Waarom moet ons dankbaar wees?
KYK na die buiteblad van hierdie tydskrif. Dit herinner ons gewis daaraan dat daar talle pragtige dinge is wat vergoed vir die lelikheid en smerigheid wat ons oral om ons sien.
Waardeer jy pragtige dinge? Dink aan ’n reenboog met sy rustige, delikate samesmelting van kleure na die donkerte van ’n storm. Sien ’n sierlike waterval in jou verbeelding. Of stel jou diere voor wat met hulle kleintjies speel. Roep ’n pragtige blomtuin of ’n welige koringoes voor die gees. Ja, dit is vir baie mense gewone gesigte. Maar watter uitwerking het dit op jou?
Dit word maklik as vanselfsprekend aangeneem
Hoe meer iets ondervind word, hoe alledaagser word dit gewoonlik—en hoe makliker is dit om dit as vanselfsprekend aan te neem. Dit lyk miskien of hierdie tekortkoming in die vinnige 20ste eeu meer na vore gekom het. Maar die versuim om tyd af te sonder om te mediteer of om seëninge en redes tot dankbaarheid te tel, was nog altyd een van die tekortkominge van die onvolmaakte mensdom.
Aan die ander kant het die psalmis Dawid dikwels onder inspirasie dankbaarheid deur sang betuig. Hierdie woorde wat in een van Dawid se melodieë tot God gerig is, is ’n treffende voorbeeld van dankbaarheid:
“As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers,
die maan en die sterre wat U toeberei het—
Wat is die mens dat U aan hom dink,
en die mensekind dat U hom besoek?
U laat hom heers oor die werke van u hande;
U het alles onder sy voete gestel:
Skape en beeste, dié almal,
en ook die diere van die veld,
die voëls van die hemel en die visse van die see,
wat trek deur die paaie van die see.
o, HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!”—Psalm 8:4, 5, 7-10.
Dankbaarheid kan swaarmoedigheid onderdruk
Die psalmis se dankbaarheid vir pragtige dinge het gehelp om enige swaarmoedigheid teë te werk wat deur onaangename tonele of moeilike situasies veroorsaak is. Jy kan dit ook ondervind. Hoe? Deur groter waardering vir die talle aangename dinge om ons op te bou. Sodoende kan jy jou vreugde en die vreugde van diegene om jou vergroot.
Ons kan dus gerus toelaat dat alledaagse tonele wat pragtig is en verwondering wek hartgrondige dankbaarheid teenoor ons weldadige Skepper aanwakker. Kom ons beskou nou ’n paar bykomende redes om dankbaar te wees.