Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 4/15 bl. 8-9
  • Hulle versuim om hom gevange te neem

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hulle versuim om hom gevange te neem
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Soortgelyke materiaal
  • Hulle neem hom nie gevange nie
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • “Nog nooit het enige mens so gepraat nie”
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Leer ’n les by Nikodemus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Hy leer Nikodemus in die nag
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 4/15 bl. 8-9

Jesus se lewe en bediening

Hulle versuim om hom gevange te neem

ONDERWYL die huttefees nog aan die gang is, stuur die godsdiensleiers geregsdienaars uit om Jesus gevange te neem. Hy probeer nie wegkruip nie. Jesus hou aan om in die openbaar te onderrig, en sê: “Nog ’n klein tydjie is Ek by julle, en Ek gaan na Hom wat My gestuur het. Julle sal My soek en nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie.”

Die Jode verstaan nie en vra dus onder mekaar: “Waar wil Hy heengaan, dat ons Hom nie sal vind nie? Hy wil tog nie na die verstrooides onder die Grieke gaan en die Grieke leer nie? Wat beteken hierdie woord wat Hy gesê het: Julle sal My soek en nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie?” Jesus praat natuurlik van sy naderende dood en opstanding tot die hemel, waarheen sy vyande hom nie kan volg nie.

Die sewende en laaste dag van die fees breek aan. Elke oggend van die fees het ’n priester water wat hy uit die Siloampoel geneem het, uitgegiet sodat dit na die fondament van die altaar gevloei het. Jesus herinner die mense waarskynlik aan hierdie daaglikse seremonie wanneer hy uitroep: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.”

In werklikheid praat Jesus hier van die kragtige gevolge wanneer die heilige gees uitgestort sou word. Hierdie uitstorting van heilige gees vind die volgende jaar op die Pinksterfees plaas. Strome van lewende water vloei daar voort wanneer die 120 dissipels die mense begin bedien. Maar tot op daardie tydstip is daar nie gees nie, in die sin dat geeneen van Christus se dissipels met heilige gees gesalf en tot hemelse lewe geroep is nie.

In antwoord op Jesus se lering begin sommige sê: “Hy is waarlik die profeet”, blykbaar gedagtig aan die beloofde koms van die profeet wat groter as Moses sou wees. Ander sê: “Hy is die Christus.” Maar ander protesteer: “Kom die Christus dan uit Galilea? Het die Skrif nie gesê dat die Christus uit die geslag van Dawid kom en uit Betlehem, die dorp waar Dawid was nie?”

Verdeeldheid ontstaan dus onder die menigte. Party wil Jesus gevange neem, maar niemand slaan ’n hand aan hom nie. Toe die geregsdienaars sonder Jesus terugkeer, vra die owerpriesters en Fariseërs: “Waarom het julle Hom nie gebring nie?”

“Nooit het ’n mens so gespreek soos hierdie mens nie”, antwoord die geregsdienaars.

Die godsdiensleiers is woedend en verlaag hulle tot bespotting, wanvoorstelling en uitskellery. Hulle vra sarkasties: “Julie is tog nie ook mislei nie? Het iemand uit die owerstes in Hom geglo, of uit die Fariseërs? Maar hierdie skare wat die wet nie ken nie, is vervloek!”

Daarop waag Nikodemus, ’n Fariseër en ’n owerste van die Jode (dit wil sê, ’n lid van die Sanhedrin) dit om vir Jesus op te kom. Jy onthou moontlik dat Nikodemus twee en ’n half jaar tevore in die nag na Jesus gekom en geloof in hom uitgespreek het. Nou sê Nikodemus: “Oordeel ons wet die mens sonder om hom eers te hoor en te weet wat hy doen?”

Dit maak die Fariseërs selfs woedender dat iemand uit hulle eie geledere Jesus sou verdedig. “Jy is tog nie ook uit Galilea nie?” sê hulle snydend. “Ondersoek en sien dat daar geen profeet uit Galilea opgestaan het nie.”

Hoewel die Skrif nie regstreeks sê dat ’n profeet uit Galilea sou kom nie, wys dit wel daarop dat die Christus daarvandaan sou kom deur te sê dat “’n groot lig” in hierdie streek gesien sou word. En in stryd met wanbegrippe is Jesus in Betlehem gebore, en hy was ’n afstammeling van Dawid. Hoewel die Fariseërs waarskynlik hiervan bewus is, is hulle blykbaar verantwoordelik vir die wanbegrippe wat mense van Jesus het. Johannes 7:32-52; Jesaja 8:23; 9:1; Mattheüs 4:13-17.

◆ Wat gebeur elke oggend by die fees, en hoe vestig Jesus moontlik die aandag hierop?

◆ Waarom versuim die geregsdienaars om Jesus gevange te neem, en hoe reageer die godsdiensleiers?

◆ Wie is Nikodemus, wat is sy gesindheid teenoor Jesus, en hoe behandel sy mede-Fariseërs hom?

◆ Watter bewys is daar dat die Christus uit Galilea sou kom?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel