Insig in die nuus
Die enigste geneesmiddel
Toe talle van die wêreld se kenners op die gebied van veroudering verlede jaar by New York se Mount Sinai- Mediese Sentrum vergader het om die biologie van veroudering te bespreek, was een feit duidelik—niemand kon saamstem oor waarom die mens oud word en sterf nie. Sommige kenners huldig die teorie dat “veroudering, soos ander lewenstadia, geneties ‘geprogrammeer’ is”, berig Newsweek on Science & Technology. Maar die artikel voeg by dat “dit moeilik is om te begryp waarom die natuur ’n geen vir veroudering sou ontwikkel”. Volgens Leonard Hayflick, ’n gerontoloog aan die Universiteit van Florida, is een teorie dat “sekere gene moontlik ontwikkel het om mense gesond en aan die lewe te hou totdat hulle kan voortplant”. Hayflick kom tot die slotsom dat sulke gene sal begin verslyt teen die tyd wat ’n mens om en by 30 word. Feit is dat die gemiddelde, verwagte lewensduur vir ’n Amerikaner ’n bietjie meer as 74 jaar “vir vandag se luiergeslag” is, en “selfs geneesmiddels vir ouderdomsiektes—kanker, artritis, Alzheimer se siekte—sal min doen om die verwagte lewensduur te verleng”, sê die artikel.
Hoewel wetenskaplikes ’n geneesmiddel vir veroudering so ontwykend soos die oorsaak daarvan vind, is dit nie die geval met ernstige studente van God se Woord nie. Die rede waarom die mens oud word en sterf, word in Romeine 5:12 (NAV) verduidelik: “Deur een mens [Adam] het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring.” Die enigste geneesmiddel vir die gevolge van oorgeërfde sonde sal deur die losprysofferande van Jesus Christus kom. “God [het] sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur . . . , sodat ons deur Hom kan lewe” (1 Johannes 4:9). Onder sy Koninkryksheerskappy sal daar “geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie”.—Openbaring 21:3, 4.
Van universele belang
Toe die leiers van die twee groot wêreldmoondhede op 8 Desember 1987 vergader het om ’n verdrag vir die vermindering van projektiele te onderteken, is dit beskryf as ’n gebeurtenis wat “hoogs betekenisvol” vir die mens is. Waarom? Omdat “dit die eerste keer sedert die Atoomeeu is dat die supermoondhede saamgestem het om nie net kernwapens te beperk nie, maar om hele installasies uit te skakel”, berig die Daily News van New York. Die News het kommentaar gelewer oor die verdrag self sowel as die vermindering in wapens en bygevoeg: “As die inhoud en beginsels daarvan uitgebrei kan word, kan dit dalk uiteindelik in die geskiedenis opgeteken word as die eerste bedryf in die Aarde se belangrikste drama van vrede en internasionale veiligheid.”
Hedendaagse voorstelle vir vrede en veiligheid is weliswaar betekenisvol. Maar die oomblik in die geskiedenis wanneer wêreldleiers vrede en veiligheid op ’n grootser wyse as ooit tevore uitroep, sal van veel groter universele belang wees. Daar sal ’n tyd kom wanneer hulle uitroep anders sal wees as die talle vredespogings wat tot op daardie tyd aangewend is. Waarom kan ons daarvan seker wees? Omdat die apostel Paulus lank gelede voorspel het: “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ’n skielike verderf hulle . . . en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thessalonicense 5:3). Ware vrede en veiligheid sal dan volg onder die liefdevolle heerskappy van Christus Jesus, die “Vredevors”.—Jesaja 9:5, 6.
“Die werklike siekte”
“Vigs is nòg ’n ongeluk nòg ’n onvermydelike natuurramp. Die epidemiese afmetings daarvan is ’n produk van ons eie dwaasheid. . . . Dit kan aan niemand behalwe onsself toegeskryf word nie”, sê ’n verloskundige ginekoloog van Denver, W. M. Merrick Thomas. Hy verduidelik die rede vir sy beskouing in die koerant Rocky Mountain News en sê: “Vigs is nie ’n homoseksualiteitsiekte nie. Dit is ’n siekte van nabyheid en promiskuïteit. . . . Promiskuïteitsiektes sal almal wat promiskueus is regstreeks raak.” Soos Thomas gevolglik opmerk, “is ons gedrag die werklike siekte”.
Hoe tydig is die woorde van Paulus toe hy die onverskoonbare gedrag van persone wat beweer dat hulle God ken, beskryf het: “Daarom gee God hulle aan die drange van hulle hart oor en aan sedelike onreinheid, . . . aan skandelike drifte, . . . skandelikhede . . . en [hulle] bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit”! (Romeine 1:24-27, NAV). ’n Rein lewe ooreenkomstig Bybelstandaarde is dikwels ’n beskerming teen siektes wat die mensdom vandag teister.—Psalm 19:8-12.