Wees rein van verstand en liggaam
“Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.”—ROMEINE 12:1, “NAV”.
1. Waarom is reinheid van verstand en liggaam volgens die apostel Paulus nodig?
ENIGIEMAND wat die heilige God Jehovah wil dien, moet geestelik en sedelik rein wees. Dit impliseer logieserwys ook reinheid van verstand en liggaam. Aangesien die huidige stelsel van dinge so verdorwe is, moet mense wat daaruit kom om Jehovah te dien nie net veranderinge in hulle denkgewoontes aanbring nie, maar dikwels ook in hulle persoonlike gewoontes. Die apostel Paulus het aan Christene in Rome geskryf: “Nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is” (Romeine 12:1, 2, NAV). Wat behels reinheid van verstand en liggaam?
Verstandelike reinheid
2. Hoe kan ons oë en hart ons in losbandige gedrag laat verval, en wat is nodig om dit te vermy?
2 Selfs voordat die Wet gegee is, het getroue Job getoon dat ons oë en hart ons in losbandige gedrag kan laat verval as ons hulle nie beheers nie. Hy het gesê: “Ek het ’n verbond gesluit met my oë: hoe sou ek dan ag gegee het op ’n jonkvrou? As my hart verlok was oor ’n vrou . . . dit is ’n skandelike daad [of, “losbandige gedrag”, NW], en dit is ’n strafbare misdaad” (Job 31:1, 9-11). As ons dwalende oë en ’n wispelturige hart het, het ons geestesdissipline nodig, ‘die dissipline wat insig gee’.—Spreuke 1:3, NW.
3, 4. (a) Wat toon die voorbeeld van Dawid en Batseba, en wat is nodig om slegte denkgewoontes te verander? (b) Waarom moet Christen- ouere manne besonder versigtig wees?
3 Dit was koning Dawid se oë wat hom owerspel met Batseba laat pleeg het (2 Samuel 11:2, 4). Hierdie voorbeeld toon dat selfs manne wat prominent deur Jehovah gebruik word, in sonde kan verval as hulle hulle verstand nie dissiplineer nie. Dit verg dalk kragtige inspanning om ons denkgewoontes te verander. So ’n poging moet gepaard gaan met vurige gebed om Jehovah se hulp. Nadat Dawid tot inkeer gekom het oor sy sonde met Batseba het hy gebid: “Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees.”—Psalm 51:12.
4 Christen- ouere manne moet besonder versigtig wees om nie verkeerde begeertes te koester wat hulle ernstige sondes kan laat pleeg nie (Jakobus 1:14, 15). Paulus het aan die Christen- ouere man Timotheüs geskryf: “Die doel van die gebod is liefde uit ’n rein hart en ’n goeie gewete en ’n ongeveinsde geloof” (1 Timotheüs 1:5). Dit sou beslis skynheilig van ’n ouere man wees om sy geestelike pligte na te kom terwyl hy toelaat dat ’n dwalende oog gedagtes om onreine dade te pleeg in sy hart wek.
5. Wat moet vermy word om reinheid van verstand te handhaaf?
5 As Christene moet ons almal ons uiterste bes doen om rein van verstand te wees. Dit beteken dat ons enige rolprente, TV-programme of leesstof moet vermy wat ’n verderflike invloed op ons denke kan hê. Geesteshigiëne behels doelbewuste inspanning om te dink oor dinge wat “waar . . . regverdig . . . rein” is. Die apostel Paulus voeg by: “Watter deug en watter [lofwaardige ding] daar ook mag wees, bedink dit.”—Filippense 4:8, vgl. NW.
Persoonlike higiëne
6. (a) Gee voorbeelde uit die boek Levitikus wat toon dat persoonlike sowel as kollektiewe higiëne in Israel vereis is. (b) Wat was die doel van sulke wette?
6 Daar is al gesê: “’n Rein liggaam is naaste aan ’n rein hart.” Iemand wat sedelik en liggaamlik rein is, het weliswaar nie noodwendig ’n rein hart nie. Maar iemand met ’n rein hart, ’n godvrugtige persoon, moet sedelik en liggaamlik rein wees. Die Mosaïese Wet het noukeurige instruksies verstrek oor die reiniging van besmette huise en oor persoonlike reiniging in verskillende gevalle van onreinheid. (Kyk Levitikus hoofstukke 14 en 15.) Daar is van alle Israeliete vereis om heilig te wees (Levitikus 19:2). Die publikasie Insight on the Scriptures sê: “Die dieetkundige, sanitêre en sedelike wette wat God [die Israeliete] gegee het, het hulle voortdurend herinner aan hulle afgeskeidenheid en heiligheid vir God.”—Deel 1, bladsy 1128.
7. Wat kan van Jehovah se Getuies as volk gesê word, maar wat het party reisende opsieners berig?
7 Hoewel Jehovah se Getuies as ’n volk geensins deur Babiloniese valse godsdiens besmet is en nie sedelike onreinheid in hulle midde vergoelik nie, toon verslae van reisende opsieners dat sommige individue persoonlike higiëne en netheid nalaat. Hoe kan ons seker maak dat ons ook in hierdie opsig rein is? Bethel, wat “Huis van God” beteken, is ’n goeie model vir alle Christenhuise.
8, 9. (a) Watter raad word aan alle nuwe lede van die Bethelgesin gegee? (b) Watter beginsels wat in Bethelhuise gevolg word, moet elke Christengesin lei?
8 Wanneer iemand ’n lid word van ’n Bethelgesin by die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier of enige van sy takke dwarsdeur die wêreld word ’n brosjure aan hom gegee wat deur die Bestuursliggaam opgestel is. Hierdie publikasie verduidelik wat van hom verwag word wat werkgewoontes en persoonlike gewoontes betref. Onder die tussenhofie “Kamersorg en sindelikheid” sê dit: “Bethellewe vereis dat hoë liggaamlike, sedelike en geestelike standaarde gehandhaaf word. Dit moet vir elkeen by Bethel ’n saak van erns wees om homself en sy kamer skoon te hou. Dit dra by tot goeie gesondheid. Daar bestaan geen rede waarom enigiemand vuil hoef te wees nie. Dit is ’n goeie gewoonte om elke dag te bad .... Dit is noodsaaklik om voor etes te was, en dit word van almal verwag. Uit bedagsaamheid teenoor jou kamermaat en huishoudster moet die wasbak of bad uitgespoel word elke keer nadat dit gebruik is.”
9 In Bethelhuise word die toilette silwerskoon gehou, en daar is geriewe beskikbaar sodat almal wat dit gebruik dadelik hulle hande kan was. Daar word van lede van die gesin verwag om die toilet skoon te laat na gebruik, wat beteken dat ’n mens seker moet maak dat die toilet behoorlik deurgespoel is. Dit toon bedagsaamheid teenoor die volgende gebruiker of teenoor die huishoudster. Behoort elke Christengesin nie deur sulke goeie, liefdevolle beginsels gelei te word nie?
10. (a) Waarom het ’n mens nie ’n moderne badkamer nodig om jouself en jou kinders skoon te hou nie? (b) Watter wette in Israel het goeie gesondheid bevorder, en watter les kan Jehovah se volk vandag hieruit leer?
10 Toestande wissel natuurlik van land tot land. Op sommige plekke het huise nie ’n bad of selfs ’n stortbad nie. Maar Christenmanne en -vroue kan in die reël genoeg seep en water vind om hul eie liggaam skoon te hou en om toe te sien dat hulle kinders skoon is.a Dwarsdeur die wêreld is daar baie huise wat nie aan ’n rioolstelsel verbind is nie. Maar rioolvuil kan met veiligheid weggedoen word deur dit te begrawe, net soos die Israeliete selfs in militêre kampe moes doen (Deuteronomium 23:12, 13). Daarbenewens het Jehovah se wette in verband met kamplewe vereis dat mense hulle klere dikwels was en gereeld bad, dat siekte gou gediagnoseer en behandel word, lyke reg hanteer word en water- en kosvoorrade skoongehou word. Al hierdie wette het tot die gesondheid van die nasie bygedra. Moet die persoonlike gewoontes van Jehovah se volk vandag dan enigsins minder higiënies wees?—Romeine 15:4.
Netjiese huise en motors
11. (a) Wat moet vir selfs die nederigste Christenhuis geld? (b) Watter samewerking word van alle lede van die Bethelgesin verwag?
11 Ons huise kan ordelik en skoon wees al is hulle ook hoe nederig, maar dit verg goeie organisasie op die gesinsvlak. ’n Christenmoeder moet soveel tyd moontlik aan geestelike sake wy, met inbegrip van die predikingswerk, en daarom behoort dit nie vir haar nodig te wees om elke dag op te ruim omdat gesinslede klere, boeke, koerante, tydskrifte, ensovoorts, laat rondlê nie. Hoewel daar in Bethel huishoudsters is wat die skoonmaakwerk doen, word daar van elke lid van die gesin verwag om soggens sy bed op te maak en sy kamer aan die kant te maak. Ons waardeer almal ons netjiese en skoon Koninkryksale en Byeenkomssale. Mag ons huise ook daarvan getuig dat ons lede van Jehovah se rein en heilige volk is!
12, 13. (a) Watter raad word gegee oor motors wat in Jehovah se diens gebruik word, en waarom hoef dit nie baie tyd in beslag te neem nie? (b) Watter geestelike rede is daar om altyd liggaamlik skoon te wees en netjiese huise en motors te hê?
12 Baie van Jehovah se knegte gebruik vandag motors vir vervoer na vergaderinge en hulle velddiensgebied. In sommige lande is ’n motor feitlik onontbeerlik as ’n instrument om Jehovah te dien. As sodanig moet dit, net soos ons huis netjies en skoon gehou word. Christene kan weliswaar nie vreeslik baie tyd daaraan bestee om hulle motors te vertroetel soos sommige mense in die wêreld doen nie. Maar sonder om tot daardie uiterste oor te hel, moet Jehovah se knegte daarna streef om hulle motors redelik skoon en in ’n goeie toestand te hou. In sommige lande is dit nie duur of tydrowend om ’n motor by ’n vulstasie te laat was nie. Wat die binnekant van ’n motor betref, kan tien minute se skoonmaak en opruimwerk wondere verrig, Ouere manne en bedieningsknegte in die besonder moet daarna streef om voorbeeldig in hierdie opsig te wees, aangesien hulle dikwels hul motors gebruik om groepe verkondigers te vervoer as hulle velddiens gaan doen. Wanneer ’n verkondiger ’n belangstellende oplaai om hom na ’n vergadering te neem, is dit beslis nie ’n goeie getuienis as die motor vuil en onnet is nie.
13 As ons ons inspan om liggaamlik skoon te wees en om skoon en netjiese huise en motors te hê, eer ons Jehovah dus as lede van sy rein organisasie.
Reinheid wanneer ons geestelike offers bring
14. Watter wette het seremoniële reinheid in Israel omskryf, en wat toon hierdie wette?
14 Seremoniële reinheid in verband met aanbidding is in Israel op straf van die dood vereis. Jehovah het vir Moses en Aäron gesê: “So moet julle dan die kinders van Israel van hulle onreinheid afsonder, dat hulle nie deur hulle onreinheid sterwe nie—deurdat hulle my tabernakel wat in hulle midde is, verontreinig” (Levitikus 15:31). Op die Versoendag moes die hoëpriester sy liggaam twee maal in water bad (Levitikus 16:4, 23, 24). Die koperkom by die tabernakel, en later die reusekopersee by die tempel, het water voorsien vir die priesters om in te was voordat hulle offers aan Jehovah gebring het (Exodus 30:17-21; 2 Kronieke 4:6). Wat van die Israeliete oor die algemeen? As hulle om die een of ander rede seremonieel onrein geword het, is hulle belet om aan aanbidding deel te neem totdat hulle die reinigingsvereistes nagekom het (Numeri 19:11-22). Al hierdie dinge beklemtoon dat liggaamlike reinheid vereis word van diegene wat die heilige God Jehovah aanbid.
15. Waarom is diereoffers nie meer nodig nie, maar watter vrae ontstaan?
15 Daar word weliswaar nie vandag van Jehovah se volk verwag om diereoffers by ’n aardse tempel te bring nie. Die offerandes onder die Wet is vervang deur “die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal” (Hebreërs 10:8-10). Ons aanbid “die Vader in gees en waarheid” (Johannes 4:23, 24). Maar beteken dit dat ons geen offers het om aan ons heilige God Jehovah te bring nie? En is reinheid vir ons enigsins minder verpligtend as wat dit vir die Israeliete was?
16. Hoe word die profesie in Maleagi 3:3, 4 sedert 1918 met betrekking tot gesalfde Christene vervul, en watter welgevallige offers kan hulle aan Jehovah bring?
16 Die profesie van Maleagi toon dat gesalfde Christene wat hulle in die tyd van die einde op aarde bevind, gelouter, of gereinig, sal word vir tempeldiens. Die geskiedenis toon dat hierdie loutering in 1918 begin het. Sedert 1919 bring die gesalfde oorblyfsel beslis “aan die HERE in geregtigheid ’n offer”, en hulle offer is “vir die HERE aangenaam” (Maleagi 3:3, 4). Hulle kan dus “geestelike offers . . . bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus” (1 Petrus 2:5). Die apostel Paulus het geskryf: “Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.”—Hebreërs 13:15.
17. Waarom moet die “groot menigte”, hoewel hulle nie deel van die koninklike priesterdom uitmaak nie, liggaamlik, verstandelik, sedelik en geestelik rein wees?
17 Hoewel die “groot menigte” nie soos die gesalfde oorblyfsel geroep word om priesterlike tempeldiens te doen nie, ‘dien hulle Jehovah dag en nag’ in die aardse voorhof van sy geestelike tempel (Openbaring 7:9, 10, 15). Ons sal onthou dat nie-priesterlike Israeliete seremonieel rein moes wees om aan aanbidding by die tabernakel of, later, by die tempel te kon deelneem. Die groot menigte ander skape moet eweneens liggaamlik, verstandelik, sedelik en geestelik rein wees as hulle by die tempel wil dien en saam met die oorblyfsel ‘aan God ’n lofoffer wil bring’ deur ‘sy Naam te bely’.
Skoon en netjies vir velddiens en vergaderinge
18. Waarop moet ons let wat ons persoonlike sindelikheid, klere en skoene betref wanneer ons aan die openbare getuieniswerk deelneem en vergaderinge bywoon?
18 Wat beteken dit in die praktyk? Dit beteken dat dit uiters onvanpas en oneerbiedig teenoor Jehovah sal wees om hom in die huis-tot-huisbediening, op straat of in iemand se huis te verteenwoordig as ons nie liggaamlik skoon en behoorlik geklee is nie. Ons moet dus nie onverskillig teenoor sulke sake staan nie. Ons moet noukeurig daaraan aandag skenk, sodat ons optree op ’n wyse wat pas by bedienaars wat Jehovah se naam dra. Ons klere hoef nie duur te wees nie, maar dit moet skoon, smaakvol en beskeie wees. Ons skoene moet ook heel wees en goed lyk. By alle vergaderinge, met inbegrip van die Gemeentelike Boekstudie, moet ons liggame insgelyks skoon wees en moet ons netjies en gepas geklee wees.
19. Watter geestelike voordele spruit uit ons skoon en netjiese voorkoms as Christenbedienaars?
19 Ons skoon en netjiese voorkoms terwyl ons aan die getuieniswerk deelneem en ons vergaderinge bywoon, is een manier om ‘die leer van God, ons Verlosser, te versier’ (Titus 2:10). Dit is op sigself ’n getuienis. Baie mense is beïndruk deur ons sindelikheid en netheid, en dit het hulle beweeg om te luister na ons boodskap aangaande Jehovah se wonderlike voornemens vir regverdige nuwe hemele en ’n gereinigde nuwe aarde.—2 Petrus 3:13.
20. Watter ander goeie vrugte werp dit af wanneer ons rein van verstand en liggaam is?
20 Terwyl Jehovah se rein nuwe stelsel al nader kom, moet elkeen van ons ons ondersoek om te kyk of ons veranderinge in ons denke of in ons persoonlike gewoontes moet aanbring. Paulus het geskryf: “Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees; want net soos julle jul lede diensbaar gestel het aan die onreinheid en wetteloosheid om wetteloos te wees, so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking” (Romeine 6:19). Geestelike en liggaamlike reinheid werp selfs nou goeie vrugte af, ’n “vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe” (Romeine 6:22). Laat ons dus rein van verstand en liggaam wees terwyl ons ‘onsself aan God gee as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is’.—Romeine 12:1, NAV.
[Voetnoot]
a Kyk die artikel “Bied die uitdaging van sindelikheid die hoof” in die Ontwaak! van 22 September 1988, bladsye 8-11, vir praktiese wenke oor higiëne in moeilike omstandighede.
Hersieningsgedagtes
◻ Hoe kan ons oë en hart ons in losbandige gedrag laat verval?
◻ Watter voordele het die Israeliete ontvang wanneer hulle Jehovah se wette oor kollektiewe en individuele higiëne gehoorsaam het?
◻ Watter beginsels wat in Bethelhuise toegepas word, moet elke Christengesin lei?
◻ Veral wanneer moet ons op ons voorkoms let?
◻ Watter geestelike redes het Jehovah se knegte om hulle huise en motors skoon en netjies te hou?
[Prent op bladsy 17]
“Bethellewe vereis dat hoë liggaamlike, sedelike en geestelike standaarde gehandhaaf word”
[Prent op bladsy 18]
Behoort ’n moeder elke dag ekstra tyd daaraan te bestee om agter onbedagsame gesinslede op te ruim?
[Prent op bladsy 19]
In tien minute kan wondere verrig word om die binnekant van ’n motor skoon te maak