Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 11/15 bl. 21-26
  • “Gedenk julle voorgangers”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Gedenk julle voorgangers”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Teokratiese orde herstel
  • “Een wat sy eie huis goed regeer”
  • ‘Nie eiesinnig nie, maar redelik’
  • “Een wat vashou aan die betroubare woord”
  • Getroue ouere manne en hulle vrouens
  • Vader en ouer man—Vervul albei rolle
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Ouere manne—Bewaar julle pand
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Is jy bekwaam om te dien?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • ‘Julle moet respek hê vir dié wat hard onder julle werk’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 11/15 bl. 21-26

“Gedenk julle voorgangers”

“Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.”—HEBREËRS 13:7.

1. Watter veranderinge het aan die einde van die 19de eeu op die gebied van ware aanbidding plaasgevind, maar hoe is Christenouderlinge gekies?

GEDURENDE die laaste kwart van dit 19de eeu het Charles Taze Russell en ’n groepie toegewyde Bybelstudente in Pittsburgh, Pennsilvanië, begin om ware aanbidding te herstel. Hulle het hulle eers beywer vir die herstel van suiwer Bybelleer, vry van besmetting deur BabiIoniese oorlewering en filosofie. Die aanvanklike herstellingsproses het egter stadiger verloop op die gebied van gemeentelike organisasie. Hoewel die Bybelstudente ouderlinge en diakens (bedieningsknegte) gehad het, het valse godsdiensidees nog in sekere opsigte geheers. Gevolglik het die gemeentes tot in die 20ste eeu nog ouderlinge gekies deur middel van ’n demokratiese stemproses, naamlik deur die hand op te steek.

2. Watter hoë standaard is nietemin vir ouderlinge onder Jehovah se volk gestel?

2 Daar is nietemin ’n hoë standaard vereis, want The Watch Tower van 1 November 1909 het op bladsy 325 gesê: “By die kies van Ouderlinge moet die toegewydes onthou dat die verantwoordelikheid op hulle rus; geen stem moet dus uitgebring word sonder nougesette oorweging van die Goddelike wil en gebed om Goddelike leiding nie,” Die artikel het voorts drie karaktertrekke van ’n goeie ouderling beklemtoon: (1) Hy moes ’n bedrewe onderrigter wees; (2) hy moes waarheid leer en nie valsheid nie; en (3) nederigheid en vroomheid was “belangrike en vername vereistes vir ouderlingskap”.

Teokratiese orde herstel

3, 4. Watter geskiedkundige veranderinge in verband met gemeentelike aanstellings het in (a) 1919 (b) 1932 (c) 1938 en (d) 1971 plaasgevind?

3 In 1919 is ’n eerste stap gedoen om teokratiese beheer oor aanstellings te herstel. Die gemeentes is genooi om ’n ywerige broer as “diensdirekteur” aan te beveel om die leiding te neem in die predikingswerk. Hy sou nie aan plaaslike, jaarlikse verkiesings onderworpe wees nie, maar sou regstreeks deur die Wagtoringgenootskap, die wetlike verteenwoordiger van die gemeente van die gesalfdes, aangestel word. In 1932 is die verkose ouderlinge wat met die “diens-direkteur” moes saamwerk, vervang deur ’n dienskomitee van ryp broers wat verskillende diensposisies in die gemeente beklee het maar nog deur die gemeente gekies is. Die benaming “ouderling” is laat vaar ten gunste van “groepkneg”, “Bybelstudiekneg”, ensovoorts.

4 Eers in 1938 is daar geheel en al van verkiesings afgesien, toe daar getoon is dat die gesag om aanstellings te maak by die Bestuursliggaam van die wêreldwye Christengemeente berus. Van toe af is bekwame manne regstreeks deur die Genootskap aangestel as “knegte” om na die verskillende pligte in die gemeente om te sien. Maar in Die Wagtoring van 1 Februarie en 1 Maart 1972 is ’n duideliker begrip van die rol van die ouere man en opsiener voorgelê. Grondige redes is verstrek vir die besluit om terug te keer tot die Bybelse terminologie, naamlik ouderling of ouere man (presbýteros) en opsiener (episkopos).

5. (a) Waarom is groot versigtigheid nodig by die aanbeveling van ouere manne? (b) Watter faktore moet in aanmerking geneem word?

5 Weer eens is daar klem gelê op die hoë standaarde wat deur, heilige gees gestel en in God se Woord vermeld word. En waarom sou dit wees? Omdat die ouere man, indien, hy eerbiedwaardig wil wees, reeds voor sy aanbeveling en aanstelling ‘die leiding moet neem’ in Christelike gedrag en in die bediening (Hebreërs 13:7, 17, NW). Die liggame van ouere manne moet dus nie oorhaastig wees om nuwe ouere manne aan te beveel nie (1 Timotheüs 3:6; 5:22). Onthou dat dit dikwels veel meer tyd en bespreking verg om ’n onbevoegde ouere man uit die amp te verwyder as om hom in die eerste plek aan te beveel. Trouens, ’n bykomende riglyn is of die gemeente die broer reeds voor sy aanstelling behandel asof hy ’n ouere man is. Het hy in so ’n mate hulle respek afgedwing deur aan Bybelvereistes te voldoen dat daar geen twyfel oor die aanbeveling bestaan nie?

“Een wat sy eie huis goed regeer”

6. Meld sommige van die vereistes vir ’n ouere man met betrekking tot sy gesin.

6 Kom ons hersien kortliks ’n paar van die vereistes vir ’n ouere man, soos deur die apostel Paulus uiteengesit, om te sien wat dit vandag in praktiese terme beteken. Paulus het geskryf:

“As iemand onberispelik is, die man van een vrou, gelowige kinders het wat nie skuldig word van losbandigheid of tugteloos is nie.”.—Titus 1:6.

“’n Opsiener dan moet onberispelik wees, . . . een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou. Maar as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?”—1 Timotheüs 3:2, 4, 5.

7. Watter fyn balans moet die ouere man handhaaf tussen sy verantwoordelikheid teenoor sy gesin en teenoor die gemeente?

7 Die vereiste om behoorlik na jou huisgesin om te sien, bied vir baie ouere manne ’n uitdaging. Hoe kan ’n ouere man die leiding in die gemeente neem en nogtans nie die geestelike en emosionele behoeftes van sy vrou en kinders verwaarloos nie? Dit is nie maklik nie. Hy het beslis geestelike rypheid nodig om hierdie verantwoordelikhede in behoorlike ewewig te hou. Soms eis lede van die gemeente tyd en aandag wat die ouere man eintlik aan sy gesin verskuldig is. Waarom is besorgdheid oor sy gesin so noodsaaklik? Omdat hy, ongeag al sy bekwaamhede en ywer, nie meer aan die vereistes vir ’n ouere man sal voldoen as hy sy gesinsbetrekkinge verwaarloos of as sy minderjarige, afhanklike kinders geestelik verdorwe raak nie. Ons moet dus onthou dat herderswerk by die huis begin! Ja, ’n versigtige balans moet gehandhaaf word deur die ouere man en sy gesin sowel as deur die lede van die gemeente in die eise wat hulle stel.—Efesiërs 5:28-33; 6:4; 1 Timotheüs 5:8; 1 Petrus 3:7.

‘Nie eiesinnig nie, maar redelik’

8, 9. Watter eienskappe moet ’n ouere man openbaar in sy omgang met ander?

8 Nog ’n stel vereistes hou regstreeks verband met die wyse waarop die ouere man sy mede-ouere manne en die gemeente in die algemeen behandel. Paulus stel dit soos volg in sy briewe aan Titus en Timotheüs:

“Want ’n opsiener moet as ’n rentmeester van God onberispelik wees, nie eiesinnig, nie oplopend, . . . geen vegter [nie] . . . een wat homself beheers.”—Titus 1:7, 8.

“Nie iemand wat ander slaan nie, maar redelik, nie strydlustig nie.”—1 Timotheüs 3:3, NW.

9 Hierdie vereistes dui aan dat ’n ouere man ’n Christelike persoonlikheid moet hê. Dit is beslis ’n hoë standaard. Maar dieselfde standaard geld vir alle Christene! Ons moet almal navolgers van Christus wees, en dit beteken dat ons vredeliewend moet wees (1 Korinthiërs 11:1). Soos die Bybelskrywer Jakobus dit gestel het: “Die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik [of, redelik], geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte . . . En die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak”—Jakobus 3:17, 18.

10, 11. (a) Watter uitwerking kan ’n ouere man se gesindheid op ’n gemeente hê? (b) Watter gesindhede moet heers selfs wanneer daar meningsverskille ontstaan?

10 Is ons as ouere manne ‘vredemaakers’? Geen ouere man wil ooit onenigheid en twis veroorsaak nie. ’n Liggaam van ouere manne moet in hierdie opsig ’n goeie voorbeeld stel. Dan sal die gemeente nie ontwrig word deur geskille onder die ouere manne nie. Laat ons almal die woorde van Paulus onthou: “Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid en heilige hande ophef sonder toorn en twis.”—1 Timotheüs 2:8.

11 Van tyd tot tyd sal daar meningsverskille wees. Die redelike man sal nie eiesinnig en koppig wees nie, al het hy ook ’n sterk persoonlikheid. Hy sal bereid wees om toe te gee wanneer daar nie Skriftuurlike beginsels by die saak betrokke is nie. En as beginsels wel ter sprake is, sal hy die wysheid daarvan besef om selfbeheersing aan, die dag te lê. Hy sal dink aan die beginsel in 1 Korinthiërs 13:4, 5 (NW), naamlik dat die liefde nie ergerlik raak nie.—Kolossense 3:12-14.

“Een wat vashou aan die betroubare woord”

12. Watter ander noodsaaklike vereiste word deur Paulus beklemtoon?

12 Wat sal ’n ouere man help om die vereiste hoedanighede verder aan te kweek? Trouens, in party gevalle is die vraag: Wat kan hy doen om daardie hoedanighede te behou? Ons het die antwoord in Paulus se woorde:

“Een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is [wat sy onderrigkuns betref, NW], sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê [tereg te wys, NW].”—Titus 1:9.

“Bekwaam om te onderrig.”—1 Timotheüs 3:2.

13. Hoe moet ’n ouere man in die besonder op sy geestelike gesondheid let?

13 Wat kan ’n ouere man doen sodat hy ‘aan die betroubare woord vashou’ en ‘bekwaam is om te onderrig’? In die eerste plek moet hy gereeld tyd opsysit vir persoonlike Bybelstudie. Dit sluit sy voorbereiding vir Christelike vergaderinge en toesprake in. Ter wille van sy eie geestelike gesondheid moet hierdie voorbereiding nie oppervlakkig wees nie. Ter toeligting: Hy kan miskien die antwoorde in ’n Wagtoring-studieartikel in ’n japtrap onderstreep, maar beteken dit dat hy die materiaal bestudeer het? Verstaan hy die ontwikkeling van die tema ten volle? Het hy die gesiteerde Bybeltekste nageslaan om hulle toepassing te bepaal? Dit is stellig onmoontlik in ’n kort onderstreepsessie. Persoonlike studie en gesinstudie verg tyd.—Josua 1:8; Psalm 1:2; 77:7, 13.

14. Wat kan ’n ouere man doen ten einde op sy onderrigkuns te let?

14 Aangesien ’n besige rooster nie vir alles tyd laat nie, moet ’n ouere man in die tweede plek spesiale aandag skenk aan Christelike publikasies en artikels wat direk betrekking het op sy ‘onderrigkuns, vermaning en teregwysing’. ’n Eenvoudige hulpmiddel in hierdie verband is om ’n netjiese persoonlike biblioteek op te bou. ’n Ouere man moet veral snelle toegang hê tot akkurate Skriftuurlike inligting, en dit beteken dat hy gereeld die publikasieregisters van die Wagtoringgenootskap sal gebruik. Waarom is dit alles so belangrik? Die apostel Paulus het geskryf: “Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.”—1 Timotheüs 4:16.

15. Waarom is onskriftuurlike raad gevaarlik?

15 Ja, ’n ouere man se raad kan lewe en redding beteken. By sake rakende aborsie, bloedoortappings en Christelike neutraliteit kan ’n ouere man se raad byvoorbeeld ’n diepgaande uitwerking ten goede of ten kwade hê op sy eie gewete en dié van ander, sowel as op mense se verhouding met Jehovah. Ons kan dus sien dat dit nie verstandig is om vrae te probeer beantwoord as ons nie doodseker is van die Bybelbeginsels wat by die saak betrokke is nie. Raad wat nie deeglik op die Skrif gegrond is nie, kan onherstelbare skade aanrig.—Filippense 1:9, 10.

16. Waarom het sommige ouere manne in ernstige sonde verval, en is dit ’n saak wat ligtelik opgeneem kan word?

16 Nog ’n rede waarom jy as ouere man op jouself moet let, is weens die nodigheid om ’n hegte verhouding met Jehovah op te bou en te handhaaf. Sommige ouere manne het ongelukkig hierdie verhouding dermate verwaarloos dat hulle in sondes soos owerspel verval het. Hoe kon dit gebeur? Eenvoudig omdat hulle toegelaat het dat Jehovah en sy beloftes op die agtergrond raak. Hulle geestelike gesig het dof geword en selfsugtige, vleeslike begeertes het die oorhand gekry. ’n Paar ouere manne het hulle huweliksgeloftes verbreek sonder ’n gedagte aan die smaad wat dit Jehovah se heilige naam sou aandoen en die lyding wat dit vir hulle dierbares sou veroorsaak. Sulke manne is beslis struikelblokke. Hulle sonde kan nie ligtelik verskoon of afgemaak word net omdat ons in ’n eeu van seksuele permissiwiteit lewe nie.—Mattheüs 13:41; 18:7-9; Hebreërs 13:4.

Getroue ouere manne en hulle vrouens

17. Watter goeie voorbeeld stel die meeste ouere manne?

17 Daar moet andersyds gesê word dat, op enkele uitsonderings na, die ouere manne wêreldwyd hulle onkreukbaarheid handhaaf en vasstaan vir die waarheid. Hulle goeie voorbeeld in meer as 45 000 gemeentes is ’n bron van bemoediging vir God se volk. Gedurende hierdie “swaar tye” is ywerige opsieners, soos die apostel Paulus, dag en nag besig (2 Timotheüs 3:1; Handelinge 20:31). Hierdie ouere manne is bereid om die geestelik siek persoon in sy huis te besoek, ongeag faktore soos die afstand of weersomstandighede. En hoe goed is dit om te sien hoe hierdie ouere manne gereeld die leiding gee in die velddiens!

18. Watter voortreflike rol speel die vrouens van ouere manne in die gemeente?

18 En hoe waardeer ons die opofferinge wat die ouere manne se vrouens soms moet maak! Partymaal moet sulke vroue by die huis agterbly terwyl hulle mans spesiale vergaderinge bywoon of herdersbesoeke doen. Soms is sorgvuldig geraamde persoonlike planne opsygeskuif weens die een of ander dringende probleem in die gemeente. Ja, ons prys ook hierdie voorbeeldige susters wat dit noulettend vermy om hulle mans oor vertroulike sake te probeer pols. Hulle toon eerbied vir die ouere manne en is waardevolle lede van die gemeente.—Vergelyk Romeine 16:12; Titus 2:3-5.

19. (a) Wat behels dit om ’n ouere man te wees? (b) Watter vraag kan toegewyde manne wat nie ouere manne is nie hulleself afvra?

19 Wanneer ons die rol van die ouere manne in die hedendaagse Christengemeente in oënskou neem en sien hoe die oorgrote meerderheid selfopofferend is en op voortreflike wyse die leiding gee, loop ons harte oor van dankbaarheid teenoor Jehovah wat hierdie liefdevolle reëling ingestel het. Ons het bekwame manne met waardering vir geestelike waardes wat hulself beskikbaar stel vir diens in die gemeente! Dit is waarom Paulus aan Timotheüs kon sê: “As iemand na ’n opsienersamp verlang, begeer hy ’n voortreflike werk.” Daardie “voortreflike werk” dui nie op status, mag en aansien, soos in die Christendom nie. Dit vereis onbaatsugtigheid, opoffering en diens. Indien jy ’n toegewyde en gedoopte man is maar nog nie ’n ouere man is nie, kan jy jouself afvra: Is ek bereid om daardie verantwoordelikheid met ’n suiwere motief na te streef?—1 Timotheüs 3:1; Lukas 17:10.

20, 21. (a) Hoe moet ons die getroue ouere manne in die gemeente beskou? (b) Wat openbaar ons nog as ons hierdie beskouing het?

20 Diegene wat getrou die leiding neem, word in die gemeente gerespekteer. Lojale lede van die gemeente reageer geredelik op hulle liefdevolle voorbeeld en volg Paulus se raad: “Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na. Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.”—Hebreërs 13:7, 17.

21 Laat ons almal onderdanig wees aan die teokratiese reëling en laat ons die ouere manne eerbiedig wat waarlik die leiding neem, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie. Op hierdie manier sal ons toon dat ons ook die Groot Opsiener, Jehovah, en sy Adjunkopsiener, Jesus Christus, eerbiedig.—1 Petrus 2:25; Openbaring 1:1; 2:1-3:22.

Onthou jy?

◻ Watter hoë standaard is vir die “verkose ouderlinge” gestel?

◻ Watter stappe is van 1919 tot 1938 gedoen om teokratiese orde in die Christenorganisasie te herstel?

◻ Watter ewewig moet ’n ouere man bewaar as hy sy verantwoordelikhede teenoor sy gesin en die gemeente wil nakom?

◻ Watter goeie eienskappe moet ouere manne in hulle verhoudinge met ander openbaar?

◻ Waarom is dit noodsaaklik dat ’n ouere man ‘aan die betroubare woord vashou’?

◻ Waarom moet ons dankbaar wees vir die reëling van ouere manne in die gemeente?

[Prent op bladsy 22]

’n Ouere man bestee wyslik tyd saam met sy gesin in die veldbediening

[Prent op bladsy 23]

Hy ruim ook tyd in vir gesonde ontspanning saam met sy dierbares

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel