Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 6/1 bl. 10-15
  • Vervolmaak heiligheid in die vrees vir God

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vervolmaak heiligheid in die vrees vir God
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Heiligheid en afgeskeidenheid
  • ’n Afgesonderde volk
  • Geestelike reinheid
  • Sedelike reinheid
  • ’n Eerbare huwelik
  • Wandel op “die heilige weg”
  • “Heilig, heilig, heilig is Jehovah”
    Kom nader aan Jehovah
  • Streef na “heiligheid in die vrees van God”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Het jy Jehovah se beskouing van heilige dinge?
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • “Wees heilig . . . ”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 6/1 bl. 10-15

Vervolmaak heiligheid in die vrees vir God

“Laat ons ons reinig van elke verontreiniging van vlees en gees, en in die vrees vir God heiligheid vervolmaak.”—2 KORINTHIËRS 7:1, “NW”.

1. Hoe weet ons dat hooggeplaaste engele Jehovah se heiligheid erken?

JEHOVAH is die heilige God. Hooggeplaaste engele in die hemel kondig sy heiligheid ondubbelsinnig aan. “Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!” So klink die aangrypende uitroep van die serafs wat die profeet Jesaja in die agtste eeu v.G.J. in ’n gesig gesien het. Aan die einde van die eerste eeu G.J. het die apostel Johannes gesigte gehad van wat sou plaasvind in “die dag van die Here”, waarin ons ons nou bevind. Hy het vier lewende wesens om Jehovah se troon gesien en gehoor hoe hulle onophoudelik aankondig: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom!” Hierdie drievoudige verklarings deur Jehovah se hemelse geesskepsele beklemtoon die Skepper se oortreffende heiligheid.—Jesaja 6:2, 3; Openbaring 1:10; 4:6-8.

Heiligheid en afgeskeidenheid

2. (a) Watter twee aspekte behels heiligheid, en hoe is Jehovah heilig in albei hierdie opsigte? (b) Hoe het Moses Jehovah se heiligheid beklemtoon?

2 Heiligheid beteken nie alleen godsdienstige reinheid en suiwerheid nie, maar ook afgeskeidenheid, of gewydheid. Jehovah is in die hoogste mate rein of suiwer; hy is geheel en al apart van al die vieslike gode van die nasies. Hierdie aspek van sy heiligheid, of gewydheid, is deur Moses beklemtoon toe hy gesing het: “o HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid?”—Exodus 15:11.

3. Op watter gebiede is heiligheid van al die Israeliete vereis, en hoe het Jehovah hulle in hierdie verband gehelp?

3 Die heilige God Jehovah het vereis dat die eertydse Israeliete, sy volk op aarde, ook heilig moes wees. Hy het dit nie alleen van die priesters en Leviete vereis nie, maar ook van die hele volk. Jehovah het vir Moses gesê: “Spreek met die hele vergadering van die kinders van Israel en sê vir hulle: Heilig moet julle wees, want Ek, die HERE julle God, is heilig” (Levitikus 19:2). Te dien einde het Jehovah hulle wette gegee om hulle te help om geestelik, sedelik, verstandelik, liggaamlik en seremonieel rein te bly. Laasgenoemde reinheid het verband gehou met hulle aanbidding by die tabernakel en, later, by die tempel.

’n Afgesonderde volk

4, 5. (a) Hoe was vleeslike Israel ’n geheiligde nasie? (b) Wat word van geestelike Israeliete vereis, en hoe bevestig die apostel Petrus dit?

4 In dieselfde mate waarin die Israeliete God se wette gehoorsaam het, was hulle anders as die verdorwe nasies om hulle. Hulle is onderskei as ’n volk wat afgesonder, of geheilig was, vir die diens van die heilige God, Jehovah. Moses het vir hulle gesê: “Jy is ’n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees.”—Deuteronomium 7:6.

5 Sulke reinheid en afgeskeidenheid word ook van geestelike Israel vereis. Aan diegene wat gekies is om geestelike Israeliete te wees, het die apostel Petrus geskryf: “Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.”—1 Petrus 1:1, 2, 14-16.

6, 7. (a) Hoe word die lede van die “groot menigte” in Openbaring hoofstuk 7 beskryf, en wat word logies van hulle vereis? (b) Wat gaan in die volgende paragrawe bespreek word?

6 In Openbaring hoofstuk 7 word die lede van die “groot menigte” beskryf as persone wat ‘staan voor die troon van Jehovah en voor die Lam, bekleed met wit klere’ en wat “hul klere gewas en hul klere wit gemaak [het] in die bloed van die Lam” (Openbaring 7:9, 14). Hulle wit klere beeld hulle rein, regverdige posisie voor Jehovah af, wat hy hulle skenk weens hulle geloof in Christus se soenbloed. Dit is dus duidelik dat nie net gesalfde Christene nie, maar ook “ander skape” geestelik en sedelik rein moet bly sodat hulle Jehovah op aanneemlike wyse kan aanbid.—Johannes 10:16.

7 Kom ons bespreek nou hoe Jehovah se volk in die verlede rein en heilig moes wees en waarom dieselfde beginsels vir God se hedendaagse volk geld.

Geestelike reinheid

8. Om watter redes moes die Israeliete hulle afgeskeie hou van die godsdienste van Kanaän?

8 Vleeslike Israeliete moes hulle nougeset afgeskeie hou van die onrein godsdiensgebruike van ander nasies. Jehovah het Israel deur Moses meegedeel: “Neem jou in ag dat jy geen verbond sluit met die inwoner van die land waarin jy kom nie; sodat hy nie miskien ’n strik by jou word nie. Maar hulle altare moet julle omgooi en hulle klippilare [wat in verband met walglike seksaanbidding gebruik is] verbrysel en hulle heilige boomstamme afkap. Want jy mag jou nie neerbuig voor ’n ander God nie; want die HERE se Naam is Jaloers—’n jaloerse God [of, “’n God wat uitsluitlike toegewydheid verg”, NW-naslaanuitgawe, voetnoot] is Hy . . . [sodat julle] nie ’n verbond [sluit] met die inwoner van die land nie [want hulle sal] agter hulle gode aan hoereer en aan hulle afgode offer.”—Exodus 34:12-15, vgl. NW.

9. Watter noukeurige instruksies is aan die getroue oorblyfsel gegee wat Babilon in 537 v.G.J. verlaat het?

9 Eeue later het Jehovah Jesaja geïnspireer om hierdie profetiese woorde te rig tot die getroue oorblyfsel wat uit Babilon na Juda sou terugkeer: “Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie; gaan uit hulle midde uit, reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die HERE [wat gebruik moes word om ware aanbidding by die tempel in Jerusalem te herstel].”—Jesaja 52:11.

10, 11. (a) Watter soortgelyke instruksies is in die eerste eeu G.J. aan geestelike Israeliete gegee? (b) Hoe is hierdie instruksies veral sedert 1919 en 1935 nagekom, en op watter ander manier bly die gesalfdes en hulle metgeselle geestelik rein?

10 Geestelike Israeliete en hulle metgeselle moet eweneens sorg dat hulle nie deur die afgodsaanbiddende godsdienste van hierdie wêreld besoedel word nie. Toe die apostel Paulus aan gesalfde Christene in die gemeente in Korinthe geskryf het, het hy gesê: “Watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem.”—2 Korinthiërs 6:16, 17.

11 Sedert 1919 is die gereinigde en gelouterde lede van die gesalfde oorblyfsel bevry van die onrein, afgodsaanbiddende godsdienste van Babilon die Grote (Maleagi 3:1-3). Hulle het ag geslaan op die hemelse oproep: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openbaring 18:4). Sedert 1935 het ’n toenemende groot menigte “ander skape” eweneens op hierdie oproep ag geslaan en onrein Babiloniese godsdiens verlaat. Die gesalfdes en hulle metgeselle bly ook geestelik rein deur alle kontak met die verderflike gedagtes van afvalliges te vermy.—Johannes 10:16; 2 Johannes 9-11.

Sedelike reinheid

12. (a) Deur watter wette het Jehovah die sedelike status van die Israeliete ver bo dié van die omliggende nasies verhef? (b) Watter reëls was besonder streng vir die priesterdom?

12 Deur middel van die Wetsverbond het Jehovah die sedelike status van die Israeliete ver bo die verdorwe toestand van die omliggende nasies verhef. Die huwelik en gesinslewe was beskermde instellings in Israel. Die sewende van die Tien Gebooie het owerspel verbied. Sowel owerspel as hoerery is swaar gestraf (Deuteronomium 22:22-24). Maagde is onder die Wet beskerm (Deuteronomium 22:28, 29). Die huweliksreëls was besonder streng vir die priesterdom. Daar is byvoorbeeld van die hoëpriester verwag om ’n kuis maagd as vrou te kies.—Levitikus 21:6, 7, 10, 13.

13. Waarmee word die lede van Christus se “bruid” vergelyk, en waarom?

13 Die groot Hoëpriester, Jesus Christus, het eweneens ’n “bruid”, wat bestaan uit 144 000 gesalfde Christene wat met ‘maagde’ vergelyk word (Openbaring 14:1-5; 21:9). Hulle sorg dat hulle nie deur Satan se wêreld besoedel word nie en bly rein wat leerstellings en sedes betref. Die apostel Paulus het aan gesalfde Christene in Korinthe geskryf: “Ek is jaloers oor julle met ’n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ’n reine maagd aan Christus voor te stel” (2 Korinthiërs 11:2). Paulus het ook geskryf: “Christus [het] ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee . . . om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.”—Efesiërs 5:25-27.

14, 15. (a) Wat moet met die geestelike reinheid van die bruidsklas gepaard gaan, en watter tekste toon dit? (b) Waarom is dit duidelik dat soortgelyke vereistes in verband met sedelike reinheid ook vir die ander skape geld?

14 Hierdie geestelike reinheid van Christus se bruid moet gepaard gaan met sedelike reinheid aan die kant van die lede. Die apostel Paulus het gesê: “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers . . . sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig.”—1 Korinthiërs 6:10, 11.

15 Dat sulke vereistes in verband met sedelike reinheid ook vir die ander skape geld, word duidelik wanneer ons sien wie Jehovah uit sy beloofde nuwe hemel en nuwe aarde gaan uitsluit. Ons lees: “Maar wat . . . diegene [betref] wat walglik is in hulle vuilheid en moordenaars en hoereerders . . . hulle deel sal wees in die meer wat met vuur en swawel brand. Dit beteken die tweede dood.”—Openbaring 21:1, 8, NW.

’n Eerbare huwelik

16, 17. (a) Watter tekste toon dat die ongehude staat nie ’n vereiste vir sedelike reinheid is nie? (b) Hoe kan ’n Christen behoorlike vrees vir God openbaar wat die keuse van ’n huweliksmaat betref, en waarom sal dit onverstandig wees om die apostoliese beperking te ignoreer?

16 Gesalfde lede van die bruidklas en die ander skape hoef nie ongetroud te bly om sedelik rein te bly nie. Die verpligte selibaat is onskriftuurlik (1 Timotheüs 4:1-3). Geslagsomgang binne die huwelik is nie onrein nie. God se Woord sê: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.”—Hebreërs 13:4.

17 Maar ’n Christen wat ‘in die vrees vir God heiligheid wil vervolmaak’, moenie dink dat dit hom of haar vrystaan om met sommer enigiemand te trou nie. Net voordat die apostel Paulus sy mede-Christene gemaan het om ‘hulle te reinig van elke verontreiniging van vlees en gees en in die vrees vir God heiligheid te vervolmaak’, het hy geskryf: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid . . . of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?” (2 Korinthiërs 6:14, 15; 7:1, NW). As ’n lid van Jehovah se afgeskeie en rein volk sal ’n Christen wat wil trou die apostoliese beperking aanvaar om dit “net in die Here” te doen, dit wil sê, hy of sy sal iemand kies wat ’n toegewyde, gedoopte en getroue kneg van Jehovah is (1 Korinthiërs 7:39). Soos in die verlede, sal dit ook vandag beslis onverstandig wees vir toegewyde lede van Jehovah se volk om hierdie skriftuurlike raad te ignoreer. (Vergelyk Deuteronomium 7:3, 4; Nehemia 13:23-27.) Dit sal nie gesonde vrees vir ons Groot Meester, Jehovah, openbaar nie.—Maleagi 1:6.

18. Op watter ander manier kan Christene hulle huwelik eerbaar hou?

18 Daarbenewens het wette in Israel selfs perke gestel aan geslagsbedrywighede binne die huwelik. ’n Man moes nie gedurende sy vrou se menstruale tydperk met haar omgang hê nie (Levitikus 15:24; 18:19; 20:18). Dit het liefdevolle bedagsaamheid en selfbeheersing van die Israelitiese mans geverg. Moet Christene enigsins minder bedagsaam teenoor hulle vrouens wees? Die apostel Petrus sê dat Christeneggenote “verstandig” met hulle vrouens moet saamlewe, dit wil sê, met kennis van hulle samestelling as “die vroulike geslag, as die swakkere”.—1 Petrus 3:7.

Wandel op “die heilige weg”

19, 20. (a) Beskryf die breë pad wat deur die groot gros van die mensdom gevolg word. (b) Hoe moet Jehovah se volk anders as Satan se wêreld wees? (c) Watter grootpad volg God se volk, wanneer is dit geopen, en wie alleen word daarop toegelaat?

19 Die voorgaande toon dat ’n kloof, wat immer wyer word, Jehovah se volk van Satan se wêreld skei. Die huidige wêreldstelsel van dinge word al hoe permissiewer en genotsugtiger. Jesus het gesê: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan” (Mattheüs 7:13). Die groot gros van die mensdom volg daardie wye pad. Dit is, soos die apostel Petrus gesê het, die weg van “losbandige gedrag, welluste, oormatigheid met wyn, brasserye, drinkpartye en onwettige afgoderye”, ’n weg wat lei tot ’n “lae poel van liederlikheid” (1 Petrus 4:3, 4, NW). Dit eindig in vernietiging.

20 Daarenteen bewandel God se volk ’n ander pad, ’n rein pad wat deur rein mense gevolg word. Die profeet Jesaja het die opening van hierdie pad in die tyd van die einde voorspel en geskryf: “En dáár sal ’n grootpad wees en ’n weg wat die heilige weg genoem sal word; geen onreine sal daarop voorttrek nie” (Jesaja 35:8). Waar dit kommentaar lewer op hierdie profesie sê die boek Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”: “Dit was . . . in 1919 dat ’n figuurlike grootpad vir die vreugdevolle knegte van God geopen is. Dit is diegene wat in Jehovah se oë heilig wou wees wat op daardie ‘grootpad’, ‘die heilige weg’, geloop het. . . . Vandag, so diep in ‘die voleinding van die wêreld’, bly daardie Godgegewe ‘grootpad’ oop. Menigtes mense met waardering . . . [slaan] die weg na die geestelike paradys, ‘die heilige weg’, in.a

21. Hoe en waarom moet Jehovah se knegte hulle onderskei van die Duiwel se volgelinge, en wat gaan in die volgende artikel bespreek word?

21 Ja, die gesalfde oorblyfsel geestelike Israeliete en hulle metgeselle, die ander skape, onderskei hulle vandag as ’n volk wat afgesonder is van Satan se wêreld, vir wie die begrip heiligheid alle betekenis verloor het. Niks is heilig vir die Duiwel se volgelinge wat op die ‘wye pad wat na die verderf lei’, loop nie. Hulle is nie net geestelik en sedelik onrein nie, maar in baie gevalle is hulle ook fisies vuil en lyk hulle, om dit saggies te stel, slordig. Die apostel Paulus sê egter: “Laat ons ons reinig van elke verontreiniging van vlees en gees, en in die vrees vir God heiligheid vervolmaak” (2 Korinthiërs 7:1, NW). Die volgende artikel gaan toon in watter opsigte God se volk daarop moet let om rein van verstand en liggaam te bly.

[Voetnoot]

a Hoofstuk 16, bladsye 134, 135.

Gedagtes ter hersiening

◻ Watter twee aspekte behels heiligheid, en waarom kan daar gesê word dat Jehovah in die hoogste mate heilig is?

◻ Op watter twee terreine moes die Israeliete ’n heilige nasie wees?

◻ Wat word van geestelike Israeliete en hulle metgeselle, die ander skape, vereis?

◻ Hoe behoort ons vrees vir God ons keuse van ’n huweliksmaat te beïnvloed?

◻ Watter twee paaie kan vandag gevolg word, en waarom moet ’n duidelike keuse gedoen word?

[Prent op bladsy 13]

God se Woord sê: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel