Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 5/15 bl. 3-4
  • Moet egskeiding toegelaat word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet egskeiding toegelaat word?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Uiteenlopende en teenstrydige beskouings
  • Steeds ’n verwarrende situasie
  • Egskeiding het wel slagoffers
    Ontwaak!—1991
  • Die egskeidingsontploffing
    Ontwaak!—1992
  • Egskeiding—die wrange vrugte
    Ontwaak!—1992
  • Die egskeidingslokval
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 5/15 bl. 3-4

Moet egskeiding toegelaat word?

IN JUNIE 1986 het kiesers in die Ierse Republiek met ’n meerderheid van drie teen twee gestem om hulle egskeidingsverbod te behou. Dit het die Republiek die enigste land in Wes-Europa gemaak waar egskeiding steeds onwettig is.

Ten spyte van die golf van liberale beskouings en denke word die meeste mense se beskouing oor die emosioneel gelade egskeidingsvraagstuk steeds grootliks deur hulle agtergrond beïnvloed. Ras, opvoeding en maatskaplike faktore speel almal ’n rol. Maar in die besonder bly godsdiens, of die gebrek daaraan, die belangrikste invloed.

Wat is jou beskouing van egskeiding? Moet ’n egpaar vir wie dit uiters onaangenaam is om saam te woon en wat ooglopend onaanpasbaar is, toegelaat word om hulle ongelukkigheid deur middel van ’n egskeiding te beëindig? Hoe sal jy hierdie vraag beantwoord? Belangriker nog, waarop sal jy jou antwoord baseer?

Uiteenlopende en teenstrydige beskouings

Vir die miljoene wat Rooms-Katolieke standaarde handhaaf, is egskeiding buite die kwessie. “In die Christelike huwelik”, verduidelik The Catholic Encyclopedia, “kan daar nooit ’n absolute egskeiding [met die reg op hertroue] wees nie, altans nie nadat die huwelik volvoer is nie.” Die Rooms-Katolieke Kerk staan egter sekere voorwaardelike ontbindings toe, en hierdie prosedure word dikwels gebruik. In April 1986 het The Denver Post byvoorbeeld berig: “Plaaslike Katolieke vra soveel huweliksontbindings aan dat die Denver-aartsbisdom [R500 000] aan ’n groter personeel en ’n rekenaar bestee om met die werklas tred te hou.” Die berig het voorts gesê dat “daar in die Denver-aartsbisdom drie jaar se ophoping van 700 ontbindingsgevalle is”.

Protestante in honderde denominasies dwarsdeur die wêreld kom voor ’n geweldige verskeidenheid kerkwette en -voorskrifte oor egskeiding te staan. In die reël laat Protestantse beheerliggame egskeiding egter net weens ernstige redes toe. Maar wat as ernstig beskou word, kan grootliks van kerk tot kerk verskil. Oortredings soos owerspel, wreedheid en verlating word algemeen aanvaar, maar dit is hoegenaamd nie die enigstes nie. Sommige denominasies het nou egskeidingseremonies en -dienste met gesange en gebede, soos by huwelike. Tydens een sodanige seremonie “word huweliksgeloftes herroep. Die paartjie oorhandig hulle trouringe aan die leraar. Die diens eindig met ’n verklaring deur die leraar dat die huwelik ontbind is, en die paartjie skud mekaar die hand”, berig The New York Times.

Jode het ’n tradisie wat deur godsdienshowe gehandhaaf word. Rabbynse wette laat egskeiding toe op grond van ’n onderlinge ooreenkoms tussen die huweliksmaats of op grond van liggaamsgebreke of ondraaglike optrede. Die egskeiding word egter eers as wettig beskou wanneer die man ’n “get”, of egskeidingsertifikaat, uitreik, en dit kan ’n bron van twis wees. Uit wrewel weier sommige mans om die dokument uit te reik, of hulle gebruik dit as ’n hefboom. “Hierdie probleem het duisende vroom Joodse vroue in ’n pynlike huweliksgevangenis gelaat”, het Andrew Stein, die voorsitter van New York se Stadsraad, gesê toe hy ’n saamtrek van rabbi’s, regsgeleerdes en ander toegespreek het. Sonder die “get” word die vrou se hertroue as onwettig beskou, en enige kind word as ’n “mamzer”, of onegte kind, in die hedendaagse staat Israel gebrandmerk.

Wat die nie-godsdienstiges en ateïste betref, is dit, in die veronderstelling dat hulle die landswette nakom, steeds nie ’n eenvoudige saak nie. Dit is omdat egskeidingswetgewing van land tot land en selfs in dieselfde land van gebied tot gebied verskil. Een instansie verstrek sowat 50 redes waarvolgens ’n wetlike egskeiding in verskillende dele van die Verenigde State verkry kan word. Dit behels onder meer “growwe wangedrag en slegtheid”, “geen redelike waarskynlikheid dat die huwelik intak gehou sal word nie” en “weiering deur vrou om saam met man na hierdie staat te verhuis”. In die laaste tyd is selfs die laaste spoor van die sin vir reg en verkeerd verdring deur wat algemeen skuldelose egskeiding genoem word.

Steeds ’n verwarrende situasie

Het hierdie uiteenlopende en teenstrydige wette en voorskrifte oor egskeiding, al is talle daarvan na bewering op die Bybel gebaseer, daarin geslaag om die huweliksinstelling te versterk of om mense groter geluk te bring? Die stygende egskeidingsyfer—een egskeiding vir elke twee huwelike in sommige lande—verstrek ’n definitiewe antwoord. Hierdie wette het nie alleen in gebreke gebly om die huweliksband te versterk nie, maar hulle het ook die ellende en lyding in miljoene se lewens vererger.

Met die oog hierop is dit vir diegene wat opreg begeer om te doen wat reg is belangrik om uit te vind wat die Bybel werklik oor hierdie onderwerp sê.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel