Insig in die nuus
Nie ouderwets nie
Talle mense huldig al lank die beskouing dat die beginsels van ’n goeie lewe wat in die Bybel uiteengesit word ouderwets en onprakties is. Maar onlangse studies het ’n paar mediese deskundiges die waarde van die Bybel se raad om aan ander goed te doen laat heroorweeg.
Volgens American Health beweer twee dokters dat “dit vir jou hart, jou immuniteitstelsel—en jou algehele lewenskrag—goed kan wees as jy goed doen”. In Michigan het ’n ander mediese span ’n opname gedoen wat oor ’n tydperk van tien jaar gestrek het om te bepaal in watter mate maatskaplike verhoudings ’n mens se gesondheid beïnvloed. Die verbasende bevinding was dat vrywilligerwerk in die gemeenskap lewensverwagting en ook lewenskrag opvallend laat toeneem het. Die opname het getoon dat dit veral op mans ’n uitwerking het. Die kans dat diegene wat nie vrywilligerwerk gedoen het nie gedurende die opnametydperk sou sterf, was glo twee en ’n half keer groter as dié van mans wat ten minste een keer per week vrywilligerwerk gedoen het.
’n Geneesheer in Kalifornië berig dat toe hy gereël het dat twee pasiënte wat nie van mekaar hou nie mekaar se wasgoed was dit hulle cholesterolvlakke en borspyne verminder het.
Die apostel Paulus het eeue gelede vir Timotheüs gesê: “Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar . . . dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam.” Hy het ook die Hebreeuse Christene herinner: “Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie.” Die rede? “Heerlikheid en eer en vrede vir elkeen wat goed doen.” Ware Christene weet lank reeds dat dit ons fisies sowel as geestelik tot voordeel strek as ons op hierdie byderwetse raad ag slaan.—1 Timotheüs 6:17, 18; Hebreërs 13:16; Romeine 2:10.
’n “Groter oordeel”
Lede van die Algemene Sinode van die Anglikaanse Kerk het hulle onlangs in ’n ongemaklike situasie bevind. Hulle het eenparig hulle goedkeuring uitgespreek oor “tradisionele onderrig ten opsigte van kuisheid en getrouheid in persoonlike verhoudings”. Maar toe ’n plaaslike geestelike, Tony Higton, ’n mosie ingedien het wat die sinode versoek om te verklaar dat geestelikes “voorbeeldig [moet wees] op alle gebiede van sedelikheid, met inbegrip van geslagsedelikheid, as ’n voorwaarde vir hulle om in ’n amp aangestel te word of te bly”, is dit verwerp. Die rede? Die Ecumenical Press Service berig dat die sinodelede die voorstel “’n bietjie te sterk” gevind het, en het bygevoeg dat “Michael Baughen, biskop van Chester, gesê het dat dit die onmiddellike bedanking van al die biskoppe en ander geestelikes van die kerk sou vereis”.
Higton se mosie is eerder gewysig om ’n beroep te doen op alle Christene, “veral .. . Christenleiers”, om voorbeelde te wees “op alle gebiede van sedelikheid, met inbegrip van geslagsedelikheid”. Die Press Service het ook gesê dat die sinode ’n beroep om “gepaste dissipline” onder die geestelikes in gevalle van geslagsonsedelikheid verwerp het.
Hoewel sulke tugmaatreëls dalk “te sterk” vir baie van vandag se geestelikes is, is God se Woord duidelik: “Verwyder tog die slegte mens onder julle uit” (1 Korinthiërs 5:13). God beveel dat daar ferm opgetree word teen almal wat onberouvol beoefen wat sleg is sodat die sedelike en geestelike reinheid van die Christengemeente beskerm kan word. Trouens, tug is selfs gepaster vir Christenleiers, want die dissipel Jakobus het geskryf: “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ’n groter oordeel sal ondergaan.”—Jakobus 3:1.
Verheerlik God
“Die gehalte van ’n atleet se prestasie kan die gehalte van sy liefde vir God openbaar.” Is hierdie bewering van Wes Neal, president van IAV (Instituut vir Atletiese Volmaaktheid) soos berig in Christianity Today, waar? IAV, ’n agentskap wat deur evangeliste gebruik word om “mededingende sport te heilig”, het die idee bevorder dat atlete op die sportveld dieselfde intensiteit moet nastreef wat Jesus geopenbaar het toe hy “sy Vader se voorneme uitgevoer het”. Sulke redenasie het ’n gewilde leerstelling van die evangeliste se “kleedkamergodsdiens” geword, sê Christianity Today. Trouens, die artikel haal die voorbeeld aan van een professionele voetbalspeler wat “kruise op sy skoene en armbande geverf het om hom daaraan te herinner dat hy speel om Christus te verheerlik”.
Maar kan daar gesê word dat deelname aan ’n hoogs mededingende of gewelddadige sport God verheerlik? Nouliks! Soos Psychology Today sê: “Die blote aard van mededinging vereis dat selfsug tydelik geopenbaar word terwyl die atleet daarna strewe om te wen.” Maar die Bybel sê dat Christene “nie elkeen na [hulle] eie belange [moet] omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n” (Filippense 2:3, 4). Ware Christene verheerlik God deur sy wil, nie hulle eie wil nie, te doen.—Vergelyk Jesaja 58:13, 14.