Gileadskool—Floreer nog ná 50 jaar!
“DAAR is baie plekke waar die getuienis aangaande die Koninkryk nog nie in ’n groot mate gegee is nie”, het N. H. Knorr op 1 Februarie 1943, die openingsdag van die skool, aan die eerste Gileadklas gesê. Hy het bygevoeg: “Daar is seker nog honderde en duisende wat bereik kan word as daar meer arbeiders in die veld was. Deur die Here se genade sal daar meer wees.”
En daar was meer arbeiders—miljoene meer! Die geledere van Koninkryksverkondigers het toegeneem van 129 070 in 54 lande in 1943 tot 4 472 787 in 229 lande in 1992! Die Gileadskool het grootliks bygedra tot die getuienis wat tot daardie toename gelei het. Ná 50 jaar speel dit steeds ’n sleutelrol om sendingarbeiders op te lei sodat hulle kan dien waar hulle ook al in die wêreldveld nodig is.
Op 7 Maart 1993 was daar 4 798 genooide gaste en lede van die Bethelgesin in Amerika wat by die Jersey City-Byeenkomssaal, in New Jersey, vir die graduering van die 94ste klas vergader het. Hierdie waarlik spesiale gebeurtenis het ook ’n geleentheid gebied om ’n terugblik te werp op die 50 jaar van die Gileadskool. Wil jy graag iets oor die program weet?
Ná ’n openingslied het George D. Gangas van die Bestuursliggaam ’n innige gebed gedoen. Toe het die gegradueerdes—en al die teenwoordiges—ná die voorsitter, Carey W. Barber, se paar inleidende opmerkings, aandagtig na ’n reeks kort toesprake geluister.
Robert W. Wallen was eerste aan die woord met die tema: “Julle is nooit alleen nie.” Hy het innig gesê: ‘In die dae wat voorlê, sal daar tye in julle lewe wees wanneer julle so vreeslik alleen, so vreeslik ver weg van familie en vriende, sal voel.’ Hoe kan daar dan gesê word: “Julle is nooit alleen nie”? Hy het verduidelik: ‘Omdat elkeen van julle oombliklik met Jehovah God kan kommunikeer.’ Hy het die gegradueerdes aangespoor om die voorreg van gebed te koester en dit daagliks te gebruik. Dan sal hulle, soos Jesus, kan sê: ‘Ek is nie alleen nie’ (Johannes 16:32). Hoe het daardie woorde die gegradueerdes tog nie bemoedig nie!
Lyman A. Swingle van die Bestuursliggaam het vervolgens gedurende sy ontwikkeling van die tema “Hou vas aan julle hoop” (wat op die dagteks vir 7 Maart gebaseer is) oor die belangrikheid van twee eienskappe—volharding en hoop—gepraat. ‘Oneer, vyandigheid, haat, gevangenskap, selfs die dood, is redes waarom Christene moet volhard’, het hy gesê. ‘Daar is geen beperking op die krag wat die verstand te bowe gaan waarop getroue Getuies van Jehovah in tye van nood kan steun nie. Dit is beslis gerusstellend, veral vir julle as gegradueerdes.’ Wat van hoop? ‘Hoop is noodsaaklik’, het hy verduidelik. ‘Soos ’n helm die kop van die draer beskerm, bewaar en beskerm die hoop op redding die verstandelike krag van die Christen en stel dit hom in staat om in sy onkreukbaarheid te volhard.’—1 Thessalonicense 5:8.
Die volgende spreker, Ralph E. Walls, het ’n interessante tema “Hoe kan ons vlug na die veiligheid van ’n ‘ruim plek’?” gekies. Wat is hierdie “ruim plek”? (Psalm 18:19, NW). “’n Toestand van verlossing wat gemoedsrus en ’n geruste hart meebring”, het die spreker verduidelik. Waarvan moet ons verlos word? ‘Onsself—ons eie tekortkominge.’ Hy het bygevoeg: ‘Ook van eksterne toestande wat deur Satan aangevuur word’ (Psalm 118:5). Hoe kan ons na die veiligheid van ’n ruim plek vlug? ‘Deur Jehovah se gebooie te soek in alles wat ons doen en deur Jehovah met geloof in gebed te nader oor al ons bekommernisse.’
“Wat lê voor?” was die tema wat Don A. Adams gekies het. En wat het vir die nuwe sendelinge voorgelê? ’n Tydperk van aanpassing, het hy verduidelik. “Daar lê ook talle seëninge vir julle voor.” Hy het die voorbeeld van twee sendelinge genoem wat, nadat hulle in hulle toewysing gevestig was, geskryf het: “Dink aan die beste dag wat julle nog ooit in die diens gehad het, en dít is hoe elke dag is. Ons kan nooit genoeg lektuur by ons hê nie, en mense vra ons gedurig vir studies.” Die spreker het ’n paar van sy kommentare aan die familie en vriende van die gegradueerdes gerig: ‘Julle hoef nie bekommerd te wees oor hierdie gegradueerdes nie. Julle kan hulle help deur bemoedigende briewe aan hulle te skryf.’—Spreuke 25:25.
Die skoolinstrukteurs was volgende aan die beurt. Jack D. Redford het die tema “Moet niks van enigiemand verwag nie” gekies. Hy het verduidelik dat een van die uitdagings wat die gegradueerdes die hoof sal moet bied, is om met ander oor die weg te kom. Wat kan hulle help? “Sien hulle foute oor. Moenie te veel van ander mense verwag nie. Moenie altyd verwag dat julle alles moet kry wat julle dink julle toekom nie. Neem ander mense se tekortkominge in aanmerking, en hierdie goedhartigheid sal julle help om met almal oor die weg te kom. Julle vermoë om met ander mense oor die weg te kom, sal toon hoe volwasse julle is” (Spreuke 17:9). As die gegradueerdes hierdie wyse raad toepas, sal dit hulle beslis help om hulle met welslae by sendingwerk in ’n vreemde land aan te pas!
“Ons het hierdie skat in erdekruike”, sê 2 Korinthiërs 4:7. Ulysses V. Glass, die sekretaris van die Gileadskool, het kommentaar oor die teks gelewer namate hy die tema “Vertrou jou betroubare, getroue broers” ontwikkel het. Wat is die “erdekruike”? “Dit moet na ons as onvolmaakte mense verwys”, het hy gesê. Wat is die “skat”? “Dit is ons Christelike bediening”, het hy verduidelik (2 Korinthiërs 4:1). En wat moet met hierdie skat gedoen word? “Die skat wat Jehovah aan ons toevertrou het, moet nie opgegaar word nie. Daarom moet julle, liewe voornemende sendelinge, daardie skat uitdeel waar julle ook al gaan en talle ander leer hoe om dit uit te deel.”
Dit was ’n nostalgiese oomblik toe Albert D. Schroeder begin praat het omdat hy die sekretaris van die Gileadskool was toe dit die eerste keer geopen is. Sy tema was “’n Halfeeu van teokratiese opleiding”. “Jehovah weet hoe om doeltreffende opleiding aan te bied, en hy het dit gedoen”, het hy gesê. Hoe? Broer Schroeder het gepraat van die opleiding wat deur twee skole verskaf is wat 50 jaar gelede geopen is—die Teokratiese Bedieningskool en die Gileadskool. Hy het daarop gewys dat die New World Translation ’n waardevolle hulpmiddel is wat juiste kennis verskaf. Hy het die gegradueerdes verseker: “Julle kan na julle buitelandse toewysings gaan met die vaste vertroue dat die Genootskap julle goed sal voorsien van juiste kennis van Jehovah se voornemens.”
Milton G. Henschel, president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië, het oor die tema “Meer as oorwinnaars” gepraat. Broer Henschel het sy tema uit die jaarteks vir 1943 geneem: “Meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het” (Romeine 8:37). Hy het verduidelik dat dit ’n gepaste jaarteks was omdat ons broers in talle lande destyds gedurende die Tweede Wêreldoorlog erg vervolg is. Broer Henschel het gedeeltes gelees uit die nommer van Die Wagtoring wat daardie jaarteks bespreek het en het toe verduidelik: “Hierdie Watchtower-artikel [15 Januarie 1943] is in Februarie deur die eerste Gileadklas bestudeer, en dit het hulle voorberei vir wat voorgelê het.” Hy het verduidelik dat baie van die gegradueerdes oor die afgelope 50 jaar reeds bewys gelewer het dat hulle oorwinnaars is. Wat van die 94ste klas? “Bly na aan Jehovah, bly na aan sy liefde, en jou oorwinning is verseker.”
Ná die oggend se toesprake het die voorsitter ’n paar boodskappe van groete oorgedra wat uit verskeie lande ontvang is. Toe het die oomblik aangebreek waarvoor die 24 egpare gretig gewag het—die uitdeling van die diplomas. Die Gileadstudente was nou werklik amptelik Gileadgegradueerdes! Hulle het van 5 lande gekom, maar hulle toewysings het hulle na 17 lande, onder andere Hong Kong, Taiwan, Mosambiek en dele van Oos-Europa geneem.
Ná ’n pouse het die middagprogram met ’n verkorte Wagtoring-studie begin wat deur Robert L. Butler gehou is. Daarna het die gegradueerdes ’n paar van die uitstaande ondervindinge opgevoer wat hulle gedurende getuieniswerk naby Wallkill, New York, geniet het. Die program het een van die dinge weerspieël wat hulle ongetwyfeld na Gilead gebring het—hulle innige liefde vir die veldbediening.
Ná die studenteprogram het baie in die gehoor gewonder of die program iets spesiaals inhou om die 50 jaar van die Gileadskool te herdenk. Hulle is nie teleurgestel nie!—Sien die bygaande venster: “’n Oorsig oor 50 jaar van die Gileadskool”.
Vyftig jaar gelede het broer Knorr getoon dat hy ’n man van geloof en insig was. Sy oortuiging dat die Gileadskool ’n sukses sou wees, is verwoord in sy openingsrede aan die eerste klas, toe hy gesê het: “Ons glo dat daar, in ooreenstemming met sy naam, ’n ‘hoop van getuienis’ uit hierdie plek na alle dele van die wêreld sal uitgaan en dat daardie getuienis sal staan as ’n monument tot die heerlikheid van God wat nimmer vernietig kan word nie. Julle as geordende dienaars sal volkome vertroue hê in die Allerhoogste, met die wete dat hy julle in elke tyd van nood sal lei, en julle sal ook weet dat hy ook die God van seëning is.”a
Vyftig jaar later floreer die Gileadskool steeds! Die gegradueerdes van die 94ste klas het nou die voorreg om meer as 6 500 gegradueerdes te volg wat hulle voorafgegaan het. Mag hulle volkome op die Allerhoogste vertrou terwyl hulle hulle deel doen om ’n “hoop van getuienis” op te bou wat ’n monument ter verheerliking van Jehovah God sal wees.
[Voetnoot]
a In Hebreeus beteken die woord “Gilead” “Getuienishoop”.—Genesis 31:47, 48.
[Venster op bladsy 25]
Klasstatistiek
Aantal studente: 48
Aantal lande verteenwoordig: 5
Aantal lande waarheen gestuur: 17
Gemiddelde ouderdom: 32
Gemiddelde jare in waarheid: 15,3
Gemiddelde jare in voltydse bediening: 9,6
[Venster op bladsy 26, 27]
’N OORSIG OOR 50 JAAR VAN DIE GILEADSKOOL
Watter beter manier is daar om ’n terugblik te werp op Gilead se geskiedenis as deur die ondervindinge van diegene wat daar was—die vorige gegradueerdes, die instrukteurs en ander wat dit help organiseer het? Die gehoor was verheug terwyl hulle geluister het na die deel “’n Oorsig oor 50 jaar van die Gileadskool” wat deur Theodore Jaracz behartig is.
Watter omstandighede het tot die stigting van die skool aanleiding gegee? Broer Schroeder het verduidelik dat hy en twee ander instrukteurs net vier maande gegun is om die skool te organiseer. “Maar teen Maandag, 1 Februarie 1943, was ons gereed vir die toewyding.”
Hoe het die eerste sendelinge wat uitgestuur is dit gevind? Broer Henschel het vertel: “Ons het die Genootskap se versendingsafdeling gevra om al die besittings wat hulle wou saamneem in houtkratte te verpak. Toe die kratte hulle bestemming bereik het, het hulle dit versigtig oopgemaak en hulle besittings uitgehaal. Maar toe het hulle die kratte gebruik om meubels mee te maak.” Hy het gesê dat die Genootskap mettertyd reëlings getref het vir sendinghuise wat beskeie toegerus was.
’n Paar gegradueerdes van Gilead se vroeë klasse wat nou lede van die Bethelgesin in Amerika is, het vervolgens hulle herinneringe, hulle gevoelens en hulle ondervindinge gedeel. Hulle kommentare het waarlik die hartsnare van almal teenwoordig geroer.
“Nadat ek die uitnodiging ontvang het om die eerste klas by te woon, het ek verneem dat my moeder kanker het. Maar aangesien sy sedert sy 16 jaar oud was pionierdiens gedoen het, het sy my sterk aangeraai om die uitnodiging te aanvaar. Ek het dus met gemengde gevoelens en vertroue in Jehovah na South Lansing gereis. Ek het die Gileadopleiding ten volle geniet en diep waardeer. My moeder is ’n ruk ná my graduering oorlede.”—Charlotte Schroeder wat in Mexiko en El Salvador gedien het.
“Aangesien Jehovah reeds na my omgesien het in die deel van die aarde waar ek was, het ek gereken dat enige plek waarheen ek gaan steeds sy aarde is en dat hy na my sal omsien. Ek het die uitnodiging na die eerste klas dus met graagte aanvaar.”—Julia Wildman wat in Mexiko en El Salvador gedien het.
“Dit was wonderlik! Ons kon by elke huis praat. Ek het in die eerste maand 107 boeke versprei en 19 Bybelstudies gehou. Ek het die tweede maand 28 Bybelstudies gehou. Daar was natuurlik ’n paar dinge waaraan ons gewoond moes raak—hitte, humiditeit, insekte. Maar dit was ’n wonderlike voorreg om daar te wees. Dit is iets wat ek altyd sal koester.”—Mary Adams, tweede klas, aangaande haar toewysing in Kuba.
“Die weer was een van die groot struikelblokke wat ons in Alaska die hoof moes bied. In die noorde is dit baie, baie koud, met temperature wat tot [minus 50 grade Celsius] en kouer daal. Die Indiaanse dorpies en afgeleë plekkies in suidoostelike Alaska is óf per boot óf per vliegtuig bereik.”—John Errichetti, derde klas.
“Vir my was Gilead ’n uitnodiging van Jehovah deur sy aardse organisasie om ons geestelik te versterk en ons ’n wonderlike lewenswyse te toon.”—Mildred Barr, 11de klas, wat in Ierland gedien het.
Nog genotvolle onderhoude het gevolg—Lucille Henschel (14de klas, wat in Venezuela gedien het), Margareta Klein (20ste klas, wat in Bolivia gedien het), Lucille Coultrup (24ste klas, wat in Peru gedien het), Lorraine Wallen (27ste klas, wat in Brasilië gedien het), William en Sandra Malenfant (34ste klas, wat in Marokko gedien het), Gerrit Lösch (41 ste klas, wat in Oostenryk gedien het) en David Splane (42ste klas, wat in Senegal gedien het).
Wat van die broers wat as instrukteurs gedien het? Daar is ook met ’n aantal van hulle onderhoude gevoer—Russell Kurzen, Karl Adams, Harold Jackson, Fred Rusk, Harry Peloyan, Jack Redford en Ulysses Glass. Hulle het gepraat oor hulle voorreg en vertel hoe dit hulle tot vandag toe nog raak.
Lloyd Barry, wat in Japan gedien het, het op aangrypende wyse getoon hoe doeltreffend die werk was wat Gileadopgeleide sendelinge gedoen het. In 1949, toe 15 sendelinge soontoe gestuur is, was daar minder as 10 verkondigers in die hele Japan. Maar 44 jaar later is daar meer as 175 000 Koninkryksverkondigers in daardie land! Robert Wallen het gepraat oor die uitstaande sukses wat party sendelinge geniet het om mense in die waarheid te help, onder andere een sendelingsuster wat al meer as 45 jaar in Panama is en 125 mense gehelp het om hulle toe te wy en te laat doop.
Die hoogtepunt van die hele program was toe almal in die gehoor wat Gileadgegradueerdes is, genooi is om op die verhoog te kom staan. Dit was waarlik ’n roerende oomblik. ’n Volgehoue stroom broers en susters—89 in die Bethelgesin buiten besoekende gegradueerdes—het in die paadjies afgekom en met die trappe tot op die verhoog gestap. Die broers wat deur die jare heen as instrukteurs gedien het, het by hulle aangesluit en toe het die 94ste klas ook by hulle aangesluit—altesaam ongeveer 160!
“Was die werk van die Gileadskool om sendelinge vir die buiteland op te lei enigsins suksesvol?” het broer Jaracz gevra. “Die bewyse van die afgelope 50 jaar is ’n oorweldigende ja!”
[Prent op bladsy 25]
94ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead
In die lys hieronder word rye van voor na agter genommer en name word van links na regs in elke ry aangegee.
(1) De La Garza, C.; Borg, E.; Arriaga, E.; Chooh, E.; Purves, D.; Fosberry, A.; Delgado, A.; Drescher, L. (2) Scott, V.; Fridlund, L.; Kettula, S.; Copeland, D.; Arriaga, J.; Thidé, J.; Olsson, E.; Widegren, S. (3) Delgado, F.; Keegan, S.; Leinonen, A.; Finnigan, E.; Fosberry, F.; Halbrook, J.; Berglund, A.; Jones, P. (4) Watson, B.; Frias, C.; Chooh, B.; Halbrook, J.; Purves, J.; Finnigan, S.; Jones, A.; Cuccia, M. (5) Scott, G.; Copeland, D.; Drescher, B.; De La Garza, R.; Leinonen, I.; Keegan, D.; Watson, T.; Kettula, M. (6) Widegren, J.; Borg, S.; Cuccia, L.; Berglund, A.; Olsson, B.; Frias, J.; Fridlund, T.; Thidé, P.