Wanneer kinders kinders kry
“DIT was asof hy uit ’n sprokie gekom het”, het ’n jong vrou wat ons Sharon sal noem verbitterd gesê. “Hy het my deurentyd vertel dat hy my liefhet en dat hy nooit ’n meisie van hom in die steek sou laat as sy swanger raak nie.”
Op ’n dag het Sharon haar dokter besoek omdat sy gedink het dat sy blindedermontsteking het; dit het geblyk dat sy drie maande swanger is. “Ek het dadelik my kêrel gebel”, sê Sharon. Sy reaksie? “Jy moet ’n aborsie hê! Raak net ontslae daarvan!” Die sprokie het ’n nagmerrie geword.
In die Verenigde State alleen raak daar elke jaar byna eenmiljoen meisies swanger. Die Verenigde State het die twyfelagtige onderskeiding dat hy die hoogste tienerswangerskapsyfer onderdie geïndustrialiseerde lande het—die enigste land waar die syfer in onlangse jare toegeneem het. ’n Ondersoek wat in 37 lande deur The Alan Guttmacher Institute gedoen is, toon egter dat swangerskap onder ongetroude tienderjariges ’n wêreldwye probleem is.
Navorsers Black en DeBlassie het in die tydskrif Adolescence geskryf: “Meisies van skoolgaande ouderdom wat swanger raak, kom uit alle sosiaal-ekonomiese stande en uit staat- sowel as privaatskole. Alle rasse, alle gelowe en alle dele van die land, plattelands en stedelik, word verteenwoordig.” Aangaande die rede vir die hoër geboortesyfers onder meisies uit arm gesinne en minderheidsgroepe sê die Journal of Marriage and the Family: “Blanke meisies en meisies van hoër S[osiaal]-E[konomiese] S[tatus] ondergaan meestal aborsies.”
In die Verenigde State word ’n derde van alle wettige aborsies op vroue onder die ouderdom van 20 jaar gedoen. Afgesien van morele oorwegings is die besluit om ’n aborsie te hê dikwels moeilik om te verduur. “Glo my”, sê ’n vrou wat ’n aborsie gehad het toe sy maar ’n tienderjarige was, “dit maak seer om te weet dat ek die oorsaak van ’n moord was, ’n moord waaroor die slagoffer nooit sal weet hoe jammer ek is nie.”
Die soeke na oplossings
Maatskaplike stigma, instabiele huwelike, armoede—dit is die algemene naweë van ’n tienerswangerskap. Geen wonder dan dat hierdie saak ’n brandpunt van belangstelling onder opvoedkundiges, dokters, politici en ouers geword het nie. Sommige bepleit geslagsvoorligtingsprogramme en eis selfs dat jeugdiges vrye toegang tot voorbehoedmiddels en aborsiedienste moet hê.
Maar sommige jeugdiges het emosionele behoeftes waarin geslagsvoorligting nie kan voorsien nie. Daar is byvoorbeeld sommige meisies wat wóú swanger raak! Soos een jong meisie dit gestel het: “Ek wou in die moeilikheid raak om my ouers se aandag te kry. Ek het gereken dit [die baba] sal iets wees wat aan my kan behoort—niemand kan hom wegneem nie en ek sal ’n deeltjie van myself oorhê wat my lewe sinvol sal maak.”
Daarbenewens gee geslagsvoorligtingsprogramme jeugdiges nie sedelike leiding nie. Lande soos Swede en Nederland, waar sulke programme algemeen is, het dalk min tienerswangerskappe, maar promiskuïteit vier daar ook hoogty. Kan dit wees dat promiskuïteit, benewens swangerskappe, ook ernstige emosionele, morele en geestelike skade kan meebring? Is daar dan grondige rede om, nie voorbehoeding nie, maar kuisheid voor te staan? Kom ons kyk wat die oudste bestaande boek—die Bybel—hieroor te sê het.
[Prent op bladsy 3]
“Meisies van skoolgaande ouderdom wat swanger raak, kom uit alle sosiaal-ekonomiese stande en uit staat- sowel as privaatskole. Alle rasse, alle gelowe en alle dele van die land, plattelands en stedelik, word verteenwoordig.”—Die tydskrif Adolescence.