Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 12/15 bl. 6
  • Die Alexandrynse Kodeks

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Alexandrynse Kodeks
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Vatikaanse Kodeks—Waarom so kosbaar?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Codex Bezae—’n unieke manuskrip
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Antieke manuskripte—Hoe word hulle ouderdom vasgestel?
    Ontwaak!—2008
  • Herwinning van ’n Bybelse skat
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 12/15 bl. 6

Die Alexandrynse Kodeks

DIE Alexandrynse Kodeks was die eerste van die vername Bybelmanuskripte wat deur geleerdes bestudeer kon word. Die ontdekking daarvan het gelei tot konstruktiewe kritiek op die Griekse Bybelteks waarby alle latere vertalers van die Heilige Skrif baat gevind het. Hoe en wanneer is dit ontdek?

Kyrillos Loukaris, die patriarg van Alexandrië, Egipte, was ’n geesdriftige versamelaar van boeke, en in 1621, toe hy die patriarg in Konstantinopel, Turkye, geword het, het hy hierdie Codex Alexandrinus saam met hom geneem. Maar weens die onrus in die Midde-Ooste en die moontlikheid dat die manuskrip vernietig sou word indien dit in Moslems se hande val, het Loukaris gemeen dat dit baie veiliger in Engeland sou wees. Gevolglik het hy dit in 1624 aan die Britse ambassadeur in Turkye oorhandig as ’n geskenk vir die Engelse koning, Jakobus I. Die koning het gesterf voordat die manuskrip aan hom oorhandig kon word, en daarom is dit drie jaar later aan sy opvolger, Karel I, oorhandig.

Was hierdie manuskrip so waardevol soos Kyrillos Loukaris gedink het? Ja. Dit dateer uit die eerste helfte van die vyfde eeu G.J. Blykbaar het verskeie kopiïste dit geskryf, en die teks is deeglik gekorrigeer. Dit is in unsiaalskrif (hoofletters) sonder enige spasies tussen die woorde op velyn geskryf, met twee kolomme op elke bladsy. Die grootste deel van Mattheüs ontbreek, so ook party dele van Genesis, Psalms, Johannes en 2 Korinthiërs. Dit word nou amptelik Codex A genoem, bestaan uit 773 blaaie en is steeds ’n vroeë getuie van aansienlike belang.

Die meeste Bybelmanuskripte kan weens onderlinge ooreenkomste in groepe, of kategorieë, geplaas word. Hierdie ooreenkomste het ontstaan toe kopiïste hulle kopieë van dieselfde bron of redelik eenderse voorbeelde gemaak het. Maar met die Alexandrynse Kodeks het die kopiïste blykbaar lesings van verskillende kategorieë saamgevoeg om die bes moontlike teks te produseer. Trouens, dit was ouer en beter as enige van die Griekse manuskripte wat as grondteks vir die King James Version van 1611 gebruik is.

Die Alexandrynse lesing van 1 Timotheüs 3:16 het ’n groot geskil geword toe dit gepubliseer is. Die King James Version sê hier met verwysing na Christus Jesus: “God is geopenbaar in die vlees.” Maar hierdie ou kodeks toon dat die afkorting vir “God”, wat uit die twee Griekse letters “ΘC” bestaan, oorspronklik “OC” gelees het, die woord vir “wie”. Dit het natuurlik beteken dat Christus Jesus nie “God” is nie.

Meer as 200 jaar en die ontdekking van ander, ouer manuskripte was nodig om te toon dat die weergawe met “wie” of “wat” die korrekte is. In sy Textual Commentary on the Greek New Testament maak Bruce M. Metzger die gevolgtrekking: “Geen unsiaalgeskrif (eerstehandse kopie) jonger as die agtste of negende eeu . . . steun θεός [the·osʹ] nie; al die ou afskrifte vooronderstel ὅς of ὅ; en geen kerkvaderlike skrywer voor die laaste derde van die vierde eeu steun die lesing AeoS [the·osʹ] nie.” Vandag strook die meeste vertalings hiermee en laat hulle enige verwysing na “God” in hierdie vers uit.

In 1757 het die koning se Koninklike Biblioteek ’n deel van die Britse Biblioteek geword, en hierdie besondere kodeks word nou in die manuskripvertrek van die Britse Museum uitgestal. Dit is die moeite werd om na hierdie skat te gaan kyk.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel