Die Bybel en tienersedes
“Tienderjariges het skynbaar die slegste van elke moontlike wêreld geërf wat hulle blootstelling aan boodskappe oor seks betref: Rolprente, musiek, die radio en TV sê vir hulle dat seks romanties, opwindend en prikkelend is . . . Maar terselfdertyd kry jongmense die boodskap dat goeie meisies nee moet Sê.”—The Alan Guttmacher Institute.
VANDAG se jeugdiges het in ’n tyd van morele dubbelsinnigheid opgegroei. Die Bybel bied egter duidelike, ondubbelsinnige leiding op die gebied van geslagsedelikheid. Terwyl geslagsvoorligtingsprogramme gewoonlik toegespits is op die voorkoming van swangerskap, toon die Bybel dat voorhuwelikse seks op sigself vermy moet word. “Want dit moet julle weet dat geen hoereerder [waaronder beoefenaars van voorhuwelikse seks] of onreine . . . ’n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie”, sê die Bybel (Efesiërs 5:5). Geslagsomgang moet ongetwyfeld tot die huwelik beperk word.
Die oplossing vir die probleem van tienerswangerskap lê dus nie daarin dat jeugdiges in voorbehoeding onderrig word nie, maar dat hulle sedelike en geestelike leiding ontvang. Die Bybel toon onomwonde wie hierdie leiding behoort te verskaf: “Vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.”—Efesiërs 6:4.
Maar in een ondersoek is jeugdiges gevra om “hulle ouers as bronne van geslagsinligting te beoordeel volgens ’n skaal wat wissel van onbevredigend tot hoogs bevredigend. Adolessente het hulle moeders meestal as minder bevredigend beoordeel. Vaders is as uiters onbevredigend beoordeel.” Is dit dan realisties om te verwag dat ouers hulle kinders in geslagsake moet onderrig?
Gee jeugdiges sedelike leiding
In Spreuke 4:1-4 spoor koning Salomo jeugdiges aan: “Hoor, julle seuns, na die tug van die vader . . . Want toe ek ’n seun was by my vader, teer en ’n enigste voor my moeder, het hy my geleer en vir my gesê: Laat jou hart my woorde vashou.” Dit is duidelik dat Salomo selfs intieme sake met sy vader kon bespreek; Salomo self vervolg met ’n baie openhartige bespreking van geslagsonsedelikheid.—Spreuke 5:1-19.
Onder Jehovah se Getuies is daar talle gesinne wat eweneens openhartige dialoog met hulle kinders handhaaf—en met groot welslae! Hulle doen meer as om bloot vir hulle kinders “Nee!” te sê wat geslagsomgang betref. Die Bybel help hulle om hulle kinders grondige redes te gee om promiskuïteit te vermy. Beskou weer eens Salomo se woorde. In Spreuke 5:3, 4 moedig hy jong manne aan om geslagsomgang met ’n prostituut te vermy. “Die lippe van die vreemde vrou [prostituut] drup heuningstroop, en haar verhemelte is gladder as olie.” Ja, die vooruitsig op onsedelikheid lyk moontlik baie aanloklik. Maar Salomo waarsku: “Op die end is sy bitter soos wilde-als, soos ’n swaard aan weerskante skerp.”
Ouers kan, soos Salomo, met hulle kinders oor die naweë van geslagsomgang redeneer. ’n Gekwelde gewete, ongewenste swangerskappe, seksueel oorgedraagde siektes soos Vigs—dit is die bittere gevolge van ’n paar oomblikke van verleidelike plesier. Salomo vermaan jeugdiges voorts om nie hulle ‘waardigheid aan ander te gee nie’ (Spreuke 5:9, NW). Toon dit nie ’n gebrek aan selfrespek as ’n jeugdige van homself of haarself aan iemand gee wat nie in ’n huwelik belangstel nie? Is dit nie vernederend om bloot as ’n bevredigingsmiddel vir jou eie of iemand anders se selfsugtige drifte te dien nie? Ouers kan hulle kinders help om hierdie feite in te sien.
Salomo het verdere raad gegee oor hoe ’n onsedelike persoon behandel moet word: “Hou jou weg ver van haar af, en kom nie naby die deur van haar huis nie” (Spreuke 5:8). Ouers kan jeugdiges eweneens praktiese raad gee oor hoe om gevaarlike omstandighede te vermy. Hulle kan hulle aanspoor om nie afsprake met beginsellose individue te maak nie. En wanneer hulle eendag bevoeg is om iemand die hof te maak, kan hulle aangemoedig word om praktiese stappe te doen om sondige gedrag te vermy. Die paartjie kan byvoorbeeld reël dat iemand hulle altyd op hulle afsprake vergesel. Ouderwets? Miskien. Maar dit is beter om verstandige voorsorg te tref as dat “jy uiteindelik moet steun as jou liggaam en jou vlees verteer is, en moet sê: Hoe het ek die tug gehaat . . . en nie geluister na die stem van my onderwysers . . . nie!”—Spreuke 5:11-13.
Help jeugdiges om Jehovah te vrees
Volgens sommige ramings is daar oor die 12 miljoen seksueel bedrywige jeugdiges in die Verenigde State alleen. Selfs die Vigs-epidemie het min gedoen om hierdie onsedelike stroom te stuit. Maar Jehovah se Getuies probeer iets by hulle kinders inskerp wat veel invloedryker is as die vrees vir Vigs of swangerskap: ’n heilsame vrees vir Jehovah God. Salomo herinner jeugdiges in Spreuke 5:21 aan die volgende: “Want elke mens se wee is voor die oë van die HERE, en Hy weeg al sy gange.” John, een van Jehovah se Getuies en ’n vader van vier, gee hierdie raad: ‘Dit help as kinders ’n liefdevolle vrees vir Jehovah het. Moenie bang wees om jou kind te laat verstaan dat ons Jehovah deur ons selfsugtige optrede kan bedroef nie.’—Vergelyk Spreuke 27:11.
Vrees vir God sal natuurlik net ’n effektiewe afskrikmiddel teen onsedelikheid wees as God vir ’n jong persoon baie werklik is. (Vergelyk Hebreërs 11:27.) Ouers kan hulle kinders deur gereelde studie van die Bybel, daaglikse gebed en werklike lewensondervinding help om ’n hegte verhouding met God op te bou. Die besef dat God vir hom sorg, sal ’n jeugdige beweeg om gedrag te vermy wat Hom kan mishaag.—1 Petrus 5:7.
Interessant genoeg, ’n jeugdige se verhouding met God kan ook help om in sekere behoeftes te voorsien wat dikwels vir talle onder jongmense onvervul bly. Deskundiges beweer byvoorbeeld dat promiskuïteit dikwels ’n jeugdige se manier is om gevoelens van magteloosheid of ’n gebrek aan eiewaarde te bestry. Maar sulke gevoelens hoef nie iemand te pla wat ’n vriendskap met Jehovah het nie! So ’n jeugdige kan sê: “God is my helper. Dit is die Here wat my siel ondersteun.”—Psalm 54:6.
’n Gebalanseerde beskouing van seks en die huwelik
Ouers wil natuurlik nie hê dat hulle kinders ’n preutse of negatiewe beskouing van geslagsomgang moet ontwikkel nie. Hoewel die Bybel hoerery veroordeel, toon dit ook dat geslagsgemeenskap iets baie moois kan wees—binne die raamwerk van die huwelik, natuurlik. In poëtiese taal voeg Salomo by: “Mag jou fontein geseënd wees, en verheug jou oor die vrou van jou jeug . . . laat haar boesem jou altyd vermaak, mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd wees.”—Spreuke 5:18, 19.
In die lig van hierdie verhewe beskouing van huweliksomgang het ouers geen rede om verleë te voel wanneer hulle intieme sake bespreek nie. John (wat vroeër gemeld is) sê: “Ons praat altyd ronduit met hulle, en daarom is seks geen geheim nie. Ons beklemtoon dat dit ’n gawe van die Skepper, Jehovah, is, iets wat op die regte tyd deur ’n man en sy vrou geniet kan word.” Nog ’n vader van twee tienderjarige seuns sê: “Van hulle kinderjare af het ons seks openhartig met hulle bespreek. Ons het hulle ’n eerbiedige, verhewe beskouing van liefde en seks probeer leer. Ons handhaaf ’n volgehoue dialoog.” Dit is bekenisvol dat hulle kinders kuis gebly het.
Maak jeugdiges ‘wys tot saligheid’
“Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger”, het die apostel Paulus voorspel (2 Timotheüs 3:13). Sedelike standaarde sal dus aanhou agteruitgaan. Promiskuïteit en swangerskap onder tienderjariges sal die samelewing bly teister.
Godvresende ouers sal hulle tot die Bybel wend om hulle kinders ‘wys te maak tot saligheid’ (2 Timotheüs 3:15). As jy besef dat jy self Bybelonderrig nodig het, kan jy gerus met Jehovah se Getuies in aanraking kom deur aan die uitgewers van hierdie tydskrif te skryf. Hulle sal graag reël dat jy sulke onderrig gratis ontvang. Jehovah se Getuies kan jou ook voorsien van lektuur, soos die boek Jou jeug—Hoe om dit ten beste te benut.a Dit bevat Skriftuurlike inligting wat duisende jeugdiges gehelp het om die wêreld se onsedelike strikke te ontkom.
Maar wat van meisies wat reeds die tragedie van ’n buite-egtelike swangerskap deurgemaak het? Sulke situasies is lank nie hopeloos nie. God sal die een wat waarlik berou het oor sy gedrag ‘menigvuldiglik vergeef’ (Jesaja 55:7). Ofskoon dit nie maklik is om ’n enkelouer te wees nie, kan ’n mens ’n sukses daarvan maak deur Bybelbeginsels toe te pas. ’n Jong vrou wat drie buite-egtelike kinders gehad het voor sy ’n Christen geword het, het juis dit gedoen. Sy probeer om God se Woord in haar gesin toe te pas. Deur noue omgang met ’n gemeente van Jehovah se Getuies het sy baie vertroosting en steun gekry. Sy sê: “Dit is beslis wonderlik om so ’n vergewensgesinde God te dien, en om broers en susters te hê wat so begrypend is. Vir die eerste keer in my lewe voel ek rein en kerngesond, geestelik en liggaamlik.”
Dit sal natuurlik beter wees om die probleme van voorhuwelikse seks in die eerste plek te vermy. Gelukkig is daar vandag duisende jeugdiges wat dit doen omdat hulle die Bybel se tydelose raad volg.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap.
[Lokteks op bladsy 6]
Jehovah se Getuies probeer iets by hulle kinders inskerp wat veel invloedryker is as die vrees vir Vigs of swangerskap: ’n heilsame vrees vir Jehovah God
[Lokteks op bladsy 6]
Volgens sommige ramings is daar oor die 12 miljoen seksueel bedrywige jeugdiges in die Verenigde State alleen
[Prent op bladsy 5]
Ouers kan ’n volgehoue dialoog met hulle kinders handhaaf wat geslagsaangeleenthede betref
[Prente op bladsy 7]
Christenjeugdiges sal gedrag vermy wat hulle verhouding met God kan bederf