Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 6/1 bl. 21-23
  • ’n Nuwe tuiste vir die Gilead-Sendingskool

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Nuwe tuiste vir die Gilead-Sendingskool
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gilead trek uit Brooklyn
  • Die 86ste klas gradueer
  • Gileadskool—Floreer nog ná 50 jaar!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Meer sendelinge vir die wêreldoes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Gileadsendelinge is uniek!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Die Gileadskool stuur sy 100ste klas uit
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 6/1 bl. 21-23

’n Nuwe tuiste vir die Gilead-Sendingskool

OP 1 FEBRUARIE 1943 het Nathan H. Knorr, voormalige president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, die openingsrede aan die eerste klas van ’n nuwe skool gelewer. Hy het aan daardie eenhonderd studente verduidelik: “Dit is nie die doel van hierdie [skool] om julle as geordende bedienaars te bekwaam nie. Julle is alreeds bedienaars en is al jare lank bedrywig in die bediening. . . . Die uitsluitlike doel van die studiekursus . . . is om julle voor te berei om bekwamer bedienaars te wees.” Tot vandag toe lei die Wagtoring-Bybelskool Gilead bedienaars vir die buitelandse sendingwerk op.

In 1943 was die Gileadskool in die Finger Lakes-streek van die Staat New York geleë. Gilead was 17 jaar lank daar. Toe, in 1961, is dit na Brooklyn verskuif. Met watter doel? Die Gileadleerplan is altyd ontwerp om in die behoeftes van die organisasie te voorsien. Die behoefte aan die ontwikkeling en beter organisasie van takkantore dwarsdeur die aarde het vereis dat studente breedvoeriger opleiding van lede van die hoofkwartierpersoneel van Jehovah se Getuies, wat in Brooklyn is, ontvang. Die klem het dus ’n hele paar jaar op die opleiding van takpersoneellede geval. Daarna was die klem weer eens op die sendingwerk.

Die volgende 27 jaar, van 1961 tot 1988, het studente van die Gileadskool die voorreg gehad om die hoofkwartierpersoneel in Brooklyn se woongeriewe met hulle te deel en hul opleiding aldaar te ontvang. Daar het die studente baat gevind by noue omgang met lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies en ander ervare bedienaars. Watter beter manier is daar om te leer hoe ’n tak van die Wagtoringgenootskap funksioneer? Die studente is nie net gehelp deur onderrig in die klas nie, maar ook deur te sien hoe die hoofkwartierpersoneel hulle daaglikse werk doen.

Watter uitwerking het die Gileadskool op die internasionale predikingswerk gehad? Vier en sewentig van die 93 takkomiteekoördineerders wat wêreldwyd dien om die werk te organiseer, is gegradueerdes van die Gileadskool. Dit getuig van die puik onderrig wat hierdie manne ontvang het om die groot verantwoordelikheid te hanteer, naamlik om vandag God se volk te lei. Tallose reisende opsieners wat tans ten behoewe van die organisasie dien, is ook gegradueerdes van die Gileadskool. Ja, die opleidingsprogram by die Gileadskool het tred gehou met die behoeftes van die organisasie.

Gilead trek uit Brooklyn

Daar is egter weer eens besluit om die Gileadskool te verskuif. In die noordelike herfs van 1988 het vier vragte meubels en kantoortoerusting dus by Gilead se derde tuiste aangekom—Watchtower Farms, in Wallkill, New York. In net twee maande het die onderhoudpersoneel by Watchtower Farms puik klaskamers, ’n biblioteek en kantore vir die skool ingerig. Sommige het dag en nag gewerk om die fasiliteite van die skool betyds in te rig sodat die volgende klas met hulle onderrig kon begin.

Op 17 Oktober 1988 het die 86ste klas van Gilead begin. Sonder onderbreking het die skool voortgegaan met sy doel om ‘manne en vroue op te lei om bekwamer bedienaars te wees’. In sy pragtige nuwe omgewing op Watchtower Farms is die karakter van die oorspronklike skool in die Finger Lakes-streek in ’n mate herstel.

