Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 5/15 bl. 28-31
  • ’n Oop deur na die San Blas-eilande

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Oop deur na die San Blas-eilande
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Op oudiënsie by die Sahilas
  • ’n Besoek aan Dog Island
  • Van hut tot hut in Achutupu
  • Kleurryke Kunakleredrag
  • Sukses!
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 5/15 bl. 28-31

’n Oop deur na die San Blas-eilande

DIE tweemotorvliegtuig het oor die landingstrokie langs die strand gesirkel. Die vlieënier het aangekondig dat die landingsbaan onder water is en dat dit nie veilig sou wees om te land nie. Maar toe hy dit weer nader, het hy besluit om neer te stryk. Toe die vliegtuig die grond raak, het dit stamperig met die gruisstrook langs beweeg en ’n waterboog hoog die lug in laat skiet. Ons het ’n sug van verligting geslaak toe dit eindelik tot stilstand gekom het. Toe ons ons wagtende vriende sien, het ons senuweeagtigheid in vreugde verander.

Hulle het van die eiland Ustupu af gekom, wat sowat anderhalf kilometer van die kus af lê. Dit is een van die San Blas-eilande, ’n ketting van sowat 350 eilandjies wat met die noordoostelike kuslyn van Panama langs tot aan die Colombiaanse grens strek. Hierdie eilande word deur ongeveer 50 000 Indiaanse inboorlinge van die Kunastam bewoon. Ons was op ’n sending.

Op oudiënsie by die Sahilas

San Blas is ’n comarca, of grondgebied, van die Republiek van Panama. Elke eiland word deur sy eie Sahilas bestuur, ’n soort plaaslike raad wat uit ouer mans in die gemeenskap bestaan. Verteenwoordigers van die Sahilas vorm ’n liggaam wat die Caciques genoem word en oor die hele comarca regeer.

Jehovah se Getuies verkondig die goeie nuus van die Koninkryk al sedert 1969 in San Blas, en ongeveer 50 mense woon nou ons vergaderinge by (Mattheüs 24:14). Plaaslike owerhede het ons egter belet om op sommige van die eilande te preek. Die Sahilas van Ustupu, die eiland met die naasgrootste bevolking in die groep, het Jehovah se Getuies onlangs om ’n onderhoud gevra om te beslis of hulle ons amptelike erkenning moet verleen al dan nie. Dit lyk of Jehovah vir ons ‘die deur oopmaak’.—1 Korinthiërs 16:9.

Tydens ’n voorafgaande vergadering het die vernaamste rede vir die plaaslike owerhede se besorgdheid aan die lig gekom. Hulle het daarop gewys dat daar reeds vier godsdienste in die gemeenskap is—Katolieke, Baptiste, die “Church of God” en die Mormone. Elk van hulle het ’n groot kerkgebou, waarvan sommige verlate is. Weens die grondskaarste op die eiland moes die amptenare versigtig wees om nog ’n godsdiensgroep toe te laat.

Deur middel van ’n tolk het ons verduidelik dat Jehovah se Getuies in meer as 200 lande in alle wêrelddele die welsyn van die gemeenskap bevorder deur die hoë sedelike standaarde wat hulle handhaaf. Ons het die amptenare verseker dat vergaderinge voorlopig in die huise van die plaaslike Getuies gehou sal word en dat as dit nodig sou word om ’n spesiale vergaderplek te bou dit nie in onbruik sal raak nie omdat daar ’n goeie opkoms by ons vergaderinge is.

Na ’n bespreking wat ongeveer ’n uur geduur het, het die amptenare besluit om die saak by die volgende Sahilas-vergadering voor te lê, wat later in die week gehou sou word. Ons sou op die antwoord moes wag.

’n Besoek aan Dog Island

In plaas van net te wag, het ons besluit om die Koninkryksboodskap op Achutupu, oftewel Dog Island, te gaan verkondig. Ons boot, die La Torre del Vigia (Die Wagtoring), is ’n helder rooi en blou geverf en met ’n buiteboordmotor toegerus. Die boot steek skerp af teen die talle ander cayucos, of boomkano’s, wat by die kaai vasgemeer 1ê. ’n Vaart van 45 minute deur ’n jobbelsee het ons by Achutupu aangebring.

Achutupu is ’n tipiese tropiese eilandjie met wiegende palmbome en sandstrande. Maar met ’n bevolking van ongeveer 2 000 het dit ietwat oorvol gelyk. Oral was daar rye inboorlinghutte wat slegs deur smal, ongeplaveide straatjies geskei is. Die hutte het almal dieselfde gelyk. Die mure, wat van spaansriet gemaak en aan ’n raamwerk van dun boomtakke vasgemaak is, was net sowat 1,5 meter hoog, met ’n hoë, dik dak van palmblare bo-oor. Binne-in was daar net een groot vertrek vir die hele gesin. Daar was geen vensters nie, maar die openinge tussen die riete het genoeg lig en lug deurgelaat.

Ons het besluit om die plaaslike gebruik te volg en eers toestemming van die dorp se hoofmanne te verkry alvorens ons die huise met ons Bybelboodskap besoek. Ons het dus na die gemeenskapsaal, ’n groot gebou in die middel van die dorp, gegaan.

Dit was donker binne-in die saal, maar toe ons oë daaraan gewoond geraak het, kon ons rye houtbanke om ’n oop gedeelte in die middel sien. Oral was daar portrette van belangrike Sahilas van die verlede. Weens die donkerte, die portrette en die stilte was die plek soos die binnekant van ’n kerk. In die middel van al hierdie dinge was daar vyf mans waarvan sommige in hangmatte gelê en ander op banke gesit het. Hulle was blykbaar die hoofmanne van die dorp.

Bolivar, een van die Getuies wat saam met ons van Ustupu af gekom het, het die doel van ons besoek in die plaaslike taal verduidelik. Ons is dadelik vriendelik ontvang, en toestemming is verleen dat ons die dorpenaars kon besoek.

Van hut tot hut in Achutupu

Die Kuna-Indiane is ’n vrolike, vriendelike volk. Terwyl ons deur die strate geloop het, het die kinders na ons toe gehardloop en uitgeroep: “Mergui! Mergui!”, wat “vreemdelinge” beteken. Hulle wou ons met die hand groet. Daar was min mans in die omtrek, en ons is meegedeel dat die meeste van hulle weg was om hulle klein lappies grond op die vasteland te bewerk.

Ons is by elke huis ingenooi. Die huisvrou het ons op swaar, handgesnyde houtstoele laat sit, en die res van die gesin het om ons vergader en aandagtig geluister. Voor ons vertrek het, is ons ’n drankie aangebied wat van kakao, koffie of inheemse vrugte gemaak is. Dit is deur ’n glas water gevolg om ons monde mee uit te spoel. Volgens die plaaslike gebruik was dit heeltemal in die haak om die water op die vloer uit te spoeg. Ons het gou geleer om elke keer net ’n slukkie te neem, gedagtig aan die talle huise wat ons moes besoek.

By een hut het ons ’n ry van ongeveer 50 gesnede houtbeelde van verskillende groottes by die ingang gesien. Bolivar het verduidelik dat hulle daar was om bose geeste af te weer. Toe die vrou na die deur kom en vir ons sê dat haar man nie gesond is nie, het ons die rede vir die beelde begryp, want siekte word dikwels aan demone toegeskryf.

Nadat ons ingenooi is, het ons die man in ’n hangmat sien lê. Tientalle miniatuurbogies, gespan met rooipuntpyle wat op die siek man gerig was, het bokant hom aan ’n tou gehang. Hulle was bedoel om die bose geeste af te skrik. Op die vloer was daar verskeie ronde kalbasse waarin daar beeldjies, tabakpype en smeulende kakaobone was. Hulle was bedoel om die geeste te paai. Bolivar het die gesin probeer vertroos deur hulle te vertel van God se belofte om ’n einde aan alle siekte te maak, en hulle het Bybellektuur aanvaar. Ons het weer eens die tradisionele drankie en glas water ontvang.

Kleurryke Kunakleredrag

Die kleurryke kleredrag van die Kuna-Indiane op die eilande is ’n buitengewone gesig. Hoewel die mans gewoonlik klere na die Westerse styl dra, verkies die vroue steeds hulle tradisionele drag wat uit ’n rooi tjalie, ’n kortmoubloes en ’n knielengte romp bestaan. Die bodeel van die bloes is gewoonlik helderkleurig. Die middeldeel word ’n mola genoem, wat dikwels deur toeriste as ’n muurversiering gekoop word. Dit is ’n lappieswerk van kleurryke materiaal in die vorm van tradisionele ontwerpe van voëls, visse en diere. Die romp is bloot ’n reghoekige stuk donker materiaal met helder patrone, wat om die lyf gedraai en by die middellyf ingesteek word. Die meeste Kunavroue het kort hare, hoewel sommige van die jonger, ongetroude meisies hulle hare langer laat groei.

Die vroue hou blykbaar daarvan om baie versiersels te dra. Goue oorkrabbetjies, halssnoere, polsbande en neusringe is baie gewild. Dikwels word al die gesinsbates, wat duisende rande kan beloop, op hierdie manier deur die vroue gedra. Hulle been- en armbande is ook besonders. Hulle word van oranje, geel en anderskleurige kraletjies gemaak en kan vyf tot vyftien sentimeter breed wees. Die vroue ryg ’n lang string kraletjies en draai dit dan styf om hulle ledemate vas. Kunstige ontwerpe word verkry deur krale van verskillende kleure met mekaar af te wissel. Die bande word styf vasgebind sodat dit maande aaneen gedra kan word sonder dat hulle dit eers vir ’n bad hoef of te haal. Om hulle versiering af te rond, word ’n vertikale swart streep langs die middel van die voorkop af, oor die neus en tot by die bolip geverf of getatoeëer.

Ons moes ons interessante besoek aan Achutupu inkort om betyds terug te wees vir die vergadering met die Sahilas op Ustupu. By die kaai het talle mense gewag om Bybellektuur van ons te kry. Ons was bly om wat ons gehad het by hulle te laat.

Sukses!

In Ustupu het honderde mense in die gemeenskapsaal saamgedrom, gretig om uit te vind of Jehovah se Getuies amptelik erken sou word of nie. Ons was ook. ’n Ruk nadat die verrigtinge begin het, het die voorsitter ’n mosie ingedien om Jehovah se Getuies te magtig om as godsdiens op die eiland te funksioneer. Ons harte het vinniger begin klop toe hy die gehoor genooi het om hulle mening te lug. Net twee persone het die voorstel verwerp; die meerderheid het dit goedgekeur.

Uiteindelik het die raad gestem dat amptelike toestemming om vergaderinge te hou en van deur tot deur te preek aan ons verleen word en dat die beslissing genotuleer moet word. Jehovah se Getuies het sodoende die eerste godsdiens op die eiland geword wat skriftelike magtiging vir die voortsetting van hulle werksaamhede ontvang het. Al die ander het slegs mondelinge vergunning. Hoe gelukkig en dankbaar was ons tog oor hierdie oorwinning!

Hopelik sal hierdie beslissing die deur vir die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk op al die eilande van San Blas oopmaak. Daar is alle rede om soos die psalmis te voel toe hy gesê het: “DIE HERE is Koning; laat die aarde juig; laat baie eilande bly wees!”—Psalm 97:1.

[Kaart op bladsy 28]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

PANAMA

Panamastad

San Blas-eilande

Golf van Panama

Karibiese See

COLOMBIA

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel