêreld?
◻ Waarom moet ons probeer om te alle tye goed gemanierd te wees?