Die 86ste klas gradueer

Op 5 Maart 1989 het al die personeellede van die Wagtoringhoofkwartier in Brooklyn en van Watchtower Farms by die Jersey City-byeenkomssaal vergader vir die graduering van die 86ste klas. Daniël Sydlik, ’n lid van die Bestuursliggaam, het die program met gebed geopen. Karl Klein van die Bestuursliggaam was die voorsitter. In sy inleiding het hy die buitelandse sendelinge van die Christendom met die van Jehovah se Getuies vergelyk. Die Gileadsendelinge was inderdaad suksesvol met die verkondiging van die waarheid van God se Woord in lande soos Japan, waar daar nou meer as 131 000 Getuies is wat aktief aan die veldbediening deelneem!

Onder die tema “Laat goeie werke jou kenmerk wees”, het Donald Krebs die sleutelrol beskryf wat Gileadsendelinge in die wêreldwye vermeerdering in Jehovah se organisasie gespeel het. “Julle goeie werke in die sendingveld as onderrigters van God se Woord sal julle . . . kenmerk wees. Ons spoor julle aan om hard te werk. Jehovah sal julle pogings ryklik seën.”

George Gangas, ’n lid van die Bestuursliggaam, het ’n lewendige toespraak gehou met die tema “Die Bybel is die beste boek onder die son.” Hy het die gegradueerdes gemaan: “Moenie vergeet om die Bybel te bestudeer nie. Die Bybel is vol geestelike skatte . . . wat glinster en skitter. Iemand wat hulle waardeer, wil oor en oor daarna kyk en hulle skitterende eienskappe geniet.”

Richard Eldred se tema was “Jy kan ’n verskil maak.” Wanneer die nuwe sendelinge die lewens van ander mense raak, kan dit ’n positiewe verskil maak. Manne en vroue van die ou tyd soos Dawid, Nehemia, Debora en Abigail het ’n positiewe invloed op ander gehad deur opreg vir hulle om te gee, dapper geloof te handhaaf en ’n sagmoedige, geestelike gesindheid aan die dag te lê.

“Tel jou seëninge” was die woorde van Lyman Swingle, ’n lid van die Bestuursliggaam, aan die graduerende klas. Nadat hy ’n paar van die seëninge opgenoem het wat die klas gehad het, soos om vyf maande lank ’n intensiewe studie van die Bybel te maak, het hy hulle aangespoor: “Namate die einde nader kom, sal jy moontlik vind dat die pas versnel, dat die pad ruwer en steiler raak. Maar maak seker dat jy nooit moeg word nie, dat jy nooit tou opgooi nie, dat jy nooit ’n uitsakker word nie.”

Een van die instrukteurs, Jack Redford, het voortgebou op die tema: “Moenie dat jou goeie eienskappe ’n swakheid word nie.” Met Salomo se raad, ‘wees nie alte regverdig nie’, as grondslag het hy gewaarsku dat niemand op persoonlike vermoëns moet staatmaak pleks van op Jehovah te steun nie (Prediker 7:16, 17). “Goeie eienskappe wat te ver gevoer word, kan ’n slaggat word.” Iemand wie se goeie eienskap byvoorbeeld reg en orde is, kan so ’n eienskap tot die uiterste neem deur te streng te wees. Hy het derhalwe hierdie raad aan die klas gegee: “Almal van ons moet bewus wees van ons swakhede, maar ons moet ook bewus wees van ons goeie eienskappe. Wees regverdig maar nie eiegeregtig nie. Steun op Jehovah. Maak Jehovah jou sterkte.

Ulysses Glass, instrukteur en skoolregistrateur, het Jesus se woorde “Neem my juk op julle” verduidelik (Mattheüs 11:29, 30). Hier nooi Jesus sy dissipels om saam met hom ‘onder sy juk’ te kom. Hy wou hulle nie belas nie. Hy het die behoeftes van ander op die hart gedra. Hy was nederig. Hy het nie sy dissipels gekasty nie. Jesus het gesê: “Leer van My.” ’n Sendeling moet die sin van Christus hê. Die spreker het die klas geprys vir hulle gees van mededeelsaamheid en hulle aangespoor om aan te hou om daardie selfde gees in hulle buitelandse toewysings te openbaar.

Teen die einde van die oggendsessie het Carey Barber van die Bestuursliggaam ’n lewendige toespraak gehou oor die onderwerp: “Die oes is die voleinding van die stelsel van dinge.” Hy het die aandag gevestig op die hedendaagse vervulling van Jesus se illustrasie van die koring en die onkruid (Mattheüs hoofstuk 13). Christus se gesalfdes word eerste ingesamel. Daarna, veral sedert 1935, word die ander skape ook ‘geoes’. Die Gileadskool het op wonderbaarlike wyse bygedra tot die insameling van Christus se dissipels.

Nadat die gegradueerdes hulle diplomas ontvang het, het een van hulle ’n hartlike brief gelees om hulle gevoelens oor te dra oor die opleiding en aandag wat die instrukteurs en die Bethelgesin aan hulle gegee het. Die brief het gedeeltelik gesê: “Julle belangstelling in ons, nie net as ’n klas van Gilead nie, maar as individue, het ons beïndruk en is ’n navolgenswaardige weg. Ons neem met gemengde gevoelens afskeid—hartseer om weg te gaan omdat ons julle sal mis, maar gelukkig en opgewonde oor ons nuwe toewysing.”

Tydens die middagprogram het die gegradueerdes deelgeneem aan ’n Wagtoring-studie wat deur Ralph Walls gehou is. Toe het die klas etlike hoogtepunte opgevoer van die ondervindinge wat hulle in die veldbediening gehad het terwyl hulle by Watchtower Farms gebly het. Die Onderrigtingskomitee van die Bestuursliggaam het ’n program aangebied wat bestaan het uit ’n reeks kort tonele onder die titel “Eerbied vir gesag bevorder eenheid” en ’n skyfievertoning wat die vreugde uitgebeeld het waarin sendelinge in baie lande deur die jare heen gedeel het. Die program het afgesluit met ’n innige gebed deur Frederick Franz, 95-jarige president van die Wagtoring-Bybelskool Gilead.

Die aanwesiges het deur hulle entoesiasme vir die program hulle steun aan die toekomstige sendelinge en waardering vir die program betuig. Daar is geen twyfel dat die 24 gegradueerdes van die 86ste klas van Gilead vasbeslote is om Jehovah hulle sterkte te maak terwyl hulle die voorreg het om na toewysings in die sendingveld te gaan nie.

[Venster op bladsy 21]

STUDENTEPROFIEL

Aantal getroude paartjies: 12

Aantal studente: 24

Aantal lande verteenwoordig: 6

Aantal lande waarheen gestuur: 12

Gemiddelde ouderdom: 32,3

Gemiddelde jare in die waarheid: 14,1

Gemiddelde jare in voltydse bediening: 9,1

[Prent op bladsy 23]

86ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead

In die lys hieronder word rye van voor na agter genommer, en name word van links na regs in elke ry aangegee.

(1) Parrott, R.; Imig, E.; Benig, G.; Bengtsson, E.; Baart, W.; Ihander, K. (2) Lewis, J.; Hilario, L.; Lindmark, A.; Antoncich, C.; Agurs, C. (3) Bengtsson, R.; Parrott, J.; Benig, J.; Imig, J.; Baart, A.; Rissell, S. (4) Rissell, M.; Lewis, L.; Antoncich, M.; Hilario, R.; Agurs, H.; Lindmark, L.; Ihander, J.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel