Bykomende redes om dankbaar te wees
DIE eertydse Israeliete het meer redes as ander gehad om dankbaarheid teenoor die Skepper te betuig. Waarom kan ons dit sê?
Wel, soos alle ander mense het die Israeliete rede gehad om dankbaar te wees vir al die pragtige en wonderlike dinge wat God geskape het. Maar hulle het ’n bykomende rede tot dankbaarheid gehad, want die Almagtige het hulle gekies om sy spesiale volk te wees en het besonder goed na hulle omgesien (Amos 3:1, 2). Beskou enkele van die uitsonderlike redes wat hulle gehad het om dankbaar te wees.
Twee ontkomings aan die dood
Hoe dankbaar moes alle Israelitiese ouers tog nie op die nag van 14 Nisan 1513 v.G.J. gewees het nie! Op daardie belangrike nag het die engel van God “al die eersgeborenes in Egipteland . . . , van mense sowel as van diere”, om die lewe gebring. Maar hy het Israelitiese huise verbygegaan waar die bloed van Pasgadiere aan die deurposte en bo-drumpels gestryk was. Die stilte is verbreek deur “’n groot gejammer in Egipte, want daar was geen huis waar geen dooie in was nie”. Maar in elke Israelitiese huis was die kosbare eersgeborene steeds lewend en gesond.—Exodus 12:12, 21-24, 30.
Kort daarna moes die Israeliete se harte seer seker van dankbaarheid oorgeloop het toe hulle Jehovah se wonderdadige tussenkoms aanskou het toe hulle skynbaar vasgekeer was op die oewers van die Rooi See, met die leër van Egipte se Farao wat vinnig agterna gekom het. Eerstens het hulle gesien hoe die wolkkolom wat hulle gelei het agter hulle gaan staan en die agtervolgers doeltreffend vertraag. Toe het die Israeliete gesien hoe Moses sy hand oor die see uitstrek en met verwondering toegekyk terwyl God ’n sterk oostewind heelnag laat waai het sodat die waters gekloof en die seebodem in droe grond verander is. Die Israeliete het nie veel aansporing nodig gehad om hulle deur hierdie Godgegewe ontsnaproete te haas nie.
Toe was daar egter ’n nuwe bron van kommer! Die Egiptenare het in die seebedding ingestroom, vol vertroue dat hulle die Israeliete sal inhaal. Maar kyk! Toe al die Egiptenare in die waterommuurde deurgang was, het die wiele van hulle strydwaens begin afval en was daar weldra pandemonium. Toe al die Israeliete veilig op die ander oewer was, het Jehovah Moses weer aangesê om sy hand uit te strek, “en die see het teen dagbreek in sy bedding teruggevloei”. Die gevolg? Nie een van trotse Farao se keurleërmag het verdrinking vrygespring nie, ook nie die trotse heerser self nie! (Exodus 14:19-28; Psalm 136:15). Kan jy jou voorstel hoe dankbaar die verloste Israeliete teenoor Jehovah moes gewees het?
God se skouspelagtige vegmetodes
Hoewel hulle dankbaar was vir hulle verlossing uit Egipte en hulle onvergeetlike deurtog deur die Rooi See, sou die Israeliete nog talle strawwe ondervindinge deurmaak voor hulle die Beloofde Land bereik. Maar elke ondervinding gedurende hulle trek van 40 jaar in die woestyn moes ’n bykomende rede tot besondere dankbaarheid teenoor Jehovah gewees het.
Uiteindelik het die Israeliete oor die Jordaanrivier getrek en was hulle in die land wat God hulle gegee het. Hulle het weldra ’n voorbeeld van Jehovah se skouspelagtige vegmetodes ten behoewe van hulle gesien. Hoe so? Deur die verbasende verowering en vernietiging van die eerste Kanaänitiese stad wat hulle teëgekom het—Jerigo! (Josua, hoofstuk 6.) Hoe buitengewoon tog was die Godgegewe strategie om rondom Jerigo te marsjeer terwyl die verbondsark gedra word! Hulle het ses agtereenvolgende dae een keer per dag rondom die muur gemarsjeer. Op die sewende dag het hulle sewe keer om die muur gemarsjeer. Toe die priesters op hulle horings geblaas het, het die Israeliete se “groot krygsgeskreeu” deur die lug weerklink, en “die muur het op sy plek ingeval”! (Vers 20). Slegs Ragab se huis en die deel van die muur daaronder het bly staan. Die muur van hierdie skynbaar onneembare stad het geval sonder dat dit vir Josua en sy leer nodig was om een pyl te skiet! Daardie ondervinding by Jerigo was ongetwyfeld ’n uitsonderlike, bykomende rede tot dankbaarheid teenoor God.
By ’n ander geleentheid was daar nog ’n uitsonderlike vertoning van Jehovah se skouspelagtige vegmetodes. Toe die mense van Gibeon vrede met die Israeliete gesluit het, het vyf Amoritiese konings oorlog teen die Gibeoniete verklaar. Josua het hulle te hulp gekom, en die wonderdadige hand van Jehovah het herhaaldelik in die gevolglike stryd geblyk. God het die Amoriete in verwarring gebring, en “toe hulle voor Israel uit vlug terwyl hulle op die afdraand van Bet–Horon was, het die HERE groot haelstene uit die hemel op hulle gewerp tot by Aseka, sodat hulle gesterf het”. Meer het weens daardie haelstene gesterf as wat die Israeliete met die swaard gedood het.—Josua 10:1-11.
“Voor die oë van Israel” het Josua toe met Jehovah gespreek en gesê: “Son, staan stil in Gibeon, en maan, in die dal van Ajalon.” Die gevolg? “Toe staan die son stil”, se die verslag, “en bly die maan staan totdat die volk hulle gewreek het op hul vyande.”—Josua 10:12, 13.
Watter verstommende gebeure tog! En watter verdere uitsonderlike redes het Jehovah se volk tog gehad om dankbaar te wees!
Kortstondige dankbaarheid
Na elke manifestasie van Jehovah se tussenkoms was die Israeliete vol dankbaarheid. Elke Israeliet het waarskynlik in sy hart gesê dat hy nooit die dinge wat hy gesien het, sal vergeet nie. Maar sulke dankbaarheid was ongelooflik kortstondig. Die Israeliete het keer op keer ’n ondankbare gesindheid geopenbaar. God het hulle dus herhaaldelik “in die hand van die heidene gegee, en hulle haters het oor hulle geheers”.—Psalm 106:41.
Jehovah het egter sy grootmoedige vergewensgesindheid getoon wanneer die Israeliete in die nood verkeer het, oor hulle verkeerde en ondankbare weg berouvol was en hom om hulp aangeroep het. “Nogtans het Hy hulle benoudheid aangesien toe Hy hulle smeking gehoor het; en Hy het tot hulle beswil aan sy verbond gedink en berou gekry na die veelheid van sy goedertierenhede” (Psalm 106:44, 45). Hulle vergewensgesinde God het hulle keer op keer van hulle onderdrukkers verlos en hulle in sy guns herstel.
Ondanks God se lankmoedigheid en die profete wat hy herhaaldelik gestuur het om hulle denke te verander, het die Israeliete nie verander nie. Uiteindelik het Jehovah se geduld opgeraak en het hy toegelaat dat die nasie Juda in 607 v.G.J. deur die Babiloniërs verower word. Diegene wat nie deur koning Nebukadnesar se leërs gedood is nie, is as gevangenes na Babilon weggevoer.
Wat ’n rampspoedige einde was dit tog nie vir herhaaldelike ondankbaarheid en ontrouheid teenoor God nie! En dit het gebeur ondanks die oorvloed van redes wat hulle gehad het om dankbaar te wees.
Hoe kan Christene vandag voorkom dat hulle dieselfde fout begaan, naamlik versuim om dankbaarheid te betoon vir alles wat Jehovah God vir hulle gedoen het bo en behalwe sy dade van goedheid teenoor die mensdom oor die algemeen? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.