Geesteskwelling—Wanneer ’n Christen dit ervaar
DESKUNDIGES op die gebied van geestesgesondheid sê dat 1 uit 5 persone in die Verenigde State waarskynlik aan die een of ander herkenbare geestesongesteldheid ly. Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê dat daar moontlik tot 40 miljoen onbehandelde gevalle van geestesiekte in ontwikkelingslande is. Geestesprobleme is selfs onder sommige bewoners van die paradysagtige eilande van die Stille Suidsee aangetref.
Dit moet ons derhalwe nie verbaas nie dat ’n aantal Christene vandag geestes- of emosionele probleme ondervind wat wissel van blote kommer en ligte terneergedruktheid tot ernstige siektes soos major depressie, bipolêre versteurings (maniese depressie), fobieë en skisofrenie. Sommige het sulke probleme gehad voordat hulle Getuies geword het, terwyl ander in hulle latere jare geesteskwelling begin ervaar het.
Waarom Christene nie immuun is nie
Een Christin met meer as 20 jaar van toegewyde diens sê dat sy deur kragtige en meedoënlose stemme gefolter word. “Ek sal oor enige ander onderwerp dink”, sê sy, “en dan kom die stem op wat sê: ‘Maak jouself dood.’. . . Jy hoor hierdie stemme oor en oor totdat jy dit nie meer kan verduur nie.” Hoe is dit moontlik dat ’n getroue Christen so kan ly? Sê 2 Timotheüs 1:7 (NW) nie: “God het ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag en van liefde en van gesonde verstand”?
Ja, maar gesonde verstand het nie soseer betrekking op ’n Christen se sielkundige gesondheid as op sy vermoë om Bybelse oordeel aan die dag te lê nie. Anders as ’n persoon van die wêreld wat “verduisterd . . . in die verstand”, of “verdorwe in die verstand”, is, het ’n Christen ‘sy gemoed vernuwe’ deur God se Woord te bestudeer (Efesiërs 4:17, 18; 2 Timotheüs 3:8; Romeine 12:2). Dit dra ongetwyfeld baie by tot ’n Christen se emosionele en geestesbalans, maar dit maak hom nie immuun vir geestesgesondheidsprobleme nie. Sommige getroue knegte van God in Bybeltye, soos Epafroditus, het vorme van geesteskwelling ervaar.—Filippense 2:25, 26, NAV; Lukas 2:48.
Die apostel Paulus herinner ons daaraan dat “almal in Adam sterwe” (1 Korinthiërs 15:22). Talle van ons het ooglopende fisiese siektes. Ander ly aan geestes- of emosionele siekte.
Oorsake van geesteskwelling
Fisiese faktore is blykbaar die oorsaak van talle gevalle van geesteskwelling. Die Bybel praat byvoorbeeld van ’n persoon wie se oë “vreemde dinge sien”. Die oorsaak van sulke raaiselagtige hallusinasies? “Die wat laat opbly by die wyn”! (Spreuke 23:29-33). Dit is duidelik dat alkohol die brein kan laat hallusineer. Dokters sê dat foutiewe breinchemie, genetiese faktore en moontlik selfs dieet op soortgelyke wyse breinwanfunksies kan veroorsaak. Dit kan geestes- en emosionele probleme tot gevolg hê.a
Kwaai sielkundige druk, soos stres, kan ook emosionele probleme veroorsaak. Net om sedelike reinheid en ’n Christelike persoonlikheid in hierdie “swaar tye” te probeer handhaaf, kan ’n bron van stres wees (2 Timotheüs 3:1-5). Selfs Lot het “sy regverdige siel gepynig” oor die goddeloosheid in Sodom waaraan hy daagliks blootgestel was! (2 Petrus 2:8). Boonop is sommige Christene verstandelik aangetas omdat hulle verkrag of seksueel misbruik is, of as gevolg van vorige dade van promiskuïteit of dwelmmisbruik. Sulke dinge kan ’n skrikwekkende tol eis ten opsigte van ’n mens se geestesgesondheid.
Wat ouere manne kan doen
Ouere manne hou as herders toesig oor die hele kudde wat aan hulle sorg toevertrou is—met inbegrip van diegene wat geesteskwelling ervaar (1 Petrus 5:2; Jesaja 32:1, 2). Hulle is weliswaar nie dokters nie, en hulle kan persone net so min van hulle siektes genees as wat die apostel Paulus Epafroditus van sy fisiese siekte of gevolglike depressie genees het (Filippense 2:25-29). Maar deur ware besorgdheid en meegevoel te betoon, kan hulle dikwels baie doen om sulke persone te help en te bemoedig.—1 Petrus 3:8.
Sê nou ’n broer begin eienaardig optree of kla oor emosionele kwelling. Wat dan? Die ouere manne kan eers probeer om die lyer aan die praat te kry en probeer vasstel presies wat hom pla. Het die een of ander persoonlike ramp of buitengewoon spanningsvolle omstandigheid—miskien die verlies van ’n betrekking of die dood van ’n geliefde—hom tydelik van stryk gebring? (Prediker 7:7, NW). Is die geteisterde persoon effens terneergedruk weens eensaamheid en het hy derhalwe iemand nodig om hom ‘moed in te praat’? (1 Thessalonicense 5:14, NAV). Of is die broer dalk ontsteld oor ’n persoonlike tekortkoming? As hy van God se liefde en genade verseker word—en ook gepaste raad kry—kan dit help om sy angs te verlig (Psalm 103:3, 8-14). As die ouere manne net saam met die gekwelde broer bid, kan dit baie help.—Jakobus 5:14.
Ouere manne kan ook praktiese wysheid met die lyer deel (Spreuke 2:7, NW). Ons het byvoorbeeld gemeld dat sommige emosionele steurings met dieet verband kan hou. Die ouere manne kan derhalwe aan die hand doen dat die broer gebalanseerde maaltye eet en uiterstes in dieet vermy. Of hulle gewaar miskien dat die gekwelde persoon by sy werk onder groot druk verkeer en grootliks sal baat vind by “een handvol rus”—deur meer gereeld ’n goeie nagrus te kry.—Prediker 4:6.
Die wat ‘’n geneesheer nodig het’
Wanneer ernstige geesteskwelling egter voortduur, is dit goed om Jesus se woorde te onthou: “Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is” (Mattheüs 9:12). Talle persone met ’n geesteskwelling is huiwerig om ’n geneesheer te gaan spreek. Dit kan derhalwe vir ouere manne en gesinslede nodig wees om ’n broer aan te moedig om geneeskundige behandeling, soos ’n deeglike ondersoek deur ’n vertroude dokter, te soek. Professor Maurice J. Martin sê: “’n Wye verskeidenheid fisiese siektes kom as sielkundige versteurings voor.” En selfs as dit regtig geestesiekte is, bestaan daar dikwels doeltreffende vorme van behandeling.
Die vrou van ’n ouere man vertel hoe haar gekwelde man “bang geword het om tussen die broers te wees en nie vergaderinge toe wou gaan nie. . . . Hy wou baie graag sterf!” Maar nadat hy professionele geneeskundige behandeling ontvang het, kon sy vrou sê: “Hy is nie meer diep depressief nie, en hy wil ook nie meer van vergaderinge af wegbly nie. Hy het vanoggend die openbare toespraak gehou!”
Alle situasies word weliswaar nie so maklik opgelos nie. Die wetenskap begin maar net om die raaisels van geestesprobleme te ontrafel. Dit kan ’n lang, ingewikkelde proses wees om reg gediagnoseer en behandel te word—maar dit is dikwels die moeite werd.
Deur die demone geteister?
Sommige slagoffers van geestesprobleme vrees dat hulle deur demone aangeval word en beweer dat hulle soms “stemme” hoor. Die demone het weliswaar al persone met gesonde verstand ongerymd laat optree (Markus 5:2-6, 15). By die meeste gevalle van vreemde gedrag is daar geen bewys dat die demone daarby betrokke is nie, net so min as wat hulle by alle gevalle van stomheid, blindheid en epilepsie betrokke is. Tog het die demone destyds in Bybeltye soms hierdie einste siektes veroorsaak (of ten minste vererger)! (Mattheüs 9:32, 33; 12:22; 17:15-18, vgl. NW). Die Bybel tref egter ’n duidelike onderskeid tussen “die siekes en dié wat in die mag van duiwels was” (Markus 1:32-34, vgl. NAV; Mattheüs 4:24; Handelinge 5:16). Dit is duidelik dat die oorgrote meerderheid van die gevalle van blindheid of epilepsie vandag dus deur fisiese faktore—nie demoniese faktore nie—veroorsaak word. Dieselfde geld ongetwyfeld ook vir die meeste gevalle van geesteskwelling.
Ons moet nogtans onthou dat Satan en sy demone ‘oorlog voer’ teen God se volk en dat hulle al getroue Christene lastig geval het (Openbaring 12:17; Efesiërs 6:12). Die demone is boos, en dit moet ons nie verbaas as hulle sadistiese genot daaruit put om sommige siele wat geesteskwelling ervaar te folter—en hulle probleme te vererger nie.
As die ouere manne dus goeie rede het om te vermoed dat demoniese invloed daarby betrokke is, kan dit geen kwaad doen as hulle ’n bietjie navraag doen nie. Het die persoon byvoorbeeld enige twyfelagtige items direk en doelbewus van persone ontvang wat by die een of ander vorm van demonisme betrokke is? As ’n mens van sulke voorwerpe ontslae raak, kan dit verligting bring (Handelinge 19:18-20). Aangesien Christene aangesê word om ‘die duiwel te weerstaan’, kan die ouere manne die geteisterde persoon ook aanraai om nie te luister na enige vreemde “stemme” wat van demoniese oorsprong kan wees nie (Jakobus 4:7; Mattheüs 4:10). As ’n persoon voel dat hy aangeval word, moet hy vurig bid en Jehovah se naam hardop aanroep.—Efesiërs 6:18; Spreuke 18:10.
Maar dit is blykbaar die uitsondering—nie die reël nie—dat demone daarby betrokke is. Een suster vertel: “Ek het gedink dat ek deur ’n demon besete is totdat ek mediese hulp gesoek het en meegedeel is dat ek ’n chemiese wanbalans het. Ek was baie verlig toe ek uitgevind het dat dit ’n siekte was wat vir my optrede verantwoordelik was en nie die een of ander demonpersoon in my nie!”
Psigiatriese geneesmiddels
’n Verskeidenheid geneesmiddels word nou deur dokters gebruik om geestesversteurings te behandel. Christene wat ernstig siek was, kon weer ’n normale lewe lei nadat hulle sulke middels onder mediese toesig gebruik het. Sommige broers wat dit goed bedoel, het pasiënte egter afgeraai om voorskrifmedisyne te neem, miskien omdat hulle bang is dat dit skadelik of verslawend kan wees. Daar is natuurlik risiko’s verbonde aan enige soort geneeskundige behandeling, en “die skrandere let op sy voetstappe” en oorweeg die langtermyngevolge.—Spreuke 14:15.
Dit is egter interessant dat talle psigiatriese medisynes nie hallusinogenies, verdowend of verslawend is nie; hulle help bloot om chemiese wanbalanse in die brein reg te stel. Antipsigote kan byvoorbeeld help om die dikwels vreemde simptome van skisofrenie te beheer. Litium kan help om depressie te verlig en die gemoedsuiterstes van maniese depressie te balanseer.
Sterk verdowingsmiddels word weliswaar soms gebruik om ’n pasiënt te kalmeer of om selfmoordneigings te onderdruk. Maar as ’n broer voorskrifmedisyne neem, nie vir sy plesier nie, maar sodat hy ’n normale lewe kan lei, kan dit in byna dieselfde lig beskou word as wanneer ’n suikersiektelyer insulien gebruik.
Ons moet egter onthou dat psigiatriese geneesmiddels dikwels stadig werk en moontlik onaangename newe-effekte kan hê. Soms moet ’n dokter ook in ’n mate eksperimenteer om ’n doeltreffende geneesmiddel en/of dosis te vind wat die minste newe-effekte tot gevolg sal hê. Pasiente word dikwels mismoedig. Gesinslede en ander kan derhalwe die persoon wat behandeling ontvang, ondersteun en hom aanmoedig om geduldig te wees en die bekwame mediese personeel sy samewerking te gee. Sê nou hy het vrae oor ’n sekere geneesmiddel. Of sê nou ’n probleem ontstaan of ’n vorm van behandeling is blykbaar ondoeltreffend. Wat dan? Sulke probleme moet met sy geneesheer bespreek word.b Indien nodig, kan ’n tweede mening verkry word.
Praatterapieë
In sommige gevalle kan dit dalk ook oorweeg word om die pasiënt met ’n opgeleide deskundige te laat praat. Miskien kan ’n vertroude gesinsdokter wat die pasiënt persoonlik ken op hierdie manier help. Maar wat van behandeling deur ’n psigiater of ’n sielkundige? Dit sal ’n persoonlike besluit wees wat met die nodige versigtigheid geneem moet word. Terapeute verskil in hulle benaderings ten opsigte van behandeling. Sommige beoefen byvoorbeeld steeds vorme van Freudiaanse psigoanalise, waarvan die geslaagdheid deur talle op die gebied van geestesgesondheid bevraagteken word.
Van selfs groter belang is die feit dat sommige praktisyne wat dit goed bedoel het raad gegee het wat heeltemal strydig met die Bybel is. Sommige terapeute, wat nie Christenbeginsels verstaan nie—en dit selfs as “dwaasheid” beskou—het selfs die gevolgtrekking gemaak dat die navolging van die Bybel se streng sedelike gedragslyn die bron van ’n persoon se probleme is!—1 Korinthiërs 2:14.
Maar sommige praktisyne, waaronder sielkundiges en psigiaters, bied vorme van spraakterapie aan wat nie regtig psigoanalise is nie, maar wat ’n pasiënt help om sy siekte te verstaan, die behoefte aan geneeskundige behandeling beklemtoon en praktiese probleme uitstryk. ’n Christen vind moontlik sulke terapieë nuttig, maar hy moet duidelikheid oor die feite kry voordat hy behandeling aanvaar: Presies wat behels die behandeling? Watter soort advies sal hy kry? Verstaan en respekteer die geneesheer die opvattings van Jehovah se Getuies?c ‘Toets die woorde’ van ’n dokter as daar tot praatterapie ingestem word, pleks van alles onvoorwaardelik te aanvaar.—Job 12:11, 12.
Geesteskwelling kan dus grotendeels as ’n geneeskundige probleem beskou word—nie ’n geestelike nie. Gesinne, ouere manne en gemeentelede kan lyers beter help as hulle hierdie feit verstaan. Soms het gekweldes ook geestelike ondersteuning nodig. ’n Toekomstige nommer sal bespreek hoe die gemeente dit kan doen.
[Voetnote]
a Kyk ons medetydskrif Ontwaak! se nommers van 22 Oktober 1987 en 8 September 1986.
b Die verskeie geneesmiddels en vorme van behandeling wat geneeshere gebruik, word nie deur die Genootskap aanbeveel of veroordeel nie. Navorsing in die Genootskap se publikasies kan nietemin nuttig wees.
c As ’n siek persoon dit moeilik vind om sy Bybelse standpunt aan ’n geneesheer of terapeut te verduidelik, kan ’n ryp Christen hom miskien bystaan.
[Prent op bladsy 26]
As ouere manne simpatieke luisteraars en raadgewers is, kan hulle dikwels persone help wat geesteskwelling ervaar
[Prent op bladsy 29]
Dit is soms raadsaam dat ’n geestesieke mediese hulp soek