Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 5/15 bl. 4-7
  • Egskeiding—Wat sê die Bybel werklik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Egskeiding—Wat sê die Bybel werklik?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Van die begin of was dit nie so nie”
  • ‘Laat die huwelik eerbaar wees’
  • Is egskeiding die oplossing?
  • Die algehele oplossing
  • Respekteer “wat God . . . onder een juk saamgevoeg het”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Waarom moet ons die huwelik as heilig beskou?
    Ontwaak!—2004
  • Lesse oor egskeiding en liefde vir kinders
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • Egskeiding—die wrange vrugte
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 5/15 bl. 4-7

Egskeiding—Wat sê die Bybel werklik?

“WAT God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie” (Mattheüs 19:6). Ons hoor dikwels daardie welbekende woorde van Jesus Christus wanneer dit as die slotverklaring by ’n huweliksbevestiging aangehaal word.

Maar het Jesus met daardie woorde bedoel dat alle huwelike permanent moet wees en dat daar hoegenaamd geen egskeiding mag wees nie? Op die oog af lyk dit so. Maar wat het Jesus so ’n stelling laat maak? Het hy iets nuuts uiteengesit?

“Van die begin of was dit nie so nie”

Jesus se bogemelde woorde het deel uitgemaak van sy antwoord op die Fariseërs se vraag: “Is dit ’n man geoorloof om oor allerhande redes van sy vrou te skei?” (Mattheüs 19:3-6). Omdat die Fariseërs nie met die antwoord tevrede was nie, het hulle hom verder uitgevra: “Waarom het Moses dan beveel om ’n skeibrief te gee en van haar te skei?” Daarop het Jesus gesê: “Omdat Moses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie.” Toe het hy bygevoeg: “Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ’n ander een trou, pleeg egbreuk.”—Mattheüs 19:7-9.

Let daarop dat Jesus die woorde, “van die begin af was dit nie so nie”, gesê het met betrekking tot egskeiding wat voltrek is deur “’n skeibrief te gee”. Met ander woorde, toe God die eerste huwelik tussen Adam en Eva ingestel het, het hy hulle nie “allerhande redes” toegestaan om hulle huwelik te ontbind nie. Hulle het, as ’n volmaakte egpaar, alle rede gehad om ’n sukses van hulle huwelik te maak. Dit sou suksesvol gewees het as hulle aangehou het om God se wette en voorskrifte na te leef.

Toe die mensdom tot sonde en onvolmaaktheid verval het, het die huweliksinstelling insgelyks (Romeine 5:12). Aangesien mense nie langer volmaak was nie, het menseverhoudinge gespanne geraak en is dit deur selfsug, hebsug en eiebelang bederf. Dit is wat Jesus “die hardheid van jul harte” genoem het, om welke rede die Mosaïese Wet voorsiening vir egskeiding gemaak het. Jesus het die Fariseërs nietemin herinner: “Van die begin af was dit nie so nie.” Huweliksmaats moet nou, onder onvolmaakte omstandighede, alle seile bysit om enige moeilikhede en probleme op te los eerder as om dit as redes of verskonings vir die ontbinding van hulle huwelik te gebruik. Jesus het egter getoon dat daar een uitsondering is, naamlik owerspel. Huweliksontrou kan ’n rede vir die ontbinding van ’n huwelik wees.

Dit is interessant om te sien hoe verskeie vertolkings van die uitdrukking “behalwe oor hoerery” gegee is om sekere beskouings oor egskeiding te verdedig. Katolieke gesaghebbendes veronagsaam hierdie uitdrukking gewoonlik omrede die parallelle verslae in Markus en Lukas dit nie bevat nie. McClintock en Strong se Cyclopedia verduidelik egter: “Die klaarblyklike versoening van die gedeeltes moet gevind word in die beginsel dat ’n uitsondering in ’n vollediger geskrif ’n beknopter een moet verduidelik, mits dit nie geforseerd is nie. Aangesien almal daardie een rede vir egskeiding erken het, kan Markus en Lukas dit begryplikerwys as vanselfsprekend aanneem sonder om dit te meld.”

Sommige beweer dat Jesus waarskynlik die een of ander onwelvoeglike voorhuwelikse daad bedoel het wat die huwelik ongeldig sou maak, aangesien hy die woord “hoerery” (Grieks, por·neiʹa), en nie “owerspel” (Grieks, moi·kheiʹa) nie, gebruik het. Dit beperk die betekenis van die woord onnodig. Verskeie gesaghebbendes erken dat por·neiʹa “onkuisheid, ontugtigheid, prostitusie, hoerery” beteken en dat dit in Mattheüs 19:9 “owerspel beteken, of insluit”. Ander beweer dat Jesus hoerery bloot as een voorbeeld van talle redes vir egskeiding aangehaal het. Dit is duidelik ’n verdraaiing van die teks.

Uit die voorgaande is dit duidelik dat die Bybel nie sê dat alle huwelike permanent moet bly en dat egskeiding hoegenaamd nie toelaatbaar is nie. Aan die ander kant verstrek die Bybel net een aanneemlike rede vir egskeiding, naamlik “hoerery”.

‘Laat die huwelik eerbaar wees’

Moedig die Bybel egskeiding aan deurdat dit ’n rede vir egskeiding toelaat? Maak hierdie toegewing die huwelik iets onbeduidends of laat dit die waardigheid daarvan afneem? Of plaas die Bybel, deur slegs een rede vir egskeiding toe te laat, ’n onredelike las op diegene wat trou?

Inteendeel, die Bybel praat van die huwelik as een van die hegste en intiemste bande wat tussen twee mense kan bestaan. “Die man [sal] sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees”, sê die Genesisverslag oor die eerste huwelik (Genesis 2:24). En huweliksmaats moet hierdie “een vlees”-verhouding as iets kosbaars bewaar. “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet”, maan die Bybel.—Hebreërs 13:4.

Daar is al dikwels, op verskeie maniere, gesê dat die grondslag van ’n blywende en gelukkige huwelik nie romantiese liefde nie maar onselfsugtigheid is. Dit is presies wat die Bybel toon. Dit sê: “Die mans [behoort] hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhêt, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente. . . . En die vrou moet die man eerbiedig” (Efesiërs 5:28-33). En in onomwonde taal maan die Bybel: “Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man. Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. Moenie vir mekaar omgang weier nie.”—1 Korinthiërs 7:3-5, NAV.

Wanneer albei huweliksmaats bereid is om sulke wyse raad te gehoorsaam, is dit hoogs onwaarskynlik dat hulle huwelik sodanig agteruit sal gaan dat een van hulle ’n buite-egtelike liefdesverhouding sal aanknoop en dus, in werklikheid, die “een vlees”-verhouding vernietig. Selfs al aanvaar een van die huweliksmaats nie sulke Bybelbeginsels nie, kan die gelowige huweliksmaat verseker wees dat God se manier steeds die beste is, en talle huweliksprobleme kan sodoende opgelos of vermy word.

In plaas van egskeiding as ’n oplossing vir ’n ongelukkige huwelik aan te raai, spoor die Bybel Christene dus aan om hulle in te span om hulle huwelik intak te hou en dit ’n gelukkige te maak. “Verheug jou oor die vrou van jou jeug”, sê ’n Bybelspreuk. “Mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd wees.”—Spreuke 5:18, 19.

Is egskeiding die oplossing?

Gestel ’n mens se huweliksmaat word wel ontrou. Wat dan? Huweliksontrou skep ongetwyfeld ’n ernstige krisis. Die owerspelige huweliksmaat het die onskuldige, wat die Skriftuurlike reg het om van die skuldige party te skei en weer te trou, baie pyn en lyding veroorsaak. Maar móét hulle skei? Is dit die enigste uitweg?

Ons moet onthou dat hoewel Jehovah ’n regverdige rede vir egskeiding toegestaan het die Bybel ook van hom sê: “Hy haat egskeiding” (Maleagi 2:16, NAV). Pleks van oorhaastig te besluit dat egskeiding die enigste oplossing is, kan ’n mens die moontlikheid oorweeg om genade en vergifnis te betoon. Waarom?

’n Egskeiding sal nie noodwendig die pyn en bitterheid verwyder nie, maar genade en vergifnis sal, veral wanneer die oortreder opregte berou oor die oortreding het. Liefde wat op so ’n kritieke tydstip betoon word, kan die huwelik in werklikheid versterk. As die saak in hierdie lig beskou word, sal dit die onskuldige huweliksmaat help om vas te stel wat die beste optrede sal wees, gedagtig aan Jesus se woorde: “Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”—Mattheüs 5:7; vergelyk Hosea 3:1-5, NW.

Die probleme ten opsigte van kinders in ’n enkelouerhuis moet ook oorweeg word. Die eensaamheid van ’n geskeide persoon moet eweneens in aanmerking geneem word. Die feit dat vroue vandag in die meeste wêrelddele steeds ’n ekonomiese agterstand het, vererger ook die vrou se probleme. Dit is moeilik vir ’n ongetroude moeder om, nadat sy ’n aantal jare ’n huisvrou was, weer tot die arbeidsmark toe te tree en met ander mee te ding.

Sommige vroue meen dat hulle hul vir ’n moontlike egskeiding moet voorberei terwyl hulle getroud is. Hulle volg dalk ’n spesiale kursus of hou aan om hulle beroep uit te oefen ten einde hulle ekonomiese onafhanklikheid te behou. Elkeen moet persoonlik besluit of sy dit gaan doen al dan nie. Maar sal dit nie ’n verstandiger belegging wees om tyd en energie te gebruik om ’n gelukkige en blywende huwelik te bou pleks van tyd en energie aan voorbereiding vir ’n moontlikheid te bestee nie? Die Christin wat haar beywer om die vrug van God se gees aan te kweek en ’n gesonde geestelike uitkyk te behou, sal bes moontlik haar man se liefde en lof wen. Sy kan ook vertroue hê dat God sy belofte gestand sal doen om in die behoeftes van diegene te voorsien wat eers die Koninkryk soek.—Mattheüs 6:33; Spreuke 31:28-30; Galasiërs 5:22.

Die algehele oplossing

Solank ons in hierdie onvolmaakte stelsel lewe, kan ons verwag dat daar huweliksprobleme sal wees. Deur die Bybel se wyse raad toe te pas, kan dit egter geminimaliseer of op doeltreffende wyse gehanteer word. Manne en vroue wat bereid is om Jehovah se standaarde in die huwelik en op ander lewensterreine te handhaaf, het daarbenewens die gelukkige vooruitsig om tot in ’n nuwe stelsel te lewe “waarin geregtigheid [sal] woon”.—2 Petrus 3:13.

In daardie stelsel sal die mensdom van die skade en al die treurige gevolge van sonde en onvolmaaktheid bevry word. Solank die huweliksreëling hier op aarde voortduur, sal ‘wat van die begin af so was’ die standaard wees. Ja, geen mens sal skei wat God saamgevoeg het nie.

[Prent op bladsy 5]

Wat het Jesus oor egskeiding gesê?

[Prent op bladsy 7]

In die nuwe wêreld sal daar geen huweliksprobleme wees wat tot egskeiding lei nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel