’n Stoere stryder vir die waarheid
MARTIN POETZINGER, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, het vroegaand op Donderdag, 16 Junie 1988, sy aardse loopbaan as ’n gesalfde Christen voltooi. Sy gesondheid het geruime tyd reeds versleg, maar hy het sonder sigbare pyn by die Brooklyn-Bethel gesterf. Sy vrou, Gertrud, was heeltyd gedurende sy siekte aan sy sy.
Broer Poetzinger is op 25 Julie 1904 in München, Duitsland, gebore. Hy is op 2 Oktober 1928 gedoop en het op 1 Oktober 1930 die pionierdiens betree. In die noordelike herfs van 1933 het die Wagtoringgenootskap hom aangestel om na Koninkryksbelange in Bulgarye om te sien, maar Getuies wat nie landsburgers was nie, is binne die daaropvolgende jaar gedeporteer. Broer Poetzinger het toe na Hongarye gegaan. Nadat hy wederregtelik gearresteer en gedeporteer is, is hy aangestel as opsiener van ’n groep pioniers in Joego-Slawie. Na ’n ernstige siekte, wat hom genoodsaak het om lank in Zagreb in die hospitaal te bly, het hy na Duitsland teruggekeer.
Broer en suster Poetzinger het in 1936 getrou, maar in daardie selfde jaar is by na ’n konsentrasiekamp gestuur omdat hy geweier het om sy geloof te verloën. Sy vrou is elders in die tronk gesit, maar hy is na Dachau en toe na die uitwissingskamp by Mauthausen, Opper-Oostenryk, gestuur. Daar het die Gestapo uithongering, lyfstraf en onbeskryflike wreedhede gebruik om hom en ander Getuies te probeer dwing om hulle onkreukbaarheid aan Jehovah God prys te gee. Maar broer Poetzinger het die ware geloof onwrikbaar aangehang.
Na nege jaar van wrede gevangenskap is broer en suster Poetzinger in 1945 weer herenig. Hy het kort hierna in die kringwerk in Duitsland begin dien, en Gertrud het later saam met hom gereis en ywerig aan die velddiens deelgeneem terwyl hy die gemeentes gedien het. In 1958 het hy die Wagtoring-Bybelskool Gilead bygewoon, en met sy terugkeer na Duitsland het by en sy vrou die reiswerk voortgesit totdat hulle in 1977 Betheldiens aldaar betree het. In September 1977 is broer Poetzinger aangestel as lid van die Bestuursliggaam en kon hy so bietjie meer as ’n jaar later na die Genootskap se wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, gaan. Hy het in die Dienskomitee van die Bestuursliggaam en in die Diensafdelingkomitee gedien.
Broer Poetzinger was ’n moedige stryder vir die waarheid. Sy lojaliteit en ywerige ondersteuning van Jehovah se organisasie en die Koninkrykswerk was waarlik voorbeeldig. Ons is dus vol vertroue dat hy onder diegene is van wie daar gesê word: “Salig is . . . die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, . . . hulle werke volg met hulle.”—Openbaring 14:13.
[Prent op bladsy 31]