Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 9/15 bl. 28-30
  • Christene—ferm dog buigsaam

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Christene—ferm dog buigsaam
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wanneer jy ferm moet wees
  • Wanneer jy buigsaam moet wees
  • Ouere manne—ferm dog buigsaam
  • Kweek redelikheid aan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Volg Jehovah na – Wees redelik
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • “Gedenk julle voorgangers”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Wees gehoorsaam aan diegene wat die leiding neem
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 9/15 bl. 28-30

Christene—ferm dog buigsaam

DIE statige akkerboom is die toonbeeld van sterkte. Selfs sterk winde waai dit nie maklik om nie. Terwyl ’n stewige akkerboom die meeste storms vanweë sy sterkte en betreklike onbuigsaamheid of fermheid deurstaan, bly die klein grashalmpie ook behoue, maar om ’n heel ander rede. Die geheim? Buigsaamheid. Dit buig maar breek nie onder die krag van die wind nie.

Buigsaamheid of onbuigsaamheid—wat is dus belangriker? ’n Christen het in werklikheid ’n kombinasie van albei nodig. Nogtans is daar selfs onder sommige van God se knegte soms ’n gebrek aan ewewig tussen fermheid en buigsaamheid. Hulle het verhewe beginsels, maar ’n paar is geneig om ontoegeeflik te wees. Ander is ietwat soos ’n “riet wat deur die wind heen en weer gewaai word” (Mattheüs 11:7, NAV). Hulle swig voor die druk en invloede van hierdie goddelose wêreld. Of hulle is dalk so verdraagsaam dat dit aan permissiwiteit grens.

Soos Salomo gesê het: “Elke ding het sy vaste tyd” (Prediker 3:1, NAV). Wanneer is dit derhalwe tyd om onbuigsaam te wees en wanneer is dit tyd om buigsaam te wees?

Wanneer jy ferm moet wees

Koning Saul van Israel is eenkeer uitdruklik beveel: “Gaan nou en verslaan Amalek [’n vyandelike nasie], en julle moet met die banvloek tref alles was hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel” (1 Samuel 15:3). Die Amalekiete het ’n geskiedenis gehad dat hulle God sowel as sy volk teengestaan het en het dus uitwissing verdien (Deuteronomium 25:17-19). Maar “Saul en die manskappe het Agag [die koning van Amalek] gespaar, en die beste van die kleinvee en beeste, . . . dit wou hulle nie met die banvloek tref nie”. Saul se slap toepassing van die reëls was nie vir Jehovah aanvaarbaar nie. “Kyk”, het die profeet Samuel gesê, “om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer.”—1 Samuel 15:9-22.

Die les hierin is duidelik: Daar kan geen buigsaamheid wees wanneer dit by gehoorsaamheid aan God kom nie. Die apostel Johannes het gesê: “Want dit is die liefde tot God, dat ons [God se] gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3). Die ondervinding van Sadrag, Mesag en Abednego lig toe presies hoe ver knegte van God bereid moet wees om te gaan om hierdie gehoorsaamheid te toon. Hulle het geweier om die beeld te aanbid wat Babiloniëse koning Nebukadnesar opgerig het. Waarom? Omdat God se wet afgodsaanbidding uitdruklik veroordeel het (Exodus 20:4-6). Hulle het nie geredeneer dat die omstandighede die oortreding van hierdie goddelike bevel geregverdig het nie. Inteendeel, hulle was onversetlik en het die dood bo ongehoorsaamheid verkies.—Daniël 3:16-18.

Dit is vir die meeste Christene nie juis moeilik om aan duidelik omlynde Bybelwette gehoorsaam te wees nie. Maar Christene word meegedeel: “Wees gehoorsaam aan hulle wat onder julle die leiding neem” (Hebreërs 13:17, NW). Gemeentelike ouere manne stel dalk spesifieke tye vas waarop die gemeente vir velddiens bymekaar moet kom. Of hulle spesifiseer miskien dat Koninkryksaaltoerusting op ’n sekere manier gebruik moet word. Daar is weliswaar geen Bybelteks wat uitdruklik se hoe ’n termostaat gestel moet word of wie dit moet stel nie. Is dit nogtans nie goed om jou samewerking te gee wanneer die ouere manne sulke besluite neem nie?

’n Man neem dalk eweneens verskeie besluite vir sy gesin. ’n Christenvrou stem miskien nie noodwendig saam met sy oordeel wat ’n sekere saak betref nie, maar sy probeer om “die wet van die man” te gehoorsaam (Romeine 7:2). Gehoorsaamheid aan ouere manne, mans, ouers en werkgewers moet nie onder voorwendsel van buigsaamheid ontduik word nie.—Kolossense 3:18-24.

Wanneer jy buigsaam moet wees

Daar is nietemin ook ’n tyd om buigsaam te wees. Die apostel Paulus het dit aangedui toe hy gesê het: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word” (Filippense 4:5, NW). Die Griekse woord wat Paulus hier gebruik het, beteken “om nie op die letter van die wet aan te dring nie; dit gee daardie bedagsaamheid weer wat ‘die feite van ’n geval op ’n menslike en redelike wyse’ beskou” (W. E. Vine, An Expository Dictionary of New Testament Words). Redelikheid is dikwels ’n geval van bereidwilligheid om jou by bestaande omstandighede aan te pas.

Ter toeligting: ’n Sendeling wat in ’n vreemde land dien, besef moontlik gou dat plaaslike gedragsreëls verskil van dié van die land waarin hy grootgemaak is. Maar hoe effektief sal sy bediening wees as hy neersien op die gewoontes van die plaaslike mense en weier om ’n paar aanpassings te maak? Hy pas hom dus wyslik aan by die nuttige gewoontes van die nuwe kultuur.—1 Korinthiërs 9:19-23.

Dit is interessant dat Paulus Christene in Filippi aangemoedig het om redelik te wees pas nadat hy melding gemaak het van twee vroue in die gemeente tussen wie daar struwelinge was (Filippense 4:2-5, NAV). Hoewel Paulus ons nie die aard van hulle onenigheid meegedeel het nie, is ’n gebrek aan redelikheid dikwels die grondoorsaak van gespanne verhoudings. Niemand is gemaklik in die geselskap van iemand wat krities of te veeleisend is nie. “Wees nie alte regverdig [nie]”, waarsku Salomo, “en hou jou nie buitengewoon wys nie: waarom sou jy jouself te gronde rig?”—Prediker 7:16.

Christene moet ander se tekortkominge in aanmerking neem. Hoe goed is dit tog wanneer ons probeer om sake uit die oogpunt van die ander persoon te beskou! Maar sommige Christene in eertydse Korinthe was ongelukkig so besorg oor hulle persoonlike “regte” dat hulle selfs so ver gegaan het as om medegelowiges voor die hof te daag. Hulle het, deur hulle probleme voor ongelowiges te lug, nie net oneer op die gemeente gebring nie, maar ook die kloof tussen hulle vergroot.—1 Korinthiërs 6:1-6.

Paulus het Korinthiese Christene wat te na gekom is derhalwe aangemoedig om toegeeflik te wees. Hy het gemaan: “Dan is dit al werklik ’n gebrek onder julle, dat julle regsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle jul nie liewer berowe nie?” (1 Korinthiërs 6:7). ’n Christen ag dit ’n wins om goeie verhoudings met sy geestelike broers en susters te behou.

Redelikheid is veral gepas vir diegene wat gesag uitoefen. Ouers stel byvoorbeeld ’n tyd vas wanneer hulle seuns en dogters saans tuis moet wees. Maar veronderstel ’n kind vra by een geleentheid om ’n uitsondering op die reël. Sal dit nie gepas wees om ten minste die spesifieke omstandighede wat daarby betrokke is te oorweeg nie? En wat van Christen- ouere manne? Is redelikheid nie een van die vereistes waaraan hulle moet voldoen nie? (1 Timotheüs 3:3, NW). Ja. Maar wanneer en hoe moet hulle hierdie eienskap aan die dag lê?

Ouere manne—ferm dog buigsaam

Die apostel Petrus het eenkeer “redelike” mense gekontrasteer met diegene wat “moeilik is om te behaag” (1 Petrus 2:18, NW). ’n Ouere man doen dalk ’n paar wenke aan die hand om ’n broer te help om sy spraakvermoë te verbeter. Maar wat kan gebeur as die ouere man ’n uiters onbuigsame maatstaf aanlê en nie die opvoeding, vermoëns en omstandighede van die broer in aanmerking neem nie? Die broer voel dalk gebelg oor die raad of raak baie mismoedig en kom tot die gevolgtrekking dat die ouere manne te “moeilik is om te behaag”.

Ouere manne moet ook buigsaam wees wat die toepassing van verskeie reëls in die gemeente betref. Hulle moet nooit toelaat dat reëls ‘die gebod van God kragteloos maak’ deur meer klem op sulke reëls te lê as op die volmaakte beginsels van Jehovah se Woord nie.—Mattheüs 15:6; 23:23.

Dit is gepas dat ouere manne buigsaam is wanneer Skriftuurlike beginsels nie deur sulke buigsaamheid geskend word nie. Hulle is moontlik daarvan bewus dat broers streng afgeraai word om sitplekke by groot byeenkomste te hou. Maar moet so ’n reël toegepas word in ’n klein gemeente waar sitplekke volop is? Of die ouere manne meen dalk dat ’n sekere soort drag—soos ’n baadjie en ’n das vir mans—in die algemeen gepas is vir die predikingswerk van huis tot huis. Dit was die geval in ’n gemeente in ’n Suid-Amerikaanse land. ’n Ouere man aldaar het nietemin agtergekom dat ’n jong man aarsel om die goeie nuus aan ander te verkondig. Die rede? Hy kon dit nie bekostig om ’n baadjie en ’n das te koop nie. Die ouere man het tot die slotsom gekom dat buigsaamheid gepas was en het die jongman derhalwe aangemoedig om sy geloof aan ander te begin verkondig.

Buigsaamheid moet ook getoon word wanneer regterlike sake in die gemeente ondersoek word. Sê nou die oortreder toon berou, hoewel die oortreding geldige rede tot uitsetting kan wees. Wat dan? Jehovah het die voorbeeld gestel in sy handelinge met die mense van Nineve. God het vir Jona gesê: “Nog veertig dae, dan word Nineve verwoes.” Maar toe die mense berou getoon het, het Jehovah nie daarop aangedring om die vernietiging wat hy aangekondig het oor hulle te bring nie. Hy het besef dat omstandighede verander het (Jona 3:4, 10). Ouere manne moet eweneens graag ‘menigvuldiglik vergewe’ waar daar duidelike bewys van ware berou is.—Jesaja 55:7.

Dit is nie maklik om ’n ewewig te handhaaf tussen fermheid en buigsaamheid nie. Onvolmaakte mense is blykbaar van nature tot uiterstes geneig. Maar Christene wat daarna streef om ferm dog buigsaam te wees, sal ryklik beloon word. Omdat hulle probeer om buigsaam te wees, sal hulle beter verhoudings met ander geniet en sal hulle emosionele ontsteltenis vermy. Omdat aangestelde ouere manne as onkreukbaarheidshandhawers ferm en standvastig in goeie werke is, stel hulle boonop ’n voorbeeld wat die vertroue en samewerking van die hele gemeente win, namate almal met die hoop op die ewige lewe saam vooruitgang maak.—Jesaja 32:2; 1 Korinthiërs 15:58.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel