Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 12/15 bl. 3-5
  • Kan die Bybel maar op enige manier uitgelê word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan die Bybel maar op enige manier uitgelê word?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat sê die Bybel se Outeur?
  • Wat is die straf vir sonde?
  • Wat is die toekoms van die aarde?
  • Waarom kan dit nie maar op enige manier uitgelê word nie?
  • Kom die goeie nuus regtig van God?
    Goeie nuus wat van God kom!
  • Die oordeelsdag—’n tyd van hoop!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Interpretasie van die Bybel—Deur wie se invloed?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Aarde
    Redenering uit die Skrif
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 12/15 bl. 3-5

Kan die Bybel maar op enige manier uitgelê word?

“JY SPRING net rond in die Bybel en soek die tekste uit wat by jou uitlegging pas”, het die dame teenoor een van Jehovah se Getuies gekla wat haar tuis kom besoek het.

Maar bewys dit werklik dat ’n mens die Bybel só probeer uitlê dat dit by jou eie idees pas as jy tekste in verskillende dele daarvan gebruik? En indien wel, beteken dit dat die Bybel maar op enige manier uitgelê kan word—dat die een manier net so geldig soos die ander is?

Wat sê die Bybel se Outeur?

Hoewel die Bybel net een Outeur het, Jehovah God, het dit wel baie skrywers. Hierdie ongeveer 40 Bybelskrywers weerspreek mekaar nooit nie—wat, tussen hakies, bewys is van God se outeurskap—tog sê nie een Bybelskrywer alles wat daar oor ’n bepaalde onderwerp gesê kan word nie. As ’n mens wil verstaan wat die Outeur van die Bybel oor ’n onderwerp sê, moet jy dus al die tekste versamel wat betrekking het op daardie onderwerp. Dit is wat bogenoemde Getuie probeer doen het.

Hy was in goeie geselskap. Slaan byvoorbeeld jou Bybel oop by Romeine hoofstuk 9. Hier sal jy ’n goeie voorbeeld vind van hoe die getroue Christen Paulus dieselfde gedoen het. In net hierdie een hoofstuk haal Paulus 11 keer uit ander dele van die Bybel aan. Dalk sal ’n kritikus selfs sê dat Paulus heelwat ‘rondspring’. Hy begin met die eerste boek van die Bybel, dan spring by na die 39ste boek, waarna hy uit die 2de, die 28ste en uiteindelik die 23ste Bybelboek aanhaal.a

Dit sou natuurlik verkeerd gewees het as Paulus tekste uit hul verband geruk en hulle verdraai het om by sy eie persoonlike idees te pas. Maar Paulus het hom nie hieraan skuldig gemaak nie. Blykbaar het party vroeë Christene hulle egter wel hieraan skuldig gemaak, want die apostel Petrus het gesê: “Daar is dinge . . . wat moeilik is om te verstaan. Oningeligte en onstandvastige mense gee daaraan ’n verkeerde uitleg, soos hulle trouens ook doen met die res van die Skrif, en dit tot hulle eie ondergang.”—2 Petrus 3:16, NAV.

“Dinge . . . wat moeilik is om te verstaan” kan maklik misverstaan word. Selfs die werke van beroemde skrywers soos Shakespeare word op verskillende maniere uitgelê—wat uiteraard nie almal akkuraat is nie. Daarom is dit nie vreemd dat dieselfde vir die Byhel geld nie. As Shakespeare nog gelewe het, sou ons hom kon vra: “Wat het jy presies bedoel?” Maar dit is nie moontlik nie; ewemin kan ons die skrywers van die Bybel om verdere verduidelikings vra. Gelukkig kan ons steeds die Outeur daarvan vra, want hy lewe! (Psalm 90:1, 2). En hy het beloof dat hy sulke geestelike leiding aan manne van geloof sal gee wat hom daarom vra.—Lukas 11:9-13; Jakobus 1:5, 6.

Toe hy in Egipte was en hy gevra is om ’n droom uit te lê wat God Egipte se heerser gegee het, het God se getroue kneg Josef besef hoe belangrik dit is om goddelike leiding te vra. “Is uitlegging nie ’n saak van God nie?” het hy vroeër gevra. Nadat Josef die regte uitlegging gegee het, is Farao beweeg om te vra: “Kan ons wel iemand vind soos hierdie man in wie die Gees van God is?” En aan Josef het hy gesê: “Aangesien God dit alles aan jou bekend gemaak het, is daar niemand verstandig en wys soos jy nie.”—Genesis 40:8; 41:38, 39.

Die verskeidenheid teenstrydige uitleggings wat ons vandag onder sogenaamde Christene vind, is nie die skuld van die Bybel se Outeur nie, en dit is ook nie die skuld van Bybelskrywers nie. As God se profete het hierdie manne, “deur die Heilige Gees meegevoer, . . . die woord wat van God kom, verkondig” (2 Petrus 1:20, 21, NAV). Dit is die skuld van Bybellesers wat versuim het om die leiding van God se gees te volg en God toe te laat om sy eie Woord uit te lê. Hulle het toegelaat dat hulle beskouing van wat die Byhel se Outeur sê deur persoonlike idees vertroebel word. Kom ons beskou twee voorbeelde.

Wat is die straf vir sonde?

Party mense is geleer dat die straf vir sonde ewige, bewuste pyniging in ’n helse vuur is. Sulke mense lees dalk Openbaring 20:10, wat sê dat die Duiwel “in die poel van vuur en swawel gewerp” is, en hulle lê dit só uit dat dit hulle sienings steun. Dit strook natuurlik nie met Prediker 9:5, wat sê dat die dooies “glad niks” weet nie; ook strook dit nie met Romeine 6:23, wat sê dat “die loon van die sonde . . . die dood” is, nie bewuste pyniging nie. Tog wonder party dalk waarom Openbaring 20:10 sê dat Satan (en skynbaar diegene wat hy verlei het) “dag en nag gepynig [sal] word tot in alle ewigheid”.

In die eerste eeu het die Griekse woord vir “pynig”—wat hier deur die Bybelskrywer Johannes gebruik word—’n spesiale betekenis gehad. Aangesien gevangenes partymaal gepynig is (hoewel dit strydig was met God se wet), is tronkbewaarders mettertyd pynigers genoem.

’n Ander Bybelskrywer maak hiervan melding wanneer hy praat van ’n ontroue dienskneg wie se heer “hom in toorn oorgegee [het] aan die pynigers totdat hy sou betaal het alles wat hy hom skuldig was” (Mattheüs 18:34). Waar dit kommentaar lewer oor hierdie teks sê The International Standard Bible Encyclopedia: “Waarskynlik is die gevangenskap self as ‘pyniging’ beskou (ongetwyfeld was dit ook), en die ‘pynigers’ hoef niks anders as tronkbewaarders te beteken nie.”

Dit is dus duidelik dat ’n mens wel ’n uitlegging kan kry wat met die res van die Bybel strook as jy tekste vergelyk en rekening hou met hul betekenis in die tale waarin die Bybel geskryf is. Sonder enige vooropgesette menings kan ons duidelik sien dat Openbaring 20:10 geen bewys van ewige pyniging in ’n helse vuur is nie. Die lot van almal wat teen God in opstand kom, is ewige gevangenskap in die dood. Hulle vernietiging is net so onherroeplik soos wat dit sou wees as hulle in ’n letterlike poel van vuur gegooi sou word.

Wat is die toekoms van die aarde?

Tweede Petrus 3:10 sê dat “die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand”. Party mense se uitlegging hiervan is dat die aardbol vernietig gaan word, moontlik tydens ’n kernslagting. Maar hoe kan dit, met die oog op wat die Bybel se Outeur elders sê, die geval wees? In Psalm 104:5 het die psalmis onder inspirasie gesê dat God “die aarde gegrond [het] op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie”. Wyse koning Salomo, wat ook onder inspirasie gespreek het, het in Prediker 1:4 gesê: “Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan.”

’n Weerspreking? Nee, die Bybel se Outeur, ’n God van waarheid, kan homself nie weerspreek nie. Hoe kan hierdie twee verse dan versoen word? Kom ons ondersoek die konteks van 2 Petrus 3:10.

In verse 5 en 6 praat Petrus van die sondvloed van Noag se dag, en in vers 7 vergelyk hy dit met die vernietiging wat gaan kom op “die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense”. Wat is in die sondvloed vernietig? Vers 6 sê dat “die toenmalige wêreld . . . vergaan het”. Hierdie aardbol het nie vergaan nie. Dit was eerder ’n goddelose wêreldstelsel wat vergaan het. En toe God Noag in Genesis 9:11 beloof het dat daar “geen vloed meer sal wees om die aarde te verwoes nie”, het hy klaarblyklik nie van die planeet gepraat nie, want dit was nie vernietig nie. “Die aarde” wat volgens 2 Petrus 3:10 vernietig gaan word, is dus dieselfde soort “aarde” wat tydens die sondvloed vernietig is—nie die planeet Aarde nie, maar ’n goddelose, aardse mensegemeenskap.—Vergelyk Genesis 11:1, waar “aarde” in soortgelyke sin gebruik word.

Jy sal nooit ’n Bybelteks vind wat hierdie uitlegging weerspreek nie, al soek jy ook hoe lank. Dit moet dus uiteraard die regte uitlegging wees, die uitlegging van die Bybel se Outeur.

Waarom kan dit nie maar op enige manier uitgelê word nie?

Wat sal ’n huisvrou van ’n resepteboek dink wat op enige manier verstaan kan word? Of watter nut sal dit hê om geld aan ’n woordeboek te bestee wat sy leser toelaat om enige betekenis wat hy wil aan woorde te heg? Sou ons verwag dat God só ’n gids aan sy skepsele sou gee? Trouens, sou dit in so ’n geval reg wees om dit ’n gids te noem?

Eerlike, godvresende mense wil nie die Skrif “tot hulle eie ondergang” verdraai nie (2 Petrus 3:16, NAV). Daarom soek hulle al die tekste oor die onderwerp wat hulle probeer verstaan om seker te maak dat hulle nie die Skrif verdraai nie. Wanneer hulle tekste vind wat onmiskenbaar met hulle sienings bots, verander hulle daardie sienings vinnig, aangesien dit nie reg kan wees nie.

Omdat hulle hierdie sagmoedige gesindheid aan die dag lê, geniet miljoene mense wat voorheen godsdienstig verdeeld was nou godsdienseenheid met Jehovah se Getuies. Pleks van die Bybel só te wou uitlê dat dit by hulle persoonlike idees pas, was hulle bereid om hulle volgens die voor-die-hand-liggende uitlegging van die Bybel se Outeur te skik.

Hoe goed is dit tog om te weet dat die Bybel nie maar op enige manier uitgelê kan word nie. As ons die Outeur daarvan toelaat om dit vir ons uit te lê, is dit inderdaad “nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid”. Slegs dan sal dit ons “volkome” kan maak, “vir elke goeie werk volkome toegerus.—2 Timotheüs 3:16, 17.

[Voetnoot]

a Die aanhalings verskyn in Romeine hoofstuk 9, verse 7 (Genesis 21:12), 9 (Genesis 18:14), 12 (Genesis 25:23), 13 (Maleagi 1:2, 3), 15 (Exodus 33:19), 17 (Exodus 9:16), 25 (Hosea 2:22), 26 (Hosea 1:10), 27, 28 (Jesaja 10:22, 23), 29 (Jesaja 1:9) en 33 (Jesaja 28:16).

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel