Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 10/15 bl. 15-20
  • Wat sal die dag van die Here vir jou beteken?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat sal die dag van die Here vir jou beteken?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Babilon die Grote word in die openbaar gestroop
  • Die hemele verdonker
  • Voortgesette oorlog!
  • Wonderlike diensvoorregte
  • Goddelike beskerming
  • Verlossing by die openbaring van Jesus Christus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • “Dit is die dag der dae”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Wat is die groot verdrukking?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Die Stryder-Koning seëvier by Armageddon
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 10/15 bl. 15-20

Wat sal die dag van die Here vir jou beteken?

“Gaan onderwerp te midde van jou vyande.”—PSALM 110:2, “NW”.

1-3. (a) Waarom was die begin van die dag van die Here ’n tyd van konflik, en wat was sommige van Jesus se oorwinnings? (b) Hoe sal Jesus ‘sy oorwinning voltooi’?

JESUS is in 1914 as die Koning van God se Koninkryk gekroon, en die dag van die Here het begin. Die nuwe Koning het onmiddellik voor gewelddadige teenstand van Satan die Duiwel en sy agente hier op aarde te staan gekom (Psalm 2:1-6). Hierdie vroeë jare van die dag van die Here was dus ’n tyd van konflik waarin Jesus ‘te midde van sy vyande gaan onderwerp het’.—Psalm 110:2, NW.

2 Die nuwe Koning se oorwinnings is indrukwekkend. Ná 1914 het Satan probeer om die pasgebore Koninkryk te “verslind”, maar hy is in plaas daarvan op vernederende wyse uit die hemel gewerp (Openbaring 12:1-12). Toe het hy teen die oorblywende gesalfdes ‘oorlog gevoer’, maar hy kon nie voorkom dat hulle in 1919 ‘opstaan’ of dat hulle “die klein boekrol” uit Jesus Christus se hand neem nie (Openbaring 10:8-11, NW; 11:11, 12; 12:17). Hy was ewe magteloos om te voorkom dat die laaste lede van die 144 000 ingesamel word en dat die groot menigte (uit al die nasies), wat Jehovah ‘dag en nag in sy tempel dien’, versamel word.—Openbaring 7:1-3, 9-15.

3 Jesus het inderdaad sedert 1914 ‘uitgetrek om te oorwin’. Maar baie moet nog gedoen word. Jesus moet nog ‘sy oorwinning voltooi’. Hy moet nog optree om alle spore van Satan se wêreldstelsel van dinge te verwyder (Openbaring 6:1, 2, vgl. NW; 19:11-21). Wat sal hierdie gewigtige daad vir ons as individue beteken?

Babilon die Grote word in die openbaar gestroop

4. Hoe word valse godsdiens in Openbaring beskryf?

4 Die vernietiging van Satan se wêreld begin met die einde van valse godsdiens. Openbaring beskryf die hele wêreldryk van valse godsdiens—met inbegrip van die Christendom—as ’n prostituut, Babilon die Grote, wat met die konings van die aarde geslagsomgang het en die mensdom met haar hoerery dronk maak. Sy is self ook dronk—op walglike wyse—omdat sy bloed, die bloed van God se knegte, gedrink het (Openbaring 17:1-6). Openbaring beskryf ook die einde van hierdie weersinwekkende ou hoer, en ons kan beter verstaan wat dit sal beteken as ons die lot beskou van ’n ander godsdienshoer wat in die sewende eeu voor ons Gewone Jaartelling bestaan het.

5, 6. Waarom is ontroue Jerusalem ’n prostituut genoem, en watter oordeel van Jehovah het sy haar op die hals gehaal?

5 Daardie hoer was die stad Jerusalem. Sy was veronderstel om die sentrum van Jehovah se aanbidding op aarde te wees, maar God het vir haar gesê: “Deur die bloed wat jy vergiet het, het jy skuldig geword” (Esegiël 22:4). Sy was ook veronderstel om geestelik rein te wees, maar sy het haar aan prostitusie oorgegee deur met die nasies te verkeer. “O hoe is ek van woede teen jou vervul”, het Jehovah vir haar gesê, “deurdat jy al hierdie dinge gedoen het, die werk van ’n vrou, ’n baasspelerige prostituut!”—Esegiël 16:30, NW; 23:1-21; Jakobus 4:4.

6 Beskou dan Jehovah se oordeel oor hierdie hoer: “Ek sal al jou minnaars [die nasies] versamel vir wie jy aangenaam was, en almal wat jy liefgehad het, . . . en hulle sal . . . jou jou klere uittrek en jou versiersels wegneem en jou naak en bloot laat staan. Hulle sal ook jou huise met vuur verbrand” (Esegiël 16:37, 39, 41; 23:25-30). Die geskiedenis vertel wat gebeur het. Die Babiloniërs het in 607 v.G.J. gekom en Jerusalem kaal gestroop. Haar mense en rykdom is na Babilon weggevoer. Die stad is vernietig, die tempel is verbrand en die land is verlate agtergelaat.—2 Kronieke 36:17-21.

7. Wat sal die uiteinde van Babilon die Grote wees?

7 Iets soortgelyks sal met Babilon die Grote gebeur. Openbaring waarsku: “Hulle [hedendaagse “konings”, of heersers met wie Babilon die Grote geestelik gehoereer het] sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand” (Openbaring 17:2, 16). Uit die voorbeeld van eertydse Jerusalem weet ons wat dit sal beteken. Valse godsdiens sal vernietig word deur regerings wat haar vroeër ‘liefgehad het’. Haar rykdom sal weggeskeur word, en sy sal verbrand, geheel en al vernietig, word. ’n Gepaste einde vir ’n weersinwekkende organisasie!

Die hemele verdonker

8. Watter soort tyd sal die groot verdrukking vir die mensdom wees?

8 Wanneer Babilon die Grote vernietig word, betree ons die “groot verdrukking” wat Jesus voorspel het (Mattheüs 24:21; Openbaring 7:14). Openbaring sê van daardie tyd: “Daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval” (Openbaring 6:12, 13). Hierdie groot aardbewing is die “groot aardbewing” in “die land van Israel” wat Esegiël voorspel het (Esegiël 38:18, 19; Joel 3:14-16). Dit is die finale vernietiging van hierdie goddelose stelsel van dinge. Sal enigiets dan met die letterlike son, maan en sterre gebeur?

9, 10. Wat het Esegiël oor Egipte voorspel, en hoe is dit vervul?

9 Esegiël het ’n waarskuwing aangaande die komende val van Israel se groot suidelike buurland, Egipte, gerig en gesê: “En as Ek jou [Farao] uitblus, sal Ek die hemel oordek en sy sterre verdonker; Ek sal die son met wolke oordek, en die maan sal sy lig nie laat skyn nie. Al die skynende ligte aan die hemel, dié sal Ek om jou ontwil duister maak, en Ek sal duisternis gee oor jou land, spreek die Here HERE.”—Esegiël 32:7, 8.

10 Toe Farao en sy leërs geval het, het die letterlike hemel nie verdonker nie. Maar Egipte se toekoms het baie donker geword. Soos Bybelkenner C. F. Keil sê: “Die gevolglike duisternis [na Farao se val] is ’n figuurlike voorstelling van uiters wanhopige omstandighede.” Egipte, wat geheel en al as ’n onafhanklike wêreldmoondheid vernietig is, is deur die een wêreldmoondheid na die ander oorheers! Vandag regeer ’n Arabiese nasie oor die meeste van die eertydse Faraoniese wêreldmoondheid se gebied.

11. (a) Wat word voorafgeskadu deur wat met Egipte gebeur het? (b) Hoe sal die toekoms tydens die groot verdrukking vir Satan se wêreld heeltemal donker wees?

11 Maar Keil het ’n verdere betekenis in Esegiël se profesie gesien. Hy skryf: “Die omverwerping van hierdie wêreldmoondheid [Egipte] is ’n voorteken van en ’n voorspel tot die omverwerping van elke goddelose wêreldmoondheid op die dag van die laaste oordeel.” Dit is in wese waar. Soos Openbaring toon, sal die goddelose mensdom se vooruitsigte tydens die groot verdrukking net so swart wees soos dié van Egipte. Dit sal wees asof die son bedags geen lig uitstraal nie en asof die naghemel sonder enige sagte lig van die maan en sonder enige vriendelike, vonkelende sterre is. Diegene wat weier om Jehovah se Koning te vereer, sal omkom sonder selfs ’n eervolle begrafnis terwyl die Ruiter op die wit perd sy oorwinning voltooi (Openbaring 19:11, 17-21; Esegiël 39:4, 17-19). Geen wonder nie dat goddelose mense sal uitroep “vir die berge en die rotse . . . : Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van [hulle] toorn het gekom, en wie kan [staan]?”—Openbaring 6:16, 17, vgl. NW; Mattheüs 24:30.

Voortgesette oorlog!

12. Hoe het Satan gedurende die dag van die Here sy haat teenoor Jesus Christus getoon?

12 Maar wat van Christene in hierdie tye? Wel, hulle is in groot mate deur die onophoudelike oorlogvoering tussen Satan en die Ruiter op die wit perd geraak. Aangesien Satan Jesus nie persoonlik kon aanval nie, het hy al sy woede op die oorblywende gesalfdes gerig en—meer onlangs—op die groot menigte ander skape wat om hulle versamel het. Soos Jesus gewaarsku het, word hulle ‘deur al die nasies gehaat ter wille van sy Naam’ (Mattheüs 24:9). Satan het elke beskikbare wapen, waaronder molestering, opsluiting, pyniging en moord, gebruik om teen hulle te stry.—2 Timotheüs 3:12.

13. Hoe het Satan lis in sy oorlogvoering teen God se volk gebruik?

13 Satan het ook lis op bekwame wyse gebruik (Efesiërs 6:11). Hy het sommige deur middel van “die verleiding van die rykdom” verlok om minder te doen of selfs hulle heilige diens te staak (Mattheüs 13:22; 1 Timotheüs 6:9, 10). Hy het ander tot onreinheid en onsedelikheid verlok (1 Korinthiërs 5:1, 2). Baie ondervind groot druk weens die “sorge van die lewe”, en Satan buit dit uit in ’n poging om hulle te “beswaar” (Lukas 21:34). In ander gevalle het hy persoonlikheidskonflikte of opstandige neigings gebruik om die aandag van “die belangriker dinge” af te trek.—Filippense 1:10, NW; 1 Korinthiërs 1:11, 12; Jakobus 4:1-3.

14, 15. Hoe kan ons in ons stryd teen Satan oorwin?

14 Gevolglik moes Christene gedurende die dag van die Here volharding aankweek. Sommige het gefaal, en elke mislukking was vir Satan ’n klein oorwinning (1 Petrus 5:8). Maar die meeste het ag geslaan op Jesus se belofte: “Wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Mattheüs 24:13). Hulle het met Jehovah se hulp oorwin en sy hart verbly.—Spreuke 27:11; 1 Johannes 2:13, 14.

15 Nie een van ons wil tog vir Satan die vreugde gee om ons te sien tou opgooi nie! Laat ons dan Paulus se raad volg en ons met waarheid, geregtigheid en geloof toerus, die goeie nuus ywerig verkondig en studeer om ons geloof sterk te hou. Laat ons ook onophoudelik bid en waaksaam bly. Sodoende sal ons “in die dag van onse Here Jesus Christus onberispelik . . . wees” (1 Korinthiërs 1:8; Efesiërs 6:10-18; 1 Thessalonicense 5:17; 1 Petrus 4:7). Die dag van die Here sal vir ons ’n bron van ryk seëninge wees.

Wonderlike diensvoorregte

16. Waarom is Johannes beveel om nie neer te skryf wat die sewe donderslae gesê het nie, en wat het dit in 1919 vir gesalfde Christene beteken?

16 In Openbaring 10:3, 4 sê Johannes dat hy “die sewe donderslae” se stemme gehoor het. Hy wou neerskryf wat hy gehoor het, maar hy sê: “Ek het ’n stem uit die hemel vir my hoor sê: Verseël wat die sewe donderslae gespreek het, en skryf dit nie op nie.” Dit was klaarblyklik nog nie tyd vir die openbaarmaking van sulke inligting nie. Johannes is eerder beveel om die klein boekrol te neem en dit te eet. Die sewe donderslae stel blykbaar ’n volkome uiting van Jehovah se voornemens voor (Psalm 29:3; Johannes 12:28, 29; Openbaring 4:5). In 1919, toe gesalfde Christene die klein boekrol figuurlik geëet het, was dit nie tyd vir hulle om ’n volkome begrip van Jehovah se voornemens te hê nie. (Vergelyk Daniël 12:8, 9.) Maar hulle het onbevrees voortgebeur met die begrip wat hulle wel gehad het en het bewys dat hulle verdere verligting waardig is.

17. Meld voorbeelde van die nuwe insig wat Jehovah in die jare sedert 1919 aan sy volk gegee het.

17 Deur die jare sedertdien is hulle ’n immer duideliker begrip van Jehovah se wil gegee. Hulle het byvoorbeeld besef dat die skape van Jesus se gelykenis selfs voor Armageddon van die bokke geskei word (Mattheüs 25:31-46). Hulle het gesien dat die oprigting van die Koninkryk in 1914 die vervulling van Openbaring hoofstuk 12 was. Hulle het ’n dieper waardering vir die belangrikheid van Jehovah se naam gekry, en hulle het geleer wie die groot menigte van Openbaring hoofstuk 7 werklik is. Watter vertroue het hierdie progressiewe openbarings God se volk tog nie gegee nie!—Spreuke 4:18; 2 Petrus 1:19.

18. Watter besondere diensvoorregte het Jehovah se volk gedurende die dag van die Here geniet, en watter besef bou dit in ons harte op?

18 Terselfdertyd het Jehovah besondere diensvoorregte aan sy aardse knegte toevertrou. In ’n verhewe visioen het Johannes gesien hoe engele ewige goeie nuus vir die mensdom verkondig, die val van Babilon die Grote aankondig en mense waarsku om nie die merk van die dier te ontvang nie (Openbaring 14:6-10). Hoewel engele ongetwyfeld oor hierdie goddelike diensvoorregte toesig gehou het, was dit mense, Jehovah se Getuies op aarde, wat hierdie boodskappe aan die mensdom oorgedra het. Johannes het ook gesien hoe Jesus “die oes van die aarde” maai (Openbaring 14:14-16). Maar dit is deur middel van die Koninkryksverkondiging en dissipelmaakwerk van Jesus se onderdane op aarde dat hy hierdie oes gemaai het (Mattheüs 24:14; 28:19, 20). Wat ’n voorreg is dit tog nie om saam met die engele en Jesus Christus self sulke lewensbelangrike diensvoorregte uit te voer nie! Deur dit te doen, is ons waarlik verenig met Jehovah se groot, onsigbare hemelse organisasie van getroue geesskepsele.

Goddelike beskerming

19. (a) Watter klimaks sal Satan se vyandigheid teenoor God se volk bereik? (b) Wie sal in die finale, beslissende konflik oorwin?

19 Namate die einde van sy wêreld nader, sal Satan al hoe meer druk op Christene uitoefen. Die klimaks van sy vyandigheid word in Esegiël hoofstukke 38 en 39 beskryf, waar hy profeties Gog van die land Magog genoem word. Volgens hierdie geïnspireerde profesie sal Satan ’n hewige aanval op God se volk rig in ’n poging om hulle eens en vir altyd te vernietig. Sal hy welslae behaal? Openbaring antwoord: “Die tien horings [hedendaagse “konings”, of heersers] . . . sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin—want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings—en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (Openbaring 17:12, 14). Getroue Christene sal gewis oorwin as hulle aan hulle groot, seëvierende koning getrou bly. Gog se magte sal geheel en al vernietig word.—Esegiël 39:3, 4, 17-19; Openbaring 19:17-21.

20. Watter seëninge sal die dag van die Here tydens die groot verdrukking vir getroue Christene meebring?

20 Die dag van die Here beteken dus redding vir God se volk. Die hemelse posisie van gesalfdes wat nog tydens die groot verdrukking as mense lewe, sal gewaarborg wees, en hulle sal onwrikbaar vasbeslote wees om tot die dood getrou te wees (Openbaring 7:1-3; 2 Timotheüs 4:6-8). Die groot menigte sal ook behoue bly, en Jesus sal “hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee” (Openbaring 7:14, 17). Wat ’n wonderlike beloning vir getroue volharding!

21. Wat sal gedurende die dag van die Here ná die groot verdrukking op aarde gebeur?

21 Nou gaan die dag van die Here ’n wonderlike fase binne: die Duisendjarige Heerskappy van Christus Jesus (Openbaring 20:6, 11-15). Die rivier van die water van die lewe, wat in Openbaring en in Esegiël voorspel is, sal van Jehovah se troon of na die mensdom vloei, en diegene wat daaruit drink sal geleidelik tot mensevolmaaktheid verhef word (Esegiël 47:1-12; Openbaring 22:1, 2). Hades sal geledig word, en miljarde wat gesterf het, sal ook die geleentheid hê om uit hierdie rivier te drink.—Johannes 5:28, 29.

22. Watter belangrike gebeurtenisse aan die einde van die Duisendjarige Heerskappy van Christus lê vir die mensdom voor?

22 Aan die einde van die duisend jaar sal die mensdom tot volmaaktheid verhef wees. Wat ’n gepaste tyd vir Satan om vir die laaste maal op die aardse toneel te verskyn! Hy sal weer eens probeer om die mensdom te mislei, en party sal hom selfs dan volg. Dit is betekenisvol dat hulle “die Gog en die Magog” genoem word aangesien hulle dieselfde bose gees as “Gog se menigte” in Esegiël se profesie sal openbaar. Maar hulle opstandige gees sal tot in alle ewigheid uitgewis word wanneer hulle, saam met Satan en sy demone, in die simboliese poel van vuur gewerp word (Openbaring 20:7-10; Esegiël 39:11). ’n Waarlik geseënde toekoms wag op diegene wat daardie finale toets getrou deurstaan, en dan sal die volmaakte mensdom met Jehovah se regverdige, universele organisasie verenig word. Jehovah God self sal “alles in almal” wees!—1 Korinthiërs 15:24, 28; Openbaring 20:5.

23. Op watter raad van Paulus is dit, met die oog op die tyd waarin ons lewe, uiters gepas dat elkeen van ons ag slaan?

23 Watter ondenkbare seëninge lê dus vir ons voor as ons volhard! Onthou, die dag van die Here het reeds begin. Wonderlike dinge het reeds begin gebeur. Paulus se woorde is dus gepas: “Laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie” (Galasiërs 6:9). Laat ons inderdaad in hierdie dag van die Here “nie moeg word om goed te doen nie”. As ons volhard, sal hierdie dag vir elkeen van ons ewige voordele meebring.

Kan jy verduidelik?

◻ Wat is die eerste stadium van die vernietiging van Satan se wêreld?

◻ Hoe sal Jesus sy oorwinning oor sy vyande “voltooi”?

◻ Hoe het Satan gedurende die dag van die Here teen Jehovah se Getuies gestry?

◻ Watter merkwaardige seëninge het God se volk sedert 1919 geniet?

◻ Wat is jy persoonlik voornemens om te doen met die oog op waar ons ons in die stroom van die tyd bevind?

[Prent op bladsy 16]

Die lot van eertydse Jerusalem toon wat binnekort met Babilon die Grote gaan gebeur

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel