Die Kaaimanseilande—deur die tyd vergeet
JY KAN in die kalm, blou water swem. Jy kan duik om die talle wrakke op die oseaanbodem te ondersoek. Of jy kan ’n skilpadplaas besoek. Waar? Op die Kaaimanseilande—Groot-Kaaiman, Kaaiman-Brac en Klein-Kaaiman.
‘Maar waar op dees aarde is die Kaaimanseilande?’ wonder jy dalk. Hierdie vraag is begryplik, aangesien hulle so klein is dat hulle selde op wêreldkaarte aangedui word. Wanneer hulle wel daarop verskyn, word hulle dalk bloot aangedui as drie spikkeltjies in die Wes-Karibiese See, 240 kilometer suid van Kuba, of ongeveer 800 kilometer suid van Miami, Florida.
Toe Christophorus Columbus in 1503 met sy laaste ontdekkingsreis deur die Wes-Indiese eilande die eilande—Kaaiman-Brac en Klein-Kaaiman, aangesien Columbus nooit Groot-Kaaiman gesien het nie—ontdek het, is hulle Las Tortugas (Die skilpaaie) genoem. Dit was as gevolg van die groot aantal skilpaaie wat op en rondom die eilande gesien is. In 1670 het Spanje met die Verdrag van Madrid die eilande aan Brittanje afgestaan, en hulle het sedertdien ’n Britse kolonie gebly.
Skilpaaie, seerowers en hipertegnologie
In die dae van seilskepe was hierdie eilande ’n gewilde aanloophawe vir die groot skepe wat op die Karibiese waters gevaar het. Die volop groen seeskilpaaie het ’n gerieflike bron van vars vleis vir die honger matrose geword. Die skilpaaie is vars geëet, of hulle is aan boord geneem en gedroog of ingesout. Hulle het ’n hoofbron van proteïen gedurende lang seereise geword.
Maar die eilande is opgemerk vanweë iets anders. Die plat terrein en veilige hawens het ander manne van die oop see gelok. Berugte kapers en seerowers, soos sir Henry Morgan en Edward Teach, ook bekend as Blackbeard, het hierdie eilande as skuilplek of hoofkwartier vir hulle strooptogte op handelskepe gebruik. Hierdie kleurryke geskiedenisbrokkie word herdenk deur ’n jaarlikse fees wat Seerowersweek genoem word en plaaslik as ’n hoogtepunt van die jaar beskou word.
Namate die skilpadbevolking verminder het en stoomskepe seilskepe vervang het, het al hoe minder skepe daar aangedoen. En aangesien min eilandbewoners radio’s gehad het, is die Kaaimanseilande feitlik deur die res van die wêreld afgesny en vergeet. Hulle het vir hulself die titel “Die eilande wat deur die tyd vergeet is”, verwerf.
Teen die sestigerjare het die situasie egter begin verander. Plaaslike bank- en belastingwette, asook die koms van hipertegnologiese kommunikasiestelsels, het hierdie eens vergete gebied in een van die bekendste internasionale banksentrums verander. Die eilande het in Junie 1987 hulle 500ste bank geopen. Die oplewing het ook die toeristebedryf nuwe lewe gegee. Die plaaslike toeristeraad was verheug toe altesaam 8 244 besoekers in 1966 na die eilande gekom het. Daardie syfer het tot 430 000 in 1986 gestyg, wat toerisme, naas die finansiële bedryf, die belangrikste maak. Daar is egter ’n ander groep mense wat ’n lewendige belangstelling in hierdie eilande het.
Ander soort besoekers
Jehovah se Getuies, wat Jesus se woorde dat die goeie nuus van die Koninkryk in alle nasies verkondig sal word ernstig opneem, het nie die Kaaimanseilande oor die hoof gesien nie (Mattheüs 24:14). Patrick Davidson, wat toesig gehou het oor die predikingswerk in Jamaika, het Groot-Kaaiman reeds in 1929 besoek. Hy het ondanks teenstand daarin geslaag om die sade van Koninkrykswaarheid te saai.
Davidson het in 1937 ’n tweede besoek afgelê, maar dit was eers in 1950 dat Groot-Kaaiman deeglik gedek is deur Aleck Bangle en ’n medesendeling. Honderde stukke Bybellektuur is in ’n kort tydjie versprei. Die sendelinge het berig dat die mense vriendelik is, maklik is om mee te praat en gretig is om die goeie nuus te hoor.
Kaaimaniërs hoor die goeie nuus
Die sendelinge en ander voltydse bedienaars het hulle werk met volharding en geduld voortgesit. Teen 1959 was daar ’n klein groepie van 12 Koninkryksverkondigers, en ’n gemeente is gestig. Een van die eerste plaaslike inwoners wat die Bybelwaarheid aanvaar het, was Wilbert Sterling. Hy kan die dae goed onthou toe die klein groepie Getuies hulle gebied te voet moes dek. Hoewel hy nou blind en in sy tagtigerjare is, dien broer Sterling steeds as ’n ouere man in die Georgetown-gemeente.
Die ywerige pogings van daardie vroeë Koninkryksverkondigers is deur Jehovah geseën. Daar is nou gemiddeld 60 Koninkryksverkondigers onder ’n bevolking van ongeveer 17 000. Talle van die eilandbewoners het tot die besef gekom dat die Getuies anders is omdat hulle aanbidding op die Bybel gebaseer is.
’n Vrou wat in ’n restourant werk, het byvoorbeeld ’n Getuie gesien wat van huis tot huis preek. Sy het na hom toe gegaan en gevra wat sy moet doen om een van Jehovah se Getuies te word. Hy het vir haar gesê dat sy juiste kennis van Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, moet opdoen en dit dan moet toepas (Johannes 17:3). Toe sy dit hoor, het sy ’n tuisbybelstudie aanvaar. Vandag dien sy Jehovah as een van sy getuies.
Talle van diegene wat die waarheid aanvaar het, is van ander lande. Hulle het die Kaaimanseilande hulle tuiste gemaak of is tydelike inwoners op werkkontrakte. Een suster het dus die begeerte uitgespreek om meer gebore Kaaimaniërs in die gemeente te sien. Sy het tot Jehovah gebid om haar te help om ’n boorling te vind wat die Bybel wil bestudeer. Nie lank daarna nie het sy ’n jong vrou ontmoet wat reeds die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe het, en die suster het ’n Bybelstudie met haar begin. Binne ’n paar maande het die vrou vergaderinge begin bywoon, haar vorige godsdiens verlaat en met ander begin praat oor wat sy geleer het. Sy het binne ’n jaar ’n toegewyde, gedoopte getuie van Jehovah geword.
Die predikingswerk het in 1982 ’n verdere stootjie gekry toe ’n sendingpaar na Groot-Kaaiman gestuur is. Hulle het talle tuisbybelstudies gehou en ’n goeie fondament gelê vir verdere uitbreiding.
Teenstand word op Kaaiman-Brac die hoof gebied
Die eiland Kaaiman-Brac is ongeveer 140 kilometer noordoos van Groot-Kaaiman. Sendelinge en ander voltydse werkers van Groot-Kaaiman het van tyd tot tyd daarheen gegaan om die goeie nuus aan die 1 700 bewoners te verkondig. Maar in 1986 het opwindende dinge daar begin gebeur.
’n Egpaar wat op kontrak daar gewerk het, het begin studeer en het so gevorder dat hulle hul toegewy en laat doop het. Toe het twee ander Getuies van ander lande daar ingetrek. Die groter bedrywigheid het spoedig die woede van teenstanders ontketen, wat probeer het om die immigrasieamptenare oor te haal om die werkpermitte van die pasgedoopte egpaar te kanselleer. Hulle pogings is egter gedwarsboom toe die hoofimmigrasiebeampte in Georgetown, Groot-Kaaiman, die standpunt ingeneem het dat as die godsdiensteenstanders ontsteld is oor die werk van die Getuies hulle ook van huis tot huis moet gaan om dit teë te werk. Sedertdien is geen openlike vyandigheid ondervind nie.
Onthou deur Jehovah
Die mense van die Kaaimanseilande is gewis nie deur Jehovah, die Groot Skepper, vergeet nie. Hy maak dit eerder moontlik dat die goeie nuus in hierdie eilandjies verkondig word en die profesie van Jesaja sodoende vervul word: “Sing tot eer van die HERE ’n nuwe lied, sy lof van die einde van die aarde af—julle wat op die see vaar, en alles wat daarin is, eilande en bewoners daarvan.”—Jesaja 42:10.
Die Kaaimanseilande kan bly wees dat hulle nie in Jehovah se oë ‘die eilande is wat deur die tyd vergeet is’ nie.
[Kaarte op bladsy 22]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Karibiese See
KLEIN-KAAIMAN
KAAIMAN-BRAC
[Kaart]
GROOT-KAAIMAN
[Kaart]
KUBA
KLEIN-KAAIMAN
GROOT-KAAIMAN
KAAIMAN-BRAC
JAMAIKA